HOOFSTUK 3: DIE TAPISSERIE VAN LEWENSIN
3.4 Sin in die lewe
3.4.3 Subjektiewe naturalisme
Die uiteindelike doel van ʼn ewige lewe kan dus vir ʼn deugdelike lewe teenproduktief wees (Metz, 2013:136). Indien die doel (ewige lewe) – en selfs die gewer van die doel (God) – laat vaar word, sal mense steeds deugdelik kan leef. Moeder Teresa sou byvoorbeeld heel waarskynlik nie anders opgetree het as daar nie ʼn God was nie. In hierdie geval is die einddoel as ewige lewe nie die dryfveer vir ʼn deugdelike lewe nie, en selfs die bestaan van God blyk nie bepalend te wees nie. Die bepaling van lewensin vanuit ʼn supernaturalistiese invalshoek kan dus wipplank ry tussen die oortuiging dat God bestaan of nie bestaan nie.
In die volgende gedeeltes word ondersoek hoe lewensin moontlik te vinde is binne suiwer naturalistiese denkraamwerk. Dit veronderstel die bestaan van slegs ons immanente, fisiese wêreld en samelewing – inderwaarheid “bevry” van ʼn Opperwese wat die mens aan bande lê deur rigiede morele reëls.
daartoe lei om te argumenteer dat “… meaning consists of roughly, the pursuit of an ideal”
(Metz, 2013:167). Die gedrewe subjektiewe naturalis se handelinge, verhoudings en projekte word as sinvol ervaar indien sy glo dat dit is wat sy graag wil hê, inderdaad so moet wees en dat sy doelbewus daarop gefokus moet wees om uiteindelik daarop trots te wees.
Die subjektiewe naturalis kry nie haar basiese lewenswaardes van ʼn god af nie, en moet hierdie lewenswaardes self bepaal. Vir die subjektiewe naturalis word lewensin, volgens Harry Frankfurt, ervaar in die proses waarin elke individu haar toewy aan haar strewes, liefdes en voorkeure in die lewe – ongeag wat dit spesifiek is. Frankfurt meen soos volg:
“Devoting oneself to what one loves suffices to make one’s life meaningful, regardless of the inherent or objective character of the objects that are loved” (Frankfurt, 2002:250).
Indien ʼn persoon se liefde byvoorbeeld in ʼn buite-egtelike verhouding gevind word, sal sy sin ervaar en uiteindelik lewensin. Natuurlik sal dit ʼn vraag wees of dit aanvaarbaar sal wees in die gemeenskap waarin daardie persoon haar bevind. Die konflik tussen persoonlike (subjektiewe) voorkeure en begeertes, en dié van die samelewing (meer objektief) word hierin duidelik. Susan Wolf stel daarom ʼn voorwaarde wat die subjektiewe voorkeure en liefdes betref, en sê dat dit wat ʼn mens liefhet, ten minste die “moeite werd [moet] wees” om na te jaag (Metz, 2013:170). Met ander woorde, hierdie najaag moenie uiteindelik skade en vernietiging meebring nie.
Die dilemma van die subjektiewe naturaliste se strewes is dat daar uiteenlopende doelwitte is, en dat die waarde en status wat elke individu daaraan heg, ook nog verskil.
Daar moet dus na beginsels gestreef word wat deur die toepassing daarvan meer universeel aanvaarbaar is. Sulke beginsels kan byvoorbeeld gevind word in ʼn handeling, ʼn projek of ʼn deug wat telkens die goeie bewerkstellig, want lewensin word tog geassosieer met die goeie en positiewe. Hierdie (morele) beginsels moet as ʼn gegewe aanvaar word en die egtheid daarvan moet onvoorwaardelik wees, nie willekeurig nie. Dit moet die oortuigingskrag van wiskundige formules hê, of soos die begrip “water” wat deur H2O voorgestel word. Dit moet dus universeel aanvaarbaar wees sonder enige bevraagtekening en moet bo alle twyfel dieselfde funksie as die natuurwette kan vervul (Metz, 2013:172).
Volgens Metz word die prominentste benadering tot lewensin in die subjektiewe naturalisme goed deur Susan Wolf33 verwoord: “Meaning arises when subjective attraction meets objective attractiveness” (Metz, 2013:173). Sy argumenteer dat lewensin ervaar kan word wanneer dit wat ʼn mens doen, haar diepste innerlike self weerspieël en daarom van suiwer egtheid spreek. Charles Taylor, ʼn Kanadese filosoof, sluit hierby aan as hy te sê dat ʼn individu sin belewe indien sy totaal – met hart en siel – opgeneem word in ʼn projek:
…what leads people to think that meaning in life is utterly constructed by the individual subject’s pro- attitudes is the idea that life’s meaning consists in being true to oneself, from living according to what one finds within (Taylor, 1992:39).
Die gedagte bring mens terug na die “wees en doen” van die mens. Die egtheid van die mens word weerspieël deur die handelinge wat hy uitvoer. Beteken dit egter dat enige individu lewensin kan ervaar mits haar aksies eg is en met hart en siel uitgevoer word?
Wat van die reeksmoordenaar, verkragter, terroris of narsis wie se dade sekerlik ook hul diepste innerlike self weerspieël? ʼn Mens sou moet toegee dat hulle dalk lewensin hierin kan ervaar, maar hoe moreel is dit? Is hierdie egtheid moreel meetbaar, en indien wel, hoe?
Berit Bogaard en Barry Smith meen morele meetbaarheid is moontlik en dat dit kan plaasvind deur byvoorbeeld te kyk na ʼn individu se betrokkenheid in ʼn gemeenskap:
They maintain that one’s life is meaningful roughly to the degree that one has engaged in projects in a way that ranks highly on public criteria for success. Their basic idea is that life counts as meaningful when one’s activities have largely measured up to the community’s standards (Bogaard & Smith, 2005:446).
Die gemeenskap stel gewoonlik op verskillende maniere morele voorwaardes en norme waarbinne ʼn individu moet funksioneer. Binne die gemeenskap is daar ʼn manier om die handelinge, optrede of projekte van lede van die gemeenskap te evalueer, as goed of sleg te beskryf, te aanvaar of nie, en te beoordeel.
33 Susan Wolf gebore 1952, is Amerikaanse filosoof tans verbonde aan die Universiteit van Noord- Carolina. Sy is veral geïnteresseerd in die sogenaamde filosofie van handeling. Sy is die skrywer van
Mary Midgley neem dit ʼn stappie verder deur op interkulturele verskille te wys. Sy maan daarteen dat mense in kulturele isolasie verval, wat beteken dat slegs die eie kultuur geken en beoordeel word. Uitsprake, meestal ongegrond, word weens gebrek aan kennis gemaak oor ander kulture, terwyl daar gemeenskaplike morele ooreenkomste in die onderskeie kulture te vinde is. Om begrip te hê vir sulke ooreenkomste word kennis vereis, maar ook morele redevoering en beoordeling oor wat reg en verkeerd is en wat toegepas behoort te word as deel van eie kriterium, waaraan handelinge, projekte en optrede gemeet word. Veroordeling van ander kulture kan slegs gedoen word op grond van kennis, en volgens Midgley is die grootste hindernisse vir interkulturele kennis oningeligtheid, luiheid en vooroordeel. As eerste morele maatstaf sou mens kon sê dat optrede (hoe eg ook al) ten minste in die gemeenskap aanvaarbaar moet wees, maar volgens Midgley ook in interkulturele groeperinge, want “[m]orally as well as physically, there is only one world and we all have to live in it” (Midgley, 1981:165).
ʼn Hieropvolgende vraag is wie tot die gemeenskap behoort, en natuurlik wie die oordeel gaan vorm of die uitspraak gaan maak. As vertrekpunt kan ʼn mens argumenteer dat dit primêr die gesin insluit, maar terselfdertyd leef ons ook in ʼn globale samelewing.
Laasgenoemde behels ʼn moraliteit wat dan op ʼn ieder en ʼn elk van toepassing is. Tog beteken dit nie dat alle individuele handelinge in gemeenskapsverband plaasvind nie.
Optrede wat tot lewensin lei, moet dus ʼn begrip wees wat alle handelinge kan insluit, maar wat ook (potensieel) deur alle mense moreel aanvaar behoort te word. Soos die begrip “water” sonder meer universeel erken word, so behoort sekere handelinge universeel erken en aanvaar te word as bydraende tot die ervaring en verwesenliking van lewensin. Deugde as handelinge voldoen aan hierdie vereistes (deugde is hier bo beskryf as optrede “tot uitnemendheid”). Dit blyk dan dat deugde die voertuig kan wees van die
“handelinge” wat lewensin kan verwesenlik.
As deugde beskou word as benaderings tot lewensin, deur supernaturalisme en naturalisme, of dan deur subjektivisme en objektivisme, dan voldoen toegepaste deugde ook hieraan. Supernaturalisme, geskoei op ʼn Goddelike verhouding, is moreel gebaseerd. Subjektivisme, wat hoofsaaklik handel oor die individu se emosies, begeertes en doelwitte, is ook gebaseer op moraliteit as ʼn keuse binne die vermoë van elke mens.
Die objektivisme se benadering tot lewensin word vervolgens verder ondersoek.