• Tidak ada hasil yang ditemukan

Die fenomenologiese liggaam: die verstand-liggaam-verhouding

HOOFSTUK 3: FENOMENOLOGIE: LANDSKAP EN LIGGAAM

3.2 Die liggaam in fenomenologie

3.2.1 Die fenomenologiese liggaam: die verstand-liggaam-verhouding

Phenomenology is an attempt to describe the basic structures of human experience and understanding from a first person point of view, in contrast to the reflective, third person perspective that tends to dominate scientific knowledge and common sense (Carman, 2012:viii).

Carman (2012:viii) hierbo verduidelik hoe fenomenologie wegbeweeg van ʼn suiwer empiries- gebaseerde beskouing tot die wêreld en eerder klem plaas op die mens se direkte ervaring en begrip van die wêreld. Dit impliseer dat die mens nie na die wêreld kyk, logies daaroor dink, en dan eers ʼn begrip daarvan vorm nie, maar eerder dat die mens deur geleefde ervaring ʼn onmiddellike beskouing tot die wêreld verkry (vgl. Carman, 2012:viii). Volgens eksistensiële fenomenologie van Merleau-Ponty word hierdie begrip van die wêreld daarom gevorm deur middel van die liggaam. Sodoende word die mens en die wêreld deur middel van beliggaming verbind, wat die wyse waarop die mens se denke en beskouing tot die wêreld beïnvloed. Die liggaam is die kern van menslike waarneming (persepsie) en verkryging van inligting en so ook die uitvoerder van menslike aksie – aangesien alles wat die mens ervaar en doen deur die liggaam vloei (vgl. Wylie, 2013:54; Cullen, 1994:112; Delancey, 2009:370; Matthews, 2002:46).

57

Hierdie aanslag opponeer Merleau-Ponty se voorgangers in die sin dat Westerse filosofie, volgens Matthews (2002:46), vanaf Descartes tot en met die 20ste eeu, grotendeels gesteun het op epistemologie56, wat teoretiese of proposisionele kennis beskou as die mens se primêre verhouding tot die wêreld – soos vasgelê in René Descartes (1596-1650) se befaamde stelling

“Cogito: ergo sum”: I think therefore I am (Descartes, 1637/2003:23). Sentraal tot die struktuur van vroeër Westerse denke, lê dualisme (of binêre opposisies) soos man/vrou, subjek/objek, rede/emosie, mens/wêreld en verstand/liggaam (vgl. Brandt, 2006:143; Grosz, 1999:381).

Derrida (1967) soos aangehaal deur Brandt (2006:143) dui aan dat die een kant (hoofsaaklik linkerkant) van die dualisme as die meer voordelige kant beskou word en gebruik is as basis om die regterkant van die binêre te marginaliseer as die “ander”. Bowendien dui die dualisme ook op

’n skeiding tussen die twee binêre – dit wil sê dat alhoewel die binêre opposisies (tematies) met mekaar verbind is, is hulle nie vervleg nie en sal daar altyd ’n splitsing wees wat hulle in twee afsonderlike sfere plaas.

Descartes se denke het Cartesiaanse dualisme geïnspireer, wat verwys na die radikale onderskeid tussen liggaam en verstand in sosiale en filosofiese ondersoeke (Kosut & Moore, 2010:20). Wanneer daar vanuit hierdie denkraamwerk gekyk word na die verstand/liggaam dualisme word die verstand as meerderwaardig oor die liggaam geag, omdat die verstand in Cartesiaanse filosofie beskou word as die oorwegende krag in die vorming van menslike subjektiwiteit (Brandt, 2006:143). Verstandelike prosesse, die bewuste en die self word gesien as die heersende moondheid van menslike bestaan, wat beteken dat die fisiese liggaam konseptueel van die verstand ontkoppel word – asof die self/bewussyn onafhanklik kan funksioneer (Kosut &

Moore, 2010:20). Hierdie ontkoppeling tussen verstand en liggaam impliseer ook ’n dualisme tussen mens en wêreld, omdat die mens uiteraard dan minder aan die wêreld deel het en eintlik bo die wêreld transendeer.

Die grootste filosofiese bydrae van die fenomenologiese beskouing, veral van die liggaam, is die verwerping van ʼn binêre opposisie binne die eie individu – tussen verstand en liggaam.57 Fenomenologiese benaderings tot die liggaam en beliggaming bevat digte beskrywings van die geleefde en beleefde ervarings, wat betekenis oordra aan individue en groepe (Waskul & Vannini, 2006:8). Edmund Husserl (1893/1917:315) het die liggaam as die “zero-point of orientation”

gedefinieer – dit is die senter vir alle kennis en ervaring en fundamentele verwysingspunt (in Waskul & Vannini, 2006:8; Cerbone, 2006:102). Die liggaam word bewoon – dit is nie abstrak

56 Epistomologie is volgens Matthews (2002:46) die studie van omstandighede waaronder kennis moontlik is.

57 Dekonstruksie van die verstand/liggaam opposisie is ook prominent in Feministiese en Queer teorie en is dus nie uniek aan Fenomenologie nie (vgl. Brandt, 2006:144).

58

nie, maar ’n konkrete beliggaming van die ontologiese, ruimtelike en temporele teenwoordigheid van die individu se “hier en nou” (Waskul & Vannini, 2006:8). Merleau-Ponty beskou vervolgens ook die liggaam as die mens se primêre verhouding tot die wêreld, waarvan persepsie en ervaring (deur middel van die liggaam) die mense se manier is om kennis op te doen (vgl. Matthews, 2002:46; Wrathall. 2009:31-32). Dit is omdat die liggaam die mens se absolute bron van kennis en wese is, maar ook die mens se sentrale bron van bewussyn – sonder die liggaam sou die mens se denke (soos gesitueer in die verstand) nie bestaan nie (vgl. Merleau-Ponty, 1962:ix).

Betekenis (en bewussyn) word vasgelê in die mens se ervarings in die wêreld – betekenis is dus nie geskei van die wêreld of die beliggaamde ervarings van mense nie (Waskul & Vannini, 2006:8). Om hierdie punt te illustreer stel Budgeon (2003) soos aangehaal in Haddow (2010:112) dat: “The body is already the self. The self is already the body.”

Die bostaande aanhaling is die kruks van die Merleau-Pontiese beskouing tot die verhouding tussen die verstand en die liggaam – daar is inteendeel nie werklik onderskeid nie. Die self (die verstand) is verweef met die liggaam en kan nie daarsonder funksioneer nie. Op dieselfde wyse kan kan die liggaam weer nie sonder die verstand funksioneer nie – die samewerking van die twee elemente is die basis van elke individu se identiteit. Hierdie beskouing van verstand en liggaam is ’n ommekeer van die Cartesiaanse beskouing van die nie-tasbare (self) en die tasbare (liggaam) aspekte van die mens wat op ’n dualistiese manier skei (Haddow, 2010:112). In kontras met die dualistiese beskouing van die mens, stel Haddow (2010:112) dat ’n holistiese beskouing die verhouding tussen die self en die liggaam nouer saamsnoer, wat suggereer dat die mens nie

’n liggaam het nie, maar ’n liggaam is“we are our bodies”. Merleau-Ponty se fenomenologiese liggaam is daarom waardevol omdat dit nie die liggaam as objek sien nie, maar fokus op beliggaming, wat ’n waarnemende manier van ervaring en kennis van die wêreld deur die liggaam voorstel (Kosut & Moore, 2010:21).

Merleau-Ponty (1962:xxii) stel dat die kern van fenomenologie (wat dit anders maak as ander strominge van filosofie) is dat dié beskouing uiterste subjektivisme en uiterste objektivisme met mekaar verbind het. In hierdie filosofie word rasionaliteit in verband gebring met die ervaringe waarin dit opgesluit is en openbaar word (Merleau-Ponty, 1962:xxii). Merleau-Ponty se fenomenologiese analise van persepsie – hoe die mens bewus raak van die sintuiglike wêreld om ons – verwerp die subjek/objek skeiding tussen verstand en liggaam en ook dat die verstand die lokus van subjektiwiteit is (Kosut & Moore, 2010:21).58 Die verbintenis van subjektiewe persepsies en ervaringe met die rasionalistiese beskouings tot die werklikheid is relevant in die hedendaagse tydgleuf waar die soeke na ’n meer holistiese ondersoek van die wêreld nagestreef

58 Heidegger het die Dasein se rol binne die wêreld gesitueer en ’n skeiding tussen mens se wese (being) en wêreld verwerp (vgl. Delancey, 2009:361).

59

word. Merleau-Ponty opponeer die Westerse filosofiese tradisie wat “objektief” en “wetenskaplik”

na die mens-wêreld verhoudings kyk (vanuit empirisme) (Matthews, 2002:46). Dit is omdat ’n

“suiwere” objektiewe beskouing tot werklikheid volgens Merleau-Ponty (1962:ix) nie moontlik is nie aangesien dit steeds ’n waarneming van ’n eie ervaringsperspektief is. Merleau-Ponty (1962:ix) stel in sy boek The phenomenology of perception (1962) die volgende:

All my knowledge of the world, even my scientific knowledge, is gained from my own particular point of view, or from some experience of the world without which the symbols of science would be meaningless. The whole universe of science is built upon the world as directly experienced, and if we want to subject science itself to rigorous scrutiny and arrive at a precise assessment of its meaning and scope, we must begin by reawakening the basic experience of the world of which science is the second order expression” (Merleau- Ponty, 1962:ix).

Vanuit die bogenoemde kan verstaan word dat Merleau-Ponty van mening is dat alhoewel die wetenskap ’n plek het in die beskouing van die werklikheid, dit onderdanig is aan die direkte waarnemings van mense – wat in meeste gevalle gebeur voor enige wetenskaplike terminologie of idees geraadpleeg word. Dit is ’n subjektiewe en eerstehandse ervaring. Merleau-Ponty se navorsing het aandag gevestig op die rol van die menslike liggaam as beide ʼn objek en subjek van persepsie (Kelly et al., 1995:117). Merleau-Ponty het die konsep van die liggaam-subjek ontwikkel as ʼn alternatief tot die Cartesiaanse “cogito” (Fusar-Poli & Stanghellini, 2009:92). Die Cartesiaanse subjek staan afsonderlik van die wêreld, omdat betekenis slegs in die denke van die mens bestaan (aangesien die mens buite die wêreld staan), hierteenoor is Merleau-Ponty se mens ’n beliggaamde persoon (nie net ’n brein nie) – dit is die liggaam-subjek (Matthews, 2002:55). In samehang stel Matthews (2002:57) dat:

The subject can be conceived of only in relation to a world, and the world can be conceived as only in relation to the subject. The subject must be “in the world” both in the way that objects are and in a way that transcends the mode of being of objects.

Die aanhaling hierbo beklemtoon dat die subjek (of mens) tot so mate gekoppel is aan die wêreld dat dit nie daarsonder beskou kan word nie, maar terselfdertyd is die mens ook ’n objek waardeur ons kan wees van hierdie wêreld. Dit impliseer dat die mens nie net ’n liggaamlose verstand of komplekse masjiene is wat uit vlees bestaan nie, maar aktiewe en lewende wesens wie se subjektiwiteit geaktualiseer word in hul aktiewe betrokkenheid met die wêreld (Fusar-Poli &

Stanghellini, 2009:92). Die idee van subjek en objek (in die fenomenologiese denkraamwerk) is gebaseer op ervaring: ’n subjek van ervaring kan nie bestaan sonder objekte om te ervaar nie. ’n Subjek kan dus slegs ’n wese hê in ’n wêreld, en as deel van dieselfde wêreld van die objekte wat daardie subjek ervaar (Matthews, 2002:56). In aanhang hiermee is die beskouing dat liggaam self ook ’n vorm van bewussyn in die wêreld is (Romdenh-Romluc, 2011:62). Denke, bewussyn

60

en waarneming kan nie geskied sonder die liggaam nie, maar die liggaam speel ook ’n rol in die wyse waarop bewussyn geskied – dit is ’n nie-isoleerbare verbintenis. Binne ’n fenomenologiese konteks word klem gelê op die geleefde liggaam (lived-body) wat beklemtoon hoe die mens deur middel van die liggaam in die wêreld leef en sodoende met die wêreld ’n direkte verbintenis of verhouding het.