• Tidak ada hasil yang ditemukan

19 Van Zyl 03.pmd - Tydskrif vir Letterkunde

N/A
N/A
Protected

Academic year: 2024

Membagikan "19 Van Zyl 03.pmd - Tydskrif vir Letterkunde"

Copied!
3
0
0

Teks penuh

(1)

TYDSKRIF VIR LETTERKUNDE • 46 (1) • 2009 220

Huldeblyk

George Weideman (1947–2008)

Wium van Zyl Wium van Zyl is Professor in Nederlandse en Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville.

E-pos: [email protected]

Hy het meer as watter Afrikaanse skrywer nie een nie, maar baie stemme gegee aan die sondeurbakte, droë dele van ons land. Streekskrywer kan hy genoem word, maar hy was ook as digter, dramaturg en aksievoerder gereeld te vinde in die middel van die nimmereindigende worstelstryd teen die legio gedaantes wat die onreg in Suid- Afrika aanneem. Hoe trots sou hy nie gewees het op die mense van Pella wat onlangs in eenvoudige, maar helder taal vir Mammon die hek gewys het nie!

Met die oorlye van George Weideman in Augustus 2008, nadat hy lank en dapper teen ’n slopende siekte geveg het, het Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde nie slegs ’n skrywer nie, maar ’n vriend verloor. Daar was verslaenheid in die oë van die kelners in die koffiewinkel waar ’n paar van ons soms bymekaargekom het: ’n groepie wat buig oor sorgwekkende verwikkelinge, maar dan ewe dikwels kon uitbars van die lag vir die komieklikhede waarin ons eietydse geskiedenis so mildelik voorsien.

Toe die Afrikaans Skrywersgilde indertyd die stryd teen sensuur en ander wan- toestande begin, was George dáár as een van die jongstes. In sy poësie het politiek- betrokke temas naas sy streekgedigte ’n natuurlike plek gekry. Só dig hy met ’n snydende ingehouenheid oor die verskuiwing van Kalkbaaise vissers weens die groepsgebiedewet in “By Kalkbaai roei die vissers uit”. In sy “Geskiedenisles” word die soveelste onreg teenoor ons oerbewoners, die “boesmans”, uitgewys en in “Herin- neringe van die teruggekeerde soldaat” die pyn en littekens van die grensoorlog op landskap én mens. Toe grootkoppe met te groot koppe aan die Universiteit van Stel- lenbosch met misleidende maneuvers begin om Afrikaans as akademiese taal op ’n glybaan die niet in te plaas, neem hy die leiding (saam met Leonard Koza en Elsa Joubert) by ’n protesskrif deur ’n ongeëwenaarde hoeveelheid skrywers. Toe sy uit- gewer van baie jare ’n skrywersonvriendelike rigting inslaan, huiwer hy nie – seker- lik tot sy geldelike skade – om sy samewerking met hulle te staak. Bekommerd oor die boekdroogte in die hartland van ons taal, organiseer hy ondanks sy swak gesondheid reise om deur voorleesaande die Afrikaanse boek te besorg op plekke waarvan uit- gewersagente nog nie eens gehoor het nie.

Die Karoo en die Noordweste het hy geken soos ’n vertroude instrument. Hierop tokkel hy soms skaterende gedigte uit soos “Plaasensemble, simfonie vir blasers, honkie-

19 Van Zyl 03.pmd 220 2/9/2009, 9:29 AM

(2)

TYDSKRIF VIR LETTERKUNDE • 46 (1) • 2009 221

tonk en mezzosopraan” waarin hy deur ’n “diva van ’n merrie” vir “Callas, ten minste, op die toppunt van haar roem” laat ore aansit. Soms speel hy verlangend brokstukke ná van vergete en verlore melodieë soos “jan koesee die unie-man”. Hoe bly was hy nie toe die res van hierdie spotlied op die Unietroepe ná hul vernederende neerlaag teen Maritz se rebelle by Nous onverwags opduik in ’n gedenkboek van die Nous- gemeente in 2005.

Hy besing egter nie slegs die streek nie, maar kap ook soms skerp na inkommers wat wil neersien. In “Blommekykers” word die oppervlakkige belangstelling van hierdie seisoenale toeriste aan die kaak gestel. Die reisiger William Charles Scully wat hom in sy Between sun and sand nie kon weerhou van neerhalendhede teenoor die bewoners nie én die vele fortuinsoekers oordeel hy in een asem vernietigend (in:

“Die verowering”): “Verinneweer het hulle: die eenvoud, die vertroue, die gasvry- heid, die eer”.

George was meesal aan meer as een projek gelyk besig. Uiteindelik het hy vir ons ses digbundels, twee romans, vier bundels kortverhale, sewe jeugboeke, etlike ver- hoogdramas waarvan net een gepubliseer is en drie ongepubliseerde radiodramas nagelaat.

Sy Hondegaloppie verskyn in 1966 nadat hy voorheen al die aandag getrek het met sy deelname aan die radioprogram “Skrywers van die toekoms”. In 1997 word sy laaste bundel, ’n Staning onder sterre, gepubliseer, gevolg deur die bloemlesing Pella lê

’n kruistog ver (1998). In 2006 ontvang hy op die Stellenbosse Versindaba die gesogte Akkertoekenning vir sy bevordering van die Afrikaanse poësie. Sy kosboek: Verskom- buis – ’n Kookboek met gedigte (2006) bevat van sy laaste gedigte.

Uit sy kortverhaalbundels, Tuin van klip en vuur (1993), Die donker melk van daeraad (1994), Newelig (2006) en Bloujare se stories (2007), word tereg heelwat werk opgeneem in skoolbloemlesings. Só het o.m. “Die muisvoëls en die vyeboom” en “(Angie word

’n gangster. ’n Fairytale)” deel geword van baie kinders se lekkerste padkos vir ’n leeftyd.

Onder sy jeug- en kinderverhale tel Los my uit, paloekas! en Optog van die aftjoppers.

Dit het hom drie keer die Sanlam-prys besorg en een keer die Scheepers-prys vir jeugliteratuur. Optog van die aftjoppers is ook deur die Kinderboekforum benoem as IBBY Ereboek vir die “International Board on Books for Young People”. In Die geel komplot (2003), ’n muisverhaal, laat hy sy karakters o.m. die volgende onvergeetlike bevinding maak: “kaas is melk se sprong na onsterflikheid” …

Met sy eerste roman Die onderskepper (1997) behaal hy die tweede plek in die De Kat–romanwedstryd en ontvang dan die W. A. Hofmeyr-prys daarvoor. Sy tweede, die “skelmroman” Draaijakkals, verower in 2000 die ATKV- en M-Net-pryse.

Hy ontvang ’n erepenning van die Akademie vir sy dramas en radiodramas. Hier- onder tel sy enigste gepubliseerde verhoogstuk, My plaas se naam is Vergenoeg, waarin hy op relativerende wyse die brandende kwessie van grondbesit takel.

19 Van Zyl 03.pmd 221 2/9/2009, 9:29 AM

(3)

TYDSKRIF VIR LETTERKUNDE • 46 (1) • 2009 222

George Weideman was ook voortreflike dosent en vakkundige. In 1982 behaal hy

’n doktorsgraad oor betrokkenheid in die letterkunde onder André P. Brink aan die Rhodes-universiteit. In die jare tagtig is hy professor in Afrikaans en Nederlands aan die Windhoekse Akademie ná ’n loopbaan as onderwyser. Daarna verskuif hy na die Skiereilandse Technikon voordat hy vervroeg aftree en heeltydse skrywer word. Hy bly egter betrokke by die vak, o.m. as navorsingsgenoot van die Vrystaatse Univer- siteit. Kenmerkend van die deeglike navorsing wat hy in hierdie tyd doen, is sy opstel oor “Die clowneske in die kortverhale van Abraham H. de Vries” vir die huldig- ingsbundel Elke slot ’n weerbegin (2007). Hierdie uitgebreide stuk toon nie slegs sy vermoë om deur te dring tot onverkende aspekte van ’n verwikkelde oeuvre nie, maar verraai ook heelwat oor die voorstudie vir sy eie Draaijakkals.

Met die heengaan van George Weideman verloor Afrikaans ’n bron van literêre entoesiasme, deurdagtheid, etiese standvastigheid en kreatiwiteit wat nog baie lank gemis sal word.

19 Van Zyl 03.pmd 222 2/9/2009, 9:29 AM

Referensi

Dokumen terkait

Towards a conceptualization of the study of Africa’s indigenous manuscript heritage and tradition This paper share experiences of th South African Conservation Technical Team of the

Inskiklikheid is op sigself nie sleg nie maar word opsigtelik wanneer die norme van een groep teen ’n ander indruis soos tussen adolessente en ouers Cobb, 2010:228.. Cobb 2010:228

Daar is besluit om seksistiese taalgebruik in die vertaling te vermy en gevolglik is anaforiese verwysings nie in die Afrikaanse doelteks gebruik nie kyk Figuur 5 hierbo: “Eerste taal

Later in die bundel volg die verhaal “Die kind se suster” waarin die dogter van die seuntjie se suster met haar selfoon ’n foto neem van haar ma in haar doodskis nadat sy die

So word Etienne se soektog na Axel eintlik ‘n speurtog na homself—hy wórd Axel; sy verdrukkende Suid-Afrikaanse kindertyd word verplaas deur Axel se veel erger Duitse verlede.. Die

Die titel bied reeds ’n belangrike sleutel tot die bundel, want dit is ’n plundering in verskillende gedaantes wat in hierdie bundel ontmasker, maar ook ontgin word.. Daar is die

Toe Jenesis egter onwettig geboorte skenk aan ’n tweeling en deur Generaal Ben Wagner van die regering se Gewapende Magte gedwing word om toe te kyk hoe haar kinders aan die Medi-Bot

Toen in 1996 de eerste editie van Michael Chapmans Southern African Literatures ver- scheen, uitten verschillende Zuid-Afrikaan- se critici bedenkingen tegen het feit dat het boek bij