• Tidak ada hasil yang ditemukan

Moderne ontwikkelinge

Dalam dokumen Deug en Lewensin (Halaman 39-44)

HOOFSTUK 2: DIE TAPISSERIE VAN DEUGDE

2.3 Historiese ontwikkeling van deugde-etiek

2.3.1 Antieke ontwikkeling van deugde

2.3.1.5 Moderne ontwikkelinge

Om die verdere ontwikkeling van deugde te verstaan en dit uit te pluis, moet ʼn sprong in tyd gemaak word tot by die volgende prominente figuur in die bestudering van etiek, naamlik Immanuel Kant. Dit beteken nie dat daar nie voor Kant noemenswaardige uitsprake gemaak is nie. Trouens, name soos Copernicus, Newton en Hobbes is prominent in die vroeë moderne wetenskap en in denke oor moraliteit. Hulle invloed het gelei tot die Rasionalisme, wat die kerklike gesag in die samelewing laat afneem het.

Daar was al hoe meer stemme dat die wêreld deur die rede alleen verklaar kan word, wat in hierdie tyd opgeklink het. Deur sy stelling “cogito, ergo sum – ek dink, daarom is ek”

sien Descartes byvoorbeeld die mens se rede as die setel van sy gewete, wat die intellek, motivering en passie huisves waardeur die mens sy identiteit en self ontdek (Palmer, 2001:162). Spinoza, weer, ontwikkel ʼn panteïsme met God as “the cause of all things, which are in Him” (Magee, 2001:91) en nie meer iets verwyderds van hierdie wêreld nie.

Leibniz sluit hierby aan met die idee dat die menslike siel die spieël is van “an indestructible universe” (Magee, 2001:98).

In reaksie op die Rasionalisme ontstaan die Empirisme (ervaringsleer), waarvolgens die wêreld slegs deur die sintuie ervaar kan word. Dit wat ervaar word, moet wel rasioneel verwerk en georden word, maar dit word steeds voorafgegaan deur sensoriese waarneming – in effek ʼn terugkeer na Aristoteles se siening oor die belangrikheid van die materiële wêreld vergeleke met die “ander wêreld”. Prominente figure wat met die

Empirisme assosieer word, is Locke, wat redeneer dat “No man’s knowledge here can go beyond his experience” (Magee, 2001:105), Berkeley, wat argumenteer dat “Truth is the cry of all, but the game of few” (Magee, 2001:111), en Hume, met die stelling, “Reason is the slave of the passions” (Magee, 2001:116). In hierdie tydperk het ʼn nuwe generasie intellektuele in Frankryk op die voorgrond getree; hulle was bekend as die vrye denkers.

As vrye denker was Rousseau die eerste Westerse filosoof wat daarop aangedring het dat menslike besluite en keuses op gevoel gebaseer moet word, eerder as op die rede.

2.3.1.5.1 Kant se pligsetiek

In hierdie tydperk van metafisiese bevraagtekening en religieuse verval was Immanuel Kant (gebore in 1724 in Königsberg) een van die prominentste denkers op die gebied van die epistemologie, metafisika, estetika en morele filosofie in die Eeu van Verligting. Veral sy morele perspektief is in hierdie studie van belang. Hy poog om vir die mensdom in ʼn tyd van onsekerheid morele antwoorde te gee. Hy argumenteer dat ʼn mens verantwoordelikheid vir jouself moet neem en eties moet lewe om uiteindelik daardeur die goeie lewe te kan ervaar (Palmer, 2001:218). Kant gaan van die standpunt uit dat daar sekere universele “wette” moet bestaan wat menslike gedrag voorskryf en kan verklaar . Kant erken egter dat, in die mens se geval, daar nie net ʼn empiriese wêreld bestaan nie, maar ook ʼn nie-empiriese wêreld van vrye wil. Hy poog om binne die vrye wil, en op grond van die menslike rede, universele morele wette oor wat reg en verkeerd is, te bepaal. Soos Newton se wette wat natuurlike verskynsels wetenskaplik maak, op die rede gebaseer is, so kan daar morele wette vir menslike gedrag gevind of gemaak word, redeneer Kant, wat ook uit die rede voortspruit. Hierdie morele wette is bekend as pligsetiek of deontologie. Dit is ʼn etiek wat voorskriftelik is – dit behels wat ʼn mens

“behoort” te doen.

Kant ontwikkel sy etiek op grond van die konsep van ʼn kategoriese imperatief. Die kategoriese imperatief funksioneer as die fundamentele reël vir moraliteit en vereis dat ʼn mens volgens sekere grondbeginsels sal optree “Act only according to maxims which you can will also to be universal laws” (Magee, 1998:137). Dit impliseer dat ʼn individu slegs etiese norme kan uitleef wat universeel aanvaarbaar is – met ander woorde, as alle ander mense dit ook doen, sou dit as aanvaarbaar gereken kan word. Dit is egter ʼn vraag of

sulke norme, en moontlike gepaardgaande deugde en aksies, noodwendig altyd singewend is en aanleiding gee tot die goeie lewe – ʼn belangrike vraag ten opsigte van die fokus van hierdie tesis. Hierdie saak word later in die hoofstuk weer aangeroer in die bespreking van Alasdair MacIntyre se After virtue. Kant ontwikkel sy pligsetiek onafhanklik van en ongeag die bestaan van God. Verskeie van Kant se voorgangers het die bestaan van God begin bevraagteken, maar Kant redeneer dat hoewel daar geen bewyse vir die bestaan van God is nie, daar ook geen bewyse is dat God nie bestaan nie.

Na gelang moraliteit los van die bestaan van God ontwikkel het, het die soeke na die sin van die lewe sonder God ook ontwikkel. Wat is ʼn goeie lewe (en by implikasie ʼn sinvolle lewe) en hoe kan ʼn mens dit bereik? Dit was in die moderne tyd steeds een van die mees kwellende vraagstukke van die mensdom . Die mens se desperate en vergeefse gryp na enige iets wat antwoorde hierop kon verskaf, word uitgewys deur Friedrich Nietzsche (1844-1900). Hy verklaar dat die dood van God die einde is van die vanselfsprekende singewing wat tot en met die moderne tyd in God en/of die anderwêreldse gevind is. Die dood van God laat volgens Nietzsche die mens met niks agter waaruit hy kan sin vind nie, en dit is die krisis van ons tyd. Die implikasie hiervan is dat wat altyd as moreel gesien is, nou uitgedien is, want die mens bevind hom by implikasie in ʼn leë, sinlose wêreld waarin niks reg of verkeerd is nie. As daar geen doel of sin in die mens se lewe is nie, is daar moontlik ook geen reg of verkeerd in sy handelinge nie. Elke mens moet nou self betekenis en sin vind binne haar eie persoonlike omstandighede, of in haar subjektiewe gevoel (volgens Rousseau).

2.3.1.5.2 Utilitarisme en konsekwensialisme

Gedagtig aan Heraklitus se ewig vloeiende rivier, wil dit voorkom of die ontwikkeling en definisie van deugde nou in ʼn uitdagende stroomversnelling beland het. Die vraag watter rol deugde in die soeke na die goeie en sinvolle lewe behoort te speel, word al hoe meer problematies. Die rivier hou egter nie op vloei nie en verdere perspektiewe op die ontwikkeling van deugde kan verkry word deur te let op die ontstaan van die etiese teorie van konsekwensialisme. Die utilitarisme is waarskynlik die bekendste weergawe hiervan;

die onderskeid is egter daarin geleë dat die konsekwensialisme gerig is op die grootste

voordeel wat deur ʼn handeling verkry kan word, terwyl die utilitarisme die grootste voordeel of geluk vir grootste groep mense wil hê. In die mens se soeke na wat reg en verkeerd is, kan die aanduiding hiervoor – volgens Bentham en Mill – gevind word in die konsekwensies (gevolge) en nuttigheidswaarde van ʼn mens se dade (Palmer, 2001:276- 284). Sou hierdie gevolge die grootste voordeel inhou vir die grootste groep mense (utilitarisme), dan is die besluit moreel regverdigbaar. Vir Bentham moet so ʼn besluit uitsluitlik op die grondslag van plesier en geluk (as die ideale gevolge) geneem word. Die najaag van plesier en geluk kan egter tot ramspoedige gevolge lei, aangesien alle plesier en geluk nie noodwendig tot lewensin en die goeie lewe sal lei nie. Die gebruik van dwelms kan byvoorbeeld vir die oomblik tot ʼn groot mate van plesier en “geluk” lei, maar dit kan ramspoedige langtermyngevolge hê.

Utilitarisme het ook die politieke implikasie dat ʼn regering minderheidsgroepe se belange kan ontken, mits die meerderheid van die mense die meeste baat by sekere handelinge van die regering vind. Om hierdie soort dilemmas die hoof te bied het Mill sekere beginsels of reëls bygevoeg, ook bekend as reëlutilitarisme, waarvolgens daar tog sekere menslike gedrag en besluite is wat verkeerd is en nie tot die goeie of regverdige lewe sal lei nie. Die soeke na beginsels, reëls of deugde, soos onder meer integriteit, regverdigheid, respek, eerlikheid en waardigheid, is deur die geskiedenis van die filosofie herhaaldelik beklemtoon deur verskillende morele denkrigtings, soos die deontologie, die utilitarisme en die variasies van albei. Deur die eeue het die mens se sug na mag, rykdom en oorheersing veroorsaak dat gemeenskappe uitgeroei, onderdruk en op onwaardige wyses hanteer is, waardeur die mens met ʼn leemte in sy verlange en strewe na die goeie lewe gelaat word. Deugde-etiek (soos later sal blyk) sluit baie pertinent juis by hierdie verlange en strewe aan.

2.3.1.5.3 Eksistensialisme (en die oseaan)

Soos reeds genoem, speel die sosiale orde van die tyd, die kulturele agtergrond en die politieke gemeenskap ʼn belangrike rol in die vorming van ʼn sekere filosofie van daardie tyd. Dit word beklemtoon deur die invloed wat die Eerste en die Tweede Wêreldoorlog in die eerste helfte van die twintigste eeu op filosofiese denke gehad het. Die eksistensialisme het in dié tyd ontstaan plaasgevind, hoewel ʼn mens sou kon redeneer

dat dit reeds by Nietzsche begin het. Latere denkers soos Kierkegaard, Heidegger, Sartre en Camus was prominente figure in dié verband. Hoewel die eksistensialiste nie ʼn noemenswaardige rol in die ontrafeling van die tapisserie van deugde speel nie, is dit tog belangrik om daarvan kennis te neem, aangesien dit in die argument van Alasdair MacIntyre later in die hoofstuk ten opsigte van die herlewing van deugde-etiek belangrike is. Die eksistensialistiese uitgangspunt oor die outentiekheid van die mens in ʼn Godlose en sinlose wêreld waarin die mens binne sy onbegrensde vryheid sy eie waardes moet bepaal, word in hoofstuk drie bespreek.

Gedagtig aan die historiese verloop van die soeke na “iets” waardeur die goeie lewe ervaar kan word, is dit opmerklik dat die “deugderivier” deur landskappe kronkel wat soms weg van die bestaan van ʼn God draai na terreine waar die wetenskap seëvier. Dit lei telkens tot die verklaring van die mens tot “god”, die idee dat die menslike kragte en rede prominent en alomvattend in die wêreld is. Ten spyte van al die kronkels wat die rivier maak, is dit steeds besig om doelgerig na die oseaan te vloei. In die besef van die dinamiese aard van deugde, en die voortgaande ontwikkeling daarvan, kan ʼn mens na aanleiding van die analogie van die rivier vra: Kan dit dalk wees dat die vloei van deugde- etiek, die rivier, uiteindelik uitmond en gerig is op die goeie en sinvolle lewe as die oseaan?

Deur die eeue heen, soos hier bo aangedui, is daar in die soeke na moraliteit en etiek (deur verskillende tradisies en teorieë) telkens ʼn vraag oor die goeie lewe en die verband daarvan met die etiese. Dit is in Aristoteles se denkrigting aangaande deugde-etiek die duidelikste verwoord. Hoewel Aristoteles se Nikomachiese Etiek eeue gelede geskryf is en daar deur die eeue heen baie ander filosofiese benaderings ontwikkel het, speel Aristoteles se deugde-etiek ʼn prominente rol in die moderne denke oor etiek.10 My afleiding hieroor is dat die manier waarop Aristoteles vrae aangaande etiek en moraliteit gevra het, juis aanleiding gegee het tot die besef dat die belewing van ʼn goeie en sinvolle lewe tog moontlik is – ʼn kwessie wat vir die moderne mens steeds van groot belang is.

10 Selfs in die Suid Afrikaanse konteks noem filosowe soos De Beer en Degenaar dat die vraag na die syn en etiek intrinsiek op mekaar aangewese is. Goosen maak die volgende stelling: “inteendeel, wat die politieke betref het ek gewoon ʼn volgeling van Aristoteles, Burke en Alisdair MacIntyre geword”

(Duvenhage, 2016:240).

In die ontrafeling van die tapisserie van deugde word daar vervolgens gekyk na Aristoteles se Nikomachiese Etiek. Dit word spesifiek geanaliseer om ʼn duidelike greep te kry op Aristoteles se verstaan van deugde as ʼn middel tot lewensin, of dan die goeie lewe (eudaimonia). In aansluiting hierby Alasdair MacIntyre se After virtue ontleed, juis om meer duidelikheid te kry oor die tydelike of oënskynlike verdwyning van deugde-etiek uit die “hoofstroom”-filosofie en om die redes vir die herlewing daarvan in die huidige chaotiese samelewing beter te verstaan.

Dalam dokumen Deug en Lewensin (Halaman 39-44)