HOOFSTUK 2: DIE TAPISSERIE VAN DEUGDE
2.5 After virtue
2.5.1 Emotivisme
MacIntyre begin hierdie taak deur op emotivisme te fokus. Emotivisme as morele denkrigting is eie aan die moderne tyd en impliseer dat alle uitsprake (positief of negatief), oor enige aspek van die hedendaagse bestaan, en daarom ook oor moraliteit, bloot persoonlike voorkeure, gesindhede of gevoelens aangaande ʼn situasie weergee.
MacIntyre fokus eerstens op emotivisme in ʼn poging om ons huidige morele arena te beskryf en om die historiese morele aanloop daarvan te analiseer. Hy poog sodoende om die ontstaan van die huidige morele chaos te verklaar en beter te verstaan. Deur hierdie benadering wil hy vasstel watter optrede uiteindelik tot positiewe morele uitkomste in die moderne samelewing kan lei.
Die uitsprake en handelinge wat in emotivisme gemaak en verrig word om aan ʼn mens se eie gevoelens uitdrukking te gee, kan nie sonder meer deur diegene wat deur die aksies en uitsprake geraak word, veroordeel word nie. Indien ʼn groep mense byvoorbeeld die strate invaar en sakeondernemings plunder of skole aan die brand steek ten einde so sekere morele standpunte in te neem of te verkondig, kan dit nie op die grondslag van die emotivisme as verkeerd beskou word nie. Inteendeel, hierdie soort optrede beklemtoon juis die soewereine vryheid van die individu om op grond van haar emosies sekere besluite te neem en sekere gedraginge te toon. Moraliteit kan nie van die individu se gevoelens losgemaak word nie, en ook nie van die kulturele en maatskaplike milieu waarin die individu haar bevind nie. ʼn Mens sou rasioneel kon oordeel dat plundery byvoorbeeld verkeerd is, maar omdat emotivisme deur gevoelens en gesindhede gedryf word, is ʼn rasionele oordeel oor die optrede nie hier toepaslik of moontlik nie.
Oor emotivisme sou mens kon vra watter doel die gevoelens en gesindhede dien wat soveel gewig dra. Dit is duidelik dat die middele (byvoorbeeld plundery) die doel (gevoelens oor ʼn kwessie) heilig. Dit kan selfs wees dat die doel nie altyd moreel regverdigbaar is nie. Indien die doel van die plundery van skole en sakeondernemings byvoorbeeld is om ʼn politieke uitkoms te bereik, kan die gevoelens van die mense wat daarby betrokke is, deur ʼn politieke leier gebruik word. Gesindhede en gevoelens kan dus doelbewus deur andere tot hul eie persoonlike voordeel beïnvloed word. Morele oordeel (wat onderskei tussen waar en vals, tussen reg en verkeerd) bly dan in die slag.
Dat “iets goed is”, berus hierin slegs op gevoelens. Dit is die hele beginsel van emotivisme (MacIntyre, 2007:12). Die uitspraak dat iets goed is, impliseer dat die verrigting van sekere handelinge goedgekeur word. Dit gebeur in effek onder die vaandel van morele korrektheid, maar dit berus op gevoelens en intuïsie. Hierdie morele goedkeuring geskied egter telkens ter wille van byvoorbeeld politieke, finansiële gewin of persoonlike voordeel.
Met watter doel word goedkeuring gegee? Goedkeuring vir die misbruik van onskuldige mense ten einde selfgesentreerde doelwitte te bereik? Goedkeuring van die misbruik van oningeligte mense vir eie gewin en tot nadeel van daardie misbruikte mense?
Opvoedkundige inrigtings het byvoorbeeld ten doel om studente intellektueel, professioneel en moreel voor te berei vir die volwasse (korporatiewe) lewe wat volg, maar vir die emotivis skep die opvoedkundige inrigting die geleentheid om onskuldige, oningeligte jong mense op te sweep tot plundery en anargie. Dit verklaar dalk waarom die wêreld geteister word deur bloedige en gewelddadige opstande onder die vaandel van vryheid en sogenaamde menseregte.
ʼn Verdere voorbeeld van emotivisme in die korporatiewe wêreld is die optrede van die bestuurder wat produksie najaag om hoër wins te maak. In so ʼn konteks word die werknemer bloot ʼn middel tot die doel, terwyl die bestuurder die voordeel en erkenning daarvoor ontvang. Die bestuurder sou dit selfs moreel kon regverdig onder die vaandel van etiese egoïsme of dan die bevoordeling van een persoon bo die ander. Indien die ontwikkeling en opheffing van die werknemer egter die uitkoms was wat die bestuurder nastreef , sou die gevolg, volgens teleologiese etiek moreel regverdig kon word. Die gevolg sou dan heel waarskynlik ook verhoogte wins wees, maar nou tot voordeel van die bestuur en die werknemer. Die benadering sou die welstand, geluk en bevrediging van alle belanghebbendes tot gevolg hê, wat dit moreel regverdigbaar sou maak. Dit sou noodwendig ook dui op ʼn balans in besluitneming oor kwessies soos reg en verkeerd, of billik en onbillik. Dit herinner nogal sterk aan die beginsel van die “goue middeweg” wat Aristoteles voorgehou het.
Denkrigtings soos emotivisme is wêreldwyd, onder die vaandel van vryheid, geregtigheid en menseregte, ʼn onbetwisbare faktor in die kultuur van protes. MacIntyre argumenteer dat:
Emotivism is the doctrine that all evaluative judgements and more specifically all moral judgements are nothing but expressions of preference, expressions of
attitude or feeling, insofar as they are moral or evaluative in character. Particular judgments may off course unite moral and factual elements. ‘Arson being destructive of property, is wrong’ unites the factual judgment that arson destroys property with the moral judgment that arson is wrong (MacIntyre, 2007:12).
Die vraag is wat van deugde soos verantwoordelikheid, eerlikheid, regverdigheid en omgee geword het. Die emotivis kan egter aanvoer dat sy juis hierdie deugde uitleef, maar met haarself as die begunstigde. Omgee, in hierdie konteks, sal dus wees om jouself as die enigste “begunstigde” in morele besluitneming voor te hou, wat uit die aard van die saak nie volhoubaar kan wees nie.
Emotivisme kan nie die gronde wees waarop morele besluite geneem word nie, aangesien dit slegs op die self se behoeftes en emosies berus is. In hierdie sin argumenteer MacIntyre dat “[w]e use moral judgements not only to express our feelings and attitudes, but also precisely to produce such effects in others (MacIntyre, 2007:12).
Ek is dit hier eens met Aristoteles se denkrigting waarvolgens die goeie of sinvolle lewe bepaal word deur diepe bepeinsing wat lei tot rasionele besluitneming gebaseer op dit wat feitelik moreel korrek geag word, en nie net in eie belang nie maar ook in belang van andere. ʼn Duidelike onderskeid moet gemaak word tussen ʼn mens se intuïtiewe gedrag – wat lei tot gevoelens en gesindhede – en rasioneel gedrewe handelinge. Die balans daartussen moet gevind word in jou optrede teenoor andere. Dit is egter juis hier waar die emotivis faal, want haar besluite word op gevoel en emosie geneem. Geen ander persone word in ag geneem nie. Nog te meer, enige standpunt kan op grond van ʼn mens se emosies verdedig word, ongeag die maatskaplike en kulturele omstandighede waarin dit afspeel. Swak sosioëkonomiese omstandighede kan natuurlik ook bydra tot negatiewe gevoelens en gesindhede in gemeenskappe, wat vir die emotivis ʼn ideale geleentheid skep om die massas te probeer beïnvloed. Weereens is die aansporing tot protes deur plundery en beskadiging van eiendom slegs in belang van die emotivis, hetsy om politieke, finansiële of persoonlike gewin en tot nadeel van die betrokke gemeenskap.
Emotivisme distansieer die individu van sy sosiale rol en van sy funksie binne ʼn gesin, die gemeenskap of enige ander samelewingsverband. Dit is dikwels in hierdie maatskaplike rolle dat die mens vervulling vind, erkenning kry, en sekere doelwitte en drome koester (MacIntyre, 2007:32). Die emotivis maak haar los van sulke kwessies en fokus net op haar eie gevoelens en gewin. Dit blyk daarom dat die emotivis – as tipiese
individu in die moderne samelewing – vasgevang is tussen die droom van absolute individuele vryheid en eie morele oordeel, en ʼn burokratiese maatskaplike orde of regering wat poog om deur regulasies totale anargie te voorkom. Op hierdie punt kan ʼn mens vra wat daartoe aanleiding gegee het dat die moderne individu so getransformeer het van haar historiese deugdelike rol in die samelewing, tot die emotivis wat sy nou is.
Dit is hierdie vrae waarby MacIntyre stilstaan in After virtue (2007:35).