• Tidak ada hasil yang ditemukan

Graad 6 Afrikaans Huistaal November 2022 Vraestel 1 ... - LitNet

N/A
N/A
Protected

Academic year: 2024

Membagikan "Graad 6 Afrikaans Huistaal November 2022 Vraestel 1 ... - LitNet"

Copied!
14
0
0

Teks penuh

(1)

Graad 6 Afrikaans Huistaal November 2022

Vraestel 1 Afdeling A Hardoplees

Fabel: Waarom kraaanvoëls altyd op een been staan

1 Die koning was ’n goeie koning, maar hy het baie vyande gehad. Die getroue

kraanvoëls wou nie hê dat die vyand hom gevange moes neem nie, aangesien hulle baie lief was vir hom. Dit was altyd moontlik, veral snags, dat daar ’n vyand in die paleis kon inkom en die koning gevange sou neem.

2 “Wat kan ons doen?” het hulle gewonder. “Die soldate wat op wag behoort te staan, slaap gewoonlik. Die honde is gedurig uit op jagtogte en is altyd moeg. Daarom is dit óns taak om die paleis te bewaak sodat ons koning rustig kan slaap.”

3 Dus het die kraanvoëls besluit om wagte te word. Hulle het hulself in groepe ingedeel. Elke groep het op verskillende plekke waggehou. Die wagte het dan ook gereeld afgewissel. Sodoende sou hulle altyd uitgerus wees.

4 Die grootste groep het hulle rondom die paleis opgestel. Ander groepe het by die verskillende ingangspoorte stelling ingeneem. ’n Ander groep het in die koning se slaapkamer waggehou. Sodoende was die moontlikheid dat die vyand deur die venster kon kom, heeltemal uitgeskakel.

5 “Sê nou ons word tóg vaak en raak aan die slaap?” het sommige van die voëls gevra. “Ons mág mos net eenvoudig nie ons koning in die steek laat nie.”

6 “Ek weet hoe ons kan verhoed dat ons aan die slaap sal raak,” het die oudste kraanvoël gesê.

7 “Elkeen moet gedurende sy wagbeurt sy een poot optrek en ’n klip daarin vasklou.

As hy aan die slaap raak, sal die klip uit sy poot val en op die grond rol. Die lawaai van die rollende klip sal die kraanvoël wat aan die slaap geraak het, dadelik

wakkermaak.”

8 Van daardie dag af hou die kraanvoëls elke nag, in skofte van twee uur, op hul een been wag. Tot vandag toe het nog nie één sy klip laat val nie.

Uit: Fabels en Legendes

Hardoplees: Waarom kraanvoëls altyd op een poot staan

Rubriek

Vloeiend lees en pousering: 1 2 3 4 5

Stemtoon, stembuiging en beklemtoning: 1 2 3 4 5

Hoorbaarheid en uitspraak: 1 2 3 4 5

Totaal: 15 /15

(2)

Graad 6 Afrikaans Huistaal November 2022

Vraestel 1 Afdeling B Luister en praat

Onderhoud: Onderhoud met Bennie B-snaar

Die veelbesproke rockgroep, Die Snare, is besig om Suid-Afrika aan die brand te sing. Ons waardeer dit dat Bennie B-snaar, die groep se hoofsanger, ’n tydjie uit sy besige skedule kon afknyp om met ons te gesels.

Onderhoudvoerder: Hoe ervaar jy en jou medegroeplede die warrelwind na roem wat Die Snare die afgelope ses maande beleef het?

Bennie B-snaar: Dis ’n ongelooflike gevoel as jy ’n liedjie sing en die skare sing saam met jou. Dis ’n gevoel wat jy vir niemand kan beskryf nie.

Onderhoudvoerder: Julle treffer, “Gebreekte Snaar”, is duidelik ’n lied wat die hartsnare van Suid-Afrikaners roer. Is die liedjie op ’n persoonlike ervaring gebaseer?

Bennie B-snaar: Ja, dit is. Nadat Simon Simbaal, ons dromspeler, se meisie hom gelos het, het hy “Gebreekte Snaar” geskryf.

Onderhoudvoerder: Die baskitaarspeler, Abel A-snaar, het gisteraand gedurig op die verhoog gesteier. Was hy onder die invloed?

Bennie B-snaar: Hy was beslis nie onder die invloed van drank nie. Hy het ook nie enige verbode middels gebruik nie. Hy beweeg gewoonlik op die maat van die musiek oor die verhoog.

Onderhoudvoerder: Wat is Die Snare se nabye toekomsplanne?

Bennie B-snaar: Ons is tans besig om ons tweede album, Stem jou snaar, Boeta, op te neem. Dit behoort vroeg in Desember uitgereik te word.

Wel, ek is seker hierdie rockgroep gaan nog geskiedenis in die musiekwêreld maak.

1 Met wie word daar ’n onderhoud gevoer? /1

2 Watter groeplid het die emosie van hartseer beleef? /1 3 Verskaf TWEE redes waarom jy sou sê dat hierdie rockgroep gewild is. /2 4 Waarom sou jy sê dat ons dialoog in enige onderhoud aantref? /1 Praat: Voer ’n onderhoud met ’n sportheld / ’n sanger / ’n filmster / ’n geneesheer.

Rubriek

Vloeiend praat en pousering: 1 2 3 4 5

Stemtoon, stembuiging en beklemtoning: 1 2 3 4 5 Hoorbaarheid, uitspraak en oogkontak: 1 2 3 4 5

Totaal: 20 /20

(3)

Graad 6 Afrikaans Huistaal November 2022

Vraestel 2 Afdeling A Leesbegrip

1 Biografie: Outa Lappies: Sy lewensverhaal in kleurvolle lap

1 Hy weet nie presies wanneer hy gebore is nie. Hy weet wel dat hy onder ’n koeniebos langs die pad gebore is.

2 Die nag toe Jan Schoeman gebore is, was sy ouers op reis tussen plase. Hulle was skaapskeerders en het baie rondgetrek. Nadat Jan gebore is, het sy pa gebid en gewens dat hy iemand sal word wat “iets uit niets” maak. Outa (soos hy homself genoem het) het nooit sy skoolloopbaan voltooi nie.

3 Toe hy ouer word, het hy begin om met ’n waentjie met sy paar besittings daarop rond te trek. Hy het rommel en afvalmateriaal versamel en dit gebruik om pragtige kunswerke te skep. ’n Vriend van Outa Lappies het met gelapte klere kerk toe gegaan. Die kinders het hom toe gespot. Dit het Outa Lappies so ontstel dat hy met helder stukke lap en goiingsakke ’n jas gemaak het. Hy het dit gedra in protes teen die kinders se tergery. Spoedig het hy dan ook die bynaam Outa Lappies gekry. Die kleurryke jas het sy uniform geword en hy was regdeur sy lewe bekend as Outa Lappies of die Lappiesman.

4 Daar was drie uitdrukkinge wat Outa Lappies se lewensfilosofie opgesom het. Hy het sy pa se wens vervul en altyd gesê: “Ek maak iets uit niets.” Hy het ook gereken dat hy gestuur is om die aarde te versier. Oral waar hy gewoon het, selfs onder ’n boom, het hy kunswerke geskep wat die omgewing versier het. Sy derde uitdrukking, wat volgens hom die resep vir geluk is, was: “Besige hande en ’n rustige hart.” Outa Lappies het dié uitdrukking gereeld in sy kunswerk uitgebeeld as die buitelyn van ’n hand met ’n hartvorm in die middel.

5 Outa Lappies se grootste nalatenskap is die stukkies lap waarop hy versies wat sy lewensverhaal vertel, borduur het. Hy het dit sy “chapters” genoem. Hy het dan hierdie lappies aan toeriste verkoop om sodoende aan die lewe te bly en om kos te koop vir al die huislose katte en honde wat hy versorg het. Sy lewensverhaal is geskryf op die lappe van sy “chapters” en in die harte van die mense wat vreugde gekry het uit sy wysheid, lewenslus en unieke kuns.

1.1 Lees paragraaf 1. Dui die ruimte aan. (1)

1.2 Oor watter onaanvaarbare karaktereienskap het die kinders beskik? (1) 1.3 Watter emosie het Outa Lappies in paragraaf 3 ervaar? (1) 1.4 Wat was die oorsaak waarom hy “Outa Lappies” genoem is? (1)

1.5 Hoe hou paragraaf 5 verband met die titel? (1)

1.6 Verskaf slegs EEN rede waarom ‘‘Outa Lappies’’ ’n voorbeeld van ’n

biografie is. (1)

/6

(4)

2 Artikel: Teksklets

1 Die blitsvinnige ontwikkeling van rekenaar- en selfoontegnologie het ’n soort snelskrif laat ontstaan. Hierdie SMS-taal wat in SMS’e, e-posse en op Facebook gebruik word, is veral gewild onder tieners.

2 Die vlytige vingers, vinnige tegnologie en die SMS-taal wat saam met die selfoon gekom het, kry baie keer die skuld vir tieners se swak taalvermoë:

 hulle ken nie meer taal- en spelreëls nie,

 hulle gebruik nie die nodige lees- en skryftekens in SMS-taal nie.

3 Tieners se vriendskappe groei op Facebook, maar hulle Afrikaanse woordeskat krimp as gevolg van die invloed van Engels.

4 Tieners se liefde vir SMS-taal is een van baie faktore vir die swak taalgebruik van jong mense. Die feit dat hulle in ’n visuele e-omgewing leef waar hulle meer aan beelde as aan woorde blootgestel word, is ook ’n faktor.

5 Ouers en onderwysers kan dalk die goue middeweg vind deur leerders daarop te wys dat SMS-taal uiters geskik is vir die doel daarvan, maar onvanpas is vir die skryf van ’n skryfstuk in die Afrikaanse klas. Boodskappe met die weglating van klinkers en leestekens mag wel aanvaarbaar wees tussen vriende, maar beslis nie as dit by die toekenning van punte by ’n skryfstuk kom nie.

6 Ongelukkig steur SMS-taal hom nie juis aan goeie maniere nie. Baie tieners sal sommer in ’n geselskap of aan tafel ’n vinnige boodskap vir sy/haar vriend/in stuur.

Hoeveel keer sal tieners in ’n restaurant aan dieselfde tafel sit, maar nie een woord met mekaar praat nie. Elkeen is te besig om op sy/haar selfoon SMS’e te tik. Die sosiale omgang tussen mense ly beslis onder hierdie nuwe vorm van kommunikasie.

7 Kommunikasie in die huis ly ook geweldig onder SMS-taal, aangesien die tiener gereeld op sy/haar selfoon is. Terwyl die tiener met sy/haar ouer praat, tik hy/sy ook nog ’n boodskap vir sy/haar vriend/in. Wie kan nou ook ’n ordentlike gesprek sonder oogkontak voer. ’n Mens se oë hou nie slegs die aandag van die ander persoon gevange nie, maar soveel emosies word deur jou oë uitgestraal. Dis hartseer om te dink hoeveel emosies wat die kind ervaar, vir die ouer verlore gaan.

2.1 Watter voordeel hou die gebruik van Facebook vir tieners in? (1) 2.2 Watter nadele hou die gebruik van SMS-taal vir die skryf van Afrikaanse

skryfstukke in? (2)

2.3 Waarom is oogkontak uiters belangrik? (2)

2.4 Hoe hou die opskrif verband met die inhoud van die leesstuk? (1) 2.5 Wat dink jy is die verskil tussen klets en teksklets? (1)

Totaal: 7 /7

(5)

3 Resensie: Slotte en grendels

Slotte en grendels – ’n musikale verhoogstuk

1 Slotte en grendels is ’n produksie wat jy beslis moet sien. Dit kan jou lewe verander.

Tydens die voorskou op 18 Maart het ek ’n paar gaste gevra wat hulle verwag.

Mense het verskillende verwagtinge gehad. Almal was egter verstom toe die produksie nie oor diefwering en inbrake gaan nie.

2 Die “slotte en grendels” verwys na maniere waarop ons onsself nie toelaat om aan nuwe idees te dink nie. Drie vroue verander in mense wat op ’n nuwe manier na die lewe kyk. Hulle breek die slotte en raak vry. Dit is iets waarna alle mense streef.

Hierdie opvoering kan die uitkyk op die lewe van soveel mense verander. Jou uitkyk op die lewe kan soveel ryker wees. Mense wat hierdie produksie bywoon, sal beslis

’n ander uitkyk op die lewe hê.

3 Die produksie is ernstig, maar tóg ook snaaks. Tina Kruger kry dit reg om ’n

meesterstuk op die planke te bring. Dit word opgevoer deur Catherine Jones, Nedine Blom en Monica Burger. Hulle vertolk hulle rolle oortuigend. Regie is deur Tina

Kruger en finale regie deur Elma Postma waargeneem.

4 Slotte en grendels is nie ’n toneelstuk wat ’n mens gou sal vergeet nie. Doen

navraag wanneer hierdie verhoogproduksie naby jou opgevoer word. Maak seker dat jy Slotte en grendels nie mis nie. Dit is ’n móét om na te gaan kyk.

5 Die voorskou is ook bygewoon deur leerders van Laerskool Skeerpoort. Die kinders het bewys dat daar ’n gesonde belangstelling in teater is. Hierdie kinders het ook besef dat hulle hul nie moet laat vasvang deur slegs een idee nie.

3.1 Skryf die resensent die produksie hoog aan? Verskaf die rede vir jou

antwoord. (1)

3.2 Lees paragraaf 1. Waarom was almal verbaas dat hierdie produksie nie

oor diefwering en inbrake gegaan het nie? (1)

3.3 Waaroor is die resensent baie positief? (1)

3.4 Noem slegs EEN akteur in hierdie toneelopvoering. (1) 3.5 Verduidelik in jou eie woorde wat “meesterstuk” beteken. (1) 3.6 Watter teenstelling word in hierdie produksie aangetref? (1) 3.7 Hoe weet ons dat hierdie opvoering ’n lewensles vir oud en jonk inhou. (1)

Totaal: 7 /7

(6)

4 Advertensie: Horison Eiendomme

Horison Eiendomme

Soek na die perfekte huis?

Horison eiendomme kan jou help!!

In The Reeds: Drieslaapkamerhuis met dubbelmotorhuis Een badkamer

Ekstra plekkie vir Ouma met kombuisfasiliteite agter in die erf Gevestigde tuin wat deur muur omring is

Nuut uitgeverf R2 200 000

In Centurion: Tweeslaapkamermeenthuis Siersteen met teëldak Twee volledige badkamers Alarmstelsel

Dubbeltoesluitmotorhuis Geëlektrifiseerde heining Swembad en gevestigde tuin R1 400 000

Kontak: 021 343 4609 Na ure: 061 282 4793

Webtuiste: [email protected]

4.1 Skryf die manipulerende woorde neer wat ’n potensiële koper mag

omhaal om juis van die dienste van Horison Eiendomme gebruik te maak. (1) 4.2 Wat verstaan jy onder ’n “Ekstra plekkie vir Ouma”? (1) 4.3 Waarom sal die potensiële koper veiliger in die meenthuis in Centurion

voel as in die huis in The Reeds? (2)

4.4 Hoe weet jy dat die eiendomsagent te enige tyd beskikbaar is? (1) 4.5 Wie is die teikenmark by hierdie twee advertensies? (1)

Totaal: 6 /6

(7)

5 Die beskrywende teks: Boesemvriende

1 As jy dink beste vriende moet soos ’n identiese tweeling wees, het jy nog nie vir Jan- Hendrik en Tony ontmoet nie. Albei is in graad 6 en speel sokker vir die o. 12 A- span. Hulle is saam in die klas en kuier ná skool ’n hond uit ’n bos; tóg verskil hulle soos dag by nag.

2 Jan-Hendrik is lank en lenig, met blonde hare en die mooiste blou oë. Sy hare is altyd netjies gekam. Elke haar is op sy plek. Jy kan hom ook altyd deur ’n ring trek.

Sy skoene blink so dat dit jou amper verblind. Hy sal beslis eendag maklik ’n meisie kry. Hy het die stoutste en breedste glimlag wat jy jou kan voorstel. As hy nie vir sy broers en suster poetse bak nie, trek hy hulle siel uit. ’n Regte platjie. Tóg sal hy sy huiswerk gereeld doen. Daar is niks wat hom soveel plesier verskaf as die glimlag en die trots in sy ouers se oë as hy ’n goeie rapport huis toe bring nie.

3 As jy vir Tony vra wat sy gunstelingkleur is, sê hy altyd swart. Geen wonder dat die helfte van sy hemde en broeke in sy klerekas swart is nie. Behalwe op die

sokkerveld, sien jy hom nooit vinnig beweeg nie. Niks sal hom aanjaag nie. Geen wonder hy is so vet nie. Hy is nou nie ’n seun wat juis met lengte kan spog nie. Sy bynaam is nie verniet Shorty nie. ’n Spieël is nou nie juis sy grootste vriend nie. Sy ma het al gewonder of hy weet wat ’n spieël is en of hy ooit ’n kam het. Nie dat hy juis netjieser op sy klere is nie. Sy hemde hang altyd oor sy broek. Skoenpolitoer is vir hom ’n vloekwoord. Hy is nie juis die fluksste leerder in die klas nie. Die

onderwysers sê altyd vir hom dat sy bruin oë wegswem van die werk. Vir hom is huiswerk net slawerny. Hy verstaan nie altyd waarom goeie punte vir Jan-Hendrik so belangrik is nie. Volgens hom is dit mos goed genoeg as jy net jou graad slaag.

Niemand stel tog regtig in jou punte belang nie. Jy mag nou wel na die verhoog geroep word om ’n sertifikaat vir goeie werk te ontvang, maar hy is in elk geval so lui, dat hy nie kans sien om die trappies op te klim verhoog toe nie. Solank jy net nie volgende jaar in die gesigte van die graad 5-leerlinge vaskyk nie.

5.1 Lees paragraaf 1. Hoe weet jy dat hierdie twee vriende altyd heerlik kuier? (1) 5.2 Hoe weet jy dat Jan-Hendrik altyd netjies aangetrek is? (1) 5.3 Waarom sou jy sê dat Jan-Hendrik ’n regte platjie is? (2) 5.4 Hoe verskil hierdie twee vriende se geaardhede? (2) 5.5 Watter een van hierdie twee seuns kam byna nooit sy hare nie. Verskaf die

rede vir jou antwoord. (1)

Totaal: 7 /7

6 Gedig: Muskiete-jag

(8)

1 “Jou vabond, wag, ek sal jou kry, 1 van jou sal net ’n bloedkol bly 2 hier op my kamermure. 3 Deur jou vervlakste gonsery, 4 deur jou gebyt en plaery 5 kon ek nie slaap vir ure. 6

2 Mag ek my voorstel, eer ons skei, 7 eer jy die doodslag van my kry – 8 my naam is Van der Merwe. 9 Muskiet, wees maar nie treurig nie, 10 wees ook nie so kieskeurig nie, 11 jy moet tog ééndag sterwe. 12

3 Verwekker van malaria, 13

Sing maar jou laaste aria – 14 Nog een minuut vir grasie. 15 Al soebat jy nou nog so lang, 16 al sê jy ook: ek is nie bang, 17 nooit sien jy weer jou nasie… 18

4 Hoe sedig sit hy, O, die kreng! 19 Sy kinders kan maar kranse breng, 20 nou gaan die vabond sterwe… 21 Pardoef! Dis mis! Daar gaan hy weer! 22 Maar dood sal hy, sowaar, ek sweer – 23 My naam is Van der Merwe!” 24

A.D. Keet

Klein Verseboek Tafelberg-Uitgewers Beperk, 1959

6.1 Wie is die digter van “Muskiete-jag”? (1)

6.2 In watter digbundel is die bostaande gedig opgeneem? (1)

6.3 Na wie verwys “vabond” in strofe 1? (1)

6.4 Watter woord in strofe 2 rym met “skei”? (1)

6.5 Skryf die woord in strofe 4 neer waar ons klanknabootsing aantref. (1) 6.6 Skryf die versreël in strofe 4 neer wat daarop dui dat hy vasberade

is om hierdie muskiet een of ander tyd dood te maak. (1) 6.7 Wat is die kerngedagte van die bostaande gedig? (1)

Totaal: 7 /7

GROOTTOTAAL: 40÷2=20 /20

Graad 6 Afrikaans Huistaal November 2022

(9)

Vraestel 2 Afdeling B Taal Koerantberig: Vermaakbedryf neem swaar afskeid van Eric Nobbs

Leonie Bezuidenhout Maroela Media, 24 Oktober 2022

1 Die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf treur ná die skielike dood van die bekende 1

akteur, Eric Nobbs. 2

2 Nobbs, bekend vir sy rolle in talle verhoogproduksies asook televisierolle in 3 reekse soos Die Byl, Orkney Snork nie en Lui maar op, Belinda is Sondag 4

op die ouderdom van 68 dood. Die oorsaak van sy skielike dood is nog nie 5 bevestig nie. Nobbs laat sy vrou en kind agter. 6

3 Luidens ’n kort verklaring deur kykNET was Nobbs in die Kaap ten tyde van sy 7 dood. Hy was besig om aan die derde seisoen van Lui maar op, Belinda te werk. 8

4 “Sy afsterwe is ’n enorme skok vir almal wat hom geken en saam met hom 9 gewerk het,” sê Waldimar Pelser, M-Net-direkteur van die kykNET-kanale. 10

5 Paul Venter, vervaardiger van Homebrew Films, sê Nobbs was ’n besonderse 11 mens en ’n ongelooflike akteur. Hy sou altyd ’n guns aan iemand anders bewys. 12

Hy het gesê dat almal lief was vir hom. 13

6 Amanda Strydom sê: “Jy was nie net volksbesit nie, maar ook ’n lojale vriend.” 14 Sy kyk stip voor haar. “My vriend was nog jonk toe hy die tydelike met die ewige 15

verwissel het,” het sy verder gesê. 16

1 Skryf die hoofwerkwoord in reëls 1 en 2 neer. (1)

2 Skryf reëls 1 en 2 oor in die verlede tyd. (1)

3 Gee die teenoorgestelde geslag vir die onderstreepte woord in reël 2. (1)

4 Skryf die bywoord van tyd in reël 4 neer. (1)

5 Gee die sinoniem vir die onderstreepte woord in reël 5. (1) 6 Gee die meervoud vir die onderstreepte woord in reël 6. (1) 7 Vorm ’n afgeleide werkwoord van die onderstreepte woord in reël 7. (1) 8 Skryf die onderwerp in die onderstreepte sin in reël 8 neer. (1) 9 Skryf die onbepaalde voornaamwoord in reël 9 neer. (1) 10 Gee die idioom vir die onderstreepte sin in reël 12. (1) 11 Skryf die onderstreepte sin in reël 13 oor in die ontkennende vorm. (1)

12 Skryf reël 14 oor in die indirekte rede. (1)

13 Skryf die saamgestelde woord in reël 14 neer. (1)

14 Gee die intensiewe vorm vir die onderstreepte woord in reël 15. (1) 15 Gee die trappe van vergelyking vir die onderstreepte woord in reël 15. (1)

Totaal: 15 /15

Graad 6 Afrikaans Huistaal November 2022

(10)

Vraestel 3 Skryf

Skryf ’n verhalende opstel van 140–150 woorde oor EEN van die onderstaande.

Die pad vol duwweltjies. / As ek maar geweet het! / My grootste vrees word bewaarheid.

Rubriek

Onderwerpgebonde, inhoud en interessant: 1 2 3 4 5

Gebeure en chronologiese opeenvolging daarvan: 1 2 3 4 5

Taalgebruik, woordeskat en skryfstyl: 1 2 3 4 5

Beplanning en paragrafering: 1 2 3 4 5

OF

Skryf ’n drama van 140–150 woorde oor EEN van die onderstaande.

Vrou soek boer. / Diepe waters. / Die ongenaakbare stiefma. / Die heks van Limpopo.

Rubriek

Inhoud, interessant en skryfstyl: 1 2 3 4 5

Karakters, karaktereienskappe en -ontwikkeling: 1 2 3 4 5

Ruimte en toneelaanwysings: 1 2 3 4 5

Beplanning en paragrafering: 1 2 3 4 5

EN

Skryf ’n vriendskaplike brief van 100–120 woorde oor EEN van die onderstaande.

Vertel jou vriend/in van jou week in die koningshuis. /

Vertel jou vriend/in meer van die toer wat jy meegemaak het.

Rubriek

Inhoud, onderwerpgebonde en interessant: 1 2 3 4 5

Informele taalgebruik, formaat en chronologie: 1 2 3 4 5

OF

Skryf ’n dagboekinskrywing van 100–120 woorde oor EEN van die die onderstaande onderwerpe.

Jy is ’n blommeverkoopster / ’n kaptein op ’n skip / ’n straatkind. Teken elke aand vir ’n week lank aan hoe jy die dag ervaar het.

Inhoud, onderwerpgebonde en interessant: 1 2 3 4 5

Gebeure, emosies en formaat: 1 2 3 4 5

Totaal : 30 /30

Memorandum November

(11)

Onderhoud: Onderhoud met Bennie B-snaar

1 Die onderhoud is met Bennie B-snaar gevoer. (1)

2 Simon Simbaal het die emosie van hartseer ervaar. (1)

1.3.1 Hulle sing Suid-Afrika aan die brand.

1.3.2 Hulle het die afgelope ses maande roem verwerf.

1.3.3 Die skare het die liedjies geken en tydens hulle optredes saam met hulle gesing.

1.3.4 Hul treffer, “Gebreekte Snaar”, het Suid-Afrikaners se hartsnare geroer. (Slegs

TWEE) (2)

1.4 Aangesien die onderhoudvoerder met een of meer persone praat. (1) 1 Biografie: Outa Lappies: Sy lewensverhaal in kleurvolle lap

1.1 Onder ’n koeniebos langs die pad. (1)

1.2 Hulle het vir Outa Lappies en sy vriend gespot. (1)

1.3 Hy het die emosie van ontsteltenis ervaar. (1)

1.4 Hy het ’n jas wat van goiingsakke en helderkleurige lap gemaak is, gedra. (1) 1.5 Hy het versies wat sy lewensverhaal vertel, op stukkies lap borduur. (1)

1.6.1 Die weergawe van Outa Lappies se lewensverhaal is getrou.

1.6.2 Die emosies wat Outa Lappies ervaar het, bepaal sy optrede.

1.6.3 Die skrywer tree as derdepersoonsverteller op. (Slegs EEN) (1) 2 Artikel: Teksklets

2.1 Hulle maak baie vriende op Facebook. (1)

2.2.1 Hulle ken nie meer die taalreëls nie.

2.2.2 Hulle maak nie meer gebruik van lees- en skryftekens nie.

2.2.3 Woorde word verkeerd gespel. So word klinkers soms weggelaat of

dubbelkonsonante word nie meer gebruik nie. (Slegs TWEE) (2)

2.3 Om die aandag van die luisteraar gevange te hou.

2.4 Sodoende kan die emosies wat die spreker ervaar, waargeneem word. (2)

2.5 Hier word aangedui hoe tieners die SMS-taal gebruik om met mekaar te

kommunikeer. (1)

2.6.1 Klets

Tieners praat van aangesig tot aangesig met mekaar.

2.6.2 Teksklets

Tieners tik SMS’e aan mekaar en kommunikeer met mekaar op die selfoon. (1) 3 Resensie: Slotte en grendels

(12)

3.1 Ja. Sy reken dat dit beslis ’n moet is om na die produksie te gaan kyk. /

Sy reken dat almal seker moet maak dat hulle Slotte en grendels nie mis nie. / Sy reken dat dit ’n toneelstuk is wat jy nie gou sal vergeet nie. (Slegs EEN) (1)

3.2 Aangesien inbrekers gewoonlik agter tralies (slot en grendels) gesit word. (1)

3.3.1 Dit kan die lewensuitkyk van soveel mense verander. /

3.3.2 Mense se uitkyk op die lewe kan soveel ryker wees. (Slegs EEN) (1) 3.4 Catherine Jones / Nedine Blom / Monica Burger (Slegs EEN) (1)

3.5 Dit is ’n toneelopvoering van hoë gehalte.

(Enige ander aanvaarbare antwoord) (1)

3.6 Dit is nie slegs snaaks nie, maar ook ernstig. (1)

3.7 Aangesien volwassenes sowel kinders se lewensuitkyk kan verander nadat

hulle hierdie opvoering gesien het. (1)

4 Advertensie: Horison Eiendomme

4.1 “Horison Eiendomme kan jou help!!” (1)

4.2 ’n Woonstelletjie waarin Ouma kan bly. (1)

4.3.1 Hier word ’n alarmstelsel aangetref.

4.3.2 Hier word ’n geëlektrifiseerde heining aangetref. (2)

4.4 Die eiendomsagent kan te alle tye op sy selfoon geskakel word. (1)

4.5 Die potensiële koper is die teikenmark. (1)

5 Beskrywende teks: Boesemvriende

5.1 Hulle kuier ’n hond uit ’n bos. (1)

5.2 Jy kan hom altyd deur ’n ring trek. (1)

5.3 As hy nie poetse vir sy broers en suster bak nie, ✔ trek hy hulle siele uit. ✔ (2)

5.4.1 Jan-Hendrik

Hy is hardwerkend.

5.4.2 Tony

Hy is lui en leer nie so hard soos Jan-Hendrik nie. (2) 5.5 Tony, aangesien sy ma nie eers weet of hy ’n kam het nie. (1)

6 Gedig: Muskiete-jag

6.1 Die digter is A.D. Keet. (1)

(13)

6.2 Hierdie gedig is in Klein Verseboek opgeneem. (1)

6.3 “Vabond” verwys na die muskiet. (1)

6.4 “Mag ek my voorstel, eer ons skei,

eer jy die doodslag van my kry-” (1)

6.5.1 “Pardoef! Dis mis! Daar gaan hy weer!” (1)

6.6 “maar dood sal hy, sowaar, ek sweer-” (1)

6.7 Hy wil die muskiet doodslaan, aangesien hy nie kan slaap met die gegons

om sy ore nie. (1)

Vraestel 2 Afdeling B Taal

Koerantberig: Vermaakbedryf neem swaar afskeid van Eric Nobbs

1 Die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf treur ná die skielike dood van die bekende

akteur, Eric Nobbs. (1)

2 Die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf het ná die skielike dood van die bekende akteur, Eric Nobbs, getreur. /

Die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf het getreur ná die skielike dood van die

bekende akteur, Eric Nobbs. (Enige EEN is aanvaarbaar) (1)

3 Akteur - aktrise (1)

4 Nobbs is Sondag op die ouderdom van 68 dood. (1)

5 Nobbs is Sondag op die ouderdom van 68 oorlede. (1)

6 Nobbs laat sy vrou en kinders agter. (1)

7 Kort - verkort / inkort (1)

8 Hy was besig om aan die derde seisoen van Lui maar op, Belinda te werk. (1) 9 Sy afsterwe is ’n enorme skok vir almal wat hom geken het. (1) 10 Hy sou altyd ’n klip vir iemand anders uit die pad rol. (1)

11 Hy het gesê dat niemand lief was vir hom nie. / Hy het gesê dat nie álmal lief was vir hom nie. /

Hy het nie gesê dat almal lief was vir hom nie. (Enige EEN is aanvaarbaar) (1)

12 Amanda Strydom sê dat hy nie net volksbesit was nie, maar ook ’n lojale vriend. (1) 13 Amanda Strydom sê: “Jy was nie net volksbesit nie, maar ook ’n lojale vriend.” (1)

14 “My vriend was nog bloedjonk.” (1)

15 Stellende trap Vergrotende trap Oortreffende trap

Jonk jonger jongste (1)

Vraestel 1 Afdeling A Hardoplees

Fabel: Waarom kraanvoëls altyd op een been staan.

(14)

Almal Verstaan Afrikaans Macmillan Suid-Afrika (Edms) Beperk, 2012 R. Ferreira, M. van den Heever

Vraestel 1 Afdeling B Luister en praat

Onderhoud: Onderhoud met Bennie B-snaar

Almal Verstaan Afrikaans Macmillan Suid-Afrika (Edms) Beperk, 2012 R. Ferreira, M. van den Heever

Vraestel 2 Afdeling A Leesbegrip

Biografie: Outa Lappies: Sy lewensverhaal in kleurvolle lap

Platinum Afrikaans Huistaal Maskew Miller Longman (Edms) Beperk, 2012 J. Biesenbach, A. Engelbrecht, C. Henning

I. Hofmeyr, A. le Roux, W. Louw, M. Mihai, J. van Lill, R. van Oort, R. van Rooy

Artikel: Teksklets

Platinum Afrikaans Huistaal Maskew Miller Longman (Edms) Beperk, 2012 J. Biesenbach, A. Engelbrecht, C. Henning

I. Hofmeyr, A. le Roux, W. Louw, M. Mihai, J. van Lill, R. van Oort, R. van Rooy

Resensie: Slotte en grendels

Platinum Afrikaans Huistaal Maskew Miller Longman (Edms) Beperk, 2012 J. Biesenbach, A. Engelbrecht, C. Henning

I. Hofmeyr, A. le Roux, W. Louw, M. Mihai, J. van Lill, R. van Oort, R. van Rooy

Advertensie: Horison Eiendomme

Platinum Afrikaans Huistaal Maskew Miller Longman (Edms) Beperk, 2012 J. Biesenbach, A. Engelbrecht, C. Henning

I. Hofmeyr, A. le Roux, W. Louw, M. Mihai, J. van Lill, R. van Oort, R. van Rooy

Beskrywende teks: Boesemvriende

Platinum Afrikaans Huistaal Maskew Miller Longman (Edms) Beperk, 2012 J. Biesenbach, A. Engelbrecht, C. Henning

I. Hofmeyr, A. le Roux, W. Louw, M. Mihai, J. van Lill, R. van Oort, R. van Rooy

Gedig: Muskiete-jag

Klein Verseboek Tafelberg-Uitgewers Beperk,1959 Saamgestel deur D.J. Opperman

Vraestel 2 Afdeling B Taal

Koerantberig: Vermaakbedryf neem swaar afskeid van Eric Nobbs

Leonie Bezuidenhout Maroela Media, 24 Oktober 2022

Referensi

Dokumen terkait