Hoofstuk 3: Anderkant die stilte – A. P. Brink
3.6 Migrasie as werkswyse: intertekstualiteit as verplasing
3.6.2 Johanna van Arkel
79 Alhoewel Brink hom grootliks wend tot die Suid-Afrikaanse geskiedenis as interteks in Anderkant die stilte, maak hy ook telkens gebruik van internasionale geskiedenis en geskiedkundige figure om as intertekste aan te wend.
80 vermom as ‟n man en het ook haar hare kort gedra. Die algemeenste rede hiervoor was dat sy nie deur medesoldate as ‟n seksobjek beskou kon word nie en ook om haar te beskerm teen molestering wanneer sy in die veld oornag het. Nadat sy verloën is, het sy daarna teruggekeer om vroueklere te dra, maar nadat sy in die tronk seksueel aangerand is, het sy die dra van mansklere as beskerming hervat. Johanna was ‟n ware heldin in die sin dat sy telkemale tydens aanvalle geweier het om die slagveld te verlaat, ten spyte van die feit dat sy gewond was. Dit is dan ook hierdie heldhaftige optrede wat daartoe gelei het dat sy in 1430 in Compiègne in hegtenis geneem is tydens ‟n aanval waarin sy die eerbare posisie ingeneem het en die laaste een was om die slagveld te verlaat. Johanna se verhoor vir kettery was polities gemotiveerd. Tydens haar verhoor het sy dikwels haar besonderse intellek gedemonstreer. Toe sy per geleentheid gevra is of sy weet of sy in God se genade was, het sy geantwoord: “As ek nie is nie, mag God my daar plaas, en as ek is, mag God my so hou”. Hierdie was ‟n strikvraag aangesien sy haar aan kettery sou skuldig maak as sy „ja‟ sou antwoord, terwyl sy skuld op haar aanklag sou erken indien sy nee sou antwoord. Johanna is skuldig bevind aan kettery en tot dood veroordeel. Op 30 Mei 1431 is Johanna van Arkel op die brandstapel tereggestel. Sy was volgens oorlewering omtrent negentien jaar oud tydens haar verhoor en teregstelling en daar kan dus geraam word dat sy in ongeveer 1412 gebore is. Sy het daarop aangedring dat ‟n kruis voor haar vasgehou word, terwyl sy tereggestel is. Na afloop van die oorlog is Johanna se saak herverhoor. Inkwisiteur Generaal Jean Brehal het in Junie 1456 in sy finale opsomming bevind dat Johanna ‟n martelaar was en die ontslape Pierre Cauchon is van kettery beskuldig omdat hy Johanna veroordeel het. Op 7 Julie 1456 is Johanna onskuldig verklaar deur die hof, en op 16 Mei 1920 is sy deur Pous Benedictus XV as heilige verklaar. (Duby, 1991:288- 297)
Verskeie ooreenkomste word in Anderkant die stilte aangetref tussen Hanna en Johanna. Die eerste ooglopende ooreenkoms kom voor op grond van naamgewing:
Hanna roep ‟n konnotasie op met Jo(hanna). Hierdie ooreenkoms is nie toevallig nie en word aangewend om die leser daarop te wys dat hy hier met ‟n interteks te make het.
Net soos Johanna beweer Hanna ook van ‟n vroeë ouderdom af dat sy stemme hoor:
81 Maar deur die jare hou die stemme aan. Partykeer wonder sy of sy besig is om mal te word. Maar dit kan Hanna nie aanvaar nie. Het sy dan nie self, vantevore, ure lank saam met Trieksie en Spieksie en Fienie deurgebring nie? Sy weet hoe werklik sulke stemme kan wees. (Brink, 2002:73)
Terwyl Johanna ‟n leër aanvoer om koning Karel VII te red van die Engelse magte wat haar land beleër, voer Hanna haar eie leër aan wat bestaan uit uitgeworpenes en gemarginaliseerdes wat op ‟n wraaktog gaan. Hulle trek deur die woestyn waar hulle alle Duitse magte wat op hul pad kom uitwis, alles in ‟n poging om hul finale doel te bereik: om wraak te neem op Hauptmann Böhlke. Hul apokaliptiese trek deur die woestyn en die beskrywing van die groep se nagte onder ‟n sterre-kombers herinner ook sterk aan ‟n gebeurtenis in Johanna se lewe: “Daar is ‟n gebeurtenis in Jeanne se lewe wat haar sonder ophou bekoor. Die reis van Vancouleurs na Chignon, wanneer sy snags ewe onskuldig slaap tussen haar begeleiers […]”. (Brink, 2002:117) ‟n Verdere parallel kan getrek word tussen Hanna en Johanna van Arkel, aangesien Hanna in die roman besluit om haar hare kort af te sny sodat sy nie meer deur mans begeerlik gevind sal word nie en Johanna haar hare kort gedra het om haar te beskerm teen molestering.
In beide gevalle is die dra van kort hare ‟n beskermingsmeganisme. In Inteendeel (1993) gebruik Brink ook Johanna van Arkel om ‟n verband te lê met die karakter Barbier. ‟n Dwingende parallel word geskep soos Kannemeyer (2005:333) uitlig: “Nie alleen is daar ‟n sterk verwantskap tussen hulle lewensverloop en uiteindelike lot nie, maar Jeanne funksioneer naas historiese verwysing as gewete, as hoop en aanspoorder en as prototipe vir Barbier”. Die funksie wat Johanna van Arkel in Inteendeel verrig, kan ook deurgetrek word na die funksie van die gebruik van haar lewe as interteks in Anderkant die stilte. Johanna se lewensverhaal is vir Hanna inspirasie en aansporing vir haar eie lewe en Roodt (2002:5) merk met reg op dat Hanna aan die einde van die boek ‟n soort bevrydingstryd teen die blanke patriargale orde voer as ‟n derdewêreldse Johanna van Arkel. Die uiteindelike ooreenkomste tussen Hanna en Johanna en die stryd wat hulle onderskeidelik voer, word uitstekend deur ‟n stelling van Mitchell (2002:17) beskryf: “Eventually we have Hanna against the
82 German Reich. Hanna against Hauptmann Böhlke. Hanna against the world”. Hanna se oortuiging in haar finale doel word, net soos Johanna se geloof in haar roeping, moontlik belangriker as die oorsprong van hul visioene.