Hoofstuk 2: Teoretiese fundering
2.5 Verlies en migrasie
Die begrip verlies word by hierdie studie betrek om vas te stel hoe verlies in verband gebring kan word met die proses van migrasie. Sodoende kan vasgestel word tot watter mate (indien wel) verlies in die onderskeie romans beleef en hanteer word. Rushdie (1991:12) maak die volgende stelling wat as uitgangspunt vir hierdie argument dien, waarin die verband tussen migrasie en verlies uitgelig word: “It may be argued that the past is a country from which we all have emigrated, that its loss is part of our common
17 Sluit ook aan by die epistemologiese sone 2.3.4.
18 Sien 2.3.5.
19 Sien 2.3.2.2.
60 humanity”. In voorgenoemde stelling word enige individu wat ‟n verlede het, beskou as
‟n migrant, aangesien ons as‟t ware verlies ervaar omdat die verlede vir altyd verlore is.
Hieruit kan afgelei word dat migrasie (hetsy fisies of psigologies) wel verweef is met die kwessie van verlies. Dominick LaCapra (soos aangehaal deur Ester, Van der Merwe en Mulder, 2012:6) onderskei tussen die terme verlies en afwesigheid:
Afwezigheid bevindt zich op het niveau dat de werkelijkheid transcendeert, verlies houdt verband met persoonlijk verlies, met objecten, met geschiedenis.
Wanneer afwezigheid verlies wordt, aldus LaCapra, is het gevolg een zoektocht naar de verloren eenheid. Wanneer verlies afwezigheid wordt, zijn eindelose melancholie en doellose rouw het gevolg. Verlies heeft betrekking op een bijzondere gebeurtenis. Het verleden is de plaats van verliezen en de daarmee samehangende vormen van verlies kunnen verteld worden. Afwezigheid is geen gebeurtenis.
Die vraag ontstaan egter nou of letterlike migrasie altyd met verlies gepaard gaan?
Rushdie (1991:10) bied ook ‟n moontlike antwoord op hierdie vraag wanneer hy die volgende stelling maak: “It may be that writers in my position, exiles or emigrants or expatriates, are haunted by some sense of loss, some urge to reclaim, to look back […]”. (My kursivering) Alhoewel die aanname nie gemaak kan word dat die migrant noodwendig verlies ervaar nie, is my argument dat die migrasieproses meestal met ‟n verlies van een of ander aard gepaard gaan. My argument kan gestaaf word aan die hand van die drie romans wat in hierdie studie ter sprake is. Migrasie as tema figureer duidelik in al drie die romans en al drie die hoofkarakters in die onderskeie romans ervaar wel verskillende vorme van verlies, wat direk met die migrasieproses in verband gebring kan word. Brah (1996:193) redeneer op verhelderende wyse: “The word diaspora often invokes the imagery of traumas of separation and dislocation, and this is certainly a very important aspect of the migratory experience”. In die voorafgaande stelling word melding gemaak van ‟n volgende term wat verklaar moet word tydens die bespreking van verlies, naamlik trauma. Luckhurst (2008:2) verduidelik dat die woord trauma afgelei is van die Griekse woord wat “wond” beteken. Die eerste gebruike van
61 hierdie term het voorgekom in die mediese veld, wanneer daar na fisiese beserings verwys is wat deur eksterne agente veroorsaak is. Die moderne gebruik van die term trauma se klem het egter verskuif vanaf die fisiese na die psigiese, soos vermeld deur Luckhurst (2008:3): “The predominant popular connotations of trauma now circle around metaphors of psychic scars and mental wounds”. Hermans (soos aangehaal deur Ester, Van der Merwe en Mulder, 2012:5) verskaf die definisie van trauma soos bepaal deur die Psigiatriese Vereniging van Amerika: “Een traumatische gebeurtenis is een gebeurtenis waarbij iemand geconfronteerd wordt met de dood, een dreiging van dood, een ernstige verwonding of een bedreiging van de fisieke integriteit van zichzelf of anderen en reageert met intense angst, hulpeloosheid of afschuw.” By nadere ondersoek word daar ook vasgestel dat hierdie term ‟n verband lê tussen herinnering en uiteindelik identiteit: “Aside from myriad physical symptoms, trauma disrupts memory, and therefore identity, in peculiar ways”. (Luckhurst, 2008:1) Die herinnering wat ‟n traumaslagoffer oorhou, kan op sig self traumaties wees. Die ervaring van trauma word deur Van Alphen (1999:25) beskryf as die teenoorgestelde van “ervaring”. Trauma is dus die onvermoë om iets te ervaar. Om hierdie stelling ten volle te verstaan, is dit insiggewend om vas te stel presies wat dit beteken om iets te ervaar. Volgens Van Coller (2005:123) beteken ervaar reeds ‟n mate van distansiëring en om gebeure te ervaar beteken om dit te representeer. Trauma kan dus met ander woorde beskryf word as die onvermoë om jouself van gebeure te distansieer of dit te representeer. Ester, Van der Merwe en Mulder (2012:6) skryf dat Caruth in haar publikasie, Unclaimed experience: trauma narrative, and history, sterk klem lê op die feit dat daar geen eksklusiewe benadering bestaan by die ontleding van traumatiese ervarings nie:
“Traumatische verhalen zijn elk voor zich bijzonder en niet te herleiden tot één schema”.
Trauma kom veral ter sprake in die roman Anderkant die stilte waar die hoofkarakter, Hanna, die slagoffer van verskeie traumatiese gebeure is. Ondersoek kan gevolglik ingestel word oor hoe Hanna die trauma hanteer en (of) uiteindelik verwerk20.
Die filosoof Said (2002:173) se stelling: “True exile is a condition of permanent loss”, kan ook aangehaal word om die argument te versterk dat verlies wel aanwesig is tydens
20 Sien 3.8 vir die bespreking van verlies en verlieshantering in Anderkant die stilte.
62 die proses van migrasie. Indien daar van die argument uitgegaan word dat verlies wel met migrasie gepaard gaan, is die volgende insiggewende aspek wat ondersoek moet word hoe verlies hanteer word. Smith (2004:36) se teorie wat sy na aanleiding van Freud formuleer, kan ook toegepas word. Haar teorie behels dat verlies ‟n afwesigheid of leegheid veroorsaak, wat aanleiding gee tot angs. ‟n Nuwe emosie ontstaan gevolglik hieruit naamlik begeerte. Die begeerte word nou nagestreef om in die plek te staan van dit wat verlore is (‟n tipe van ‟n plaasvervanger). Wanneer hierdie begeerte vervul is, gee dit aanleiding tot ‟n volgende begeerte. Wanneer ‟n persoon die verlies ontken in plaas van om daaroor te rou, kan ‟n drempelfiksasie ontstaan. Marlene van Niekerk in Aucamp (2004:24) sluit by Smith se argument aan wanneer sy twee posisies beskryf van waaruit daar met verlies omgegaan kan word: eerstens vanuit ‟n posisie van woede en tweedens vanuit ‟n posisie van rou. Verder maak Hennie Aucamp (2004:24) die belangrike stelling dat herinneringsliteratuur in Afrikaans van die negentigerjare van die vorige eeu af toenemend ook verliesliteratuur geword het. Marlene van Niekerk, soos aangehaal deur Burger (2004:18), onderskryf Aucamp se gedagte by implikasie as sy die stelling maak dat ons die bestaan van letterkunde te danke het aan verlies en aan die verwerking van verlies:
Die vraag wat wel gestel kan word, is hoe die verlies literêr verwerk word, uit watter psigiese posisie: uit ‟n posisie van woedende of pruilende aanval en/of verweer. Hierby staan en val alles, en wat betref ook die oordeel oor die uiteindelike waarde van literêre werke. Ek dink die rouende posisie het ‟n invloed nie net op die inhoude wat gekies word deur die skrywers nie, maar ook op die vormgewing en taalgebruik.
Bogenoemde stelling wat handel oor die genesende uitwerking wat die skryfproses self het op die skrywer (ook migrant) sluit aan by Van der Merwe (2007:106) se uitlating:
“Die verwerking van trauma hou verband met die hervind van taal, met die herskrywing van die lewensverhaal”. Hieruit kan afgelei word dat die skryfproses self alreeds as ‟n vorm van verlieshantering aangewend kan word. Van der Merwe (2007:159) maak ons egter ook bewus van Phillip John se teenargument vir die skryfproses as ‟n wyse van
63 verlieshantering: “John (2006:159) is skepties oor die entoesiastiese propagering van die wonderwerking van „stories‟, soos hy dit stel en ter stawing vir sy skeptisisme noem hy dat baie skrywers, ondanks die skryf van stories, selfmoord gepleeg het”. Van der Merwe (2007:105) is eerder van mening “[…] dat ‟n bepaalde boek vir ‟n bepaalde leser op ‟n bepaalde tyd ‟n terapeutiese werking kan hê”. Van der Merwe lig dus nie slegs die terapeutiese waarde van die skryfproses vir skrywers uit nie, maar ook die terapeutiese waarde wat letterkunde vir slagoffers van verlies en trauma kan dra.
“Displacement wounds people – this ought not to be forgotten – but it need not be perceived as a condition of terminal loss.” Hierdie stelling van Israel (2000:17) dui daarop dat verlies wel verwerk kan word. Wanneer verlies ervaar word, geskied die verwerking daarvan in fases. Elisabeth Kübler-Ross (1997) identifiseer in haar teorie vyf fases wat ‟n persoon ervaar tydens die verwerking van verlies. Die vyf fases sal op die gekose tekste toegepas en bespreek word. Die eerste fase wat sy identifiseer is die ontkenningsfase. Dit behels dat die slagoffer bewustelik of onbewustelik die realiteit ontken. Ontkenning is ‟n beskermingsmeganisme, maar dit is ook baie moontlik vir ‟n slagoffer om in hierdie fase vasgesluit te word. Dit sluit dan op sy beurt aan by ‟n drempelfiksasie.
Die tweede fase wat die slagoffer ondervind, is ‟n fase van woede. Gedurende hierdie fase ondervind die slagoffer ‟n gevoel van woede. Die woede kan gerig wees op hom- of haarself of selfs mense rondom hulle, veral diegene naaste aan die slagoffer. Die woede is meestal irrasioneel en ongegrond.
Die derde fase tydens die verwerking van verlies behels onderhandeling. Die mate van onderhandeling sal afhang van die tipe verlies wat ondervind word. In die geval van ‟n geliefde se dood sal die slagoffer dikwels met God (of watter hoër krag hy ook al in mag glo) probeer onderhandel. In minder ernstige ervarings van trauma (byvoorbeeld die beëindiging van ‟n verhouding), kan die slagoffer dikwels met die ander party onderhandel (byvoorbeeld: “Kan ons nog vriende wees?”).
64 Depressie is kenmerkend van die vierde fase van verlies. Dit behels ‟n mate van aanvaarding met ‟n emosionele ondertoon. Dit gaan dikwels gepaard met emosies soos angs, verwyte, onsekerheid en hartseer. Wanneer ‟n slagoffer hierdie fase bereik, dui dit op die eerste stap tot aanvaarding.
Aanvaarding is dan die laaste fase by die verwerking van verlies. Die ervaring van hierdie fase sal afhang van die tipe verlies wat die slagoffer ervaar het. Dit behels dikwels emosionele losmaking en objektiwiteit.
Ten slotte maak Rushdie (1991:10) ons ook bewus van die rol van die geheue tydens die verwerking van verlies: “[…] we will not be capable of reclaiming precisely the thing that we lost, that we will, in short, create fictions, not actual cities or villages, but invisible ones, imaginary homelands, Indias of the mind.”