MOTIVERING VAN DIE STUDIEONDERWERP EN ORIËNTERING TEN OPSIGTE VAN DIE NAVORSING
1.0 INLEIDING
Sang as ʼn religieuse handeling is van die vroegste tye deel van die geskiedenis van die mensdom. Die Godsvolk in die Ou-Testamentiese bedeling was ʼn singende geloofs- gemeenskap waarin musiek en poësie as relevant vir die religie beskou is – in so ʼn mate dat ʼn bekende himnoloog jare gelede opgemerk het dat dit die „chief business of the Old Testament‟ genoem kan word (Routley, 1978:7; vgl. Bingle, 2000:1). Ook die Nuwe- Testamentiese Godsvolk sing deur die eeue sy geloof uit. Dit gaan in kerkmusiek en die liturgiese lied dus oor aanbidding. Alle ander oorwegings in verband met die himniese handeling is ondergeskik hieraan. Alles wat in die Christelike kerk gebeur, vind immers sy oriëntasiepunt in aanbidding (Ludik, 2008:10). En so behoort ook die musiek en liturgiese lied uit die aanbiddingsmotief voort te kom. Liturgiese musiek en sang wat in eredienste gebruik word, moet aanbidding dien, en nie andersom nie.
Liturgiese sang het egter deur die tyd heen variërende vorme en style aangeneem. Die geskiedenis van kerkmusiek is ʼn interessante onderwerp om te bestudeer, omdat dit juis verskillende standpunte, tradisies, vorme en style aan die lig bring. As byvoorbeeld net op die meer resente dekades se liturgiese musiek en sang gelet word, tref dit dat veral in die afgelope drie of vier dekades heftige debatte oor die aangeleentheid van variërende vorme, style en genres gevoer is.
Daar is sedert die sewentigerjare van die vorige eeu gesprekke gevoer oor die krisis waarin Protestantse kerkmusiek geraak het. Die musiekkultuur – spesifiek kerkmusiek en die kerklied – vertoon in die laat-twintigste eeu ʼn byna onoorsienbare pluralisme in style en funksies (Kruger, 2002:20). Veral die negentigerjare kan die dekade van die „worship wars‟ genoem word. Thomas Long (2001:1-3) skryf vanuit ʼn Amerikaanse kerklike konteks en sê dat dit ʼn konflik is wat gegenereer is deur die botsing tussen twee sterk opponerende kragte, waarin aanbiddingstyle druk gedebatteer is en die himniese hande- linge in die erediens in die brandpunt te staan gekom het. Liturgiese „speelvelde‟ het by wyse van spreke die slagvelde in dié oorlog geword – tussen tradisionele kerkmusiek- style en dié van groepe met ʼn sogenaamde meer kontemporêre, vernuwende aanslag.
Dat die debat ook as ʼn tendens in die Suider-Afrikaanse konteks „uitgebreek‟ het, spesifiek in Afrikaanse gerefomeerde kerkgroeperinge, is duidelik uit korrrespondensie in kerklike blaaie, artikels en ander publikasies. Uitgawes van Vir die Musiekleier – jaar-
2
blad van die Suider-Afrikaanse Kerkorrelistevereniging (SAKOV) – uit die jare negentig onderstreep die feit van die onrus en stormagtigheid van dié dekade (vgl. onder meer uitgawes 19, 1992:4-14,68-71; 20, 1993:17-19,46-53,75-80; 21, 1994:40,76-78; 22, 1995:4-10,40-42,86-87; 23, 1996:4-10; 24, 1997:4-11,19-23,87,88).
In die Westerse kultuur het die posisie van die kerk drasties verander. Mouton (2010:21- 23) beskryf die verandering as ʼn sosiale marginalisering van die kerk en dat privatisering van die geloof plaasvind; kerke het in die moderne verbruikerskultuur oor godsdiens as ʼn produk begin dink wat op die mark geplaas word en meeding om klandisie; laastens praat hy van ʼn ingebreekte evangelie, bedoelende dat die evangelie se krag gebreek word.
Die fokus is weg van die objektiewe en word voluit op die subjek geplaas, op die mens met sy voorveronderstellings en ʼn eie soort spiritualiteit. Die emosionele en ervarings- godsdiens se hartspiritualiteit speel ʼn groter rol as die meer gereformeerde styl van ʼn kopspiritualiteit (Pieterse, 2005:414). Persoonlike voorkeur word die absolute maatstaf (Grové, 2006:24). “Daar het ʼn sterk antroposentriese gees ontstaan waarin die mens die maatstaf van alles is” (Pieterse, 2005:411). Dit is vanselfsprekend faktore wat sterk invloed op die liturgie en liturgiese stylvorme uitoefen.
Intussen lyk dit of daar in die karakter van die botsing van standpunte in die beskryfde konteks ʼn wending begin kom het met die draai van die eeu en die millennium. Die titel van Long se werk (2001) wat hierbo aangehaal is, gee hiervan ʼn aanduiding: Beyond the worship wars.1 In kerkgemeenskappe het die intensiteit van die „oorlog‟ in ʼn mate afgeneem in ʼn gees van aanvaarding dat daar meer as een styl in himnes en himniese handelinge is en kan wees. Long (2001:9-12) is ʼn voorstander daarvan dat daar tussen die opponerende style van tradisioneel en kontemporêr ʼn derde weg gevind sal word.
Meer as een styl kan geïntegreer word. Dit is opvallend dat daar ʼn toenemende beklem- toning is van kwaliteit, funksionaliteit en relevansie ten opsigte van kerkmusiek – wat ook die lied en liedstyle insluit – en die interessante is dat in die debat wat hieroor in
„tradisonalistiese‟ en „modernistiese‟ kringe gevoer word, albei die groeperinge hoë standaarde bepleit (Kruger, 2007:22). Sodoende kan die beste uit die nuwe geïntegreer word met die tradisionele wat ekumenies-vernuwend is sonder om die ryke teologiese en liturgiese erfenis te verwerp (Wagner-Ferreira, 2008:302). Daar word beweeg in die rigting van ʼn kontemporêre omgang met die tradisie (Van der Merwe, 2007:7). Ou tradisies kom terug in ʼn „retro‟-vorm; dit beteken: aangepas by die nuwe geslag, sonder om die essensiële daarvan te verloor (Ludik, 2008:15).
Ten spyte van die feit dat daar in die Afrikaanse reformatoriese kerkgemeenskap twee liedbundels in die douvarsjare van die een-en-twintigste eeu in gebruik geneem is, naamlik die Liedboek van die Kerk (2001) en Psalmboek (2003), bly dit ʼn aktuele vraag
1 Vergelyk ook die titel van Byars se 2002-publikasie: The future of protestant worship:Beyond the worship wars.
3
hoe die Bybelgetroue geloofsgemeenskap sy himnografie behoort te skryf en te keur te midde van ʼn veelheid van vorme en style. Skrifgetrouheid bly te alle tye die ononder- handelbare uitgangspunt by die teks van die Psalms, maar daar bestaan volgens Jankowitz (2010:37) ʼn duidelike behoefte aan omdigtings wat die psalminhoud in her- kenbare simboliek uit eietydse denk- en leefwyse kan omskryf. (ʼn Taakgroep van die die Nederduitse Gereformeerde Kerk wat in hierdie rigting werk is die groep bekend as VONKK, afkorting van Voortgesette Ontwikkeling van Nuwe Klassieke Kerkmusiek.) Bo en behalwe die aktualiteit van die liturgiese lied in die kerklike lewe en debat in die algemeen, en in besonder in die Afrikaanse reformatoriese kerkgemeenskap, vra etniese en kulturele verskuiwings in die Protestantse wêreld vir liturgiese inkulturasie (Serfontein, 2005:21-22; vgl. Wagner-Ferreira, 2008:301). ʼn Relevante liturgie en musiek vir gereformeerde kerke van Afrika-oorsprong kan ook uniek wees en ʼn unieke bydrae lewer (Letšosa & De Klerk, 2007:64-82). Dit stel nuwe eise aan die liturgiese lied, maar die gereformeerde kerklied kan nietemin positief bydra tot die proses van versoening en eenheid in die Suider-Afrikaanse konteks (Smit, 2007).
Daar word deur die navorsing wat in hierdie studie gedoen word, gepoog om ʼn bydrae te lewer tot helderheid in verband met en ʼn oplossing van die steeds aktuele problematiek wat bestaan rondom die liturgiese lied. Die bedoeling is nie om net as nog ʼn stem deel te wees van ʼn durende gedebatteerde probleem nie. Helderheid, koers en rigting kan verkry word indien die aangeleentheid – wat die taalkuns van die liturgiese lied in besonder betref – sowel literêr-wetenskaplik as teologies-wetenskaplik benader en begrond word.
In ʼn studie met hierdie oogmerk is dit dringend noodsaaklik dat daar basisteoretiese beginsels in die himniese stof van die Bybel self geïdentifiseer word om prinsipiële leiding te bied. Die indruk is – algemeen gesproke – dat veral lofliedere (soos onder meer in die praise en worship-beweging) dikwels ingevoer word sonder om die inhoud werklik te evalueer en te keur, omdat maatstawwe vir beoordeling nie behoorlik vasgestel is nie (De Klerk, 2002:2). Nieteenstaande al die besinning oor hierdie aangeleentheid is daar in ʼn mate steeds ʼn leemte ten opsigte van ʼn skriftuurlike, prinsipieel-begronde basis van en riglyne vir himnografie. Die voorwaardes vir die „ideale‟ lied wat in ondersoeke geloods word, is volgens Grové (2006:21) min of meer voorspelbaar: “...daar sal sprake wees van sake soos gewigtigheid van die waardige lied, wat ten opsigte van historiese herkoms, teologiese inhoud, estetiese gehalte, gepaste/korrekte woord-toon-verhoudinge en dies meer gemeet moet kan word” (beklemtoning van Grové). Al is hierdie eienskappe van die liturgiese lied in die gereformeerde teologie natuurlik van die grootste belang, is die noem van die gebruiklike aspekte nie genoeg nie; dieper begronding is nodig. Indien daarvan uitgegaan word dat Skrifgetrouheid in die lied ʼn vereiste is en dat basis- teoretiese beginsels in die himniese materiaal van die Skrif self gevind moet word, moet besef word dat literêre aspekte vanself ook aan die orde is. Die Bybel bevat materiaal uit verskillende genres. Dit plaas die problematiek van die kerklied in ‟n wyer konteks van
4
verskillende soorte en verskyningsvorme van tekstualiteit en hieruit vloei die noodsaak voort dat die hele aangeleentheid breër aangepak behoort te word, dus vanuit sowel die Literatuurwetenskap as die Teologie. ʼn Groot deel van hierdie navorsing het gevolglik te doen met literêre aspekte en perspektiewe en die dimensies wat daardeur geopen word.
Die studieonderwerp spits hierop toe en is mede hierdeur gemotiveer.
Teen hierdie agtergrond gee ek inleidend verder aandag aan oriëntering ten opsigte van die studieonderwerp (1.1), motivering van die onderwerpformulering en -keuse (1.2), omskrywing van die probleemstelling (1.3), die doel van die studie (1.4), die sentrale teoretiese argument wat deur die navorsing loop (1.5), omlyning (afbakening en begrensing) van die navorsing (1.6), die metode van navorsing (1.7) en die globale struk- turering van die proefskrif (1.8).
1.1 ORIËNTERING TEN OPSIGTE VAN DIE