• Tidak ada hasil yang ditemukan

Die basiese elemente van deugde

Dalam dokumen Deug en Lewensin (Halaman 73-77)

HOOFSTUK 2: DIE TAPISSERIE VAN DEUGDE

2.5 After virtue

2.5.7 Die basiese elemente van deugde

Binne hierdie mengelmoes van sienswyses word die vraag na wat presies deugdelikheid behels, akuut. Wat is byvoorbeeld die basiese elemente van die konsep van deugde?

MacIntyre argumenteer dat ʼn mens wel hierdie elemente kan identifiseer: “[W]e can in fact discover such a core concept and that it turns out to provide the tradition of which I have written the history with its conceptual unity” (MacIntyre, 2007:186). Volgens MacIntyre is daar drie aangeleenthede wat die ontwikkeling van die begrip

“deugdelikheid” aandui. Die eerste een behels die “praktyk” van deugde, die tweede fokus op die narratiewe verloop van die individuele mens se lewe, en die derde is ʼn mens se fokus op dit wat ʼn morele tradisie bepaal.

19 Benjamin Franklin (1707-1790) was een van die agt grondleggers van die Verenigde State van Amerika. Hy was nie net die eerste sekretaris van die Amerikaanse Filosofiese Vereniging, ʼn staatsman, skrywer, uitgewer en wetenskaplike nie, maar ook mede-outeur van die Onafhanklikheidsverklaring en die Amerikaanse Grondwet.

20 Jane Austen (1775-1817) was ʼn Engelse romanskrywer en is veral bekend vir ses romans waarin kritiek op en kommentaar oor die Britse landelike burgery aan die einde van die agtiende eeu ingeweef is.

Die praktyk van deugde impliseer vir MacIntyre enige samehangende, komplekse, maatskaplik gevestigde menslike aktiwiteit wat deur inherente deugdelikheid ontwikkel tot ʼn vlak van uitnemendheid, maar terselfdertyd ook die standaard van daardie aktiwiteit definieer (MacIntyre, 2007:187). As voorbeeld kan die bou van ʼn huis geneem word.

Hoewel die messelaar die huis bou (praktyk), is die eindproduk die huis. Die deugdelikheid van die messelaar wat uit sy bouwerk blyk, bepaal egter die uitnemendheid van die huis en die standaard waarteen bouwerk gemeet kan word. Sonder daardie deugdelike bouwerk kan die huis nie spreek van uitnemendheid nie – praktyk bepaal dus standaarde van uitnemendheid en die aanvaarding van die deugdelikheid wat daartoe lei en waarteen soortgelyke praktyke gemeet moet word.

Die tweede aangeleentheid behels dat ʼn individu se deugdelikheid slegs binne die persoon se lewensverhaal bepaal kan word. Deugdelikheid is dus nie iets wat verkry kan word deur ʼn enkele gebeurtenis of handeling nie. Die derde aangeleentheid sluit hierby aan deurdat dit duidelik word dat die morele tradisie nie net moreel rigtinggewend is nie, maar ook bepalend is vir die ontwikkeling van die inherente deugdelikheid van die mens.

2.5.7.1 Interne en eksterne dryfvere

Om die begrip deugde beter te begryp, moet die verskil tussen inherente en uiterlike dryfvere verstaan word. Uiterlike dryfvere is byvoorbeeld materiële goedere en eiendom wat welvaart bepaal en baie individueel van aard is. Hoe meer ʼn individu dus het, hoe

“beter” gaan dit met hom of haar en hoe groter word die drang om nog meer te wil hê. In die positiewe psigologie word hierdie tendens die hedonistiese trapmeul (hedonistic treadmill) genoem. Hierdie soort dryfvere kan lei tot ʼn mededingingselement wat vanuit rasionaliteit regverdigbaar is, maar moreel nadelig kan wees. Dit impliseer dat sommige individue uiteindelik baie meer besit en in oorvloed lewe, terwyl ander as gevolg van ʼn gebrek aan middele in armoede net probeer oorleef. Interne dryfvere kan ook oor ʼn mededingingselement beskik, maar hierdie dryfvere fokus op uitnemendheid van gedrag, wat eindelik tot voordeel van die gemeenskap strek. Dit is nie so selfgerig soos die uiterlike dryfvere se mededingingselement nie. ʼn Nasionale sportspan se motivering kan byvoorbeeld geld en roem wees. Dit dui op tipiese uiterlike dryfvere. Hierteenoor kan die sportspan die uitnemendheid van elke individuele speler voorop stel (selfverbetering is

steeds ʼn kompetisie), maar om persoonlik te verbeter strek nou tot voordeel van die span en uiteindelik van die land (samelewing) wat deur die span verteenwoordig word.

Die individu se inherente dryfvere en strewe na uitnemendheid kan egter nie losgemaak word van sy of haar lewensverhaal en morele tradisie nie. Toegepas op die sportvoorbeeld, sou ʼn mens byvoorbeeld in ag moet neem dat die uitstaande sportster moontlik uit ʼn gesin van sportsterre kom. Die sportster se grootword in ʼn milieu van oefening en sportprestasie (narratief), en die morele tradisie (deugde) wat daarmee gepaardgegaan het, byvoorbeeld eerlikheid, verantwoordelikheid, dapperheid, regverdigheid, en so meer, is alles deel van sy of haar innerlike dryfvere. So ʼn individu het egter steeds die aanleer en inoefening van sekere vaardighede nodig om tot op die vlak van uitnemendheid te vorder. Die onderskeid tussen werklike uitnemendheid en slegs uitstaande vaardigheid word steeds bepaal deur die interne dryfkrag tot persoonlike uitnemendheid in belang van die betrokke samelewing.

Net so kan individue nie losgemaak word van die instellings waarby hulle betrokke is nie, want dit skep die arena waarbinne hulle hul uitnemendheid kan uitleef en verwerklik. In daardie instellings moet daar voorsiening gemaak word vir die nodige fasiliteite, waarvoor geld en ander hulpbronne benodig word. Dit kan daartoe lei dat daar binne instellings meegeding word om hierdie hulpbronne, en om magsposisies binne die instellings. In die moderne sekulêre samelewing is dit algemeen dat sulke magsposisies en mededinging kan lei tot korrupsie en morele verval. Dit is juis in hierdie opsig dat die deugde van eerlikheid, verantwoordelikheid, dapperheid en regverdigheid (verdere deugde kan natuurlik nog hierby gevoeg word) so ʼn belangrike rol vervul.

2.5.7.2 Die deugdelike individu in die kontemporêre wêreld

Bogenoemde beklemtoon die belangrike rol wat die deugdelike individu kan speel in die bedryf en volhoubaarheid van korrupsievrye instellings en gemeenskappe. Ongelukkig is dit egter so dat die liberale individu die gemeenskap bloot beskou as ʼn platform van waar persoonlike (selfgesentreerde) gewin nagejaag kan word, en nie ʼn goeie lewe vir almal nie. MacIntyre sê dat vir die liberale individu “a community is simply an arena in which individuals each pursue their own self-chosen conception of the good life, and political institutions exist to provide that degree of order which makes such self-determined activity

possible” (MacIntyre, 2007: 195). Hierdie benadering van die liberale individu dra uiteindelik direk by tot die morele chaos van die moderne samelewing.

Dit is ʼn vraag of, en hoe, hierdie proses van morele verval en chaos verhoed of omgekeer kan word. Dikwels bring die omvang daarvan ʼn gevoel van magteloosheid. Dit sluit baie nou aan by die Postmodernisme, waarvolgens daar in onder meer die wetenskap soveel nuwe uitvindsels is dat fragmentering plaasvind en ʼn volledige beeld van wetenskaplike voortuitgang nie meer gevorm kan word nie. Ook op kulturele gebied word dieselfde tendens ervaar. Deurdat die wêreld deur tegnologie en die media vir die individu toeganklik geword het, is blootstelling aan alle kulture en talle ideologieë ook moontlik.

Dit lei tot groot onsekerheid oor wat reg en verkeerd is. Die realiteit is dan dat daar in die soeke na wat reg en aanvaarbaar is, brokstukke van verskillende kulture en ideologieë gekies kan word, amper soos om verskillende items kruideniersware in die inkopiemandjie te pak. Deur die verbrokkeling van die gesin en gemeenskap (soos vroeër genoem) geniet die individu ook nie meer dieselfde gemeenskapsondersteuning as in die verlede nie.

Dit lyk verder of die moderne individu nie meer ʼn doel (telos) het waarna gestrewe word nie – in elk geval nie na “die goeie lewe” wat Aristoteles beoog nie. Aristoteles en MacIntyre wys egter daarop dat die goeie lewe nie uit fragmente bestaan nie, maar iets is wat neerslag vind in die loop van ʼn hele lewe. Dit gaan oor ʼn lewe (ʼn lewensverhaal) wat gekenmerk word deur ʼn soeke na voorspoed, sukses en geluk vir die individu en vir die samelewing. Daardie lewe sluit ook die teenspoed, teleurstellings en mislukkings in wat die individu ervaar, maar hoe deugde dan uitgeoefen word, is belangrik. Uiteindelik dra dit alles by tot hoe ʼn persoon die goeie lewe definieer, ervaar en doelbewus verwesenlik.

Die strewe na die goeie lewe en die doelbewuste poging om dit te verwesenlik, het egter (vir Aristoteles) nie in isolasie plaasgevind nie, maar in ʼn gesin en samelewing:

All communities seem to be parts of the political community, since people journey together with something useful in mind, to supply something for life. And the political community seems originally to have come together and to continue for the sake of what is useful, since it is that legislators aims at, and is said that what is useful, in common is just (NE, 1160a).

Die individu kan hom of haar nie losmaak van die konteks en geskiedenis van die samelewing en dit wat uit daardie samelewing se tradisies voortvloei nie. Hierteenoor redeneer die liberale individu dat hy of sy nie verantwoordelik gehou kan word vir iets waarvan hy of sy nie deel was nie. Dit lei daartoe dat die liberale individu geskiedenisloos, tradisieloos, identiteitloos en uiteindelik die produk van etiese egoïsme word weens selfgesentreerde aksies en motiewe, soos by die emotiviste. Geskiedenis kan egter as die beginpunt dien vir die strewe na ʼn beter universele morele lewe en uiteindelik as ankerpunt vir moraliteit. Die individu wat hom of haar wil distansieer van die geskiedenis van sy of haar samelewing en tradisies om sy of haar eie morele waardes te soek, is nie altyd bewus van die riskante illusie daarvan nie. ʼn Mens bly aan jou konteks verbonde, hetsy deur die lees van ʼn boek, die luister na musiek, die kyk na ʼn toneelopvoering of die bywoon van ʼn rolprentvertoning. Alles is konteksgebonde, en die individu is onlosmaaklik met die wêreld verbind – ook wat die geskiedenis en die morele betref.21

Dalam dokumen Deug en Lewensin (Halaman 73-77)