Hoofstuk 3: Anderkant die stilte – A. P. Brink
3.3 Resepsie
Die roman is veral gekritiseer op grond van die kritiese uitbeelding van die Duitse kolonialiste en uiteindelik die Westerse kultuur in geheel. Dan Roodt (2002:5) maak die aanvegbare stelling dat die roman ‟n uiterste standpuntinname verteenwoordig waar die Westerse beskawing as‟t ware as ‟n fout gesien word, en gaan ook so ver om die roman literêr gesproke ‟n ronde nul te noem. In nog ‟n resensie spreek Roodt (2004) verder sy misnoeë uit oor Brink se tematiese gebruik van kolonialisme: “As hy hom reeds in sy mees onlangse roman Anderkant die Stilte, belaglik gemaak het met sy gepreek oor kolonialisme en die wreedheid van alle blanke Duitse mans […]”. Hierdie kritiese beskouing word ook deur Kannemeyer (2005:337) gedeel wanneer hy die stelling maak dat “die opstapeling en oordaad aan geweld en oordrewe eensydigheid van die stoet vlak figure” in Anderkant die Stilte nog steeds Brink se groot gebrek is. Dit gaan egter hier om een vrou – Hanna X – se stryd om oorlewing en teen die totale mensdom. Brink beeld dus bewustelik die wit man en spesifiek koloniale heersers as oordrewe wrede karakters uit. Dit gee geloofwaardigheid aan die wrok wat Hanna koester en die dryfkrag agter haar wraaktog. Brink reken (Nieuwoudt, 2002:4) dat die leser hom nie moet blindstaar teen sy kritiese persepsie van die wit man nie aangesien Hanna ook aan enkele wit mans blootgestel word, wat nie aan hierdie stereotipe voldoen nie.
69 Verder het die grusame beskrywing van die hoofkarakter Hanna se onmenslike verminking en ander gewelddadige insidente in die roman, ook heelwat kritiek ontlok.
James Mitchell (2002:17) is van mening dat hierdie element die roman minder lesersvriendelik maak: “Brink nowhere over-dramatizes: the very normality of the casual inhumanity to which Hanna is subjected is what horrifies the reader”. Brink verduidelik egter aan Stephanie Niewoudt (2002:4) dat hy begrip het vir die feit dat verskeie lesers van mening is dat die geweld in die roman hulle afskrik. Hy verduidelik dat hy al die voorvalle waarin geweld voorkom, oor en oor oorweeg het om seker te maak dat daar binne die opset van die roman, in elke geval ‟n diepliggende rede was waarom hy dit nie ontwyk of versag het nie. Brink se in-diepte beskrywing van Hanna se brutale skending dra by tot die vlak waarop die leser met die karakter omgaan. Alles oor Hanna en haar ervarings word blootgelê en niks word van die leser weerhou nie. Die leser word nie deur Brink beskerm nie en daardeur verskaf hy uiteindelik helderheid oor die keuses waarvoor Hanna te staan kom en die besluite wat sy later moet neem.
‟n Volgende punt van kritiek is dat Brink poog om vanuit ‟n vroulike perspektief te skryf.
Talle kritici het bedenkinge oor die geloofwaardigheid van ‟n roman deur ‟n sterk manlike skrywer vanuit ‟n vroulike perspektief. Dit is juis hierdie aspek wat Anderkant die stilte anders maak as sy vorige romans (met die uitsondering van Sandkastele,1995). Brink maak die stelling aan Els (2000:12) dat hy dikwels vir hom ‟n verteller kies wat juis van hom verskil sodat die skryfproses ‟n uitdaging is. ‟n Verdere moontlike rede hoekom Brink verkies om vanuit ‟n vroulike perspektief te skryf, hou verband met die teorie van Bahktin soos bespreek word deur Allen (2000:160):
The concept of a woman‟s text in the wild zone is a playful abstraction: a reality to which we must address ourselves as critics, women‟s writing is a “double- voiced discourse” that always embodies the social, literary, and cultural heritage of both the muted and the dominant.
In die roman word Hanna gemarginaliseer juis vanweë die feit dat sy ‟n vrou is. Deur Hanna se verhaal vanuit ‟n vroulike perspektief te vertel, gee Brink nou ‟n (vroulike
70 stem) aan die vroeër stemlose Hanna. Dit kan moontlik bevraagteken word of Brink wel in staat is om ‟n vroulike belewenis te bemiddel. Vir Hambidge (2002:28) is dit juis hierdie element wat die roman vir haar uiters fassinerend maak: “Sy (Hanna X) word nie die voertuig van ‟n manlike fokalisator of skrywende instansie se „boodskap‟ nie”.
Hierdie verskynsel verleen aan die roman selfs meer diepte, veral vanuit ‟n genderbeskouing, en moet eerder as katalisator in plaas van struikelblok gesien word.
Ten spyte van die negatiewe kritiek is Anderkant die stilte ook deur ander geprys:
Hambidge (2002:28) skryf onder meer dat Brink hier met ‟n radikale teks besig is, waar die roman vir die eerste keer werklik feministies radikaal is. Sy maak hierdie stelling op grond van die feit dat die hoofkarakter Hanna X (in teenstelling met sy vorige vroulike hoofkarakters) in hierdie roman onaantreklik en geskend is. Vir die eerste keer is Brink se vroulike hoofkarakter nie die objek van die manlike karakters se begeerte nie, maar eerder ‟n uitgeworpene wat onder andere vanweë haar fisiese voorkoms verwerp word:
“Dit moet dan seker sy wees. Dit moet wees wat hulle sien wanneer hulle na haar kyk.
Maar gewoonlik kyk hulle natuurlik nie. Hulle draai hul koppe weg.” (Brink, 2002:17) Hierdie uitbeelding van die hoofkarakter het sterk feministiese ondertone soos tereg deur Roodt (2002:5) opgemerk word: “Daar is ‟n sterk onderlaag van fundamentalistiese feminisme”. Karam (2004:184) noem dat feminisme oor die algemeen die teenoorgestelde is van patriargie – of ‟n man-gedomineerde samelewing. Feminisme het hoofsaaklik in die 1960‟s ontstaan en Barry (1995:123) onderskei tussen vier tipes feminisme naamlik: „Cosmo‟ feminisme wat verwys na die sexy beroepsvrou, „liberale‟
feminisme wat afstuur op gelykheid en kapsie maak teen stereotipering, „radikale‟
feminisme wat die ekstreme feminisme behels en „Marxistiese‟ feminisme wat ontstaan het as gevolg van kapitalisme en die klassisteem. Brink steun veral op die liberale en radikale feminisme in Anderkant die stilte. Die ganse roman is deurtrek van die misbruik van mag deur die manlike karakters (kolonialiste) en Hanna wat inderdaad kapsie maak teen hierdie mag en onderdrukking. Verder neig die gebeure in die roman na die ekstreme feminisme, vanaf Hanna wat haarself bewustelik lelik maak (deur haar hare af te sny) sodat mans haar nie begeerlik kan vind nie, tot die wraaktog wat sy onderneem.
71 Hambidge (2002:28) kom ook tot ‟n gevolgtrekking rondom die omstredenheid waarin die roman gehul is en verreken ook bogenoemde kritiek van Dan Roodt: “As kritici só kan lees (en verskil van mekaar) is ‟n boek nie ‟n ronde nul nie. Inteendeel. Dit neem ons inderdaad anderkant die stilte van ‟n droogte binne die letterkundige polemiek”.