• Tidak ada hasil yang ditemukan

Gemeenskap van gelowiges

HOOFSTUK 4: NORMATIEWE STUDIE OP DIE KERK AS

4.4 Normatiewe perspektiewe op die rol van die kerk (ekklesia) in die

4.4.3 Normatiewe perspektiewe op die kerk as liggaam van Christus

4.4.3.1 Gemeenskap van gelowiges

Ries en Hendriks (2013:1) omskryf koinonia en diakonia as twee wesenlike boustene van die kerk se openbare getuienis. Hulle beskou diakonia en koinonia as ’n besondere vergestalting van die koninkryk van God. Breed (2012:2) verklaar dat in die plek van die sterk klem op nederige liefdesdiens, die woord “diakonia” nou eerder verbind word aan die betekenis van “tussenganger”, “woordvoerder” en

“verteenwoordiger”. Diakonia word beskryf as diens aan God of ’n ander persoon onder die bevel van God tot eer van God (Markus 10:45). Die diens spreek ’n ander persoon, die gemeenskap of die gemeente se behoefte aan. Hierdie diens word verrig met die gawes van die Heilige Gees en word deur God gebruik om sy genade en krag te demonstreer wat groter is as wat mense ooit sal besef (1 Korintiërs 12:1- 5) (Breed, 2015:6).

4.4.3.1.1 Gemeenskap (G2842) κοινωνία koinōnia

2 Korintiërs 13:13 lui soos volg:

Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal! Amen (Bybel, 1990).

In die ondersoek na die rol van die gemeenskap van gelowiges word die begrip koinonia vanuit drie woordeboeke nagevors, naamlik dié van a) Thayer, b) Dake en c) Louw en Nida.

Volgens Thayer (2007:352) behels die begrip koinonia:

 gemeenskap, vereniging, verbinding, nagmaal

 gesamentlike deelname

 omgang (“intercourse”), intimiteit

 die intieme band van gemeenskap tussen gelowiges

 ’n geskenk

 gesamentlike bydrae

 ’n insameling

 persoonlike bewys van gemeenskap

Dake (2010:350) toon twee praktiese koinonia-gebeure aan in die volgende voorbeelde:

 Masedonië en Agaje se bydraes vir die armes onder die heiliges in Jerusalem (Romeine 15:26).

 2 Korintiërs 9:13, waar die kerklidmate vir hul milddadige bydraes geprys word.

Louw en Nida omskryf koinonia as:

 Om iemand vanuit ’n vriendskapsverhouding te besoek met hulpverlening (Louw & Nida,1989:453);

 om te deel, soos byvoorbeeld ’n mens se besittings. ’n Gesamentlike deelname en wedersydse belang om te deel aan mense in nood. ’n Mededeelsaamheid teenoor die volk van God (2 Korintiërs 8:4) (Louw & Nida, 1989:569); en

 om ’n gewillige gawe of bydrae te gee, soos in die voorbeeld van die armes soos beskryf in Romeine 15:22 (Louw & Nida,1989:569).

Gevolglik word afgelei dat indien gelowiges, as sy tempel, daagliks ’n verskil maak waar hulle hul bevind en egte koinonia toepas, kan die samelewing die teenwoordigheid van God herken. Die kerk moet met ander woorde ’n teken wees van God se verlossende en herstellende aksie in die wêreld (Van Wyk, 2015:5). In die proses van God se herstellende aksie in die wêreld, word God se koninkrykswaardes gevestig (Thayer, 2007:250,251).

In die proses van herstellende aksie beklemtoon Kruger (2016:17) dat die kerk haar taak en plek as die draer van God se teenwoordigheid moet begryp en dat bestudering van die samelewing noodsaaklik is vir die realisering van dié rol.

Interkulturalisasie deur middel van onder andere Woordverkondiging binne die heersende kultu(u)r/e is egter nodig sodat die koningskap van God duidelik sal weerklink. Die kerk sal haarself moet beywer vir die bou van goeie verhoudings met bure in die gemeenskap. Opregte omgee en diensbaarheid sal toegepas moet word.

Deur middel van prediking moet God se Woord op duidelike en verstaanbare wyse (kontekstueel) verkondig word met die oog op interkulturalisasie van die prediking binne die konteks van die hoorders.

Die volgende illustrasie verduidelik die plan van God vir die wêreld deur sy kerk as gemeenskap van gelowiges:

Figuur 2: Identiteitsgedrewe kerke (oorgeneem uit Nel, 2015:67)

Die normatiewe taak behels geestelike onderskeiding in die begeleiding van die plaaslike kerk, as gemeenskap van gelowiges, om Christenskap prakties in die gemeenskap uit te leef. Dit behels die vestiging van God se Woord deur ware koinonia in ’n praktiese lewenswyse. Die dade van gelowiges, vervul met die Heilige Gees, in die plaaslike gemeenskap sal tot gevolg hê dat mense God herken en ervaar (Osmer, 2008:28,29).

Van Wyk (2015:8) waarsku dat alhoewel die Christen ’n vreemdeling en bywoner op aarde is op weg na ’n beter vaderland (Hebreërs 11:13-15), impliseer dit nie wêreldontvlugting nie. Christene, as deel van die ekklesia, is ’n geroepe gemeenskap van gelowiges wat namens God optree, asof Hyself teenwoordig is in die nood en omgee vir ’n mensdom (Dake, 2010:374).

Kruger (2016:17) beklemtoon die noodsaak vir egte societas (koinonia) as ’n manier om die samelewing te beïnvloed. Kruger (2016:17) noem vier fokuspunte as beginsels om ’n samelewing mee te beïnvloed, naamlik die rol van verkondiging (kerugma), die prominente plek van die erediens (leitourgia), die noodsaak van egte societas (koinonia), asook die gesindheid van dienswerk in die samelewing (diakonia).

Om egte societas in die samelewing te verstaan, moet die begrip “dienswerk” of diakonia verder omskryf word.

4.4.3.1.2 Bediening (G1248) διακονία Diakonia

Paulus sê in Handelinge 20:24

Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening (diakonia) wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God (Bybel, 1990).

Thayer (2007:137) verduidelik die woord “bediening” soos volg:

 Diens, diens waar te neem, te dien in die uitvoering van bevele.

 Bevele wat vanaf kerkleiers ontvang word, word uitgevoer. Hierdie dien is tot voordeel van die kerk en die godsdiens.

 Christelike liefde word deur dienslewering, insamelings of verspreiding tydens die aksie van liefdadigheid betoon.

 Diens van diegene wat kos voorberei.

Louw en Nida (1989:460-462,521,571) verduidelik die begrip vanuit die koin- woordgroep:

 Om hulp te verleen of te help in die uitvoering van sekere take. Hierdie take is dikwels van ’n nederige aard. In Matteus 20:28 gee Jesus se woorde die voorbeeld: “Net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie (Bybel, 1990).”

 Rol of posisie van dien.

 Die proses waar voorsiening gemaak is vir die aanspreek van nood, soos in Handelinge 6:1: “En in dié dae toe die dissipels vermeerder het, het daar ’n murmurering ontstaan van die Griekssprekende Jode teen die Hebreërs, omdat hulle weduwees in die daaglikse versorging oor die hoof gesien is (Bybel, 1990).”

 Om kos en drank te bedien vir diegene wat moet eet – te dien en te wag soos in Markus 1:31: “Daarop gaan Hy na haar, neem haar hand en rig haar op, en dadelik het die koors haar verlaat, en sy het hulle bedien (Bybel, 1990).”

 Om geld te gee as hulpverlening in nood – ’n bydrae, te help, ondersteuning.

Findikyan (2011:366) beklemtoon die dubbelsinnige gebruik van die woord

“diakonia” in die Skrif – die aanwysing van beide “diens” en “bediening”. Liefdevolle, opofferende diens in die navolging van Christus word nie net vergestalt in die diakonaat nie, maar vorm die permanente grondslag vir die voltydse bediening. Alle bediening is in wese diakonaal, ’n bediening in diens van Christus.

Breed (2012:5a) beskryf diakonia as:

 ’n ryke verskeidenheid van bedieninge van die gemeente; en

 iemand wat geroep en gestuur of afgesonder word vir ’n bepaalde taak.

Die doel van diakonia is, volgens die Nuwe Testament, gehoorsaamheid aan God wat die opdrag gee, en nie primêr naasteliefde nie (Breed, 2012a:3). In die Nuwe Testament word die gesindheid (die gesindheid van Christus) waarmee dienswerk gedoen word eerder beskryf. Hierdie gesindheid hou in dat die dienswerk in nederigheid, maar ook op die gesag van die Een wat stuur, gedoen word (Breed, 2012a:3).

Breed en Semenya (2015:6) verduidelik verder dat diakonia beskryf kan word as ’n diens aan:

 ’n ander persoon;

 die gemeente vanuit gehoorsaamheid aan God;

 die gemeenskap/samelewing (1 Petrus 4:10; Matteus 25); en

 die fokus is dat dit strek tot verheerliking van God, sy eer word benadruk (Markus 10:45).

Hierdie diens word gedoen deur die gawes van die Heilige Gees. Die beoefening van koinonia toon God se omgee, sy genade en onbegryplike krag aan die samelewing (1 Korintiërs 12:1-5). Die diakonos word aangespreek deur die voorbeeld van Jesus in die veroordeling van selfsug (Johannes 12:24-26). Jesus Christus regeer deur die diakonia van God se kinders. Diakonia laat God se koninkryk op die aarde kom, net soos in die hemel. Gepaardgaande met die opdrag om soos Jesus te dien, is ook Christus se belofte dat Hy die een wat dien, sal vereer (Breed & Semenya, 2015:6).

Die kerk behoort funksioneel op die herstrukturering van God se koninkryk gerig te wees – ’n voortgaande proses wat deur God se betrokkenheid in die wêreld begin is.

Koinonia en diakonia is belangrik vir die getuienistaak van die kerk, maar daar sal doelbewus teen ’n oorbeklemtoning van die een funksie ten koste van die ander gewaak moet word. Aan die een kant is koinonia afhanklik van diakonia vir ’n egte gemeenskapslewe en aan die ander kant is diakonia weer van koinonia afhanklik vir

’n groter doeltreffenheid. Vanuit ’n missionale oogpunt ontstaan daar dus ’n groot uitdaging wanneer die fokus van uitreik slegs op noodverligting en/of projekte val, terwyl daar nooit wesenlike erns met verhoudingsbou gemaak word nie. God het nie net die menslike nood, dus die sonde, kom versoen nie, maar Hy het volwaardig mens geword om in ’n verhouding met sy skepping te staan (Ries & Hendriks, 2013:2).

Koinonia wil nie net kohesie tussen mense bevorder nie, maar ook lewenskragtige en lewensvatbare strukture tot stand bring om mense, ten spyte van verskille en sosiale groeperings, te verenig. So ’n vorm van koinonia vra nie alleen respek vir die ander nie, maar ook ’n daadwerklike ontmoeting met ander. Koinonia en diakonia daag dus die Christelike geloof en kerk uit om hul ware sterk punte en bydraes tot ontwikkeling te gaan ontdek vir die bewerkstelliging van ’n meer regverdige en menswaardige samelewing (Ries & Hendriks, 2013:7).

Ries en Hendriks (2013:2) verwys na Suid-Afrika en waarsku dat die gebrek aan ’n gesonde naasbestaan van betrokkenheid by sosiale uitdagings (diakonia) en die bevordering van effektiewe verhoudingsbou (koinonia) oor kulturele grense heen, verreikende missionale en sosiologiese uitdagings vir die Christelike kerk inhou.

Indien die armoedeprobleem onder die vergrootglas bekyk word, lê die grootste probleem aangaande armoede nie soseer by ’n gebrek aan hulpbronne nie, maar eerder by ’n gebrek aan ware koinonia met die naaste (Ries & Hendriks, 2013:7).

Vanuit bogenoemde bespreking word afgelei dat God die mens as sosiale wese geskep het. Die mens staan in verhouding met God en met medemense. Mense leef op aarde om saam met ander mense te wees. Die kerk is die belangrikste skakel tussen die koninkryk van God en die samelewing. Die kerk word geroep om in die wêreld, maar nie van die wêreld te wees nie. Daarom het die kerk die opdrag om gelowiges toe te rus vir hul taak in die wêreld. Gelowiges, as die liggaam van Christus, moet besef wat dit behels om verantwoordelik teenoor die samelewing op te tree. Die kerk het kragtens haar opdrag tot koinonia en diakonia ook ’n verantwoordelikheid ten opsigte van die maatskaplike en sosiale kwessies van die samelewing.

4.4.4 Normatiewe perspektiewe op die rol van die kerk en die samelewing