• Tidak ada hasil yang ditemukan

Onderskeid tussen “wêrelds” en “buite-wêrelds”

Dalam dokumen Deug en Lewensin (Halaman 88-91)

HOOFSTUK 3: DIE TAPISSERIE VAN LEWENSIN

3.3 Historiese konteks

3.3.1 Onderskeid tussen “wêrelds” en “buite-wêrelds”

Plato wys in sy “Allegorie van die Grot” op die gevaar wat sensoriese persepsies vir ʼn mens se aannames oor die werklikheid kan inhou. Volgens hom kan ʼn mens baie maklik die dinge wat jy sien of hoor as die enigste aanduiding van die waarheid aanvaar, terwyl daar in werklikheid transendente entiteite kan bestaan waarin die waarheid geanker is.

Plato se Allegorie van die Grot toon hoe mense bloot die skadu’s of afbeeldings van dinge waarneem en nie dit wat dit werklik is nie. ʼn Mens sien nie die “idee” wat ewig, werklik en waar is nie – jou sintuie verdoesel jou ontologiese en epistemologiese ervaring van die waarheid. Vir Plato is die sin in die lewe nie te vinde in die aardse nie, maar in die hoogste vorm van kennis van die Goeie. Die transendente vorme is nodig om jou te wys en te rig op die idees. Jowett merk soos volg oor Plato se allegorie op:

This entire allegory, … the prison-house is the world of sight, the light of the fire is the sun, and you will not misapprehend me if you interpret the journey upwards to be the ascent of the soul into the intellectual world according to my poor belief, which, at your desire, I have expressed- whether rightly or wrongly God knows. But, whether true or false, my opinion is that in the world of knowledge the idea of good appears last of all, and is seen only with an effort... (Jowett, 2000: 179).

Die Goeie kan dus slegs deur middel van refleksie op die transendente ervaar word. Die hoogste vorm van die Goeie, deur sommige God genoem, en ʼn mens se kennis daarvan vorm die basis vir die realiteit waarin die mens homself bevind.

Augustinus, as ʼn Godgelowige, sluit nou by Plato se Allegorie van die Grot aan en verwoord dit as volg:

... how each individual is a citizen of two different communities simultaneously; on the one hand there is the kingdom of God, which is unchanging and eternal, and based on true values, while on the other there are the highly unstable kingdoms of the world, which come and go with bewildering rapidity and are based on false values. We find ourselves living in both (Magee,1998:52).

Hoe meer kennis ʼn mens aangaande die Goeie verwerf, hoe meer het jy om na te strewe in die uitleef daarvan. Die sensoriese gee jou wel ʼn aanduiding van die transendente idee daaragter, en vir Plato is daar ook in die “siel van die mens” reeds die kapasiteit opgesluit om byvoorbeeld die Goeie of Skoonheid waar te neem. Die mens moet dit net ontbloot.

Plato onderskei dus tussen die sigbare wêreld waarin die mens hom bevind, en die onsigbare wêreld van idees, wat transendent is.25 In die sigbare wêreld bly niks dieselfde nie en alles verander voortdurend. Die sigbare wêreld is onderworpe aan verandering en verganklikheid: “everything is becoming, nothing is” (Magee, 2001:28), en daar is geleidelike verval wat uiteindelik lei tot sterwe. Dit is die immanente of “aardse” wêreld wat Nietzsche as die enigste werklikheid bestempel. Hierteenoor stel Plato dit dat daar ʼn wêreld (idees) sonder tyd of ruimte bestaan, en hierdie wêreld is buite die menslike sensoriese waarnemingsvermoë geleë. In hierdie transendente wêreld is alles stabiel en totaal georden as die “werklike werklikheid”. Om hierdie werklikheid te ontdek, moet die mens egter nie vassteek by die sigbare nie, maar leer om “agter die sigbare”, metafisies, te dink of “kyk”. Die mens se denke moet die sensories waarneembare omgewing transendeer ten einde hierdie “ware werklikheid” te ontdek en te verstaan. Die mens is daarom, volgens Plato, ʼn voortdurend soekende wese – soekende na hierdie ware kennis, die kennis van die Goeie. Dit is vir Plato in die soek en vind hiervan dat die mens se lewensin geleë is.

Aristoteles verwerp Plato se teorie oor die onderskeid tussen twee wêrelde (die sigbare en die transendente), maar tog is daar ooreenkomste tussen die twee filosowe se denkwyses. Aristoteles beklemtoon die mens se strewe na die goeie, maar dit het vir hom

25 In aansluiting by die onderskeid tussen die waarneembare en die onsigbare wêreld tref die moderne filosoof Immanuel Kant heelwat later ook ʼn onderskeid tussen ʼn wêreld wat sensories waarneembaar is (“dinge”), en dit wat dinge in werklikheid is en nie waargeneem kan word nie (Ding an Sich, “ding- in-sigself”’). Wat iets “in sigself is”, kan nie deur die mens waargeneem word nie. Nog minder weet ons wat die doel of sin daarvan is. Dit kompliseer natuurlik die vraag oor wat die mens is, en wat die sin van die mens se lewe is, geweldig. Albei kan as “onkenbaar” beskryf word, maar dit laat ʼn mens met ʼn baie onbevredigende uitkoms as die vraag oor lewensin gevra word.

te make met die goeie wat in ons fisiese wêreld verwesenlik moet word. Hy vergelyk byvoorbeeld menslike en persoonlike ontwikkeling met dié van ʼn akker wat ʼn eikeboom word. Die akker het binne homself die potensiaal om ʼn eikeboom te word, en die akker word uiteindelik deur volgehoue groei ʼn eikeboom. Aristoteles sê dat die aktualisering van die akker voorgestel word deur die eikeboom. Die ooreenkoms tussen die mens en die akker/eikeboom lê daarin dat ʼn mens ook inherent potensiaal het, en dat sy sekere doelwitte aan haarself kan stel ( volgens Aristoteles byvoorbeeld deur die ontplooiing van ʼn deugdelike karakter). Die uiteindelike doelwit (eikeboom) is by mense die goeie lewe en volgehoue groei om dit te bereik. Die nodige handelinge moet met ander woorde verrig word om hierdie doelwit te verwesenlik, wat uiteindelik volgens Aristoteles sal lei tot lewensin.

Lewensin is dus vir Aristoteles te vinde in die goeie. Die uiteindelike doel is om geluk (eudaimonia) te bereik. ʼn Mens se strewe hierna kan volgens Aristoteles nie losgemaak word van die uitnemendheid (arete) van haar optrede nie, wat gekoppel is aan deugde.

Hierin lê vir Aristoteles ʼn model van die deugdelike mens – een wat die goeie lewe op uitnemende wyse leef en lewensin (eudaimonia) ervaar. Hoe word uitnemendheid bereik? Volgens Aristoteles is die mens die enigste skepsel in die kosmos wat oor rasionaliteit beskik en daarom oor die vermoë om te kontempleer en sy gedagtes te transendeer; juis hierdeur verwerf die mens seën of geluksaligheid. Aristoteles sê:

So it follows that god’s activity – exceptional in blessedness – must be one of (pure) contemplation. So it always follows that of all possible human activities, the one most closely akin to that will make us flourish (NE, 1178b).

In hierdie transendente ideaal van Aristoteles lê die ooreenkoms met Plato se metafisiese denke. Aristoteles gaan egter verder en voer aan dat die mens nie hierdie deugdelike uitnemendheid, die goeie lewe, in isolasie kan bereik nie. Hierdie vorm van uitnemendheid kan slegs bereik word in ʼn lewe saam met ander. Hierdie gedagte van die gesamentlike realisering en belewing van die goeie word ook deur religie beklemtoon.

Cottingham sê byvoorbeeld:

… it accords with the idea to be found in many religious traditions that, in order to be meaningful, life must meet the standards of some pattern tailored to our human

nature, rather than being a pure function of isolated individual choice (Cottingham, 2003:30).

Cottingham sluit aan by wat Aristoteles sê dat die mens as burger van ʼn samelewing hom nie losmaak van die “politieke” bestel waarvan hy deel is nie. Binne hierdie bestel word die mens as deel van ʼn gemeenskap uitgedaag om deur deugdelike optrede ʼn lewe van uitnemendheid te skep.

Dalam dokumen Deug en Lewensin (Halaman 88-91)