• Tidak ada hasil yang ditemukan

4.4 NAVORSINGSONTWERP

4.4.2 Kwalitatiewe navorsing

Kwalitatiewe navorsing maak van verskeie vorme van dataversameling gebruik soos byvoorbeeld observasies, onderhoude, objekte, geskrewe dokumente, oudiovisuele materiaal, elektroniese dokumente, soos byvoorbeeld e-posboodskappe en webtuistes of enige ander materiaal wat kan help om die navorsingsvraag te beantwoord (Leedy & Ormrod, 2005:143).

Volgens Nieuwenhuis (2007a:51) bestudeer kwalitatiewe navorsing mense of sisteme deur interaksie en waarneming van die deelnemers in hulle natuurlike omgewing en fokus op hulle interpretasies van die probleem. Tydens kwalitatiewe navorsing maak die navorser staat op die opinies en sieninge van die deelnemers om ʼn situasie te probeer verstaan uit die perspektiewe van die deelnemers (Creswell, 2005:39). Die doel met kwalitatiewe navorsing is om ryk beskrywende data ten opsigte van die verskynsel te kry om sodoende ‟n dieper begrip vir die verskynsel wat ondersoek word te ontwikkel (Nieuwenhuis, 2007a:50).

Alhoewel die betrokke navorsing nie uitsluitlik kwalitatief van aard was nie, het die studie ook gesteun op die kwalitatiewe data wat verkry is met die oop vrae in die vraelys. Die data wat met die oop vrae verkry is, is ondersteunend tot die kwantitatiewe data wat met die vraelyste verkry is gebruik om ʼn holistiese beeld van onderwysers se kennis, vaardighede en houdings te verkry. Met behulp van die oop vrae is die volgende inligting verkry: hoe

onderwysers bewus word van selfmutileerders, die tipe opleiding wat hulle ontvang het om hulp aan selfmutileerders te verleen, hulle siening van die invloed van selfmutilasie op onderrig en leer sowel as op emosionele en sosiale ontwikkeling van die leerder, hulle menings rakende die pastorale rol van die onderwyser, watter ondersteuningstrukture vir hulle beskikbaar is om selfmutileerders te identifiseer en basiese hulp te verleen, en watter geleenthede hulle vir leerders met probleme skep om oor hulle probleme te praat.

Net soos in die geval van die kwantitatiewe navorsing, moes die navorser hom ook vergewis van kriteria waarvolgens die geldigheid van die kwalitatiewe data-insameling gewaarborg kon word.

4.4.2.1 Geldigheid van die kwalitatiewe navorsing

McMillan en Schumacher (2006:404) omskryf kwalitatiewe geldigheid soos volg:

“validity of qualitative designs is the degree to which the interpretations and concepts have mutual meanings between the participant and the researcher.”

In aansluiting by bogenoemde omskrywinge is Kruger (2006) verder van mening dat geldigheid in kwalitatiewe navorsing die volgende vrae moet kan beantwoord:

 Meet die navorser regtig wat hy dink met die navorsing gemeet behoort te word?

 Hoor die navorser regtig dit wat die deelnemers probeer sê?

Vir die doeleindes van hierdie betrokke studie is geldigheid verseker deur te fokus op die kriteria van Lincoln en Guba (1985:301-331), Lincoln en Guba (in Babbie en Mouton, 2001:276-278) en Creswell (2009:190-193):

Geloofwaardigheid. Volgens Lincoln en Guba (1985:301-316) word geloofwaardigheid verseker deur die volgende: langdurige betrokkenheid, volgehoue waarneming en triangulasie. Die navorser het in die konteks

van die betrokke studie voldoende tyd gebruik om die doelstellings met die navorsing te bereik. In die proses het die navorser die bestaande literatuur deurgrond en die kenmerke relevant tot die probleem van die ondersoek geïdentifiseer. Bykomend is van ʼn vraelys as ʼn dataversamelingsinstrument gebruik gemaak om bevindinge te verryk, om sodoende die grootste aantal moontlike dimensies van die probleem te ontsluit. Gereelde gespreksvoering met die betrokke promotor en mede- studieleiers, waartydens die navorser sy bevindinge bekend gestel het, het as basis gedien waardeur bepaal kon word of die betrokke bevindinge toereikend was. Alle moontlike beskouinge met betrekking tot die navorsingsprobleem is ondersoek en in die maak van bevindinge in aanmerking geneem. Die navorser het na die voltooiing van die data- analise bevindinge met die deelnemers gedeel om te verseker dat interpretasies wat ten opsigte van die response op die oop vrae gemaak is, korrek was.

Veralgemening. Veralgemening verwys na die toepaslikheid van bevindinge wat tydens die navorsing gemaak word na ander kontekste en ander deelnemers (Babbie & Mouton, 2001:277). Aangesien die navorser se steekproef nie verteenwoordigend was nie, kan die navorsingbevindinge nie veralgemeen word nie. Die navorser het gepoog om die veralgemening van die resultate te verhoog deur die navorsingskonteks en die kenmerke van die deelnemers in detail te beskryf, wat tot ‟n mate die toepaslikheid van die bevindinge na ander soortgelyke kontekste en onderwysers moontlik kan maak (Babbie &

Mouton, 2007:277).

Betroubaarheid. In hierdie verband het die betrokke promotor en mede- studieleiers die kodering van die data wat met die oop vrae ingesamel is vir akkuraatheid en volledigheid geverifieer (Lincoln & Guba, 1985:316- 318).

Ooreenstemming. Dit was vir die navorser noodsaaklik dat die bevindinge gefundeer was in die versamelde data (Lincoln & Guba, 1985:323). Om

ouditproses (Lincoln & Guba, 1985:319). Van die bevindinge wat gemaak is op grond van die data wat met die oop vrae verkry is, is willekeurig geselekteer en daar is deur die navorser se promotors teruggegaan na die response van die deelnemers om vas te stel of die bevindinge van die navorser korrek was.

Reflektering. Deur die herhaaldelike toepassing van reflektering tydens die insameling van kwalitatiewe data wat met die oop vrae verkry is, het die navorser verseker dat gereelde evaluerings gemaak is ten opsigte van objektiwiteit tydens die navorsing om te bepaal of alle interpretasies sinvol en afgestem was op die bereiking van die navorsingsdoelstellings (Lincoln

& Guba, 1985:327).

In die volgende afdeling fokus die navorser op die keuse van toepaslike navorsingstrategieë wat tydens die navorsing gebruik is.