Soos vroeër genoem laat Opperman die leser toe om te eksperimenteer met die teks en dat dit deur die genoemde benadering die leser/ontvanger toelaat om sy/haar denke te orden volgens die vereistes van die geskrewe teks, asook om gebruik te maak van sy/haar onmiddellike omgewing om betekenis en begrip te vergroot. ʼn Groot deel van Opperman se benadering tot die geskrewe woord is gebaseer op die laasgenoemde aspek en in sy digbundel Komas is dit duidelik dat die leser se vermoë om gebruik te maak van sy/haar lewe en ervarings, van die uiterste belang is. Om beter te kan verstaan hoe Opperman daarin slaag om die persoonlike aard en bedoelde boodskap aan die leser oor te dra, sal daar vlugtig na die Russiese Formalisme gekyk word, met klem op die
konsep van bevoorgronding binne ʼn kommunikatiewe raamwerk. Vanuit die bespreking wat sal volg, sal dit duidelik aan die leser gestel word hoe Opperman, anders as die Outonomiebenadering tot die Afrikaanse literatuur waar die literêre werk gegradeer was volgens die estetiese waarde daarvan, meer aanklank vind by die Russiese Formalisme, aangesien hierdie benadering literêre werke gradeer op die basis van die oorspronklikheid en vermoë om die leser te verras.
Gedurende die twintigste eeu was daar in Suid-Afrika, asook elders in die teoretiese beskouings aansienlike spanning tussen twee eksegetiese benaderings: ʼn historiese kritiese ondersoek (diachroniese), teenoor die ondersoek van die teks in sy finale stadium (sinchroniese) (De Villiers, 2006:30). Die Literatuurwetenskap, net soos in die geval van die letterkunde, beskik nie alleenlik net oor ’n sinchroniese aspek nie, maar ook ’n diachroniese aspek. Beide hierdie aspekte bestaan nie net as sodanig nie, maar ontstaan en ontwikkel oor tyd. Gevolglik moet die historiese verloop van die Literatuurwetenskap as ’n opeenvolging van beide ’n oorsaak en ’n gevolg beskou word (Van der Berg, 2010:84). Deur hierdie kommunikatiewe raamwerk te gebruik kan daar gekyk word na hoe die Russiese Formalisme bygedra het tot die eietydse literatuurbeskouing, asook hoe Opperman se digbundel Komas, aansluit by die benadering.
Voordat daar gekyk word na hoe Opperman se werk en digbundel aansluit by die Russiese Formalisme se bevoorgronding en vervreemding, is dit essensieel dat ’n voldoende interpretasie van en kennis oor die term ‘Outonomisme’ gevorm word, aangesien die Russiese Formalisme ’n onderafdeling daarvan vorm. Die Outonomiebenadering gaan van die vertrekpuntuit dat ʼn kunswerk slegs kuns is en niks anders nie. Dit is duidelik vanuit hierdie benadering dat dit sterk gekant is teen die historiese (diachroniese) benadering van die literatuur, asook ’n minagting van die 19e-eeuse Positivisme met sy aandag vir die outeur, toon (Van der Berg, 2010:90). Vanuit die outonomiese standpunt is die literêre teks nie afhanklikvan of in diens van een of ander boodskap wat dit moet verkondig nie. Die wesenlike element is die skoonheid of die estetiese element wat teenwoordig is binne ’n literêre werk. Hier kan Opperman se benadering as anders beskou word, aangesien hy, anders as die Outonomiese-benadering en hulle fokus op die kuns as ʼn enkel eenheid, kuns as iets dinamies en afhanklik van buite entiteite om betekenis en waarde oor te dra, beskou, wat strook met ʼn kommunikatiewe benadering. Tweedens word daar gekonsentreer op die ontleding van die enkele teks, en word daar wegbeweeg vanaf ander tekste. Die teks word afsonderlik gelees en geïnterpreteer en is nie afhanklik van ander werke om verklaar te word nie.
Die laasgenoemde aspek staan ook in direkte kontras met die benadering wat Opperman volg, aangesien die doel van baie van Opperman se werke, en so ook sy digbundel Komas, is om die leser deel van die volle reis te maak. In Opperman se digbundel vorm die aparte eenhede, dit wil
sê titel, voorblad, titelblad, rolle ensovoorts saam die nodige betekenis wat die digter aan die leser probeer oordra. Derdens reageer die Outonomiste sterk teen die voorafgaande literêre Positiviste, aangesien die Outonomiste volkome teksgerig is en die persoon wat die teks lees en interpreteer geskei word van die skrywer. Binne die konteks van die Outonomiste is dit nie belangrik wat die skrywer probeer sê nie, maar wel wat die teks probeer sê. Die literatuur word verder ook nie beskou as ’n verteenwoordiger van die werklikheid nie. Hiermee word bedoel dat die literatuur nie as funksioneel beskou word nie, met ander woorde dit word nie gemeet op grond van sy feitlike korrektheid nie, aangesien die skrywer gebruik maak van sy verbeelding en sodoende skryf oor dit wat sou kon bestaan. Ons het dus hier te doen met ’n “wêreld in woorde” (Van der Merwe & Viljoen, 1998:94 & 95). Wanneer daar na Opperman se digbundel Komas gekyk word, is dit duidelik dat die juis deur die persoonlike aard van die inhoud van die gedigte is dat die leser meer aanklank daarby vind en beter kan vereenselwig met dit wat uitgebeeld word.
Kort voor die jare 1920 vind ons die eerste tekens van ʼn nuwe beweging van kunstenaars, literêre kritici en taalondersoekers. Gedurende hierdie tydperk word alle klem geplaas op die werk en taal van die kunswerk (van der Berg, 2010:90). Die beginpunt van die moderne literêre teorie lê dus by die Russiese Formaliste, aangesien hierdie individue, soos byvoorbeeld V. Sklvoskij, bygedra het tot die hernude benadering van die literatuurbeskouing. Hierdie sogenaamde Formaliste het deur middel van essensiële vrae soos “Wat is literariteit?”, probeer vasstel waarin die uniekheid van ’n literêre teks lê (Van der Merwe & Viljoen. 1998:97). Daar is ook verskeie bewyse dat die Russiese Formaliste, soos o.a. Sklovskij en Erlich, niks wou weet van die vroeëre benadering tot literatuur nie, soos byvoorbeeld die biografiese, sosiologiese, psigologiese en ander benaderings.
Met betrekking tot die hoofstrewes van die Russiese Formaliste vind ons eerstens ’n verwerping van die onderskeid tussen die vorm en die inhoud van ’n literêre teks. Net soos deur Opperman word elke element wat ingesluit is in die teks, beskou as ’n formele onderdeel van die geheel. Die teks moet in sy geheel gelees, geïnterpreteer en geniet word, net soos Opperman se digbundel Komas. Tweedens word daar vanuit die veronderstelling, dat die werk ’n eie bestaan voer, gewerk.
Die persoon wat die teks lees en interpreteer word gevolglik van die skrywer geskei. Daar word, soos vroeër genoem, nie klem geplaas op wat die skrywer probeer sê nie, maar meer op wat die teks probeer sê. Alhoewel die skrywer, in hierdie geval Opperman, ʼn sekere boodskap probeer oordra aan die leser, word die leser toegelaat om sy/haar eie ervaringswêreld te gebruik, asook die teks op ʼn individuele basis te lees. Derdens word nuwe opvattings van die bou van verse as essensieel beskou, aangesien dit nie soveel gaan oor die kombinasie van ’n sterk en ’n swak lettergreep in ʼn teks nie (versvoete), maar eerder oor die versreël as die belangrikste ritmiese eenheid. In Opperman se gedigte wat deel vorm van sy digbundel Komas is dit duidelik dat nie al die gedigte klem plaas op korrekte taalgebruik, beklemtoonde en onbeklemtoonde lettergrepe,
ensovoorts nie, dit is juis deur nie die genoemde aspekte in te sluit nie dat Opperman daarin slaag om die leser bloot te stel aan die reis wat hy moes ondergaan as digter en mens. Laastens word die literatuur deur die Russiese Formaliste beoordeel volgens die oorspronklikheid daarvan, die nuutheid/andersheid, verassings wat daarin versteek is, ensovoorts (Van der Berg, 2010:91).
Binne die tydsgees van die Russiese Formaliste word daar ook klem geplaas op die gebruik van alledaagse taalgebruik. Volgens die Russiese Formaliste staan die literêre taal in verhouding tot die alledaagse taal (Bogman, e.a. 1982:8). Dit is deur ’n teks op hierdie manier aan die leser voor te stel dat die leser meer betrokke by die literêre teks voel, asook dat daar verhoed word dat die taal al die aandag op homself trek in plaas van iets “daar buite”. Volgens die Formaliste bestaan die tema van ’n verhaal uit motiewe waaruit die verhaal opgebou is. Dit is duidelik dat die teks in sy geheel geïnterpreteer en geëvalueer moet word (Van der Merwe & Viljoen. 1998:98). Die Russiese Formaliste was dus nie soseer behep met die voltooide literêre produk nie, maar eerder met die proses verbonde aan die produksie van die literêre werk (Bogman, e.a. 1982:9).
Met betrekking tot die bogenoemde, is dit duidelik dat die Russiese Formaliste ’n essensiële bydrae gelewer het tot die eietydse literatuurbeskouing, asook die manier waarop Opperman die skryfproses benader het en dit word binne ʼn kommunikatiewe benadering benut. Die Literatuurwetenskap beskik nie alleenlik net oor ’n sinchroniese aspek nie, maar ook ’n diachroniese aspek. Gevolglik kan die historiese verloop van die Literatuurwetenskap as ’n kombinasie van beide ’n oorsaak en ’n gevolg beskou word.
2.5 Eksplisiete en Implisiete motiewe en temas binne die Afrikaanse literatuur soos uitgebeeld in