• Tidak ada hasil yang ditemukan

Normatiewe perspektiewe op begrippe “barmhartigheid”, “wie is my

HOOFSTUK 4: NORMATIEWE STUDIE OP DIE KERK AS

4.5 Normatiewe perspektiewe op begrippe “barmhartigheid”, “wie is my

In die beïnvloeding van ’n samelewing is daar spesifieke Bybelse begrippe wat duidelike riglyne vir die kerk, as gemeenskap van gelowiges, neerlê. Die volgende begrippe word normatief nagevors, naamlik: barmhartigheid, die bepaling van wie my naaste is, asook geloof en werke.

4.5.1 Normatiewe perspektiewe op God se barmhartigheid

Soos aangetoon in 4.4.2.1 is die mens as God se ambassadeur of as beelddraer geskep om Hom te verteenwoordig.

Dake (2010:6) verduidelik dat barmhartigheid die kern van God se karakter voorstel.

In Eksodus 34:6 staan daar: “En toe die Here by hom verbygaan, het Hy geroep:

Here, Here, barmhartige en genadige God” en in Psalm 103:8 is geskryf:

Barmhartig en genadig is die Here”. Die Engelse vertaling (Good News Bible) gebruik die woorde “plenteous in mercy”. Strong (2001:813) verduidelik vanuit die Hebreeuse woord “rachûm” (H7349) םוּחר beteken “barmhartig” die volgende: vol deernis en genadig.

Die begrip “barmhartigheid” figureer ook in Matteus 5:7: “Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.” Die woord “barmhartig” ĕlĕĕmōn (G1655) ἐλεήμων as byvoeglike naamwoord beteken “medelydend”, nie alleenlik om medemense met meegevoel te behandel nie, maar ook aktief medelyend (Strong, 2001:1075). Zodhiates (1992:564) vind ook aansluiting by Strong in die opsig dat

“barmhartigheid” op ’n gepaardgaande aksie tot optrede dui.

Die wese van barmhartigheid wat ’n gepaardgaande aksie insluit, word geϊllustreer in Lukas 10:29-37 wat die verhaal van die barmhartige Samaritaan vertel.

In die volgende gedeelte word die woord “barmhartigheid” bespreek, naamlik as (G1656) ἔλεος eleos en word beskryf vanuit “deernis” en “genade” (Strong, 2010:1075).

 Dake (2010:124) beklemtoon dat die voorbeeld van die barmhartige Samaritaan deur Jesus as model gegee is met ʼn opdrag om dieselfde te doen. Die gehate Samaritaan is ʼn simbool van die uitgeworpenes wat dade van goedheid en barmhartigheid uitleef, terwyl die godsdienstiges en gerespekteerdes neer- en wegkyk. Hierdie barmhartige daad het die Samaritaan baie in geld gekos. Die bedrag wat vir die vreemde, gewonde man betaal is, is gelykstaande aan twee dae se loon vir ʼn gewone arbeider (Dake, 2010:124). Dit is verder interessant dat Jerigo die priesterlike stad genoem is omdat daar meer as 12 000 priesters gebly het. Die Bybel beklemtoon egter dat die priesters (wat die kerk verteenwoordig) toeskouers was wat onbetrokke gebly het (Dake, 2010:124).

 Strong (2010:1075) voeg by dat barmhartigheid die uiterlike manifestasie van jammerte behels. Hierdie jammerte ontstaan vanuit die behoefte van ’n persoon in nood en word vervul deur ’n voorsiener wat kan help.

Die voorbeeld van die barmhartige Samaritaan toon duidelik dat medelye alle grense van ras, vreemdheid, haastigheid, ensovoorts oorskry. ʼn Beroep word op mense gedoen om in noodsituasies betrokke te raak (Dake, 2010:124). Barmhartigheid behels gevolglik goedheid, deugdelikheid, innemendheid, goedaardigheid en welwillenheid in morele optredes. God se barmhartige karakter is ’n voorbeeld wat nagevolg moet word. Simpatie is die menslike deelname in God se patos, dus God se lyding oor die lewe van sy verbondsvolk en skepping (Osmer, 2008:136).

Christene moet met God se saak (“cause”) identifiseer. Leiers moet identifiseer met God se lyding oor sonde, pyn en die boosheid waarin sy skepping verval het (Osmer, 2008:137). Menswees moet ’n liefdevolle en barmhartige lewe insluit wat vanuit ’n verhouding met God geleef word (Viljoen, 2014:217). Osmer (2008:141) gebruik Niebuhr se teorie, naamlik: God is besig om die Goddelike doeleindes te bewerkstellig in en deur menslike en natuurlike gebeure. Niebuhr se teologiese

interpretasie van huidige gebeure behels dat Christene deernisvolle optredes tydens rampe sal uitleef (Osmer, 2008:144). Soos reeds verduidelik, het verkeerde Godsbeelde ook skeiding tot gevolg. Deur die toepassing van barmhartigheid kan dié beelde verander word en mense met God versoen raak as hulle God se barmhartige karakter begryp.

Op die voetspoor van bogenoemde gedeelte, bied die verhaal van die barmhartige Samaritaan insiggewende perspektiewe op die rol van die kerk in die samelewing.

Jesus antwoord die man wat vra: “Wie is my naaste?” met die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Soos in die geval van die Samaritaan, is die vraag van gelowiges vandag: Wie is my naaste? Die Here gee ’n waarborg dat in die betoning van barmhartigheid, die een wat dit uitdeel deur Hom beloon sal word, al behels die barmhartigheid net ’n beker koue water wat met die regte motief vir iemand gegee word (Matteus 10:42) (Dake, 2010:19). Dake (2010:1088,1089) verduidelik, volgens Spreuke 19:17, dat min mense die geleentheid gebruik om aan God te leen.

Normatiewe beginsels oor barmhartigheid behels:

 God is ’n barmhartige God wat aktief betrokke is by elke mens in die samelewing.

 Barmhartigheid behels egter nie net medelye nie, maar ook aktiewe dade van medelye.

 Aktiewe medelye, soos in die geval van die barmhartige Samaritaan, kos ’n prys – letterlik en figuurlik gesproke.

 Jesus beveel die mensdom om barmhartigheid aan hul naaste te bewys.

 God word verpersonifiseer deur die mens in krisis en gee die samelewing die geleentheid om aan Hom te leen.

Dié paragraaf het gefokus op God se barmhartige hart en die opdrag aan die mens om dieselfde te doen. Die fokus is nou die beantwoording van die volgende vraag:

Wie is my naaste in die plaaslike gemeenskap?

4.5.2 Normatiewe perspektiewe op “Wie is my naaste?”

Vanuit bogenoemde navorsing oor Lukas 10:29 het die vraag ontstaan, naamlik: Wie is my naaste? In die beantwoording van dié vraag word die term “naaste” nagevors.

Naaste (G4139) πλησίον plēsion

Volgens Strong (2001:1319) beteken die woord “naaste”:

 ’n buurman, mede-landgenoot, Christen of vriend.

 Die woord het egter ’n breër betekenis as die woord “buurman” gesien teen die kulturele agtergrond van Israel. Vanuit die kulturele agtergrond waaruit Jesus se gebruik van die woord “naaste” kom in Lukas 10, is vasgestel dat die dorpsbewoners in die veld moes werk. Daar was egter nie plaashuise beskikbaar nie. In die heen-en-weer beweging tussen werksplek en huis was die mense heeltemal van mekaar afhanklik, vandaar die begrippe:

behulpsaamheid, intimiteit, opregtheid en heiligheid.

In Lukas 10:27 brei Jesus verder uit:

Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en jou hele siel en met jou hele krag en met jou hele verstand; en jou naaste soos jouself ( Bybel, 1990).

Hierdie selfde gedagte word in Matteus 22:37-39 bevestig waar Jesus dieselfde woorde gebruik. Osmer (2008:151) beklemtoon dat Jesus sy dissipels meer as agt keer vermaan het om hul naaste lief te hê soos hulself.

Die opdrag en begrip om eerstens God en gelykstaande daaraan, “my naaste”, lief te hê, word nou normatief nagevors.

Liefhê (G25) agapao ἀγαπάω

 Volgens Strong (2001:907) beteken die woord om lief te hê (in ’n sosiale of morele sin).

 Thayer (2007:3) bevestig dat die betekenis is om lief te hê, maar hy voeg by dat dit in wese beteken om goedheid te toon. God se offer, naamlik sy enigste Seun wat gesterf het tot voordeel van die mensdom, is ’n liefdesdaad wat nagevolg moet word.

 Osmer (2008:151) stel dit dat agape-liefde die belangrikste aspek in die Skrif is. Dit behels gelykstaande liefde vir die self en die naaste. Selfkruisiging is dus nodig in selfopofferende pogings om beskadigde verhoudings of onregverdige optredes te herstel. Naasteliefde is nie net die hantering van die krisis nie, maar die oogmerk is die herstel van menswees.

Normatiewe afleidings oor die begrip “liefhê” behels:

 “My naaste” sluit alle mense in en daarom moet alle mense waardig behandel word as geskapenes van God.

 Naasteliefde kan nie verdien word nie, dit word gegee op grond van agape- liefde.

 In Christenskap word naasteliefde as ’n prioriteit beklemtoon. Naasteliefde behels egter ook die herstelproses van mense na hul oorspronklike skeppingsdoel.

Mense benodig liefde en die realiteit is dat niemand ’n eiland-lewe kan lei nie. Die lewenswêreld van mense bestaan uit probleme en behoeftes (Du Toit, 2009:105).

Dit is nou die tyd vir die kerk om in ʼn totaal nuwe dimensie te beweeg, ʼn dimensie waar die evangelie vlees kry deur dade van liefde en medelye (barmhartigheid) (Crew 2009:17).

Vervolgens word gedeeltes soos Jakobus 2:15 en 16 op ’n normatiewe wyse ondersoek om aan te toon dat geloof en werke in ʼn besondere verhouding staan.

4.5.3 Normatiewe perspektiewe op geloof en werke

Zandman (2012:1) noem dat daar vroeg reeds spanning tussen die holistiese en dualistiese sienings van die kerk was. In kort beteken dit die verhouding tussen slegs geestelike bediening en aktiewe dade in die aanspreek van die fisiese behoeftes van mense in nood.

Jakobus 2:15-17 benadruk die belangrikheid van geloof en gepaardgaande dade:

Indien iemand naak is of gebrek het aan voedsel sal dit niks baat indien hulle net vrede toegewens word en hul fisiese behoeftes nie aangespreek word nie. Geloof sonder werke is in sigself dood (Bybel, 1990).

Die spanning tussen die fisiese en geestelike aspekte wat aangeraak word in bogenoemde verse, word op die volgende wyse deur outeurs verduidelik, naamlik:

 Floor (2009:23) gee sy mening, naamlik dat Jakobus, as leier van die kerk, ’n sterk appèl op die broederband maak. Die kerk mag nie ’n eenmanbediening wees nie, maar ’n gemeenskap van broers en susters wat na mekaar omsien.

 Floor (2009:26,27) verduidelik dat Jakobus, as leier van die kerk, waarsku dat die Skrif sonder skyngodsdiens gevolg moet word. Opregte navolging van die Skrif word ’n geloof wat hande en voete benodig.

 Floor (2009:28-29) beklemtoon verder dat vanuit Jakobus se raamwerk van konkrete situasies in die kerk, mense se holistiese behoeftes vervul sal moet word. Jakobus se grootste motivering is dat elkeen voor God se Regterstoel sal moet rekenskap gee van hul geloof, met gepaardgaande dade, in Christus met sy wederkoms.

 Dake (2010:457) voeg hom by bogenoemde sienswyse oor dade en geloof met sy vergelyking van vuur wat nie kan brand sonder brandstof en brandstof wat nie kan brand sonder vuur nie. Daar is sekere natuurwette wat die werking van vuur en brandstof bepaal. Net so is daar ’n geestelike wet by bogenoemde Skrifverwysing betrokke. Hierdie wet behels fisiese betrokkenheid by die persoon in nood; sodoende sal die honger persoon gevoed word en die naakte geklee word uit mededeelsaamheid. Barnes29 verduidelik dat geloof op sigself, sonder dade wat daarmee ooreenstem, koud, harteloos, nutteloos en onbeduidend is.

 Mouton (2014:102) waarsku dat slegs wanneer die omgee-praksis ingelig en deur passio Dei (deernis van die lydende God) gelei word, praktiese teologie en pastorale versorging verandering kan bevorder en hoop bring in ʼn ontwrigte en getraumatiseerde gemeenskap. 2 Petrus 1:5 bevestig dat deug by geloof gevoeg moet word. In die Good News-vertaling staan geskryf: “Add goodness to your faith.”

29 http://www.e-sword.net/

 Schoeman en Van der Bergh (2011:4,5) waarsku verder dat indien die omgee-praksis in die kerk afwesig is, mense ander organisasies sal vind om hul behoeftes te vervul. Die konsep “heliotropies” word gebruik tot verduideliking van dié waarneming. Die begrip vind aansluiting by navorsing oor plante en behels dat plante hulself ten opsigte van die son oriënteer. Op soortgelyke wyse wend mense hulself na organisasies wat soos ’n bron van energie funksioneer. Dit sluit organisasies in wat Christelik reg, effektief, lewendig en suksesvol funksioneer.

Normatiewe afleidings vanuit Jakobus 2:17-19 is:

 Die kerk kan nie bekostig om net te preek en nie betrokke te raak by die uitdagings in die Suid-Afrikaanse samelewing nie.

 Die samelewing met al sy uitdagings is soos mense wat naak, honger en alleen voortploeter sonder hoop.

 Die kerk moet rekenskap gee aan God wat die opdrag gee dat prediking en die aanspreek van nood nie sonder mekaar kan funksioneer nie.

 Die afleiding word gevolglik gemaak dat indien die kerk, as liggaam van Christus, nie die verantwoordelikheid neem om ’n verskil in die plaaslike gemeenskap te maak nie, gelowiges dit moontlik buite die normale kanale van die kerk kan doen deur middel van organisasies wat op ʼn Christelike grondslag berus.

Die navorser lei af dat kerkleiers uitgedaag word om met geestelike onderskeiding by die probleme van die plaaslike gemeenskap betrokke te raak.

Diensknegleierskap word vervolgens nagevors.