• Tidak ada hasil yang ditemukan

sessies, meer geneig was om op te hou om hulleself te mutileer as adolessente wat nie in groepsterapie ingesluit was nie, maar gewone behandeling ontvang het.

Samevattend beskou blyk dit vir die navorser asof groepsterapie toereikend aangewend kan word om hulp te verleen aan die selfmutileerder, omrede:

 Dit aan die selfmutileerder die geleentheid bied om sy emosionele probleme met ander selfmutileerders in die groep te deel;

 Hy/sy kan ervaar dat hulle nie alleen is nie en dat daar ander selfmutileerders in die groep is wat reeds in ʼn mate daarin geslaag het om selfmutilasie te oorwin (hoop); en

 Die groepsterapeut en die ander groepslede daar is wanneer hulle hulle nodig het.

Ten spyte van bogenoemde positiewe elemente wat groepsterapie inhou vir steungewing aan die selfmutileerder, is die navorser daarvan bewus dat groepsterapie nie deur die gewone onderwyser gebruik kan word nie.

In die volgende afdeling fokus die navorser op gesinsterapie as moontlike wyse van hulpverlening aan selfmutileerders.

Bykomend tot die bogenoemde definiëring van gesinsterapie, meld bogenoemde instansie dat gesinsterapie veral aangewend kan word om problematiese verhoudinge te herstel in die volgende omstandighede, byvoorbeeld: huweliksprobleme; egskeiding; eetversteuringe soos byvoorbeeld anorexia nervosa en bulimie; dwelmmisbruik; depressie en bipolêre versteuringe; ouerbegeleiding; en emosionele mishandeling of geweld.

Behalwe vir bogenoemde voorbeelde waar gesinsterapie suksesvol aangewend kan word, het Selekman (2002b) en Levenkron (1998:125) verder bevind dat gesinsterapie toereikend aangewend kan word om hulp te verleen aan adolessente wat hulleself mutileer, omrede selfmutileerders meestal afkomstig is uit ontoereikende gesinsomstandighede waar alkohol- en dwelmmisbruik sowel as fisieke en emosionele mishandeling voorkom.

Sodra die gesin en die terapeut ooreengekom het dat ‟n individuele gesinslid se probleemgedrag te wyte is aan ontoereikende gesinsomstandighede of verhoudinge, kan gesinsterapie ‟n aanvang neem en word dit meestal gekenmerk deur die volgende werkswyse, soos voorgestel deur Griesel en Jacobs (1991:40-46):

 Die gesinsterapeut ontmoet die gesin tydens die eerste terapeutiese sessie en poog om ʼn toereikende vertrouensverhouding tussen hom/haar en die gesinslede te vestig.

 Die gesinsterapeut maak verder seker dat die gesinslede realistiese verwagtinge het ten opsigte van die moontlikhede wat gesinsterapie aan hulle kan bied.

 Die terapeut maak tydens die eerste terapeutiese sessie verder seker dat die gesin bewus is van die werklike probleem (byvoorbeeld ontoereikende ouer-kind verhoudinge) en nie die individuele gesinslid se problematiese gedrag (bv. selfmutilasie) nie.

 Die terapeut poog verder om vas te stel hoe individuele gesinslede die gesinsituasie beleef, daarby betrokke is en daaraan betekenis gee.

 Tydens die terapeutiese sessie fokus die terapeut op die interaksie tussen gesinslede en verkry sodoende inligting oor die funksionering van die gesinne en die verskeie rolle wat die gesinslede vertolk.

 Sodra die terapeut genoeg inligting verkry het uit die eerste terapeutiese sessie beplan en gebruik hy/sy die inligting wat verkry is met die sessie vir verdere beplanning en verloop van die gesinsterapie.

 Die terapie word gestaak sodra die gesin en die terapeut tevrede is met die uitkomste wat bereik is (wat in realiteit beteken dat die individuele gesinslid se problematiese gedrag opgehef is en dat die ontoereikende gesinsverhoudinge wat aanleidend was tot die probleemgedrag, byvoorbeeld selfmutilasie, herstel is).

Addisioneel tot bogenoemde opmerkinge oor die werkswyse wat in gesinsterapie gevolg word, meld Griesel en Jacobs (1991:47-75) en Turner (2002:152-154) verder op dat gesinsterapie gekenmerk word deur die volgende eienskappe:

 Die fokus is op die gesinsisteem as ʼn geheel en nie op individuele gesinslede nie;

 Tydens gesinsterapie word die hele gesin betrek, hoewel gesinslede die gesinsterapeut individueel mag besoek;

 Nie-gesinslede, soos byvoorbeeld onderwysers, dokters of maatskaplike werkers mag deur die gesinsterapeut ingesluit word in ʼn sessie;

 Gesinsterapie bied aan die gesinslede die geleentheid om te fokus op die gesin se vermoë om probleme op te los en gevoelens en emosies weer te gee;

 Tydens ʼn gesinsterapeutiese sessie word gefokus op gesinsrolle, reëls en gedragsprobleme binne die gesin en word bepaal wat aanleiding gee tot konflik binne die gesin;

 Tydens gesinsterapie word gefokus op die gesin se saambindende faktore (byvoorbeeld omgee vir mekaar) sowel as tekortkominge binne die gesin (byvoorbeeld gebrekkige vertrouensverhoudinge);

 Gesinsterapie bied die geleentheid om te fokus op spesifieke probleme en hoe die gesin dit benader en hanteer (byvoorbeeld selfmutilasie);

 Tydens gesinsterapie word die gesin deur ʼn gesinsterapeut begelei om gesinsinteraksies te verbeter of te herstel en word nuwe vaardighede aangeleer om probleme te oorkom;

 Tydens gesinsterapie word riglyne neergelê om individuele en gesinsdoelwitte te bereik en om probleme te oorkom en te voorkom (soos die voorkoming van verdere selfmutilasie deur ʼn gesinslid).

3.4.2 Gesinsterapie met selfmutileerders

Verskeie navorsers soos Hohlfelder (2004:36), Ryan (2007:17) en Hoffman et al. (2010:24-30) is van mening dat gesinsterapie toereikend aangewend kan word om hulp te verleen aan selfmutileerders.

Die mees prominente navorsing wat egter by wyse van gesinsterapie met selfmutileerders onderneem is, is die werk van Selekman (2002b). In sy bekende werk: ―Living on the Razor‘s Edge: Solution – Oriented Brief Family Therapy with Self-Harming Adolescents‖ (2002) stel Selekman (2000b) ʼn geïntegreerde en aanpasbare probleem-oplossende gesinsterapeutiese model voor vir hulpverlening aan adolessente wat hulleself mutileer.

Selekman (2009) verwys na hierdie model as ʼn “collaborative, strengths- based” gesinsterapeutiese model en beskryf dit as geïntegreerd, navorsingsgebaseerd, sensitief vir geslags- en kulturele aspekte, ʼn model wat fokus op die adolessent se mening, met die gesinsterapeut as katalisator vir die vestiging van verhoudinge binne ʼn uitgebreide sosiale konteks. Verder maak hy gebruik van die menslike bewussyn en fokus hy veral op visualisasie en meditasie, soos onder ander die mantra, klankmeditasie en die

visualisering van sukses, as hulpmiddele in sy gesinsterapeutiese hulpverlening aan adolessente wat hulleself mutileer. Hy maak ook gebruik van die volgende stresontladingstegnieke:

 Die afkoel-kamer;

 Veranderinge van sensasie deur jouself te bederf;

 Redenasievaardighede;

 Die skepping of gebruikmaking van ʼn selfgesprekkasset;

 ʼn Kontrak met ʼn beste vriend of volwassene; en

 Die soeke na vrede in die natuur.

Aansluitend by bogenoemde stresontladingstegnieke stel Selekman (2009) die volgende voor vir die voorkoming van selfmutilasie: voorkomende optrede deur die ouer; konstruktiewe ouer-bestuurstrategieë; gesinsbindingsrituele en oplossings-georiënteerde eksperimente; die portuurgroep as ondersteuning in gesinsterapie; en gesamentlike strategieë en meganismes met groter ondersteuningsisteme om selfmutilasie te voorkom.

In die lig van voorgaande omskrywinge blyk dit duidelik dat gesinsterapie toereikend aangewend kan word om terapeuties hulp te verleen aan die selfmutileerder, omrede selfmutilasie volgens Selekman (2002b) meestal ontstaan vanweë ontoereikende gesinsomstandighede; die selfmutileerder meesal deel van so ʼn gesin is waar gesinsverhoudinge moontlik versteur is;

en dat terapeutiese hulpverlening aan die selfmutileerder meesal die ouer insluit wanneer aan hom/haar terapeuties hulp verleen word (Selekman, 2002b).

In die volgende afdeling word kognitiewe gedragsterapie vir hulpverlening aan die selfmutileerder van nader beskou.