HOOFSTUK 5: ANALISE EN INTERPRETASIE VAN BEVINDINGE 101
5.3 DIALOOG
5.3.1 Gedeelde betekenis
Die hoofdoel van dialoog is om betekenis tussen die betrokke partye – die SJGD en die verteenwoordigers – te skep en te handhaaf. Die betekenisse van woorde en boodskappe kan in sommige situasies verkeerd geïnterpreteer word indien gedeelde betekenis nie tussen partye plaasvind nie (Rahim, 1994:121). Betekenis wat gedeel word, as kommunikasieproses, gaan daaroor dat SJGD-lede en die verteenwoordigers van hulle projekte betekenis met mekaar moet deel en mekaar moet verstaan oor behoeftes waaraan aandag gegee behoort te word, aktiwiteite wat toegepas kan word by hierdie projekte asook die wyses waarop dit gedoen kan word. Hoewel hierdie betekenis tussen partye uiters belangrik is, het die navorser bevind dat sowel die grondwet van die studenteraad as die grondwet van die SJGD geen inligting insluit wat aandui dat die SJGD en die verteenwoordigers van die projekte moet ooreenstem oor behoeftes en doelwitte van die projekte nie (Noordwes-Universiteit: Studenteraad, 2010a:1-28; SJGD, 2010a:1-35). Hierdie grondwette verwys nie na die nodige konstrukte van deelnemende kommunikasie (in dié geval gedeelde betekenis) nie.
Die SJGD se vorm vir die evaluering van die skakelpersoon sluit vrae in oor die samewerking en skakeling van die SJGD met die verteenwoordigers tydens aksies van projekte. Uit die terugvoer op hierdie vrae het die verteenwoordigers van Jesus Loves You Ministries, Veilige Nessie-kleuterskool en Sand, See en Skulp aangedui dat hulle en die SJGD mekaar verstaan het en dat hulle ʼn goeie kommunikasieverhouding gehad het. Hieruit word afgelei dat gedeelde betekenis tussen die SJGD en die verteenwoordigers gehandhaaf is, aangesien hierdie lede mekaar verstaan het en saamgestem het oor behoeftes en aktiwiteite. In sommige situasies kan die betekenisse van woorde en boodskappe verkeerd verstaan word (Rahim, 1994:121). Daarom speel die konteks van kommunikasie, die bewustheid van die kultuur van die verteenwoordigers en die kommunikeerder se persepsies van die wêreld ʼn belangrike rol in die waarde en betekenisskepping van boodskappe wat oorgedra word (Rahim, 1994:121). Indien die konteks van kommunikasie nie ooreenstem tussen die partye is nie kan boodskappe verkeerd oorgedra word, soos in die geval van die projek van Wanda Dameskoshuis. Die huiskomiteelid van Wanda Dameskoshuis en die verteenwoordiger van Mmabane Preschool het nie ʼn goeie kommunikasieverhouding gehad nie, aangesien die verteenwoordiger keer op keer aangedui het dat sy en die huiskomiteelid kommunikasieprobleme (kommunikasie is as 'gemiddeld' bestempel) ervaar het. Die verteenwoordiger het gevoel dat die huiskomiteelid nie na haar wou luister nie en gedeelde betekenis kan juis nie geskep word as mense nie na mekaar luister nie.
Die sosio-ekonomiese opleidingsgids toon aan dat goeie verhoudinge met die verteenwoordigers van die SJGD-projekte geskep moet word (Weyers & Herbst, 2010:20).
124
Daar word nêrens spesifiek verwys na die belangrikheid van gedeelde betekenis tussen die SJGD-lid en die verteenwoordiger van die betrokke projek nie, maar daar word wel aangedui dat die albei belangegroepe saam behoeftebepaling moet doen en ʼn ''aangename'' verhouding behoort te hê (ibid.). Indien SJGD-lede en die verteenwoordigers van die vroeëkinderontwikkelingsprojekte mekaar verstaan ten opsigte van die behoeftes waaraan aandag gegee moet word, kan ʼn goeie kommunikasieverhouding en -proses gehandhaaf word.
Die oordragsverslae van die huiskomiteelede wat betrokke is by Jesus Loves You Ministries en Veilige Nessie-kleuterskool asook die projekleier van Sand, See en Skulp, dui aan dat daar goeie kommunikasie tussen hulle en die verteenwoordigers van hierdie vroeëkinderontwikkelingsprojekte was (Naudé, 2011b:1-31; Saunders, 2011b:1-10; Van der Merwe, 2011b:1-12). Gedeelde betekenis het egter nie voorgekom tussen die huiskomiteelid van Wanda Dameskoshuis en die verteenwoordiger van Mmabane Preschool nie, aangesien beloftes (byvoorbeeld die aanbou van ʼn nuwe kombuis) wat deur die huiskomiteelid gemaak is, nie nagekom kon word nie (Van Vuuren, 2011b:1-23). Dialoog in die vorm van gedeelde betekenis was nie doeltreffend toegepas tussen hierdie verteenwoordiger en die huiskomiteelid nie. Dialoog moet deur albei partye aangewend word sodat insig (en konsensus) vanaf die deelnemers aan kommunikasie verkry word, oor hulle behoeftes waaraan byvoorbeeld aandag gegee behoort te word (Rahim, 1994:122, 130).
Die notule van die bosberaad van die uitvoerende komitee van die SJGD se termyn van 2010-'11 dui aan dat behoeftes wat deur huiskomiteelede of projekleiers uitgewys word, met die verteenwoordigers bespreek behoort te word en ook met laasgenoemde se voorafbepaalde behoeftebepaling vergelyk moet word (Noordwes-Universiteit: SJGD, 2011h:1-5). Hierdie vergadering beklemtoon verder dat die SJGD moet probeer om deur ʼn ''deelnemende gesindheid'' te fokus op die bemagtiging van die gemeenskap (ibid.). Dialoog en betekenisvorming tussen die SJGD en die verteenwoordigers van die vroeëkinderontwikkelingsprojekte dien as beginsels van deelnemende kommunikasie en sorg dat projekte doelgerig aangepak word.
Uit die terugvoer van die onderhoude bevestig die lede van die uitvoerende komitee van die SJGD dat die huiskomiteelede en die projekleiers saam met die verteenwoordigers ʼn gesamentlike behoeftebepaling moet opstel (Labuschagne, 2011a; Stidworthy, 2011a). ''So dus het alle partye ʼn sê daarin en kom dit nie net van een kant af, byvoorbeeld ʼn HK-lid wat net sy [eie] behoeftes raaksien, nie'' (Labuschagne, 2011a). Dialoog kan meebring dat konsensus moontlik tussen albei partye bereik word om aan die regte behoeftes aandag te gee, sodat verandering vir ontwikkeling kan plaasvind. Volgens Van der Merwe (2011a) kan
125
die maatskaplike werkster nie alleen die behoeftes volledig en ingelig deurgee nie. Daarom het hulle (huiskomiteelid en maatskaplike werkster) saam met die verteenwoordiger besluit oor die behoeftes waaraan aandag gegee moet word.
Van Vuuren (2011a) verduidelik: ''Ek en Tannie Lenie het na die skooltjie gegaan om saam met die skakelpersoon te besluit oor wat werklike behoeftes is''. Die verteenwoordiger van Jesus Loves You Ministries het verder verduidelik: ''Ek het saam met die vrou van die PUK en Luzanne gesit en praat en van onse kant gesê wat is onse behoefte hier by die kerk se nasorgsentrum''. Die verteenwoordigers van Sand, See en Skulp en Mmabane Preschool het ook saam met die projekleiers en die huiskomiteelede gesels oor die behoeftes waaraan gedurende die nuwe termyn aandag gegee moet word. Die terugvoer oor die verteenwoordigers se deelname aan die besluite oor behoeftes word nie net deur die SJGD- lede bevestig nie, maar ook deur die verteenwoordigers. Die SJGD probeer om te verseker dat gedeelde betekenis tussen sy lede en die verteenwoordigers geskep word en indien dit wel gebeur, behoort albei partye ooreen te stem met die boodskappe wat oorgedra word en só ʼn goeie kommunikasieverhouding bevorder.
Deur die deelnemer-waarnemernavorsing is bevind dat gedeelde betekenis tussen die SJGD-lede en die verteenwoordigers van die vier vroeëkinderontwikkelingsprojekte tydens die besluitneming van die behoeftebepaling voorkom. Dit was ʼn gesamentlike besluit oor die behoeftes waaraan aandag gegee moet word. Hoewel die verteenwoordiger van Mmabane Preschool saam met SJGD-lede besluit het oor behoeftes, het sy meestal net op die fisiese behoeftes (byvoorbeeld die kombuis) gefokus. Die maatskaplike werkster (Kotzé) het gereeld (tydens die behoeftebepaling) aan haar duidelik gemaak dat die SJGD nie net kan fokus op fisiese behoeftes nie, maar dat die kinders se emosionele en psigiese behoeftes ook aandag behoort te kry. Hierdie insident is weereens ʼn voorbeeld daarvan dat die konteks waarin kommunikasie voorkom ʼn baie belangrike rol speel wanneer boodskappe tussen partye oorgedra word. Die SJGD se projekte verskil en daarom moet die SJGD in die toekoms seker maak dat gedeelde betekenis (oor verwagtinge of behoeftes waaraan aandag gegee moet word) tussen SJGD-lede en al die verteenwoordigers voorkom.
Uit die navorser se bevindinge (semigestruktureerde onderhoude asook terugvoer tydens die evalueringsonderhoud van die verteenwoordiger) word aangedui dat gedeelde betekenis, oor die behoeftes waaraan aandag gegee moet word, deur die verteenwoordigers van Sand, See en Skulp, Veilige Nessie-kleuterskool en Jesus Loves You Ministries ervaar is. Hoewel die verteenwoordiger van Mmabane Preschool deelgeneem het aan die behoeftebepaling, het sy nie saamgestem met al die behoeftes wat uitgewys is nie. Gedeelde betekenis kan
126
slegs geskep en gehandhaaf word deur doeltreffende tweerigtingkommunikasie wat tussen die SJGD en die verteenwoordigers moet geskied.