Hoofstuk 2: Teoretiese fundering
2.3 Migrasie en grense
2.3.5 Topografiese sone (ruimte en identiteit)
53
54 gebruik word om te verwys na ‟n bepaalde terrein en die algemene aard daarvan, maar ook ‟n geskiedenis het […]”. Dorothea van Zyl (2010:46) poog in haar artikel “Identiteit en landskap in Raka die Roman (Koos Kombuis) en Asbesmiddag (Etienne van Heerden)” om onderskeid te tref tussen ruimte en landskap, deur te fokus op die verskil in die subjek se verhouding ten opsigte van ruimte en landskap:
Die subjek vorm die middelpunt van die landskap en word omring deur ‟n horison wat sinchronies verskuif, soos wat die individu beweeg. Sodra met ‟n objektiewe oog waargeneem word, word die horison deurbreek en is daar eerder sprake van ruimte as landskap. Landskap en geografiese ruimte staan dus in ‟n omgekeerd eweredige verhouding tot mekaar: landskap staan tot gewaarwording soos wat geografiese ruimte staan tot waarneming. Sonder dat die een die ander noodwendig uitsluit.
Hoving (2002:125) is egter van mening dat ‟n definisie van ruimte nog gevind moet word wat beweging impliseer, aangesien ons in ‟n moderne samelewing woon waar die terme reis en woning ast‟ ware sinoniem aan mekaar gestel word. Na aanleiding van voorafgaande aanhaling sal die term ruimte deurgaans in die studie gebruik word, aangesien ruimte nie noodwendig landskap uitsluit nie (en omgekeerd), tensy spesifiek vermeld word.
‟n Plek is nie ‟n voorgeskrewe saak nie, maar iets wat tot stand kom in die interaksie tussen mense en hul omgewing. Mense maak van hul ruimte ‟n plek deur daaraan betekenis te gee, herinnering daaraan te koppel en so kleur en tekstuur daaraan te verleen. Hierdie waarheid dring egter eers tot ‟n mens deur wanneer jy jou in die vreemde bevind en genoodsaak is om opnuut jou ruimte in
‟n plek te omskep. (Brand, 2007:6)
Hierdie stelling van Brand is pasklaar op die situasie waarin die migrant hom bevind.
Die migrant moet van voor af ‟n vreemde ruimte in ‟n plek of tuiste omskep, en dit is eers dan wanneer die ware waardering vir jou tuisland of tuiste besef word. Taljard
55 (2002:35) beweer dat identiteitskonstruksie op sy aktiefste is in tye van oorgang of verandering, en Schimanski en Wolfe (2007:12) sluit hierby aan: “Identity is unthinkable without border processes whether individual or communal”. Oorgang beteken dikwels vervreemding en verlies aan identiteit en sekuriteit. Ten spyte van hierdie moeilike proses wat die migrant moet ervaar, lig Wasserman (2006:4) ook uit dat ‟n migrant in ‟n bevoorregte posisie is, omdat hy ‟n nuwe identiteit kan saamflans, met stukkies uit die moederland en stukkies uit ‟n nuwe aangenome land. Tog kan hierdie nuwe identiteit nie totaal en al los gemaak word van die migrant se vorige ervaringe en ruimtes nie.
Gupta en Ferguson (1992:7) stel dit soos volg: “But in all these cases, space itself becomes a kind of neutral grid on which cultural difference, historical memory, and societal organizations are inscribed”. Ruimte en landskap is dus interafhanklik van mekaar deurdat identiteit enersyds gevorm word in verhouding tot ruimte, en ruimte andersyds gevorm word in verhouding tot identiteit. Mense heg betekenis aan ‟n ruimte en maak daarvan ‟n persoonlik gelade ruimte, soos bepaal deur die identiteit wat hy of sy konstrueer (selfidentiteit), of wat vir hom of haar gekonstrueer word (sosiale identiteit).
Chow (2000:157) trek die volgende verband tussen ruimte (migrasie) en identiteit:
“Indeed, memory becomes a primary ground of identity formation in the context of migration, where „territory‟ is decentred and exploded into multiple settings”. Identiteit is nie net ‟n konstruksie wat uit nikshede saamgeflans word nie, maar ‟n komplekse sisteem wat volgens Castells, soos aangehaal in Viljoen (2003:20), gekonstrueer word deur gebeure in die geskiedenis, geografie, biologie, produktiewe en reproduktiewe instellings, die kollektiewe geheue en persoonlike fantasieë, deur magspatrone en godsdienstige openbarings. Viljoen (2003:20) maak die stelling dat die faktore wat die konstruksie van identiteit beïnvloed, geweldig varieer. Faktore soos nasionaliteit, etnisiteit, godsdienstige agtergrond, professie, sosiale groep, politieke oortuigings, groepsdruk, familie-omstandighede en ruimtelike faktore, speel almal ‟n rol in die ontwikkeling van identiteit. Identiteit word dus gevorm deur elke aspek van ‟n mens se lewe en elke ervaring sal ‟n invloed op jou identiteit hê. Identiteit is ook ‟n veranderlike struktuur en die idee van die palimpses word hier geïntegreer – iets wat herhaaldelik
56 herkonstrueer kan word namate lewensondervinding toeneem. Snyman (1999:56) beaam hierdie stelling:
Elke mens het ‟n verlede waaruit hy voortdurend beweeg. Die verlede is iets wat elke mens voortdurend met hom of haar saamdra, maar nie noodwendig ‟n las waarvan hy of sy ontslae moet raak nie. Dit is materiaal vir ‟n kreatiewe skepping van identiteit in die hede. Identiteit moet opnuut uitgevind word met die stof wat die verlede tot nadenke bring.
Identiteitskonstruksie is oor die algemeen nie ‟n eenvoudige proses nie, maar wanneer migrasie ook nou ter sprake kom, word nuwe uitdagings en probleme rondom identiteitsvorming ervaar. King et al. (1995:1) sluit hierby aan: “Migration therefore changes people and mentalities. New experiences result from the coming together of multiple influences and people, and these new experience lead to altered or evolving representations of experience and of self-identity”. As gevolg van migrasie word die migrant se identiteitsvorming nou vir hom of haar gekompliseer. Wasserman (2006:5) maak die volgende stelling wat hierdie uitdaging puik uitlig: “Wat meer is: die migrant se herinnering aan herkoms begin in ‟n gesprek tree met nuwe impulse, nuwe kulturele geluide wat opgevang en ingeneem word. Die migrant kan onmoontlik ‟n ou kulturele identiteit in isolasie in stand hou”. Wanneer die migrant eers die migrasieproses ondergaan het, word sy/haar identiteit so gekonstrueer dat hul nooit weer hul “vorige”
identiteit sal kan terugkry nie. Brand (2007:5) sluit by hierdie stelling aan deur te redeneer dat ‟n terugkeer nooit moontlik is nie. Wat wel moontlik is, is om ‟n nuwe verhouding met die verlede tot stand te bring, ‟n dinamiese verhouding waarin die meegenome verlede net een bestanddeel van vele is vir die voortdurende konstruksie en rekonstruksie van kulturele identiteit.
Identiteit, veral wanneer dit in terme van migrasie bespreek word, moet ook voorsiening maak vir identiteit as ‟n sosiale konstruksie. Fearon (1999:2) tref onderskeid tussen sosiale en persoonlike identiteit:
57 I argue that identity is presently used in two linked senses, which may be termed
„social‟ and „personal‟. In the former sense, an identity refers simply to a social category, a set of persons marked by a label and distinguished by rules decidedly membership and (alleged) characteristic features or attributes. In the second sense of personal identity, an identity is some distinguishing characteristic (or characteristics) that a person takes a special pride in views socially consequential but more-or-less unchangeable.
Fearon (1999:13) verduidelik verder dat sosiale identiteit of kategorieë eerstens gedefinieer word deur implisiete en eksplisiete reëls. Hierdie reëls dien dan as riglyne of
‟n persoon as lid van ‟n sekere groep geklassifiseer word, al dan nie. Tweedens word sosiale kategorieë verstaan aan die hand van ‟n stel karaktereienskappe soos byvoorbeeld: oortuigings, behoeftes, morele verpligtinge of fisiese eienskappe wat van
‟n spesifieke kategorie verwag word of aan hul toegeken word.