HOOFSTUK 1 INLEIDING, PROBLEEMSTELLING, DOEL, METODE
2.3 DIE ONTWIKKELING VAN PERSOONLIKHEIDSTEORIEË
Dit is relatief eenvoudig om die struktuur van die menslike liggaam te verstaan omdat dit gedissekteer kan word om aan te toon presies waar watter organe gevind kan word. Om die dinamiese werking van die organe (fisiologie) te verstaan is egter meer ingewikkeld, maar dit word deur kennis oor die anatomie vereenvoudig (Derlega, Winstead & Jones, 2005). Om die struktuur en funksie van persoonlikheid te bestudeer is egter veel meer uitdagend aangesien persoonlikheid ’n abstrakte, onhanteerbare konstruk is. In plaas daarvan om direk die struktuur van persoonlikheid waar te neem, moet daar persoonlikheidsteorieë en –modelle, ter verklaring van hoe die persoonlikheidstruktuur moontlik kan lyk, ontwikkel word.
Vervolgens word die historiese verloop van die ontwikkeling van persoonlikheidsteorieë en persoonlikheidsmodelle verskaf, in ’n poging om 'n beter begrip te kry oor wat met persoonlikheidstruktuur bedoel word.
2.3.1 Die antieke beskouing van persoonlikheid:
Hippokrates (470–360 v.C.)
Soos in die geval van die meeste ander wetenskappe, dateer die geskiedenis van persoonlikheidsteorieë ook terug na die antieke Griekse tyd. Dit word algemeen aanvaar dat die eerste persoonlikheidsteorie deur Hippokrates geformuleer is (Chamorro-Premuzic, 2007). In die vyfde eeu v.C. het Hippokrates geglo dat daar vier basiese elemente bestaan, naamlik grond, lug, vuur en water. Hy het verder geglo dat elke element met bepaalde vloeistowwe in die liggaam verband hou en hy het beweer dat as daar te veel van ’n sekere vloeistof teenwoordig is, dit ’n bepaalde temperament tot gevolg sou hê. Met temperament verwys Hippokrates na hoe vinnig en intens ’n persoon se emosies opgewek kan word en ook na die persoon se gemoedstoestand. Die idee dat temperament deur liggaamsvloeistowwe beïnvloed sou word, is tot in die sewentiende eeu deur Westerse medici aanvaar. Tabel 2.1 gee ’n uiteensetting van Hippokrates se tipering van die persoonlikheid.
Tabel 2.1: Persoonlikheidstipologie volgens Hippokrates
Element Liggaamsvloeistof Temperament Persoonlikheidseienskappe Grond Swartgal Melancholies Teruggetrokke, ongelukkig
Lug Bloed Sanguinies Vrolik, uitgaande, kalm Vuur Geelgal Choleries Geïrriteerd, knorrig, luidrugtig Water Flegma Flegmaties Stil, gelykmatig, nie-emosioneel
(Derlega, Winstead & Jones, 2005)
Die antieke Griekse klassifikasie van persoonlikheidstipes neem dus aan dat biologiese verskille (in fisiologiese samestellings) gedragsverskille (in psigologiese samestellings) veroorsaak. Die vier temperamentele tipes in Hippokrates se teorie beskryf biologiese verskille volgens die vlak van spesifieke vloeistowwe in die liggaam wat individuele verskille in alledaagse gedrag veroorsaak (Chamorro-Premuzic, 2007). Die sanguiniese temperament beskryf entoesiastiese, optimistiese en vrolike individue wat lewenstevredenheid ervaar en oor die algemeen goeie fisieke en geestelike gesondheid geniet. Volgens Hippokrates hou hierdie tipe temperament verband met hoë vlakke van bloedtoevoer of “bloedsterkte”. Sanguiniese individue ervaar gewoonlik ’n goeie gemoed, is geneig om gelukkig te wees en is prettige mense om mee te sosialiseer (Chamorro-Premuzic, 2007). Die choleriese temperament verwys weer na aggressiewe, opgewekte en temperamentele individue. Volgens Hippokrates word hierdie tipe temperament veroorsaak deur hoë vlakke van geelgal (’n chemiese afvalstof wat deur die galblaas gedurende spysvertering vrygestel word). Choleriese individue word dikwels beskryf as geïrriteerd, emosioneel en humeurig (Chamorro-Premuzic, 2007). Individue met ’n flegmatiese temperament word beskryf as kalm en rustige individue. Volgens Hippokrates word hierdie tipe temperament veroorsaak deur mukus van die longe wat tipies gedurende verkoue of longontsteking voorkom (Chamorro-Premuzic, 2007). Die melancholiese temperament beskryf die hartseer, depressiewe en pessimistiese individue. Volgens Hippokrates is die biologiese oorsprong van melancholie die wanfunksionering van ’n orgaan wat bekend staan as “swartgal”.
Melancholie hou verband met 'n abnormale eerder as 'n normale persoonlikheid en dit is belangrik om te besef dat alhoewel meeste individue soms hartseer of melancholies voel, melancholiese individue geneig is om die meeste van die tyd hartseer of leeg te voel (Chamorro-Premuzic, 2007).
Alhoewel hierdie persoonlikheidstipologie so vroeg soos 500 v.C. ontwikkel is, word sekere van hierdie begrippe van Hippokrates steeds vandag gebruik wanneer daar na persoonlikheidstrekke verwys word, byvoorbeeld as daar na individue verwys word as
2.3.2 Wilhelm Wundt (1832-1920)
Wilhelm Wundt het beweer dat daar vier basiese temperamente is en het daarna verwys as persoonlikheidstrekdimensies. Die eerste dimensie strek vanaf vinnig om emosioneel te reageer tot stadig om emosioneel te reageer. Die tweede dimensie strek vanaf sterk emosionele reaksie tot matige emosionele reaksie. Bogenoemde twee dimensies vorm ’n matriks waarbinne die vier klassieke temperamente van Hippokrates kan inpas. Figuur 2.4 verskaf ’n visuele voorstelling van die integrasie tussen Wundt se beskouing van persoonlikheid en Hippokrates se persoonlikheidstipologie (Möller, 1993).
Vinnig om emosioneel te reageer
Choleries Sanguinies
Sterk emosies Matige emosies
Melancholies Flegmaties
Stadig om emosioneel te reageer
(Möller, 1993) FIGUUR 2.4: INTEGRASIE VAN WUNDT EN HIPPOKRATES SE
BESKOUING VAN DIE PERSOONLIKHEID
Ter verduideliking van Figuur 2.4, sal individue wat vinnig is om emosioneel te reageer en sterk emosies toon dus oor ’n choleriese temperament beskik, terwyl individue wat stadig is om emosioneel te reageer en matige emosies toon oor ’n flegmatiese temperament beskik.
Individue wat stadig is om emosioneel te reageer, maar oor sterk emosies beskik, sal ’n melancholiese temperament hê, terwyl individue wat vinnig is om emosioneel te reageer en oor matige emosies beskik bekend staan as individue met ’n sanguiniese temperament.
2.3.3 Gordon W. Allport (1897-1967)
Allport beskou persoonlikheidstrekke as die basis van persoonlikheid en tref 'n onderskeid tussen persoonlikheidstrekke wat op grond van frekwensie en intensiteit wissel na gelang van
die situasie (Möller, 1993). Volgens Tabel 2.2 blyk dit duidelik dat Allport persoonlikheidstrekke verbind aan sekere toestande wat verder deur sekere aktiwiteite gekenmerk word (Möller, 1993).
Tabel 2.2: Allport se siening van persoonlikheid
Persoonlikheidstrekke Toestande Aktiwiteite
Saggeaard Verdwaas Fuiwery
Baasspelerig Tevrede Grootpratery
Goedvertrouend Kwaad Afloerdery
Bedees Versterk Oplet
Sluheid Opgewek Onthulling
(Möller, 1993)
Ter verduideliking van Tabel 2.2, sal individue wat baasspelerig is tevrede voorkom en deelneem aan aktiwiteite wat gekenmerk word deur grootpratery, terwyl individue wat saggeaard is verdwaas sal voorkom en sal deelneem aan aktiwiteite wat gekenmerk word deur fuiwery. Allport het verder ’n onderskeid getref tussen drie tipes persoonlikheidstrekke, naamlik kardinale trekke, sentrale trekke en sekondêre disposisies (Chamorro-Premuzic, 2007). ’n Kardinale trek stel ’n disposisie voor wat so merkwaardig is dat elke optrede van die individu daardeur gekenmerk word (Chamorro-Premuzic, 2007). So kry ’n mens manipulerende, sadistiese, dominerende en gesaghebbende individue. Volgens Allport het die meeste individue min tot geen kardinale trekke nie. ’n Sentrale trek stel ’n disposisie voor wat slegs na vore kom in sekere situasies en sluit eerlikheid, vriendelikheid en assertiwiteit in (Chamorro-Premuzic, 2007). ’n Sekondêre disposisie is ’n trek wat nie algemeen by individue voorkom nie. ’n Kalm individu sal byvoorbeeld in sekere situasies aggressief wees, alhoewel dit nie ’n akkurate refleksie van sy persoonlikheid is nie. Allport is dus van mening dat die situasie waarin die individu homself bevind ’n invloed het op die manier waarop die individu uitdrukking gee aan spesifieke persoonlikheidstrekke (Chamorro-Premuzic, 2007). Dit verklaar waarom ’n individu nie altyd op dieselfde wyse in alle situasies optree nie. Volgens Allport verduidelik die trekbenadering die stabiliteit van gedrag en die situasie verduidelik die verskeidenheid van gedrag (Chamorro-Premuzic, 2007).