Besinning oor taal en ver-taal I
Cas Vos, Navorsingsvennoot, Departement Ou Testament, Teologiese Fakulteit, Universiteit van Pretoria
In hierdie artikel word die verskillende teorieë wat vertalings ten grondslag lê, nie ontleed nie (vgl hieroor Vos 2021:74–6). Catherine du Toit het oor vertaling
’n uitstekende bydrae gemaak (Du Toit 2019:152–77). Elke vertaling/omdigting moet op sy eie meriete beoordeel word. Solank die dolcezza en armonia van ’n gedig, vrye vers of vertaling behoue bly. In ’n vertaling mag daar vars asem oor die teks geblaas word. Solank dit nie die oorspronklike teks in ’n ander rigting waai nie. Die volgende woorde van Dante mag nooit uit die oog en hart verloor word nie: “E però sappia ciascuno che nulla cosa per legame musaico
armonizatta si può della sua loquela in altra transmutare sanza rompere tutta sua dolcezza ed armonia” (Convivio I V11:14; Die Gasmaal). Daarom is dit belangrik om te besef dat niks wat harmonieer volgens die digkuns se reëls, vertaal kan word uit die moedertaal na ’n ander taal sonder om al die soetheid en harmonie te verwoes nie.
Afrikaans pleit vir meesterwerke om in Afrikaans ver-taal te word totdat dit ver-vel (Breytenbach). Dan kry dit ’n eie, unieke en vars ritme.
1 Transkripsie van Psalm 23
Daar word eers aandag aan ’n transkripsie van die Hebreeuse teks gegee.
Vervolgens ’n vertaling daarvan. Die liedteks van TT Cloete word daarna verken (Liedboek van die Kerk 2001).
1. Jhwh roo’i lo echsaad.
2. Binoth dèsjen jarbitzeeni,
al-mee menoechoth jenachalleeni,
3. nafsji jesjoveev.
Jancheeni bema’aglee tsèdeq, lema’an sjemo.
4. Gham ki ‘eeleech begee’ tsalmaaweth, lo’ ‘ieraa’ raa’.
Ki ‘attah ‘immaadie,
sjivtechaa oemosj’anthèchaa,
heemáah jenachamoenie.
5. Tha’aroch lefaanaj sjoelchaan, nèged tsoreraj,
disjsjanthaa basjèmen ro’sjie, koosie rewaajaah.
6. ’Ach tov wachèsed jardefoenie kol jemee chajjaah.
Wesjavthie bebeeth-Jhwh le’oref jaamiem.
2 Vertaling van Psalm 23
1. Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.
2. Hy laat my in groen weivelde lê, Hy lei my na waters van rus, 3. my lewenskrag laat Hy terugkeer,
Hy lei my in die spore van reg, ter wille van sy Naam.
4. Selfs al moet ek gaan deur ’n aartsdonker kloof,
hoef ek geen onheil te vrees nie.
Uself is immers by my!
U stok en u staf – dit is vir my tot troos.
5. U berei daar vir my ’n tafel, teenoor wie my teenstanders is, U salf my kop met olie,
my beker loop oor.
6. Slegs goedheid en guns bly my volg al die dae van my lewe.
Ek sal dan terugkeer na die huis van die Here tot in lengte van dae.
Psalm 23 is getranskribeer en vertaal ten einde TT Cloete se rymende
omdigting te beoordeel (vir Psalm 23 vgl Schuman 2002:26–7; Vos 2020:634–
48).
TT Cloete seomdigting van strofe 2a: “Ek sal die dood se donker dal nie vrees nie,” wyk af van die Hebreeuse teks. Dáár staan: “[...] hoef ek geen onheil te vrees nie.”
Die onheil kan ook op aardse lyding en onrus dui.
Die “goedheid en guns” van die Hebreeuse teks (reël 6) word deur Cloete as voorspoed aangedui. Goedheid en guns is egter veel meer as net voorspoed (Vos 2015:31).
“Ek bly by U, Heer, […]” (strofe 3, reël 5) skep ’n ander betekenis as die
Hebreeuse teks (6b). Die Hebreeuse teks (6b) dui op “terugkeer” en nie “bly”
of “woon” nie (Schuman 2002:27). Die Hebreeuse vertaling lui:
Slegs goedheid en guns bly my volg al die dae van my lewe.
Ek sal dan terugkeer na die huis van die Here tot in lengte van dae.
Cloete se omdigting in strofe 2d: “[E]n in u hande sal ek altyd veilig bly,” is ’n treffende uitdrukking van die Hebreeuse teks:
Uself is immers by my! (4d)
Dit moet in gedagte gehou word dat vers 4 uit ses woordgroepe, twee digreëls en een strofe bestaan (Schuman 2002:31). Die sin: “Uself is immers by my!”
vorm die middel van die psalm as geheel. Dit kan die hartklop van die psalm genoem word.
Die Hebreeuse uitdrukking: “U stok en u staf / dit is vir my tot troos” (4e–f) gee die wyse aan waarmee die troos aangebied word. “U stok en u staf” bied
beskerming teen gevare. Hierdie bedoeling en betekenis kom egter nie in die Cloete-omdigting voor nie.
Dit moet daarmee gereken word dat die digtershand van Cloete in toom gehou is deur musikologiese eise. Dit het ook ’n invloed op die rymwoorde, die
sintaksis en die woordorde. Selfs die gebruik van metafore word daardeur beïnvloed (Vos 2015:35). Van Rooy en Strydom (onderskeidelik) (2008:497;
1994:257–58) toon aan dat die saak van woordtoonverhouding van die grootste belang is by die skep en beoordeling van ’n berymde psalm. Die kommunikasie van die kerklied word immers gedra deur die woorde en die
melodie (Van Rooy 2008:301). Aan dié vereistes het Cloete uitnemend voldoen.
3 Vertalings van Dante se Inferno volgens verskillende rymskemas
Daar kom ’n verskeidenheid vertalings wat Dante se terza rima-rymskema behou. Robert Torrance volg ’n terza rima-rymskema. Robert Pinsky gebruik ’n milder vorm van die terza rima-rymskema. Daar kom by hom ’n gewysigde vorm van die terza rima-rymskema en gewone rym voor. Daar is
prosavertalings (Janssen, Sinclair, Singleton, Durling, Krüger) en
vryeversvertalings (Robert en Jean Hollander, Rob Brouwer, Peter Thornton).
4 Drie verskillende vertalings van Dante se Inferno in Afrikaans
JS Krüger se prosavertaling van die Inferno is voortreflik. Al is dit in prosavorm vertaal, is dit brongetrou. ’n Vertaling wat nie voorgee om poësie te wees nie, maak in baie gevalle gebruik van ’n indeling van die teks volgens versreëls, wat bloot ’n inhoudelike strukturering verteenwoordig.
Delamaine du Toit het dit uitstekend gedoen. Hierdie vertaling kan in die kategorie van vryeversvertaling gereken word. Die groot wins van Du Toit se vertaling is dat dit, benewens dat dit die eerste Afrikaanse vertaling is (1990), die deur na Dante se canti oopsluit. Sy vertaling is teksgetrou en ’n waardevolle bydrae tot die vertaling van Dante se La Divina Commedia in Afrikaans. Die teksgetroue vertaling is egter soms sintakties mank. ’n Voorbeeld hiervan is canto v, reëls 133 en 134:
Toe ons lees hoe die soveel begeerde glimlag
’n soen kry van so aansienlik ’n minnaar
Dit is jammer dat daar talle taalfoute in Du Toit se vertaling voorkom. In canto v, reël 74 moet “gesêls” “gesels” wees; in reël 90 moet “agterlaat”
“agtergelaat” wees; en in reël 141 moet “gewoord” “geword” wees.
5 Verklarende aantekeninge van canto v, 73–142
Dit is steeds Goeie Vrydagaand. Dante en Vergilius betree nou die terrein van die verlore siele. In hierdie tweede sirkel woed ’n ewige storm. Dit is ’n simbool van die hartstog waarvan die verdoemdes in hierdie kring slagoffers geword het. Die storm voer die verdoemdes deur die lug mee. Nie alle wellus word hier gestraf nie – slegs verbode en matelose wellus wat die rede verdoof het (39).
Daar is twee groepe verdoemdes: Die een groep word aangevoer deur die wellustige keiserin Semiramis en die ander deur Dido, die koningin van Kartago (61), wat haar gelofte teenoor haar eggenoot Sichaeus verbreek het. Toe
Dante twee skimme sien wat liefdevol na mekaar toe vlieg, vra hy vir Vergilius of hy met hulle mag praat. Dan volg die beroemde passasie wat as die Lamento aangedui kan word. Dit handel oor die liefde tussen Paolo en Francesca. Dante was in sy laaste lewensjare ’n gas van Guido Novello da Polenta. Hy was die heer van Ravenna van 1316 tot 1321, en ’n neef van Francesca (73).
Hier begin die episode van Paolo Malatesta en Francesca da Polenta. Dante verwys waarskynlik na die ware verhaal van die aristokratiese Francesca da Polenta en Paolo Malatesta. Hulle het in Dante se jeug in ’n opspraakwekkende moord hulle lewens verloor. Francesca is in ongeveer 1275 om politieke redes (die versoening van hulle families) met Gianciotto Malatesta, die prins van Rimini, getroud. Hy het ook as “die Kreupele” bekendgestaan. Sy raak betrokke in ’n liefdesverhouding met sy jonger broer Paolo. Haar man vind dit uit en vermoor albei in die familiekasteel Gradara, ongeveer 30 kilometer van Rimini af (Lansing 2000:409–14). In die hel word Francesca nie meer toegelaat om te bid nie. Dante se verwysing na die ligte reis op die wind (79) wys daarop dat hy selfs onder sy haglike omstandighede nog van die bekoorlikheid en
aantrekkingskrag van die romantiese liefde bewus bly.
Hierdie verhaal is waarskynlik die ontroerendste in die hele La Divina
Commedia en het wyd aanklank gevind. Om vier voorbeelde uit die kunswêreld te noem: In 1889 het Rodin sy Francesca da Rimini geskep (later is dit herdoop tot Le Baiser en onderskei van die komposisie La porte de l’enfer). In 1914 is ’n opera, Francesca da Rimini, van die Italiaanse komponis Riccardo Zandonai (1865–1944), op hierdie canto gegrond, vir die eerste keer uitgevoer. Frank Dicksee het in 1894 ’n olieverf skildery, Paolo and Francesca, gemaak. ’n Film, Paolo e Francesca, is in 1950 deur Raffaello Matarazzo vervaardig.
Dante se karakters is wesens van vlees en bloed, mense wat deur die krag van die liefde meegevoer word. Dante, wat self die pyn van die liefde ervaar, word diep geraak deur die tragiek van Francesca en Paolo se liefdesgeskiedenis. Hy is ook intens bewus dat die pad van die liefde na afdraaipaadjies kan lei. Hoe sal hy ooit vir Beatrice vergeet?
In hierdie hartroerende verhaal word die teenstrydighede van die liefde blootgelê. Francesca hunker na die goeie tyd saam met Paolo, maar haar wrewel teen hom kom ook aan die lig. In die hel word die liefdesvlam geblus.
As aristokratiese dame praat sy verfynd, en Dante, die pelgrim, swig daarvoor.
Maar Dante, die nugter digter, suggereer haar bitterheid, ydelheid, selfsug en selfverontskuldiging. In die gees van haar tyd stel sy die liefde as ’n
onweerstaanbare mag voor. Sy aanvaar nie haar verantwoordelikheid en skuld nie. En tog koester die leser die liefdeswaansin van Francesca. Dante spreek die verliefdes nie vry nie, maar sy oordeel is getemper deur die liefde. Die liefde dra en verdra byna alles. Drie keer word “Amor” aan die begin van ’n reël geplaas (100; 103; 106). Hiermee kom Dante se komposisievernuf en drif aan die lig. Beatrice bly steeds die koningin van sy hart (81). Hierdie sin
beteken “as God dit toestaan” (97–8).
Ravenna is Dante se geboorteplek. Dit is naby die delta waar die Po-rivier in die Adriatiese See uitmond (100–1). Dante varieer ’n liefdesreël van Guido
Guinizelli (1235–76). “Foco d’amor in gentil cor s’apprende”: In u edel hart ontvlam die liefdesvuur. ln ’n kommentaar oor Guinizelli se canzone word die klem gelê op die teenstelling tussen edel en onedel (dus nie-aristokraties), en dat dit kenmerkend is van die edele hart dat liefde daar sal ontvlam (107). (Dit is dus waarskynlik ’n stelling van Dante dat in ’n edel hart dié liefdesvuur ontvlam, met verwysing na Francesca.)
Kaina: Gianciotto Malatesta vermoor sy vrou en broer. Daarom word sy siel gestuur na die eerste sone van die onderste sirkel van die hel, waar diegene wat hulle familie verraai, gestraf word. Hierdie sone dra die naam van Abel se moordenaar. Dante het geen simpatie met die verontregte eggenoot wat hom gewreek het op die owerspel van sy vrou en broer nie (121–3). Die Romeinse filosoof Boëthius (ongeveer 480–524), skrywer van De consolatione
philosophiae, kon Dante se woorde wat Francesca gebruik, geïnspireer het.
Boëthius skryf: “[…] want van alle verdriet, wat die teenslae van Fortuna ons berokken, is smart die swaarste: om eenmaal gelukkig te gewees het!” (123).
“[…] jou leermeester weet van die bitter wyn” – dié woorde herinner aan Aeneas se gevleuelde woorde aan Dido, in Aeneïs II, 3: “U laat my, koningin, onsegbare leed beleef” (137).
Dante lewer kritiek op die ridderromans van sy tyd, eintlik op die amoreuse dele daarvan. In die Franse roman, Lancelot du Lac of ’n verwerking daarvan, lees Paolo en Francesca van die avonture van die Middeleeuse ridder Lancelot (Kennedy en Corley 2008). Daar word vertel van die buite-egtelike
liefdesverhouding tussen die ridder Lancelot en Guinevere, koning Arthur se vrou. Die soen wat sy op Lancelot afdruk, laat die liefde onblusbaar vlam.
Die boek wat Paolo en Francesca lees, vermoedelik die dertiende eeuse Franse weergawe, word aangedui as ’n “Galeotto” (galeislaaf, tronkvoël, skelm jakkals, tussenganger). Die naam “tussenganger” is heel geskik vir die boek en die
skrywer wat Lancelot en Guinevere na mekaar gebring het en haar
aangemoedig het om Lancelot te soen (138). Hierdie beroemde reël: “Daardie dag het ons twee die boek laat rus,” kan beteken dat dit nie by een soen gebly het nie, of dat hulle op heterdaad betrap is en doodgemaak is (Vos 2021:58–9;
144–8).
6 Delamaine du Toit se vertaling van canto v, 73–142
73 Ek het begin: “Digter, ek sou baie graag
wou gesêls met daardie twee wat tesame gaan en wat skynbaar so liggies op die wind dryf.”
76 En hy aan my: “Jy sal later sien
wanneer hulle nader aan ons kom; vra hulle dan
in die naam van die liefde wat hul aandryf, en hulle sal kom.”
79 Onmiddellik na die wind hulle na ons gedraai het, het ek my stem verhef: “O gekwelde geeste,
kom praat met ons, as ’n Ander dit nie verbied nie!”
82 Soos duiwe, deur verlange aangeroep,
met die vlerke omhoog en stil op pad na die soet nes deur die lug neerdaal, deur begeerte gedra,
85 so het hulle die groep waar Dido was verlaat, na ons gedra deur daardie verderflike lug;
só sterk aangelok deur my liefdevolle roep.
88 “O lewende wese, so beleef en vriendelik, wat deur die duister lug na ons toe kom, ons wat die wêreld bloedbevlek agterlaat het,
91 was die Koning van die heelal ons vriend,
sou ons Hom gebid het om vrede aan jou te skenk, daar jy jou ontferm oor ons treurige toestand.
94 Dit waarna jy graag sal wil luister en oor wil praat, sal ons aanhoor, en ook met jou bespreek,
terwyl die wind, soos nou, ons in stilte laat.
97 Die stad waar ek gebore is, is geleë
aan die kus waarheen die Po, met al sy bylope, afvloei om eindelik vrede te vind.
100 Liefde wat in die lieftallige hart gou ontwaak,
het hierdie een gevange geneem vir die skoon liggaam
wat van my weggeneem is: en die wyse daarvan grief my nog.
103 Liefde, wat geen beminde kwytskeld van liefhê nie, het my so sterk aangegryp met sy bekoorlikheid, dat dit, soos jy sien, my nog steeds nie verlaat nie.
106 Liefde het ons na een dood aangevoer:
Kaina wag op hom wat ons die lewe ontneem het.”
Hierdie woorde is van hulle na ons aangedra.
109 Nadat ek die gekwelde siele aangehoor het, het ek my kop laat sak en dit só lank laag gehou dat die digter my eindelik vra: “Waaraan dink jy?”
112 Toe ek hom antwoord, het ek so begin: “Helaas!
Hoe teer die gedagtes, hoe groot die begeerte, wat hulle na die smartvolle pas gebring het!”
115 Daarna draai ek weer om na hulle om te praat en begin so: “Francesca, jou folteringe
beweeg my tot trane van droefheid en jammerte.
118 Maar vertel my: in daardie tyd van soete versugtinge, waardeur en hoe het die liefde julle toegelaat
om van die verbode begeertes bewus te word?”
121 En sy aan my: “Daar is geen groter pyn
as om in die bitterheid weer die tyd van geluk
opnuut terug te roep; dit besef jou meester.
124 Maar as jy dan so graag wil weet
hoe ons liefde vir die eerste keer aan ons openbaar is, sal ek vertel soos een wat tegelyk huil en praat.
127 Vir vermaak het ons eendag van Lancelot gelees en hoe die liefde hom verkneg het:
ons was alleen en sonder enige vermoede van kwaad.
130 Keer op keer het die lees van daardie verhaal ons na mekaar laat kyk en van kleur laat verander;
maar slegs een gedeelte het ons oorwin.
133 Toe lees ons hoe die soveel begeerde glimlag ’n soen kry van so aansienlik ’n minnaar,
het daardie een, wat nooit van my geskei sal word nie,
136 met sy mond al bewende my mond gesoen.
’n Galeotto was die boek en die skrywer daarvan:
daardie nag het ons nie verder daarin gelees nie.”
139 Terwyl die een skim dit so aan ons vertel,
het die ander só erg gehuil, dat ek uit meegevoel lighoofdig gewoord het, nes asof ek sterwende was:
142 en soos ’n dooie het ek neergeval.
7 Cas Vos se rymende versvertaling (aba, cdc, ens)
Oor Cas Vos se vertaling skryf WJ Henderson, emeritus professor in Grieks en Latyn en kenner van Italiaans, op die agterplat: Hierdie vertaling van Dante se Inferno is die eerste rymende vertaling in Afrikaans en ’n unieke bydrae tot die groeiende skat van Afrikaanse vertalings van die wêreld se meesterstukke.
Versvertaling op hierdie vlak en skaal vereis hoë tegniese vaardigheid, sterk skeppingsdrang, volgehoue toewyding en besondere taalvermoë – en ’n groot dosis entoesiasme, passie en liefde. Dit is ’n prestasie wat in die voorsienbare toekoms onherhaalbaar is en lank ’n standaardwerk sal wees.
WJ Henderson se vertaling van Hesiodos uit Grieks het pas verskyn (2022). Dit is ’n briljante meesterstuk.
7.1 Cas Vos se rymende versvertaling van canto v, 73–142
73 “Digter, ek sou graag aan dié twee iets wou vra,”
het ek begin. “Hulle wat hul aan mekaar toewy, lyk of die vlerke van die wind hulle saamdra.”
76 Hy sê vir my: “Jy sal hulle sien wanneer hulle nader aan ons is; jy hoef hulle net te vra in die naam
van die liefde wat hulle lei, en hulle sal by ons vergader.”
79 Toe die wind hulle na ons toe gebied het, was daar verdriet.
Ek het uitgeroep: “O vermoeide geeste, kom praat met ons – tensy ’n Ander julle op die weg verbied.”
82 Net soos duiwe, deur een innige begeerte se behae, met uitgespreide vlerke, en stil op pad na die soet nes, luglangs vlieg, deur begeerte geroep, deur instink gedra,
85 só het hul die skare waar Dido was, vaarwel toegewuif, en deur die bose lug gretig na ons toe gekom, só sterk aangespoor en deur my liefdevolle roep aangedryf.
88 “O lewende wese, so beleef en vriendelik, wat deur die purper lug na ons toe gekom het;
bloedbevlek het ons die aarde laat misluk.
91 As die Koning van die heelal ons vriend was, sou ons Hom om vrede vir jou gesmeek het,
omdat jy meegevoel het met ons treurige lot se las.
94 Terwyl die wind, soos nou, ons in stilte verlaat, sal ons hoor en praat oor die dinge wat jou aangaan;
ons sal graag daarna wil luister en daaroor wil praat.
97 Die plek waar ek gebore is, is geleë aan die kus, waar ’n rivier in die see uitmond; die Po se vloei met sy vertakkings vind daar vrede en kom tot rus.
100 Liefde wat snel in die sagte hart die oorhand kry, het daardie een vanweë my skoonheid aangegryp.
Hy is van my weggeruk; die wyse waarop – dit bedroef my.
103 Liefde waarmee die beminde innig bemin, het my soveel plesier aan hom laat gee;
dit is nog net so kragtig soos aan die begin.
106 Liefde het vir ons ’n requiem voorberei;
Kaina wag vir die een wat die liefde geblus het.”
Ná al die woorde het Francesca stilgebly.
109 En ná die aanhoor van haar liefdesklagtes, het ek my kop laat sak en dit lank só gehou,
totdat die digter my vra oor my somber gedagtes.
112 Toe ek woorde bymekaar kon kry, het ek bely:
“Ag, dat sulke soet gedagtes, so ’n groot begeerte, hulle op die pad van hul smartlike lyding kon lei!”
115 Ek het daarna na hulle toe gedraai en begin praat:
“Francesca, jou beproewinge beweeg my tot trane van innige verdriet en diep jammerte sonder maat.
118 Maar vertel my hoe die liefde in die tyd van julle soet versugtinge dit reggekry het
dat twyfelagtige begeertes jou oorval het, tot jou spyt?”
121 En sy het geantwoord; “Daar is geen groter pyn
as om in ’n tyd van ellende aan dae van vergange geluk terug te dink nie; jou leermeester weet van die suur asyn.
124 Maar as jy so gretig is om die liefde se towerspel
te leer ken, en wil weet hoe liefde ons twee oorrompel het,
sal ek tussen my trane deur met jou praat en jou vertel.
127 Ons het op ’n dag sommer vir tydverdryf gelees hoe die liefde Lancelot se knieë laat knak het.
Ons was saam in die bootjie, sonder enige vrees.
130 Meermale het die lees van daardie verhaal ons oë na mekaar laat draai en laat bloos;
maar één passasie was genoeg om ons oor te haal.
133 Toe ons lees hoe haar begeerlike lippe versag en deur so ’n minnaar liefdevol gekus word, het die een onskeibaar van my, my bedag
136 op my mond gesoen, bewend en belus.
Die skrywer van die boek was ons Galahad.
Daardie dag het ons twee die boek laat rus.”
139 Terwyl die een gees dit so aan ons vertel, het die ander een so onbedaarlik gehuil dat ek uit diep jammerte wegkrimp, alles word vir my hel.
142 En soos ’n dooie liggaam slaan ek neer, op die plek.
8 Canto XXXII, 31–60
8.1 Verklarende aantekeninge
Laatmiddag, tussen 16:00 en 18:00 op Saterdag 9 April, gaan die reisigers die negende sirkel binne (Vos 2021:457). Vervolgens kom Dante by twee
kopstampende broers uit wat saam in een gat in die ys begrawe is. Hulle is die broers Alessandro (’n Guelf) en Napoleone degli Alberti (’n Ghibellyn) wat mekaar in ’n struweling oor ’n erfporsie om die lewe gebring het. Hulle was die seuns van Graaf Alberto van Mangona, ʼn grondbaron naby Florence. In stede daarvan om as broers een van sin en hart te wees en te leef, is hulle hare in die koue deurmekaar saamgekoek en hulle koppe deur hul bevrore trane tot ’n blok ys saamgevries. Hulle wou mos veg – nou is hulle letterlik kop in een mus!
Slegs die twee koppe steek bo die ys uit, en die agterste een, wat met sy voorkant teen die rugkant van die voorste een staan, is besig om met ’n bebloede mond aan die stukkende agterkop van die voorste een te kou.
Hierdie weersinwekkende toneel laat Dante aan die afgryslike voorval in die oorlog van die sewe konings van Thebes dink (34–6). Die skimme is tot by die nek (tot daar waar die vel verkleur as ’n mens van skaamte bloos) in die ys, en hulle liggame is bloubleek van die koue. Die koue laat hulle tande sonder ophou klapper, en hulle maak ’n geraas soos dié van ooievaars wanneer hulle hul snawels oop en toe klap (41). Hierdie skimme sit in die ys met hulle koppe styf teen mekaar (46–8).
Nadat die skimme hulle koppe opgetel het, val hulle trane nie meer op die ys nie, maar stol op hulle wange (55–6). Die bitter ironie is dat die haatdraende broers nou vir ewig onskeibaar saamgevoeg is. Hier is ’n voorbeeld van die
“contrapasso”-straf (gepaste vergelding) wat Dante toepas (59–60; vgl ook canto III:55). Die skreiende ironie kan die leser nie ontgaan nie (Vos 2021:458–
460).
9 Delamaine du Toit se vertaling
31 En soos die padda met sy snoet bo water sit om te kwaak, wanneer die boeremeisie snags dikwels van die insameling van die oes droom;
34 net so, doodsbleek tot waar die kleur van skaamte wys, was die lydende skimme vasgeklem in die ys,
hul tande klappende op die wysie van die ooievaar.
37 Elkeen het sy gesig na onder gehou;
deur die mond word die koue, en deur die oë word die ellende van die hart kenbaar gemaak.
40 Nadat ek ’n tyd lank so rondgekyk het,
het ek afgekyk en twee so styf teen mekaar gesien dat die hare van hulle koppe vermeng was.
43 “Vertel my, julle wat so bors aan bors lê,”
het ek gesê, “wie is julle?” En hulle het hul
nekke agteroor gebuig en hul gesigte na my opgelig;
46 toe het hul oë, wat eers net van binne vogtig was
trane tot oor die lippe gestort; en die ysige koue het die trane tussen hulle gebind en hulle nog stewiger aan mekaar geheg.
49 Hout op hout is nog nooit deur ’n ysterklem so vasgedruk nie; waarop hulle soos twee bokramme koppe gestamp het, so ’n woede het hulle oorweldig.
52 En een wat albei ore deur die koue
verloor het, het met sy kop steeds na onder gebuig, gesê: “Waarom spieël jy my so lank?”
55 En sou jy dan wil weet wie daardie twee is, die vallei waardeur die Bisenzio afloop
het aan hul vader Albert en aan hulle behoort.
58 Hulle het uit een liggaam gekom; en jy sal die hele Kaina deursoek en nie ’n skadu vind wat meer verdien om in jellie geplaas te word nie;
10 Cas Vos se rymende versvertaling
31 Soos paddas met oestyd, as die boerin droom van singende oesgerwe, in die water sit en kwaak met hulle snoete opgelig bo die waterstroom,
34 net so was die bleekblou skimme vasgevries tot daar waar ’n mens van pure skaamte bloos, soos ooievaars hul snawels klap in die bries.
37 Almal het afgekyk en hulle gesigte na onder gehou, en deur die mond word die bibberkoue, en deur die oë word die ellende van treurende harte kenbaar ontvou.
40 Ek het ’n bietjie rondgeloer, en toe ek na my voete kyk, het ek twee onbekendes gewaar, so styf teen mekaar dat hulle hare ineengestrengel was, so het dit gelyk.
43 “Sê my, julle, so styf teen mekaar saamgekoek, wie is julle?” Toe het hulle hul nekke agteroor gebuig, en hulle droewe gesigte het my opgesoek.
46 En uit hulle oë, eers mistig, het trane soos ’n bries begin opwel, en tot by hulle lippe in strome gedrup;
en trane het hulle aanmekaar gebind en vasgevries.
49 Hout op hout is nog nooit deur ’n ysterklem so vasgedruk nie; hulle was so styf teen mekaar soos twee koppe in ’n kopstampgeveg van woedende bokramme verstrik.
52 Een wat sy ore van yskoue verloor het,
wil weet: “Waarom kyk julle ons so skeef aan?
Julle moet nou aandagtig op my woorde let.
55 As jy dan wil weet wie is daardie twee naas my – wel, die vallei waardeur die Bisenzio afvloei,
behoort aan hulle vader Albert, en aan hulle albei.
58 Een moeder het wel bloed vir hulle lewe gestort – soek gerus die hele Kaina deur – die twee het dit meer as enige gees verdien om in ys geplaas te word.
’n Slotwoord
Die taalreis het van brontaal na vertaal, ver-taal en ver-vel gelei (Breytenbach).
Dit laat heerlike nuwe vars ritmes en verstaan in Afrikaans tot stand kom. Die onverbiddelike eis is egter om die brontaal te ken en te begryp. Dit is ’n moeisame en duldsame weg, maar ook opwindend en vol verrassings.
BRONNELYS
Durling, R.M. en Martinez, R.S. 1996. The Divine Comedy of Dante Alighieri.
Inferno. New York: Oxford University Press.
Du Toit, D. 1990. Die Hel. Italiaanse teks met Afrikaanse vertaling en kommentaar. Houtbaai: Zebra Publikasies.
Hollander, J. 2003. Getting Just a Small Part of It Right. R. De Rooy (red.). Divine Comedies for the New Millennium. Recent DANTE Translations in AMERICA and THE NETHERLANDS. Amsterdam: Amsterdam University Press.
Hollander, R. en Hollander, J. 2000. Dante Alighieri. Inferno. New York:
Doubleday.
Janssen, J. 1999. Dante Alighieri. De goddelijke komedie. Deel 1. Nijmegen: Sun.
Kennedy, E. 2008. Lancelot of the Lake. Inleiding deur Corin Corley. Vertaling en aantekeninge deur Elspeth Kennedy. Oxford: Oxford University Press.
Krüger, J.S. 2013. Dante se mistieke reis eerste tog: Inferno. Pretoria: Sentrum vir Mistiek.
Lansing, R. 2000. Francesca da Rimini. In: The Dante Encyclopedia. New York/Londen: Garland Publishing, 409–14.
Liedboek van die Kerk. 2001. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.
Pinsky, R. 1994. The Inferno of Dante. A new verse translation. Met notas deur Nicole Pinsky, voorwoord deur John Freccero. New York: Farrar Straus &
Giroux.
Schuman, N. 2002. Pastorale. Zoetermeer: Meinema.
Sinclair, J. 1939. The Divine Comedy of Dante Alighieri. Inferno. Met vertaling en kommentaar deur John D. Sinclair. New York: Oxford University Press.
Singleton, C.S. 1954. Dante’s Commedia. Elements of structure. Baltimore: The John Hopkins University Press.
Singleton, C.S. 1970. The Divine Comedy. Inferno. Met vertaling en
kommentaar deur Charles S. Singleton. Princeton: Princeton University Press.
Strydom, L. 1994. Sing nuwe sange, nuutgebore. Liturgie en Lied.
Bloemfontein: Noordwes-Universiteit.
Thornton, P. 2017. Dante’s The Inferno. Arcadia: Simon & Schuster.
Torrance, R. 2011. Dante’s Inferno. A New Translation in Terza Rima. VSA.
Van Rooy, J.H. 2008. Die Psalmboek 2003 as kommunikasiemiddel in die liturgie van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. ’n Himnologiese studie.
PhD-proefskrif. Potchefstroom: Noord-Wes Universiteit.
Vos, C. 2015. ’n Literêre en himnologiese blik op Psalm 23. Met die digter praat, Odendaal, Bernard en Wolfaardt-Gräbe. Tydskrif vir
Geesteswetenskappe, 42(100):27–36.
Vos, C. 2021. Inferno. Gansbaai: Naledi.
Vos, C.J.A. 2020. The Lord is my Shepherd in Suffering. Old Testament Studies, 33(3):634–648. Pretoria: The Old Testament Society of South Africa.