HOOFSTUK 2: DIE TAPISSERIE VAN DEUGDE
2.5 After virtue
2.5.8 Egoïsme
Die individu kan hom of haar nie losmaak van die konteks en geskiedenis van die samelewing en dit wat uit daardie samelewing se tradisies voortvloei nie. Hierteenoor redeneer die liberale individu dat hy of sy nie verantwoordelik gehou kan word vir iets waarvan hy of sy nie deel was nie. Dit lei daartoe dat die liberale individu geskiedenisloos, tradisieloos, identiteitloos en uiteindelik die produk van etiese egoïsme word weens selfgesentreerde aksies en motiewe, soos by die emotiviste. Geskiedenis kan egter as die beginpunt dien vir die strewe na ʼn beter universele morele lewe en uiteindelik as ankerpunt vir moraliteit. Die individu wat hom of haar wil distansieer van die geskiedenis van sy of haar samelewing en tradisies om sy of haar eie morele waardes te soek, is nie altyd bewus van die riskante illusie daarvan nie. ʼn Mens bly aan jou konteks verbonde, hetsy deur die lees van ʼn boek, die luister na musiek, die kyk na ʼn toneelopvoering of die bywoon van ʼn rolprentvertoning. Alles is konteksgebonde, en die individu is onlosmaaklik met die wêreld verbind – ook wat die geskiedenis en die morele betref.21
Produksie in gesinsverband was nie geskoei op mededinging nie, maar wel op inherente dryfvere, want die rol wat een persoon in die “produksielyn” gespeel het, was in belang van al die ander; ʼn element van wedersydse aansporing en erkenning was dus teenwoordig. Produksie van goedere in die huislike omgewing het verskuif na die korporatiewe omgewing, en sedertdien is die strewe na inherente uitnemendheid nie meer die belangrikste dryfveer nie – die motief van wins is opperbelangrik. Die dryfvere van die korporatiewe wêreld is inderdaad eksterne goedere en eiendom. Dit het die kanse verhoog dat party mense meer as ander kan besit. Verder het dit mededinging om rykdom aangemoedig. Die korporatiewe wêreld het die gesin vervang, die sakeonderneming was nou die huishouding, en die fabriek het die huis vervang.
Hierdie skuif van produksie en werkplek weg van die huis het verder daartoe bygedra dat die individu se leefwyse in fragmente verdeel is, elk met sy eie stel norme en gedrag. Dit sluit weereens aan by die postmoderne sienswyse dat daar nie ʼn universele stel waardes kan wees wat rigting of groei en verbetering aandui nie. Die ernstige en waardige persoon in die werksplek sal byvoorbeeld op ʼn werksgeselligheid luidrugtig en verspot optree, of by die huis passief en slordig wees, maar netjies en presies in die korporatiewe arena.
Verskille in optrede tussen mense in verskillende lewensfases, byvoorbeeld tieners teenoor bejaardes, moet verder ook in ag geneem word. Deur hierdie onderskeide te maak is die individu se lewe in kompartemente verdeel, elkeen met sy eie stel vaardighede en korrekte optrede vir gegewe oomblikke. In hierdie proses word mense se lewensverhaal en lewensdoelwitte ook gekompartementaliseer. Daar is ʼn verlies aan ʼn geheelverhaal van ʼn leeftyd met ʼn enkele telos. Dit het daartoe gelei dat deugde vervang is deur blote lewensvaardighede wat vir spesifieke oomblikke benodig word. Teenoor deugdelikheid, wat in elke situasie die korrekte uitnemende optrede vereis, staan nou ʼn inkonsekwente uitleef van deugde in verskillende fasette van mens se lewe.
Die individuele of liberale morele benadering toon, asof dit geïsoleerd is van die samelewing, ʼn sterk ondertoon van en aansluiting by die eksistensialisme. In die eksistensialisme, soos verwoord deur Sartre, word die arena van sosiale verhoudings vervang deur individualisme: “[F]or Sartre the self’s self-discovery is characterized as the discovery that the self is ‘nothing’, is not a substance but a set of perpetually open possibilities” (MacIntyre, 2007:32). Dit word duidelik so waargeneem in moderniteit. In die moderne milieu word deugde uiteindelik grootliks deur vaardighede vervang. Deugde
word in die proses gereduseer tot blote inherente persoonlike voorkeure. Die individu wat oor sekere vaardighede beskik, kan na willekeur daardie vaardighede aanwend as middel tot ʼn doel. Vir byvoorbeeld die voorman in die steenkoolmyn word die produksie van steenkool die voertuig waardeur hy status en aansien kan bekom. Die dryfveer is dus ekstern, naamlik status, maar ook hoër inkomste, bonusse en aansporingsmiddels. Die mense in hierdie voorman se span word slegs middele waarmee hy sy selfgesentreerde doel wil bereik. Dieselfde kan ook gebeur met ʼn sportvrou. Die individu met die beste vaardighede in ʼn spesifieke sportsoort word gekies vir ʼn span en afhangende van prestasie word sy oorval met materiële rykdom en roem. Die massas bly slegs toeskouers wat die sportvrou se voorspoed net kan aanskou.
Soos vroeër genoem, dui eksterne dryfvere op die egoïstiese, selfgesentreerde doelwitte van die individu om meer te kry, om meer te bereik om “suksesvol” te wees – in die meeste gevalle ten koste van ander. Hierteenoor staan interne dryfvere, wat dit vir die individu ook belangrik maak om suksesvol te wees, persoonlike groei te vermag en ontwikkeling te ervaar (tot voordeel van die gemeenskap en nie ten koste van die ander nie). Egoïsme kan as die “siekte” van die moderniteit beskou word, omdat dit sonder kritiek as die maatstaf vir die goeie lewe aanvaar word. MacIntyre argumenteer derhalwe soos volg:
It was in the seventeenth and eighteenth centuries that morality came generally to be understood as offering a solution to the problems posed by human egoism and that the content of morality came to be largely equated with altruism. For it was in that same period that men came to be thought of as in some dangerous measure egoistic by nature; and it is only once we think of mankind as by nature dangerously egoistic that altruism becomes at once socially necessary and yet apparently impossible and, if and when it occurs, inexplicable (MacIntyre. 2007:
228-229).
Met ʼn egoïstiese benadering word vermoëns en vaardighede uitsluitlik ontwikkel vir die skep van geleenthede vir materiële gewin. Histories sou oplossings hiervoor in deugde soos onselfsugtigheid en onbaatsugtigheid gevind kon word, maar in die hedendaagse samelewing word dit bevraagteken as die genietinge van die goeie lewe. Die indruk word dan geskep dat deugdelikheid uiteindelik nie meer ʼn rol het om te vervul nie.