HOOFSTUK 1 INLEIDING, PROBLEEMSTELLING, DOEL, METODE
2.4 DIE ONTWIKKELING VAN DIE TREKBENADERING TOT
2.4.4 Hans J. Eysenck (1916-1997)
Hans Eysenck (1916-1997) is deur die Griekse klassifikasie van temperament beïnvloed en het daarvolgens ’n persoonlikheidsteorie ontwikkel. Eysenck het aanvanklik twee temperamentele dimensies geïdentifiseer wat bekend staan as Neurotisisme en Ekstraversie. Eysenck het Ekstraversie as ’n kombinasie van ’n choleriese en ’n sanguïese temperament gekonseptualiseer, terwyl Introversie kenmerke van beide ’n flegmatiese en ’n melancholiese temperament ingesluit het. Verder het Eysenck Neurotisisme as ’n kombinasie van ’n melancholiese en choleriese temperament gekonseptualiseer, terwyl Emosionele Stabiliteit kenmerke van beide ’n sanguïese en ’n flegmatiese temperament ingesluit het (Chamorro- Premuzic, 2007).
Die persoonlikheidsteorie van Eysenck sluit sterk psigometriese en biologiese komponente in (Feist & Feist, 2009). Eysenck (1977; 1997a) het egter volgehou dat psigometriese evaluering
analitiese metodes betekenisloos is tensy daar gedemonstreer kan word dat dit ’n biologiese oorsprong het (Feist & Feist, 2009). Met hierdie aanname in gedagte, het Eysenck vier kriteria vir die identifisering van ’n persoonlikeidsfaktor gestel (Feist & Feist, 2009). Die eerste kriterium, psigometriese bewyse, verwys daarna dat die faktor betroubaar, geldig en repliseerbaar moet wees (Feist & Feist, 2009). Met ander woorde, ander navorsers moet dieselfde persoonlikheidfaktor kan identifiseer. Die tweede kriterium, oorerflikheid, verwys daarna dat die faktor in ’n bestaande genetiese model moet inpas en hierdie kriterium elimineer aangeleerde persoonlikheidsveranderlikes soos die vermoë om stemme van bekendes na te boots (Feist &
Feist, 2009). Die derde kriterium is om die faktor vanuit ’n teoretiese perspektief te verstaan.
Hierdie kriterium verwys daarna dat ’n teorie as vertrekpunt geneem word en dat daar dan van ’n deduktiewe metode gebruik gemaak word om data in te samel wat logies met die betrokke teorie ooreenstem (Feist & Feist, 2009). Die vierde kriterium staan bekend as sosiale relevansie en verwys daarna dat die faktor nie net oor wiskundige eienskappe moet beskik nie, maar ook ’n sosiale verwantskap met relevant lewenswerklike kontekste moet hê (Feist & Feist, 2009). Dit beteken dus dat dieselfde faktor oor beide wiskundige eienskappe as sosiale relevansie moet beskik.
Eysenck (1947; 1994b) het ’n viervlakkige hiërargie van georganiseerde gedrag voorgestel (Feist & Feist, 2009). Op die laagste vlak is spesifieke optrede of kognisie wat na ’n individu se gedrag of denke verwys wat óf kenmerkend van die persoon is óf nie kenmerkend van die persoon is nie (Feist & Feist, 2009). Op die tweede vlak is die gewoontevormende optrede of kognisie wat verwys na response wat onder soortgelyke toestande na vore kom (Feist & Feist, 2009). In teenstelling met spesifieke response is gewoontevormende response meer betroubaar of konsekwent (Feist & Feist, 2009). Die derde vlak is persoonlikheidstrekke en verwys na verskeie verwante gewoontevormende response wat belangrike semi-permanente persoonlikheidsdisposisies voorstel (Feist & Feist, 2009). Persoonlikheidstrekke kan afgelei word deur faktor-analitiese metodes te gebruik (Feist & Feist, 2009). Persoonlikheidstrekke het dus te doen met die belangrike interkorrelasie tussen verskillende gewoontevormende optredes (Feist & Feist, 2009). Cattell se 35 normale en abnormale primêre kerntrekke kom voor op die derde vlak van Eysenck se hiërargie van georganiseerde gedrag (Feist & Feist, 2009). Dit verklaar waarom Cattell meer persoonlikheidsfaktore geïdentifiseer het as Eysenck en voorstanders van die Vyffaktor-teorie wat gebaseer is op die vierde vlak van Eysenck se hiërargie van georganiseerde gedrag (Feist & Feist, 2009). Dié vierde vlak staan bekend as persoonlikheidstipes of superfaktore en verwys na ’n samestelling van verskeie interafhanklike persoonlikheidstrekke (Feist & Feist, 2009).
Eysenck het drie algemene superfaktore geïdentifiseer, naamlik Ekstraversie (E) (kyk Figuur 2.5), Neurotisisme (N) (kyk Figuur 2.6) en Psigotisisme (P) (kyk Figuur 2.7), maar hy het nie die moontlikheid van verdere persoonlikheidsfaktore uitgesluit nie (Feist & Feist, 2009).
Neurotisisme en Psigotisisme is nie net beperk tot psigopatologie nie, alhoewel individue met psigopatologie normaalweg hoër tellings op hierdie superfaktore behaal (Feist & Feist, 2009).
Eysenck beskou al drie hierdie superfaktore as deel van 'n normale persoonlikheidstruktuur (Feist & Feist, 2009). Al drie superfaktore is bipolêr, met Ekstraversie by die een pool van Faktor E en Introversie by die teenoorgestelde pool (Feist & Feist, 2009). Met betrekking tot Faktor N, is Neurotisisme by die een pool en Emosionele Stabiliteit by die ander pool (Feist &
Feist, 2009) en vir Faktor P is Psigotisisme by die een pool en die Superego-funksie by die ander pool (Feist & Feist, 2009). Die bipolariteit van Eysenck se superfaktore beteken nie dat die meeste individue by een van die twee pole ten opsigte van al drie superfaktore funksioneer nie (Feist & Feist, 2009). Elkeen van hierdie superfaktore toon ’n normale verspreiding soortgelyk aan intelligensiesyfers (Feist & Feist, 2009). Dit beteken dat die meeste individue naby die middel op ’n klokvormige verspreidingskurwe lê (Feist & Feist, 2009). Eysenck dui aan dat elkeen van die drie superfaktore aan die vier kriteria vir die identifisering van persoonlikheidsfaktore voldoen (Feist & Feist, 2009).
Sterk psigometriese bewyse bestaan veral ten opsigte van Faktore E en N (Feist & Feist, 2009).
Ekstraversie en Neurotisisme (of angs) is basiese faktore in bykans alle faktor-analise studies oor persoonlikheid, insluitende verskeie weergawes van die Vyffaktor-teorie (McCrae & Costa, 1999; 2003; John & Srivastava, 1999). Eysenck (1994a; 1994b) het verder aangedui dat daar ’n sterk biologiese basis vir elkeen van sy drie superfaktore bestaan en hy is van mening dat persoonlikheidsveranderlikes soos Inskiklikheid en Konsensieusheid, wat deel vorm van die Vyffaktor-taksonomie (John, 1990; Norman, 1963; Tupes & Christal, 1961) nie ’n onderliggende biologiese basis het nie (Feist & Feist, 2009).
Eysenck se drie superfaktore maak verder sin deur na die persoonlikheidsteorieë van Jung, Freud en Maslow te kyk (Feist & Feist, 2009). Carl Jung het die kragtige effek van Ekstraversie en Introversie (Faktor E) op gedrag beklemtoon terwyl Sigmund Freud die belangrikheid van angs in gedragsvorming beklemtoon het (Feist & Feist, 2009). Met betrekking tot Psigotisisme (Faktor P), het Abraham Maslow aangedui dat psigologiese gesondheid vanaf selfaktualisering (’n lae P-telling) tot skisofrenie en psigose (’n hoë P-telling) strek (Feist & Feist, 2009). Eysenck het verder gedemonstreer dat elk van sy drie superfaktore verband hou met sosiaal relevante kwessies soos dwelmmisbruik (Eysenck, 1983), seksuele gedrag (Eysenck, 1976), kriminele
optrede (Eysenck, 1964; 1998), kanker en hartsiektes (Eysenck, 1991a; 1991b) en kreatiwiteit (Eysenck, 1993).
Vanuit die bogenoemde besprekings is dit dus duidelik dat Eysenck se persoonlikheidsteorie aan die vier gestelde kriteria vir die identifisering van persoonlikheidsfaktore, soos vroeër bespreek, voldoen. Vervolgens gaan die drie superfaktore, soos deur Eysenck geïdentifiseer, bespreek word:
2.4.4.1 Ekstraversie (E)
Volgens Eysenck word ekstroverte hoofsaaklik gekenmerk deur hulle voorkeur aan sosialisering en hul impulsiwiteit, asook deur hul lewenslustigheid, skerp humor, optimisme en ander persoonlikheidstrekke wat tot gevolg het dat hulle beloon word vir hulle verbintenis met ander individue (Eysenck & Eysenck, 1969). Introverte word gekenmerk deur persoonlikheidstrekke in teenstelling met dié van Ekstroverte (Feist & Feist, 2009). Hulle word beskryf as stil, passief, sorgeloos, gereserveerd, pessimisties, rustig, nugter en beheers (Feist & Feist, 2009). Volgens Eysenck (1982) lê die primêre verskil tussen ekstroverte en introverte nie in gedrag nie, maar is dit eerder biologies en geneties van aard (Feist & Feist, 2009).
Met betrekking tot die hiërargiese struktuur vir Ekstraversie, blyk dit dat individue wat hoë tellings op Ekstraversie behaal, geneig is om te sosialiseer, om lewendig, aktief en assertief te wees en gedurig op soek te wees na opwinding (kyk Figuur 2.5).
(Feist & Feist, 2009)
FIGUUR 2.5: HIËRARGIESE STRUKTUUR VAN EKSTRAVERSIE (E)
Sosiaal Sorgeloos
Lewendig
Dominerend
Aktief Surgensie
Assertief Avontuur- lustig Ekstraversie
(E)
Sensasie- soekend
2.4.4.2 Neurotisisme (N)
Eysenck (1967) het na verskeie studies verwys wat bewys lewer van ’n genetiese basis vir neurotiese persoonlikheidstrekke soos angs, histerie en obsessief-kompulsiewe gedrag (Feist &
Feist, 2009). Individue wat hoë tellings op Neurotisisme behaal, het ’n geneigdheid om emosioneel te oorreageer en vind dit dan moeilik om terug te keer na ’n normale emosionele toestand (Feist & Feist, 2009). Hulle kla gereeld van fisieke simptome soos hoofpyn, rugpyn en vae psigologiese klagtes soos angstigheid en bekommernis (Feist & Feist, 2009). Neurotisisme verwys egter nie na neurose in die tradisionele betekenis van die woord nie (Feist & Feist, 2009). Individue kan hoë tellings op Neurotisisme behaal en vry wees van psigopatologie (Feist
& Feist, 2009). Eysenck het die diatese stresmodel vir psigopatologie aanvaar wat aandui dat individue vatbaar is vir spesifieke psigiatriese versteurings omdat hulle óf ’n genetiese predisposisie daarvoor het óf swakhede openbaar wat hulle predisponeer tot daardie psigiatriese versteurings (Feist & Feist, 2009). Hierdie predisposisie kan in interaksie met stres wees om sodoende ’n neurotiese versteuring te produseer (Feist & Feist, 2009). Volgens Eysenck beskik individue wat lae tellings op Neurotisisme behaal oor die kapasiteit om neurotiese versteurings teen te staan, selfs in tye van ekstreme stres, terwyl hoë tellings op Neurotisisme moontlik neurotiese reaksies sal verteenwoordig, selfs onder lae vlakke van stres (Feist & Feist, 2009). Met ander woorde, hoe hoër die Neurotisisme tellings, hoe laer die vlakke van stres wat benodig word om ’n neurotiese versteuring op te lewer (Feist & Feist, 2009).
(Feist & Feist, 2009)
FIGUUR 2.6: HIËRARGIESE STRUKTUUR VAN NEUROTISISME (N)
Angstig Irrasioneel
Depressief
Skaam
Skuldgevoelens Buierig Lae selfbeeld
Emosioneel
Gespanne Neurotisisme
(N)
Vanuit Figuur 2.6 is dit duidelik dat individue wat hoë tellings op Neurotisisme behaal geneig is om angstig, irrasioneel en depressief te wees. Verder kom hul dikwels voor as skaam, maar buierig en word deur skuldgevoelens gepla. Hulle het verder ook ’n lae selfbeeld, word beskryf as baie emosioneel en kla meer gereeld oor spanning.
2.4.4.3 Psigotisisme (P)
Eysenck se oorspronklike persoonlikheidsteorie is op slegs twee superfaktore gebaseer, naamlik Ekstraversie en Neurotisisme (Feist & Feist, 2009). Na baie jare se navorsing het Eysenck ’n derde superfaktor bygevoeg, naamlik Psigotisisme (Feist & Feist, 2009). Soos Ekstraversie en Neurotisisme, is Psigotisisme ook ’n bipolêre superfaktor, met Psigotisisme by een pool en Superego-funksie by die ander pool (Feist & Feist, 2009). Hoë tellings op Psigotisisme dui op egosentrisme, koudheid, nie-konformiteit, impulsiwiteit, vyandigheid, aggressie, agterdogtigheid, psigopatie en antisosiale gedrag (Feist & Feist, 2009). Lae tellings, daarenteen, dui op ’n geneigdheid om altruïsties, gesellig, empaties, versorgend, samewerkend, konformerend en konvensioneel te wees (Eysenck, 1997b). In lyn met die diatese stresmodel, het Eysenck beweer dat individue met hoë tellings op Psigotisisme onder stres ’n groter kans het om ’n psigotiese versteuring te ontwikkel (Feist & Feist, 2009). Individue met hoë tellings op Psigotisisme het verder ook ’n groter genetiese vatbaarheid vir stres as diegene met lae tellings op Psigotisisme (Feist & Feist, 2009). Gedurende periodes van lae stres sal individue met hoë tellings op Psigotisisme dalk normaal kan funksioneer, maar wanneer hoë tellings op Psigotisisme gepaard gaan met hoë vlakke van stres, verhoog individue se vatbaarheid vir psigotiese versteurings (Feist & Feist, 2009). Individue met lae tellings op Psigotisisme is nie noodwendig vatbaar vir stres-verwante psigose nie en sal moontlik ’n psigotiese episode in periodes van ekstreme stres kan weerstaan (Feist & Feist, 2009). Eysenck (1994a) beweer dat hoe hoër individue se Psigotisisme-telling is, hoe laer is die stresvlakke wat nodig is om ’n psigotiese reaksie te presipiteer (Feist & Feist, 2009).
Vanuit Figuur 2.7 is dit duidelik dat individue wat hoë tellings op Psigotisisme behaal aggressief is en antisosiale gedrag openbaar. In interpersoonlike verhoudings is hul koud en nie-empaties.
Ander sal hul beskryf as egosentries, onpersoonlik en impulsief, maar hul is wel kreatief.
(Feist & Feist, 2009)
FIGUUR 2.7: HIËRARGIESE STRUKTUUR VAN PSIGOTISISME (P)
Eysenck se siening van persoonlikheid stel dus sielkundiges in staat om elke individu op drie superfaktore te assesseer (Feist & Feist, 2009).