HOOFSTUK 3: DIE TAPISSERIE VAN LEWENSIN
3.3 Historiese konteks
3.3.6 Lewensin binne die kosmos
Nihiliste wys op die nietigheid, die “niksheid”, van die mens se bestaan in hierdie verband, aangesien sy lewe maar ʼn breukdeel van ʼn sekonde behels gemeet aan die omvang van die kosmos se bestaan. Hierdie kortstondigheid en nietigheid lei tot ʼn gevoel van leegheid
en sinloosheid, en uiteindelik die nihilistiese argument dat die lewe geen sin het nie. Die bekende Oostenrykse psigiater Viktor Frankl (1905-1997)28 verskil van hierdie nihilistiese sienings ten opsigte van die lewe. Volgens hom is die mens se grootste motivering om te lewe juis die wil of soeke na sin:
Die gees van die mens is waarskynlik van so ʼn aard dat die behoefte aan dit wat die menslike bestaan oorstyg, nie deur haglike omstandighede gedemp kan word nie. Mens kan dit noem die versugting na die sublieme, na dit wat te doen het met die uiteindelike sin van die menslike bestaan, oftewel “the ultimate meaning of life”.
(Louw, 2007:47).
Volgens hom gee die soeke self sin. Hierdie singewing vind voortdurend plaas, selfs in die moeilikste omstandighede, en dit stel die mens in staat om te oorleef. Die mens het die vermoë om sy “omstandighede te oorstyg, te transendeer, en sodoende selfs in jou lyding lewensin te ervaar” (Louw, 2007:x).
Die Christelike reaksie op die nihilisme is dat daar wel sin in die lewe is, want die mens is ʼn skepsel van God (na sy beeld geskape) met die duidelike roeping verwoord in onder andere (Genesis 1:28) “God het hulle geseën; God het vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, vermeerder, vul die aarde en onderwerp dit. Heers oor die visse van die see, die voëls van die hemel en al die diere wat op die aarde rondbeweeg”.
Volgens Wehrmann het elke mikrodeeltjie in die makrokosmos ʼn doel en funksie om te vervul:
Die mens, en so ook enige ander artikel of voorwerp, kan slegs binne die uitlewing van die gestelde doel tot volle potensiaal en selfverwerkliking kom. Hierin lê die sin van die lewe opgesluit. Die Maker vind ook hierin Sy tevredenheid wanneer Sy Skepping aangewend word volgens die oorspronklike Skeppingsdoel (Werhmann, 2001:33).
28 Victor Frankl is op 26 Maart 1905 in Oostenryk gebore. Hy kwalifiseer as neuroloog en psigiater aan die Universiteit Wene. Frankl word tydens die Tweede Wêreldoorlog gevange geneem en na Auschwitz gestuur. Hy oorleef die Duitse konsentrasiekampe en ontwikkel op grond van sy ervaringe as mens die konsep van logoterapie, wat berus op die mens se voortdurende soeke na sin en die persoonlike motiveringskrag wat daaruit geput word. Frankl het verskeie boeke geskryf waarvan die bekendste Man’s search for meaning is. Frankl se benadering tot lewensin deur logoterapie is
Vir die Christengelowige vorm doelgerigte vervulling die basis van die belewing van lewensin. Om God die basis van ʼn sinvolle lewe te maak is egter problematies (soos reeds genoem) vir die niegelowige. Friedrich Nietzsche definieer daarom ʼn sinvolle lewe vanuit ʼn ander (sekulêre) hoek – een waarin ʼn mens jou lewe doelgerig en doelbewus as
“wil” lewe, as jou eie kreatiewe “kunswerk” uitleef, juis ten spyte (of selfs ter ontkenning) van ʼn transendentale begronding, regverdiging of singewing daarvan.
Dit is vir Nietzsche belangrik om jou lewe doelgerig te leef. Dit is egter interessant om te sien hoe min mense die vraag “Wat is jou doel op aarde?” kan beantwoord. Om te weet wat jou lewensdoel is, impliseer sekerlik selfkennis, die planmatige uitlewing van deugdelikheid, die ervaring van nuttigheid wat selfvervulling tot gevolg het. Klaarblyklik is die meeste mense steeds vasgevang op (of afgegooi van) die wipplank tussen wetenskap en religie – veral in hul soeke na lewensin. Aan die een kant redeneer die bekende wetenskaplike Stephen Hawking29 byvoorbeeld dat indien daar deur die rede bepaal kan word waarom die heelal en die mens bestaan, die rede (wetenskap) ook antwoorde sal kan bied oor die sin van die lewe. Hy stel dit so:
God is the name people give to the reason we are here. But I think that reason is the laws of physics rather than someone with whom one can have a personal relationship. An impersonal God (Time 100, Magazine).
Aan die ander kant hoor ʼn mens weer die religieuse stemme, soos dié van Myles Munroe, wat verklaar dat die rede vir die mens se bestaan eenvoudig is: “Purpose is the original intent/reason for existence of a thing that was in the mind of the maker/creator”
(Wehrmann, 2001:30). Die Suid-Afrikaanse filosoof Anton van Niekerk sluit hierby aan en pleit vir “… insig in die durende waarde, doel en relevansie – in hierdie geval nie van losstaande dinge in die wêreld nie – maar van die wêreld self, en veral ook van ons lewe in die wêreld” (Van Niekerk, 2017:195). Van Niekerk maan die mens verder tot ʼn dringendheid in sy soeke na sin, want die mens se lewe word beperk deur die dood.
29 Stephen Hawking, gebore in 1942 in Oxford, Engeland, was ʼn Britse teoretiese fisikus en kosmoloog.
Hy is wêreldwyd bekend vir sy teoretiese werk oor gravitasiekolke en ruimtetyd. Sy teorieë oor die aard en ontstaan van die heelal het beduidende steun ontvang. Hy was die skrywer van verskeie boeke en artikels, waarvan die bekendste A brief history of time is. Hoewel hy nie in God geglo het nie, was hy tog van mening dat die mens sin in die lewe kan vind.
Met bogenoemde “wipplankpersepsies” aangaande lewensin as agtergrond en historiese konteks word daar in die res van hoofstuk gefokus op die spanning tussen naturalistiese (sekulêre of wetenskaplike) pogings tot singewing en “supernaturalistiese” sienings en soeke na die sin in en van die lewe. Daar word hoofsaaklik op van ʼn werk van Thaddeus Metz, Meaning in life: an analytic study (2013), en een van John Cottingham, On the meaning of life (2003), gefokus.
Die motivering vir die fokus op juis hierdie twee werke lê daarin dat hulle uitstekende kontemporêre voorbeelde is van ʼn naturalistiese benadering tot singewing (Metz – die rede van die mens staan sentraal), asook van ʼn supernaturalistiese benadering (Cottingham – wat fokus daarop dat lewensin byvoorbeeld verkry kan word deur geloof in God). Die twee uiteenlopende perspektiewe (en outeurs) sluit in hulle denke by eeueoue tradisies oor singewing aan, en hulle werke dien as ontsluiting van sulke ouer, diepgaande tradisies. Daardeur word gepoog om die komplekse tapisserie van die lewensin steeds duideliker te ontbloot – en te waardeer.
3.4 Sin in die lewe