IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA [KAAP DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING]
Saaknommer: A592/06 In die saak tussen:
SALDANHABAAI MUNISIPALITEIT Appellant en
DE BEERS PROKUREURS Respondent
UITSPRAAK GELEWER: 16 MEI 2007
FOURIE, R:
[1] Die vraag in hierdie appèl is of die eiendomsreg op ʼn erf wat deel vorm van ʼn onderverdeling van grond by dorpstigting, na die bevestiging van sodanige onderverdeling, by ʼn plaaslike owerheid berus het kragtens artikel 28 van die Ordonnansie op Grondgebruikbeplanning No. 15 van 1985 (K) (“die Ordonnansie”).
[2] Die appèl spruit voort uit ʼn tussenpleitgeding in die landdroshof te Kaapstad, waarin teenstrydige aansprake gemaak is op erf no. 8 van die restant van Gedeelte 1 van die plaas Jacobsbaai nr. 108, Wes-Kaap (“erf 8”). Appellant is die plaaslike owerheid in wie se regsgebied erf 8 geleë
is, terwyl respondent ʼn prokureursfirma is wat uit hoofde van ʼn vonnis verkry teen Kiron Holdings (Edms) Bpk (“Kiron Holdings”), beslag gelê het op erf 8. Soos later meer volledig sal blyk, word Kiron Holdings in die Akteskantoor aangedui as die geregistreerde eienaar van erf 8.
[3] Respondent se beslaglegging op erf 8 en daaropvolgende kennisgewing van voorneme om dit in eksekusie te verkoop, het aanleiding gegee tot appellant se aanspraak op erf 8. Dit het die tussenpleitgeding, met appellant as aanspraakmaker en respondent as eksekusieskuldeiser, tot gevolg gehad. Die partye het hulle onderskeie skriftelike aansprake afgelewer, waarna die hof a quo mondelinge getuienis aangehoor het. Die landdros het vervolgens bevind dat daar nie bewys is dat appellant die eienaar van erf 8 is nie en derhalwe appellant se aanspraak met koste van die hand gewys. Die logiese gevolg hiervan is dat respondent as vonnisskuldeiser geregtig is om voort te gaan met die verkoping van erf 8 in eksekusie. Appellant kom nou in hoër beroep teen die gehele uitspraak van die hof a quo.
[4] As agtergrond is dit gerieflik om eerstens te verwys na die volgende feite wat gemeensaak is tussen die partye, of minstens nie in geskil is nie:
(a) Die restant van Gedeelte 1 van die plaas Jacobsbaai No. 108, het aan die kusgebied van die skilderagtige Weskus gegrens.
JCP Investments (Edms) Beperk het hierdie eiendom, wat vir landboudoeleindes gesoneer was, bekom en op 6 Maart 1987 ingevolge die bepalings van die Ordonnansie by appellant as plaaslike owerheid aansoek gedoen vir dorpstigting.
(b) Hierdie aansoek het enersyds ʼn aansoek om hersonering van die eiendom na ʼn onderverdelingsgebied, en andersyds ʼn aansoek vir die onderverdeling daarvan vir doeleindes van dorpstigting, behels.
(c) Die departement van Plaaslike Bestuur, Behuising en Werke, Wes-Kaap, het op 25 Augustus 1989 die aansoek vir hersonering na ʼn onderverdelingsgebied, toegestaan. Op 22 Oktober 1990 het appellant die onderverdelingsaansoek toegestaan.
(d) Die onderverdelingsaansoek is toegestaan aan die hand van ʼn uitlegplan no. 204403 (“die uitlegplan”). Appellant het die
sonering van die onderskeie gedeeltes van die eiendom as volg op die uitlegplan aangedui:
• Enkelwoonbuurt 1- Gedeeltes 2-5, 9-15, 17-25 en 28-82
• Onbepaald - Gedeeltes 6 en 86
• Publieke Oop Ruimte- Gedeeltes 7, 16 en 27
• Parkering - Gedeeltes 8, 26 en 83
• Besigheid- Gedeelte 84
• Karavaanpark- Gedeelte 85
(e) Die Landmeter-Generaal het op 7 Augustus 1991 ʼn Algemene Plan No. 12902 goedgekeur, soos vereis ingevolge artikel 26 van die Ordonansie. Hierdie algemene plan toon die groottes van die erwe in hierdie dorpsgebied en hulle onderskeie liggings.
(f) JCP Investments (Edms) Beperk het op 27 September 1991 ʼn naamsverandering na Kiron Holdings (Edms) Beperk,
ondergaan.
(g) Die woonerwe in die dorpsgebied is te koop aangebied en in die name van derde partye wat dit aangekoop het, geregistreer. Kiron Holdings het op 18 September 2003 ʼn Sertifikaat van Geregistreerde Titel kragtens artikel 43 van die Akteswet No.47 van 1937, uitgeneem ten aansien van die drie erwe wat vir parkering gesoneer is, naamlik erwe 8, 26 en 83. Daarkragtens word Kiron Holdings as geregistreerde eienaar van die drie erwe aangedui. Erwe 8, 26 en 83 was ook, tesame met al die ander erwe wat deel vorm van die
dorpsgebied, aanvanklik met ʼn verband beswaar ter finansiering van die dorpstigting.
(h) Op 6 Februarie 2004 het Kiron Holdings een van die erwe wat gesoneer is vir parkering, naamlik erf 83, aan ʼn derde party oorgedra teen ʼn koopprys van R100 000-00. Erf 83 is egter mettertyd ingevolge ʼn ruilooreenkoms tussen appellant en die derde party, vervang met ʼn ander erf vir doeleindes van parkering.
(i) Erf 8 word uit hoofde van die voormelde Sertifikaat van Geregistreerde Titel steeds in die Akteskantoor aangedui as die geregistreerde eiendom van Kiron Holdings, maar het laasgenoemde onderneem om dit aan appellant te hertransporteer. Die oordrag van erf 8 aan appellant is egter weens die beslaglegging daarvan deur respondent en die daaropvolgende tussenpleitgeding, opgeskort.
[5] Soos reeds aangedui, het die betrokke dorpstigting binne die raamwerk van die Ordonnansie plaasgevind. Dit is dus nodig om te let op die bepalings van die Ordonnansie vir soverre dit relevant mag wees ten aansien van die vraag waar die eiendomsreg van erf 8 berus. Soos ek later meer volledig sal aandui, steun appellant op die bepalings van artikels 22, 25 en 28 van die Ordonnansie vir die aanspraak dat appellant vanweë
regswerking die eienaar van erf 8 geword het. Daarteenoor ontken respondent dat appellant uit hoofde van die bepalings van die Ordonnansie, en in besonder artikel 28 daarvan, die eiendomsreg van erf 8 verkry het. Respondent voer aan dat Kiron Holdings, soos blyk uit die voormelde Sertifikaat van Geregistreerde Titel, die ware eienaar van erf 8 is.
[6] Die relevante gedeeltes van die toepaslike artikels van die Ordonnansie is die volgende:
“Toestaan of weiering van aansoek.
25. (1) Òf die Administrateur òf, indien deur skemaregulasies daartoe gemagtig, ʼn raad kan ʼn aansoek om die onderverdeling van grond toestaan of weier.
(2) By die toestaan van ʼn aansoek kragtens subartikel (1) moet òf die Administrateur òf die betrokke raad, na gelang van die geval, tersaaklike sonerings met betrekking tot die betrokke onderverdeling aandui vir die doeleindes van die toepassing van artikel 22(2).
Goedkeuring van algemene plan of kaart.
26. Indien ʼn aansoek kragtens artikel 25 toegestaan word, moet die eienaar van die betrokke grond ʼn algemene plan of kaart, soos deur die betrokke Landmeter-generaal aangedui, by dié Landmeter-generaal vir sy goedkeuring indien.
Bevestiging van onderverdeling.
27. (1) Indien ʼn Landmeter-generaal ‘n algemene plan of kaart soos beoog by artikel 26 goedgekeur het, moet die betrokke eienaar binne ʼn tydperk van vyf jaar nadat die aansoek kragtens artikel 25 toegestaan is of binne die langer tydperk wat die Administrateur of die betrokke raad, na gelang van die geval, bepaal aan die betrokke registrateur van aktes die stukke en inligting wat hy vereis, verstrek, genoemde registrateur se vereistes in verband met die rojering van bestaande titelvoorwaardes nakom, dienste ooreenkomstig ʼn voorwaarde opgelê kragtens artikel 42(1) ten opsigte van die onderverdeling voorsien en die registrasie van minstens een grondeenheid verkry.
(2) Waar ʼn eienaar versuim het om die bepalings van subartikel (1) na te kom met betrekking tot ʼn onderverdeling of deel daarvan, word die toestaan van die aansoek kragtens artikel 25 geag te verval het met betrekking tot genoemde onderverdeling of deel daarvan by verstryking van die tydperk by subartikel (1) beoog, en
moet die betrokke kaart of algemene plan ooreenkomstig die vereistes van die Landmeter-generaal gewysig word.
(3) Sodra daar met betrekking tot ʼn onderverdeling of deel daarvan voldoen is aan die bepalings van subartikel (1) op so ʼn wyse dat die toestaan van die betrokke aansoek kragtens artikel 25 nie ingevolge subartikel (2) van hierdie artikel kan verval nie, word sodanige onderverdeling of deel geag bevestig te wees.
Eiendomsreg, by onderverdeling, op openbare strate en openbare plekke.
28. Die eiendomsreg op alle openbare strate en openbare plekke oor of op grond as sodanig aangedui by die toestaan van ʼn aansoek om onderverdeling kragtens artikel 25, berus na die bevestiging van sodanige onderverdeling of deel daarvan by die plaaslike owerheid in wie se regsgebied dié grond geleë is, sonder vergoeding deur die betrokke plaaslike owerheid indien die voorsiening van genoemde openbare strate en openbare plekke gegrond is op die normale behoefte daaraan ontstaande uit genoemde onderverdeling of in ooreenstemming is met ʼn beleid wat van tyd tot tyd deur die Administrateur bepaal word met inagneming van sodanige behoefte.”
[7] Benewens die voormelde, moet ook gelet word op artikel 22 (2) van die Ordonnansie, wat bepaal dat by die bevestiging van ʼn onderverdeling, die onderverdeling geag word ʼn vervangingskema te wees en vereis artikel 22 (3) dat waar ʼn onderverdeling aldus geag word ʼn vervangingskema te wees, die betrokke plaaslike owerheid ʼn betrokke
soneringskaart en, waar van toepassing, ʼn soneringsregister in sy besit, so gou doenlik dienooreenkomstig moet wysig.
[8] ʼn Ontleding van die voormelde artikels van die Ordonnansie toon dat die vereistes vir die vestiging van eiendomsreg op openbare strate en openbare plekke by die onderverdeling van grond, in die betrokke plaaslike owerheid, die volgende is:
(a) Die openbare strate en openbare plekke oor of op die grond wat onderverdeel staan te word, moet as sodanig aangedui word by die toestaan van die aansoek om onderverdeling kragtens artikel 25 van die Ordonnansie;
(b) Bevestiging van die onderverdeling moet ooreenkomstig artikel 27 van die Ordonnansie, geskied; en
(c) Die voorsiening van die openbare strate en openbare plekke moet gegrond wees op die normale behoefte daaraan ontstaande uit die betrokke onderverdeling.
[9] In die onderhawige appèl is dit nie in geskil dat daar aan die vereistes gemeld in paragraaf 8 (b) en (c) hierbo, voldoen is nie. Die kernvraag is egter of by die toestaan van hierdie aansoek om onderverdeling, erf 8 “aangedui” is (engels “indicated as such”) as ʼn openbare straat of openbare plek. Dit is gemenesaak dat erf 8 op geen stadium aangedui is as ʼn openbare straat nie, met gevolg dat die vraag is of erf 8 by die toestaan van die aansoek om onderverdeling, aangedui is as ʼn openbare plek. Soos reeds gemeld in paragraaf 4 (d) hierbo, het appellant op die betrokke uitlegplan die sonering van erf 8 bloot aangedui as “parkering”, sonder verdere aanduiding of dit openbare of private parkering is.
[10] Dit behoef na my mening nie veel betoog dat ʼn openbare parkering ʼn openbare plek is nie. ʼn Openbare plek is aan die hand van die gewone
grammatikale betekenis van hierdie woorde, ʼn plek waartoe die algemene publiek toegang het. By wyse van teenstelling is ʼn private plek of eiendom, nie normaalweg toeganklik vir die algemene publiek nie. In R v Innes 1925 KPA te 164, word dan ook gesê “the essence of a place being a public place is that everyone has general access to such place”. ʼn Openbare parkering is ʼn plek wat as parkeerarea vir die voertuie van die algemene publiek dien en is dus ʼn openbare plek. Volledigheidshalwe moet ek meld dat die woordomskrywing van “openbare plek” in artikel 2
van die Ordonnansie, nie van enige hulp is nie aangesien dit bloot omskryf word as enige grond waarvan die eiendomsreg as sodanig ingevolge artikel 28 van die Ordonnansie by ʼn plaaslike owerheid berus.
[11] Dit volg dus dat die kernvraag gereduseer word tot die vraag of erf 8 by die toestaan van die betrokke aansoek om onderverdeling, inderdaad
“aangedui” is as openbare parkering. In hierdie verband moet in gedagte gehou word dat die aanduiding van die sonering van grondgedeeltes deur ʼn plaaslike owerheid, geskied aan die hand van ʼn toepaslike
soneringskema. Die soneringskema het die bepaling van gebruiksregte van grond ten doel en om voorsiening te maak vir beheer oor gebruiksregte en die aanwending van grond in die regsgebied van ʼn plaaslike owerheid.
[12] Die aanduiding van die gebruiksreg of sonering van erf 8 op die uitlegplan as “parkering”en nie as “openbare parkering” nie, het in die verhoorhof en op appèl gedien as die sluitsteen vir respondent se argument dat die eiendomsreg daarop nie oorgegaan het op appellant nie.
In die lig van hierdie soneringsaanduiding en die feit dat Kiron Holdings uit hoofde van die Sertifikaat van Geregistreerde Titel as die geregistreerde eienaar van erf 8 aangetoon word, het respondent
aangevoer dat erf 8 privaateiendom is en as “privaatparkering” gesoneer is.
[13] Die Ordonnansie werp nie enige lig op die wyse waarop, of aan die hand waarvan, bepaal moet word of grond by die toestaan van ʼn onderverdelingsaansoek as ʼn openbare plek (openbare parkering in hierdie geval) aangedui is nie. ʼn Klaarblyklike bron van sodanige aanduiding moet die uitlegplan wees, aan die hand waarvan die onderverdelingsaansoek toegestaan is. Die algemene plan van die onderverdeling wat die Landmeter-generaal kragtens artikel 26 van die Ordonnansie moet opstel, kan nie as aanduidingsbron by die toestaan van die onderverdelingsaansoek dien nie, aangesien dit eers na onderverdeling die lig sien. In die onderhawige geval is die aansoek om onderverdeling op 29 Oktober 1990 toegestaan, terwyl die algemene plan eers op 7 Augustus 1991 goedgekeur is. Interessantheidshalwe kan gemeld word dat die algemene plan bloot die nommer van erf 8 (asook van erwe 26 en 83) aantoon, maar nie die sonering of gebruiksregte daarvan aandui nie.
[14] Ek is egter van oordeel dat daar nie alleen op die uitlegplan gelet moet word ten einde te bepaal of erf 8 by die toestaan van die aansoek om onderverdeling aangedui is as openbare parkering nie. Die uitlegplan
vorm onlosmaaklik deel van die aansoek om onderverdeling en moet na my mening aan die hand van sodanige aansoek uitgelê word. ʼn Verdere rede waarom die uitlegplan saam met die onderverdelingsaansoek gelees moet word, is die feit dat erf 8 op die uitlegplan op dubbelsinnige wyse bloot as “parkering” aangedui word, sonder om te meld of dit openbare of privaatparkering is. Die doel waarvoor erf 8 dus aangewend kan word, moet blyk uit die aansoek as ʼn geheel, insluitende die uitlegplan.
[15] In die dokumentasie wat deel gevorm het van die betrokke onderverdelingsaansoek, word die volgende rigtingwysers gevind aangaande die voorgenome gebruik van erf 8:
(a) In die bylae tot die gepaardgaande hersoneringsaansoek, word vereis dat die applikant alle openbare parkeerplekke op die meegaande uitlegplan moet aantoon. In die aansoekvorm om hersonering meld die applikant, onder andere, dat die dorpstigting ook “publieke oop ruimtes en parkering” sal insluit.
(b) In die aansoekvorm vir onderverdeling, word gemeld dat openbare plekke beoog word wat “openbare parkeerterreine”
sal insluit.
(c) In die beplanningsverslag wat as motivering vir die onderverdelingsaansoek gedien het, sê die applikant die volgende:
“Die publieke parkeerterreine (erwe 76 tot 78-tans erwe 8, 26 en 83) word naby die kuslyn geskep. Dit vorm ʼn belangrike komponent van die funksie van Jacobsbaai as vakansie-en ontspanningsdorp.”
(d) In die verslag van appellant se beplanningsadjunk aan appellant se Raad, word gemeld dat die betrokke uitlegplan voorsiening maak vir, onder andere, “drie publieke parkeerterreine naby die kuslyn”.
(e) Die besluit van appellant se Raad om die aansoek vir goedkeuring aan te beveel, meld dat die hersonering wat aanbeveel word drie gedeeltes vir publieke parkering insluit.
(f) Die uitlegplan toon dat elk van erwe 8, 26 en 83 naasliggend is aan ʼn publieke oop ruimte met toegang tot die see vanaf sodanige parkering en oop ruimte. Dit is insiggewend om daarop te let dat die dorpsgebied sodanig uitgelê is dat daar nie strate tussen die voorste erwe en die strandgebied is nie. Dit volg dus dat lede van die publiek wat nie daar woonagtig is nie, die strandgebied en see aanliggend aan hierdie dorpsgebied slegs kan bereik deur middel van die publieke oop ruimtes wat
aan erwe 8, 26 en 83 grens. Aangesien Jacobsbaai ʼn afgeleë gebied is, sal sodanige lede van die publiek per motor daarheen moet reis en sal die enigste beskikbare parkering vir hulle op erwe 8, 26 en 83 wees.
[16] Mnr D. Visser, ʼn stadsbeplanner in diens van appellant, se onbetwisde getuienis is dat by ʼn kusontwikkeling, soos Jacobsbaai, dit van kritiese belang is om toegang tot die kusgebied te verseker. Hy stel dit as volg:
“In al ons ontwikkelings, hierdie ontwikkeling ingesluit, sal mens sien daar is altyd teen die kusgebied voorsiening gemaak vir publieke parkering, vir publieke toegang”.
Hierdie beleid van appellant strook uiteraard met die bepalings van artikel 2 van die Strandwet No. 21 van 1935, dat die see en seestrand aan die President behoort en gevolglik res publicae is. In artikel 13 (c) van gemelde wet, word die reg van die publiek om die see en seestrand te gebruik, uitdruklik voorbehou.
[17] Die getuienis van Visser, asook appellant se voorgeskrewe skemaregulasies, toon verder dat daar nie voorsiening gemaak word vir
“privaatparkering” as ʼn soneringskategorie nie. Die skemaregulasies
maak net vir een kategorie parkering voorsiening, naamlik vir “openbare parkeerdoeleindes”. Volgens die skemaregulasies kan privaateiendom slegs vir parkeerdoeleindes gebruik word uit hoofde van ʼn vergunning wat appellant op aansoek kan toestaan. Dit kan byvoorbeeld geskied waar die eienaar van ʼn sakeperseel ʼn aangrensende eiendom aanskaf ten einde dit na konsolidasie met die sakeperseel, as parkering vir kliënte te gebruik. In die onderhawige geval is daar nie sprake van enige sodanige vergunning wat ten aansien van erf 8 verleen is nie. Dit dien verder gemeld te word dat erf 8 in appellant se soneringsregister en rekenaar- databasis as “publieke parkering” aangedui word. Daarbenewens is dit insiggewend dat appellant nog nooit enige munisipale belastings op erf 8 gehef het nie.
[18] Indien die kumulatiewe effek van al die voormelde rigtingwysers in ag geneem word, dui dit na my mening oorweldigend daarop dat die applikant (Kiron Holdings) en appellant deurlopend beoog het dat erf 8 as openbare parkering moet dien. Nie alleenlik was dit die verklaarde doel van die applikant nie, maar strook dit met appellant se beleid om toegang vir die algemene publiek tot die see en seestrand te verseker. Dit is na my mening ondenkbaar dat die bedoeling van die applikant en appellant was dat erf 8 vir privaatparkering bestem sou wees, met gevolg dat die eienaar daarvan, soos inderdaad betoog deur respondent, geregtig sou wees om
die algemene publiek van toegang daartoe, en gevolglik ook van toegang tot die see en seestrand, te weerhou.
[19] Dit is wel so dat die Sertifikaat van Geregistreerde Titel vir Kiron Holdings as die eienaar van erwe 8, 26 en 83 aandui. Dit is nie duidelik in welke omstandighede die uitreiking van hierdie Sertifikaat geskied het nie, maar was dit waarskynlik ʼn oorsig. Dit moet in ieder geval ook in gedagte gehou word dat ons stelsel van registrasie van onroerende eiendom, ʼn negatiewe stelsel is en dat dit nie sonder meer gesê kan word dat die persoon in wie se naam grond geregistreer is, noodwendig die eienaar van daardie grond is nie. Hierdie negatiewe stelsel staan in teenstelling met ʼn positewe stelsel waar registrasie ʼn onomstootlike bewys van eiendomsreg is. Sien Knysna Hotel CC v Coetzee N.O. 1998 (2) SA 743 (HHA) te 753B-C. Dit het tot gevolg dat indien die eiendomsreg van erf 8 kragtens die bepalings van die Ordonnansie by appellant berus, die uitreiking van die Sertifikaat van Geregistreerde Titel nie tot gevolg het dat Kiron Holdings die regmatige eienaar van erf 8 is nie.
[20] Laastens, moet ek meld dat die feit dat erf 83 deur Kiron Holdings aan ʼn derde party “verkoop” is, asook die feit dat erwe 8, 26 en 83 aanvanklik deel gevorm het van die onroerende eiendomme wat Kiron
Holdings onder verband verbind het, na my mening nie respondent se saak bevorder nie. Die “verkoping” van erf 83 het deel gevorm van ʼn ruiltransaksie waarvan die besonderhede nie duidelik is nie, maar toon die getuienis in ieder geval dat appellant ʼn ander erf in ruil vir doeleindes van parkering ontvang het. Die omstandighede waaronder die voormelde verband geregistreer is, is ook nie bekend nie, maar kan dit sekerlik nie deurslaggewend wees by die beantwoording van die vraag oor wie die eienaar van erf 8 is nie. Ek mag meld dat die betrokke verband intussen gerojeer is.
[21] In die lig van voormelde bevind ek dat appellant op ʼn oorwig van waarskynlikhede bewys het dat erf 8 by die toestaan van die aansoek om onderverdeling van hierdie grond, aangedui is as ʼn openbare plek, naamlik openbare parkering. Ek bevind verder dat die eiendomsreg op erf 8, na die bevestiging van die betrokke onderverdeling ingevolge artikel 27 van die Ordonnansie, kragtens artikel 28 van die Ordonnansie by appellant berus het en appellant steeds die regmatige eienaar van erf 8 is.
Dit volg derhalwe dat die appèl moet slaag.
[22] In die vooropstelling word die volgende bevel gemaak:
1. Die appèl word met koste gehandhaaf.
2. Die bevel van die hof a quo word tersyde gestel en deur die volgende vervang:
“Die aanspraak van Saldanhabaai Munisipaliteit dat die eiendomsreg op erf 8, Jacobsbaai, groot 4,574 vierkante meter, gehou ingevolge Sertifikaat van Geregistreerde Titel T86871/2003, by die gemelde aanspraakmaker berus, word met koste gehandhaaf, welke koste advokaatsfooie kragtens die Balieraadtarief insluit.”
_____________
P B Fourie, R
Ek stem saam.
_______________
B Waglay, R
RAPPORTEERBAAR
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA [KAAP DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING]
Saaknommer: A592/06 In die saak tussen:
SALDANHABAAI MUNISIPALITEIT Appellant en
DE BEERS PROKUREURS Respondent
Advokaat vir die Appellant : Adv. HJO (Wallis) Roux
Advokaat vir die Respondent : Adv. SG Walther
Prokureur vir die Appellant : PP Smit Prokureurs p/a MRH Briers
Prokureur vir die Respondent : H De Beer van De Beers Prokureurs
Datum van verhoor : 4 Mei 2007
Datum van uitspraak : 16 Mei 2007