HOOFSTUK 6: GEVOLGTREKKINGS EN AANBEVELINGS
6.3 BEANTWOORDING VAN ALGEMENE NAVORSINGSVRAAG
167
Hoewel SJGD ʼn wye reeks programme by die projekte aanbied, word die holistiese beplanning van hierdie programme (volgens die verteenwoordigers) nie saam met die verteenwoordigers gedoen nie (sien afdeling 5.6). Die verteenwoordiger en die projekleier betrokke by die Sand, See en Skulp projek het aangedui dat die ouers vanuit die gemeenskap hierdie projek ondersteun en meestal aktief betrokke is by die oueraande en opleidingsessies wat deur SJGD aangebied word. Hierteenoor verkry die ander drie projekte, volgens die verteenwoordigers en HK-lede, nie die nodige ondersteuning vanuit die gemeenskap nie.
6.2.3.2 Gevolgtrekking
Die persepsies van die SJGD-lede en die projekverteenwoordigers oor SJGD se kommunikasie bevestig dat die SJGD hulle projekte op baie wyses interaktief probeer ondersteun, veral tydens behoeftebepaling, en grotendeels aan die konsepte van deelname, dialoog en kulturele sensitiwiteit voldoen. Hierteenoor is daar ook sekere terugvoer wat aandui dat die SJGD nog verskeie uitdagings van deelnemende kommunikasie in die gesig staar, aangesien verskeie persepsies van die kommunikasie in terme van die konsepte van bemagtiging tot selfonderhouding en gemeenskapsontwikkeling nie voldoen nie.
168
Die navorser het afgelei dat SJGD-lede poog om doelgerigte deelname tussen hulle en die verteenwoordigers te laat plaasvind, maar hierdie doelwit is tans nog nie ten volle bereik nie, aangesien nie al die verteenwoordigers van die vroeëkinderontwikkelingsprojekte betrokke is tydens die hele ontwikkelingsproses nie (sien afdeling 5.2). Hoewel projekverteenwoordigers aktief deelneem aan behoeftebepaling, neem hierdie verteenwoordigers nie noodwendig aktief deel aan die ander belangrike prosesse (soos byvoorbeeld beplanning) nie.
Die persepsies van die SJGD-lede asook die verteenwoordigers van die vroeëkinder- ontwikkelingsprojekte weerspieël dat deelname tot ʼn groot mate plaasgevind het. Daar was wel ʼn uitsondering (Mmabane Preschool). Verteenwoordigers is nie tans deel van die hele ontwikkelingsproses (soos byvoorbeeld tydens beplanning) nie (sien afdeling 5.2).
Tot ʼn redelike groot mate word reeds aandag gegee aan deelname as sekondêre konsep van deelnemende kommunikasie in die SJGD, veral tydens behoeftebepaling, maar die ideaal is nog nie bereik nie, aangesien die verteenwoordigers tans nie in alle opsigte aktief betrokke is nie.
6.3.2 Dialoog
Soos uiteengesit in hoofstuk 2, beïnvloed Freire se idees aangaande dialogiese kommunikasie as normatiewe teorie van deelnemende kommunikasie tot vandag toe kommunikasie vir sosiale verandering. Mefalopulos en Grenna (2004:27) beklemtoon dat dit nie net die artikulasieproses is wat aandag moet geniet nie, maar dat die luisterproses tydens dialoog ook noodsaaklik is. Dialoog veronderstel ʼn proses waar gedeelde betekenis geskep word en dit geskied deur interpersoonlike en tweerigtingkommunikasie.
Doeltreffende dialogiese kommunikasie is nie bereik tussen die verteenwoordigers van al vier die vroeëkinderontwikkelingsprojekte en SJGD-lede nie. Aandag word tot ʼn redelike groot mate aan dialoog gegee, maar dit vind slegs plaas by sekere projekte en sekere prosesse (soos byvoorbeeld behoeftebepaling) van die hele ontwikkelingsproses. Een van die verteenwoordigers (Mmabane Preschool) het pertinent gevoel dat die HK-lid nie na haar wou luister nie, wat dus beteken dat dialogiese kommunikasie nie plaasgevind het nie.
Die verteenwoordigers van die vroeëkinderontwikkelingsprojekte asook SJGD-lede het bevestig dat hulle saam besluite geneem het, maar nie tydens beplanning nie. Die SJGD- lede en verteenwoordigers het verder beklemtoon dat doelgerigte dialoog soms tussen die SJGD en die verteenwoordigers ontbreek, aangesien projekte se inhoud, lede se persoonlikhede, en doelwitte van projek tot projek verskil.
169 6.3.3 Kulturele sensitiwiteit
Kulturele sensitiwiteit bevorder ʼn deelnemende kommunikasiebenadering tot ʼn gemeenskap se ontwikkeling en skakel verouderde beginsels van modernisme uit (sien afdeling 2.4.3.3).
Deur gemeenskapslede se kultuur te verstaan word verhoudinge versterk en vertroue word tussen partye teweeggebring (Simmons, 2008:12).
Hoewel die verteenwoordigers gemeld het dat die SJGD die projekte ondersteun en nie hulle gemeenskap se kultuur probeer verander het nie, het die navorser tot die gevolgtrekking gekom dat SJGD-lede nie vooraf seker maak wat die kinders en die verteenwoordigers se kultuur en tradisies behels nie. Sekere projekte is uitsonderings, maar daar is geen waarborg dat dit as ʼn verpligte aksie of gesprek gesien word tussen die SJGD en die verteenwoordigers nie (sien afdeling 5.4). Vervolgens bestaan daar nie noodwendig berip die die diversiteit van mekaar se kultuur nie, hoewel die ervaring tog was dat almal se kultuur gerespekteer is.
Kulturele sensitiwiteit is ʼn noodsaaklike konsep vir die ontwikkeling van die gemeens- kapslede of verteenwoordigers en vereis nog baie aandag.
6.3.4 Bemagtiging tot selfonderhouding
Selfonderhouding en bemagtiging van ʼn gemeenskap is wanneer die gemeenskap van sy eie kennis, hulpmiddele en plaaslike mense gebruik maak (Servaes, 1995:43).
Bemagtiging tot selfonderhouding is ʼn noodsaaklike konsep wat deur middel van deelnemende kommunikasie tussen die SJGD en die verteenwoordigers van die vroeë- kinderontwikkelingsprojekte behoort plaas te vind. Hieraan moet die SJGD nog baie aandag skenk. Die SJGD maak tans nie seker dat daar genoeg inheemse kennis en bestaande hulpbronne in projekte aangewend word nie (sien afdeling 5.5). Om tydens behoeftebepaling op die projek se terrein te stap en aan te dui watter hulpbronne reeds beskikbaar is, is nie genoeg om seker te maak dat die SJGD hierdie bronne wel gebruik tydens ontwikkeling nie. Die gemeenskapslede en projekverteenwoordigers moet in staat wees om sonder die SJGD se hulp te kan voortgaan en as hulle nie voorstelle doen tydens ontwikkeling nie, kan volhoubare ontwikkeling en selfbestuur nie geskied nie.
Daar is vroeëkinderontwikkelingsprojekte wat bemagtig word tot selfonderhouding, maar daar is ook projekte wat nie sonder die SJGD se (veral finansiële) ondersteuning selfstandig met die programme en aktiwiteite kan voortgaan nie.
170 6.3.5 Gemeenskapsontwikkeling
Gemeenskapsontwikkeling is afkomstig van die plaaslike gemeenskap (sien afdeling 2.4.3.5). Daarom moet ontwikkeling nie deur eksterne invloede tot stand gebring word nie (Frank & Smith, 1999:79). Ontwikkeling in ʼn gemeenskap is onmoontlik sonder doeltreffende deelnemende kommunikasie.
Die terugvoer wat verkry is vanaf die SJGD-lede, het aangedui dat die SJGD sy gemeenskap wil bemagtig en hulle pas programme toe wat holisties van aard en tot voordeel van die verteenwoordigers en die gemeenskap is. Die verteenwoordigers het gemeld dat hulle die SJGD se ondersteuning en bydraes opreg waardeer, maar in sommige gevalle (Sand, See en Skulp en Jesus Loves You Ministries) sal die projek nie kan voortgaan sonder die SJGD se befondsing en programondersteuning wat tans gebied word nie (sien afdeling 5.6).
Die SJGD poog om gemeenskapsontwikkeling teweeg te bring, maar uit die bevindinge in afdeling 5.6 is dit tans nie die geval by al die vroeëkinderontwikkelingsprojekte nie, aangesien die SJGD nie seker maak dat deelnemende kommunikasie en deelname tussen SJGD-lede en die verteenwoordigers tydens die hele ontwikkeling plaasvind nie.
Gemeenskapsontwikkeling kan slegs geskied indien die SJGD die verteenwoordigers van hulle projekte oor ʼn sekere tydperk ondersteun en die verteenwoordigers in staat stel om in die vervolg met die programme by hulle projekte aan te gaan sonder die SJGD se hulp. Dit is tans nie die geval nie.
6.3.6 Algemene gevolgtrekking
Die kommunikasie tans tussen SJGD-lede en die verteenwoordigers van die vroeëkinder- ontwikkelingsprojekte is nie heeltemal deelnemend van aard nie. Aandag word wel in ʼn mate aan verskeie sekondêre konsepte van deelnemende kommunikasie gegee, maar nie tydens die hele ontwikkelingsproses nie en ook nie by al die projekte nie. Die SJGD poog om die gemeenskapslede te bemagtig op lang termyn, maar sonder die konsep van deelnemende kommunikasie kan hierdie doel nie bereik word nie. Die volgende afdeling bied aanbevelings en riglyne vir die SJGD aan om deelnemende kommunikasie in die toekoms by hulle projekte toe te pas, sodat die gemeenskap betrokke kan wees by sy eie ontwikkeling.
171