Hoofstuk 5: Idil, een meisje – Yasmine Allas
5.4 Islam
Die kwessie van geloof, en spesifiek Islam, word as sentrale tema in die roman aangetref. Dit is daarom insiggewend om die oortuigings en ontstaan van Islam na te speur om sodoende die konteks waarin die roman geskryf is, te ontleed en verstaan.
Islam is volgens Waines (2003:3) die derde grootste geloof in die wêreld naas Christenskap en Boeddhisme en kan soos volg gedefinieer word: “The word Islam means the willing and active recognition of and submission to the Command of the One, Allah. People who practice that are Muslims”. Islam het volgens Armstrong (2000:xiii) sy oorsprong gehad in 610 toe die profeet Mohammed die eerste openbarings van die Koran ontvang het. Die Koran is ‟n versameling van openbarings van Allah aan Mohammed, soos aan hom oorgedra deur die engel Gabriel. Islam glo net soos die Jode en Christene dat Allah (wat God beteken) die aarde geskape het, en dat hy sal kom om te oordeel in die laaste dae. Sterk klem word regdeur die Koran gelê op die feit
143 dat Islam nie as ‟n nuwe geloof beskou moet word nie. Die volgende stelling van Armstrong (2000:4-5) sluit hierby aan:
Mohammed did not think that he was founding a new religion, but that he was merely bringing the old faith in the One God to the Arabs, who had never had a prophet before. The new sect would eventually be called Islam (surrender).
Dit is egter belangrik om in gedagte te hou dat die Moslemgeloof nie homogeen is nie en verskil van gemeenskap tot gemeenskap, en selfs kultuur tot kultuur. Die tydperk waartydens Idil, een meisje geskryf en gepubliseer is, is gekenmerk deur groot onluste in Afghanistan. Vanaf 1996 was die Taliban aanbewind en vroueregte het openlik daaronder gelei. Volgens Aryn Baker (2010:15) is die regeringstelsel veral gekenmerk aan die onderdrukking van vroue. Vroue is verbied om onderrig te ontvang of te werk, hulle is ook gedwing om binnenshuis te bly tensy hul deur ʼn manlike familielid vergesel word. Gedurende die Taliban se heerskappy is alle vroue wat verdink is van owerspel, in die publiek gestenig. Bakel (2010:18) vertel in sy artikel van ‟n Moslemvrou, Abdul Had Arghandiwal, wat kort na haar troudag op straat aangerand is, omdat sy vergeet het om haar naelpolitoer te verwyder. Hierdie tydperk is ook gekenmerk aan die verbanning van vrouestemme op radio en televisie. Abdul Had Arghandiwal (Baker, 2010:18) het bogenoemde gebruike in Afganistan verdedig deur dit toe te skryf aan Islam: “That is in accordance with Islam and what we want for Afghanistan is Islamic rights, not Western rights”. Die tendens dat verskynsels soos oorloë en wreedheid teenoor vroue geregverdig word op grond van Islam, kan toegeskryf word aan fundamentalisme. Armstrong (2000:140) is van mening dat fundamentalisme in alle vorme van geloof waargeneem kan word, tog geniet fundamentalistiese insidente veral deur volgelinge van Islam voorkeur in die media:
The Western media often give the impression that the embattled and occasionally violent form of religiosity known as fundamentalism is a purely Islamic phenomenon. This is not the case. Fundamentalism is a global fact and has surfaced in every major faith in response to the problems of our modernity.
144 Armstrong (2000:141) is verder van mening dat die emansipasie van vroue in die moderne samelewing een van die hoofoorsake is vir fundamentaliste se klem op konvensionele genderrolle: “[…] putting women back into veils and into the home”. Die terugkeer na konvensionele rolle is ‟n vorm van onderdrukking van vroue in die samelewing. Van den Berg (2006) maak in sy resensie oor Verhofstadt se boek De derde feministische golf die volgende stelling oor die oplewing van ‟n derde feministiese golf:
Is die emancipatie van de vrouw in het westen niet klaar? Bij de eerste feministische golf werd er gestreden voor gelijke rechten en stemrecht voor vrouwen. Het ging om juridische gelijkberechtiging. Bij de tweede feministiche golf in de jaren 60-70 van de 20ste eeuw ging het met name om seksuele keuzevrijheid en was de inzet maatschappelijke gelijkberechtiging.
Onderdrukking van Moslemvroue in veral die Nederlandse samelewing het gelei tot die oplewing van die sogenaamde derde feministiese golf. Hierdie beweging beywer hul vanaf die jare 90 spesifiek teen die diskriminerende gebruike teenoor vroue binne die Nederlandse gemeenskap. Vooraanstaande skrywers wat onder andere tot hierdie beweging behoort, sluit Yasmine Allas, Ayaan Hirsi Ali en Naema Tahir in.
Allas (2006) skryf self in haar versamelde artikels, Ontheemd en toch thuis, juis ook oor die ongelyke posisie van vroue binne Islam. Hierdie artikels is gebaseer op haar eie ervarings as Moslemvrou. Sy betoon ook eer in een so ‟n artikel aan die Nederlandse filmmaker Theo van Gogh. Van Gogh is vermoor deur Mohammed Bouyeri op 2 November 2004 (Bell, 2005) nadat Van Gogh ʼn 10 minuut lange film met die titel Submission vervaardig het, wat handel oor die geweld teen vroue in sekere Islamgemeenskappe. Van Gogh se regterhand gedurende die vervaardiging van Submission, Ayaan Hirsi Ali (2010), se biografie herinner sterk aan dié van Allas self.
Haar vader het net soos Allas se vader nie die Moslemoortuigings slaafs nagevolg nie, maar hy het wel gepoog om haar in ‟n gereëlde huwelik in te forseer. Waines (2003:94)
145 skryf dat dit tradisie is in Islam dat huwelike deur families gereël word, maar dat die keuse steeds by die vrou berus en dat dit haar vrystaan om nie in te stem tot so ‟n gereëlde huwelik nie. Tog word dit selde gevind dat ‟n vrou teen die wense van haar vader sal optree. Ali is verder ook ‟n Somaliese migrant wat uiteindelik totaal wegbreek van Islam en kulturele oortuigings wat op haar afgedwing is. Ali word ook met die dood gedreig nadat sy die onderdrukking van vroue binne Islam blootlê deur saam met Van Gogh te werk aan die film Submission. Hierdie ooreenkomste ten opsigte van twee Somaliese Moslemvroue se biografiese agtergrond, is bevestiging dat onderdrukking van Moslemvroue wel in spesifieke kulture plaasvind. Alhoewel sulke insidente van geweld nie universeel aan Islam toegeskryf kan word nie, is dit duidelik dat daar wel Moslemgemeenskappe bestaan waar vroue steeds as onderdanig en minderwaardig beskou word, en uitgelewer word aan wrede gebruike en geweld wat dikwels in die naam van Islam geregverdig word.