• Tidak ada hasil yang ditemukan

HOOFSTUK 2 GENRETEORIE

5.6 VELDSLAG (1965) KAREL SCHOEMAN

5.6.6 Gebeure

Die begrip gebeure word in die studie gebruik met insluiting van die handelinge en optrede van karakters vanwee die ineengevlegtheid van die skeppingselemente. Drennan (1992:352) beskou die kerngebeurtenis as die novelle se opvallendste strukturele kenmerk, maar noem dat bykomen- de gebeurtenisse ook kan voorkom en wat soms net so belangrik kan wees as die hoofgebeure.

In Veldslag staan Frans se fatale ontvlugting onmiskenbaar uit as die sentrale gebeurtenis en vol- doen ook grootliks aan Goethe se siening van 'n ongehoorde gebeurtenis. Veldslag is sprekend van Van Gorp et al. (1991:275) se "concentratie op een enkele gebeurtenis". Die hele dorp word aangegryp deur Frans se dood en daar is selfs meer mense by hierdie vreemdeling se begrafnis as by Hendrik, 'n dorpseun, se begrafnis. Op persoonlike vlak word Frans se dood ook 'n sentrale gebeurtenis in Esther se lewe. Esther se herinneringe aan Pieter toon dat sy dood net so 'n oorheersende rol in haar lewe gespeel het, maar hierdie gebeure le buite die storietyd van Veldslag (sien Brink, 1978:92; my interpretasie). Die Anglo-Boereoorlog as groot gebeurtenis is volgens Kannemeyer (1983:529) ook net op die periferie aanwesig en wat volgens my as milieu dien waar- teen Veldslag afspeel.

'n Kleiner gebeurtenis wat teen die oorlogsmilieu as niks buitengewoons kan verbygaan, verdien volgens my aandag. Die boere verloor die geveg by Zwartbosch net buite die dorp en bring 'n toegedraaide lyk van 'n soldaat dorp toe om begrawe te word. Mev. Rautenbach (die dominee se vrou) laat die lyk by die pastorie indra sodat sy behulpsaam kan wees met die uitle daarvan. Met die afhaal van die seil ontdek sy dat die oorledene haar eie seun, Hendrik, is waarna sy in 'n beswyming val. Hierdie ontstellende voorval dien as 'n vooruitskouing na Frans se dood - ook

na-aan die dorp. Net so verskriklik kry Esther later Frans se lyk in die stofpad, maar met 'n be- langrike verskil: Hendrik is dood as gevolg van die Engelse; Frans sterf weens Esther se besluit.

Hierdie vooruitskouing be vat dus 'n parallel en 'n teenstelling: Hendrik sterf eerbaar omdat hy sy plig gaan doen het en is ook die eerste van die seuns wat sterf. Frans wat net slagveld toe is om weg te kom van Hettie se gedrag en wat nie wil veg nie, sterf as gevolg van Esther se misplaasde sin van pligsbesef en opoffering.

Die funksionaliteit van Hendrik se dood as vooruitskouing van en parallel/teenstelling met Frans se dood word uitgebrei en verkry ook volgens my interpretasie simboliese waarde: Frans word drie dae na Hendrik uit dieselfde kerk begrawe. Die drie dae herinner aan Christus se dood en oorwinning, maar Frans en veral Esther se skynoorwinning is in skerp kontras met Christus se ware triomf. Hoewel ironies vanwee Frans se onpatriotiese houding, beskou die dorpenaars Frans as "hy wat onoorwonne was en uiteindelik gesterf het in 'n laaste heldere uitdaging" (p. 81).

Hierdie skynoorwinning hou ook verband met Esther se trots dat Frans as soldaat moes gaan veg het en dat dit haar plig was om horn te laat gaan: "hierdie graf was nie die einde nie" (p. 86).

Esther oortuig vir Frans om te vlug toe die Engelse vlag op die dorpsplein wapper. Hy het nog nie herstel nie en antwoord net "Maak dit saak?" as Esther haar vrees uitspreek dat die Kakies horn kan ontdek (p. 71). Sy verneem van Frans se onpatriotiese rede waarom hy gaan veg het en dit maak haar net meer vasbeslote: "Jy het begin en jy mag nie ophou nie", want hy het 'n plig teenoor sy land, sy mense en teenoor homself (p. 72). Frans gee toe uit sy liefde vir Esther en omdat Esther se wil nog al is wat vir horn saak maak (p. 72). Frans vertrek in die nag te perd in Pieter se klere saam met Klein-Lewies. Frans wou nie vir Hettie groet nie en Esther het haar ook nie vertel dat Frans gaan ontsnap nie.

Met Frans se vertrek, wil Esther hom smeek om te bly, maar: "Dit was sy plig om te gaan, dit was haar plig om trots en swygend te sien hoe hy vertrek" (p. 74). Met hierdie optrede inisieer Esther 'n innerlike wending in haarself - van onbetrokkenheid tot betrokkenheid, terwyl 'n merkbare wending in die gebeurepatroon plaasvind.

Die hoogtepunt volg wanneer Hettie en Esther die bebloede Dapper, een van die perde wat Esther by ds. Rautenbach geleen het vir die ontsnapping, opmerk - en daarna ook Frans se lyk in die stof-

pad. Hettie se smart was "luid en onbedwingbaar" (p. 80), maar Esther se oe was droog: "Sy het geen traan gestort nie..., nog het sy 'n woord uitgespreek" (p. 83). Frans word op die dorp be- grawe - weg van sy familie en vriende; slegs met Hettie van sy tuisdorp teenwoordig. Juis omdat sy familie nie teenwoordig is nie, openbaar die dorpenaars "besondere teerheid" teenoor hom tydens sy begrafnis en verhef hulle hom (ironies) tot '"n simbool van verset teen die vyand wat in hulle midde is..." (p. 81; my hakies).

Vir Esther bly daar net "dieper smart en stilte" oor (p. 84). Ten spyte hiervan kom sy by Frans en Pieter se graf tot die slotsom dat haar daad nie sinneloos was nie, dat Frans se graf en ook haar eensaamheid nie die einde is nie. Die sin le daarin dat sy hom saam met alle vreugde en geluk kon opoffer. Esther hou wag by Frans se graf ".. .in woordelose trots, in swygende hoogmoed oor die kosbare vlam van sy dood en haar lewe. Die veldslag het op geen neerlaag uitgeloop nie" (p. 86).

Van Vuuren (1978:11) bevraagteken die sin van Esther se offer omdat Frans nie 'n heldhaftige dood tydens 'n stryd vir die vaderland sterf nie. As 'n beseerde man sterf hy die vernederende dood van 'n man wat nie op 'n perd kon bly sit nie en deur die stof gesleep word omdat sy voet in die stiebeuel vasgehaak het. Duidelikheid word nooit verkry of die Engelse hom geskiet het of nie.

Kannemeyer (1983:529) beskou Esther se onwrikbare besluit om 'n beseerde en onwillige Frans weg te stuur met die Kakies reeds in die dorp en die oorlog amper verby, as 'n gebrek aan nuanse- ring in haar karakter.

Esther se aanvanklike eensaamheid na Pieter se dood en haar eensaamheid oor Frans se dood aan die einde verleen 'n sikliese verhaalgang aan Veldslag. Die inset en slot is byna 'n identiese her- haling: Esther sit eensaam agtergelaat en peins oor die dood van 'n geliefde. Op die oog af lyk die siklus ook soos 'n parallel, maar daar is 'n insiggewende kontras tussen die begin en einde.

Pieter sterf 'n natuurlike dood en Esther se smart is te verstane, maar haar rou word obsessief.

Frans sterf 'n onnatuurlike dood weens Esther se onbuigsaamheid. Hoewel sy smart ervaar, beskou Esther Frans se dood as 'n sinvolle offer (sien Van Vuuren, 1978:11). In werklikheid bestaan die parallel tussen Pieter en Frans dus net in die tyd van hulle siekte en verpleging deur Esther waar- na 'n kontras in tree wat Esther deur haar handelinge skep.

Die gebeure toon 'n chronologiese en oorsaaklike patroon binne die epiese plot in Veldslag. Van Vuuren (1978:12) verdeel die plot in vier momente van uiterlike gebeure:

1) Die koms van die gewonde Frans.

2) Hettie en haar suster se koms.

3) Die veldslag tussen die Engelse en die Boere; die ontdekking van Hendrik se lyk en die inname van die dorp.

4) Die vlug en dood van Frans.

Hierdie vier momente kan in Baldick (2004:174) se woorde "a chain of events" wees wat volgens my gerig is op die sentrale gebeurtenis, naamlik Frans se ontsnapping.

Teenoor bogenoemde waarneembare konkrete gebeure in Veldslag asook die in die klassieke no- velles, word betekenisvolle innerlike gebeure in Esther se gemoed voltrek. Omdat die medekarak- ters relatief plat is, vind die innerlike gebeure oorwegend in Esther as sentrale karakter plaas.

Hierdie gemoedsgebeure weerspieel Esther se sielestryd as onaangeraakte buitestander tot 'n betrokke, meelewende karakter wat 'n persoonlike veldslag en oorwinning beleef teenoor die Boere se nederlaag: "Hier word die veldslag uitgeveg, in haar wat gedink het dat sy los staan van dit alles" (p. 78; vergelyk ook Van Vuuren, 1978:12).