1
UIT BEATRYS Deur MAETERLINCK
Beatrys kniel voor die Maria-beeld in die kapel by die klooster. Sy het verlief geraak op Prins Belidor en wend haar tot die Maagd vir teken om haar te sê of sy saam met Prins Belidor moet gaan, of in die klooster bly.
BEATRYS:
O luister, heil'ge maagd, ek is al stom;
Ek kan nie langer bid nie.
Nee, ek kan slegs nog ween;
Ek wis dit nooit
dat ek hom so bemin nie.
Ook wis ek nie
Hoe ek U liefhet nie. O luister, Kyk!
Al wat ek vra is net een teken, één!
Een teken van u hand, een glimlag, dit is al.
Ek is nog maar 'n meisie wat so min begryp…
So dikwels moes ek hoor:
u skenk aan almal
Wat hulle vra, u is so vriendelik;
U is genadig.
Luister! … drie uur! Daar klink die oggendklok wat ek moes lui.
Dis dagbreek nou… die lug verbleek tot blou…
Die venster het ek altyd oopgemaak
nog lank voor dagbreek, dat die oggendlug, die daglig en die sang van voëls
my susters welkom heet as hul ontwaak.
Daar hang die klok se koord wat hul moes sê:
Nag en rustyd is verby; hier is die deur, die kloosterdeur wat my
2
twee hande sag
moes oopstoot om die môreglans te groet;
Daar brand die kers wat ander sal versorg…
Hier staan die armes se geskenk. Hul kom nou-nou hierheen en roep my naam.
Geen antwoord nie. Vergeefs soek hul die hande, Die hande wat hul seën solank ek stil
die klere uitdeel wat my susters maak in vreedsame arbeid in die skemersaal waar hulle bid.
Nou moet ek gaan; die môre wink.
My susters sal ontwaak; reeds gaan dit my asof ek hulle voetstappe kan hoor.
Ja, hulle kom, my susters kom.
Hul wat my so bemin en so vertrou het.
Hier sal hulle sien, hier waar
hulle voete rus, dat van Beatrys net haar mantel en haar sluier
nog gebly het.
Maar nee,
Ek sal hulle nie laat dink
dat ek my voet op hierdie vredeskleed geplaas het nie. Moeder, ek skenk u dit.
U sal dit hou.
Want in u hande plaas
ek my besittings, wat ek in vier jaar tyd ookal ontvang het.
Ek lê my rosekrans hier neer, en ook die silwerkruis; en hier,
die drie groot sleutels
wat aan my gordel hang. Die een
3
ontsluit die deur; die tuinhek hierdie en dit die kapel. Nooit sien ek weer die tuintjie groen word en nooit weer ontsluit ek die kapel, waar ons in wierookgeur
ons liedere moes sing nie.
Moeder u weet van alles. Ek van niks.
Staan dit daarbo geskryf
dat niks vergewe word? Dat liefde eenmaal vervloek is en geen mens daarvoor kan boete doen?
Sê my, O sê my! Ek is nog nie verlore as u dit wil nie!
Ek is gered selfs nou
As u één teken gee! Ek vra geen wonder nie, net dit
een enkele teken is genoeg, so klein dat niemand dit sal kan gewaar.
As net die skadu op u hoof een grein beweeg,
sal ek nog bly. O kyk na my, Moeder, ek kyk, ek kyk ek wag!
Niks! Dan moet ek gaan want hulle kom.
---ooOoo---