HOOFSTUK 5: ANALISE EN INTERPRETASIE VAN BEVINDINGE 101
5.3 DIALOOG
5.3.4 Interpersoonlike kommunikasie
131
het gevoel dat die huiskomiteelid nie na haar luister nie en het daarom gefrustreerd geraak met die langdradige proses van fisiese verbetering vir Mmabane Preschool. Volgens Mefalopulos en Grenna (2004:27) is sowel luister as artikulasie tydens dialoog belangrik.
Gemeenskapsontwikkeling kan nie ontstaan indien albei groepe (die SJGD en die verteenwoordigers) nie werklik na mekaar luister nie. Tweerigtingkommunikasie verg ʼn dialoog tussen die SJGD en die verteenwoordigers waar hulle na mekaar luister om mekaar te verstaan sodat ontwikkeling kan plaasvind.
Tweerigtingkommunikasie tussen die SJGD en die verteenwoordigers van die vroeëkinderontwikkelingsprojekte behoort nog baie aandag te geniet, maar hierdie proses is moeilik aangesien projekte se inhoud verskil en die persoonlikhede van die huiskomiteelede of die projekleiers (wat met verteenwoordigers moet kommunikeer) verskil.
Tweerigtingkommunikasie bied die geleentheid tot kommunikasie tussen beide partye. Die standpunte en insette van sowel die SJGD as die verteenwoordigers van die vroeëkinderontwikkelingsprojekte is ewe belangrik. In die geval van Mmabane Preschool behoort die SJGD nog baie aandag te gee aan hierdie tweerigtingkommunikasie, om respek vir mekaar te bevorder. Die huiskomiteelid betrokke by Veilige Nessie-kleuterskool het geen probleme met al twee haar verteenwoordigers gehad nie, aangesien daar wedersydse respek gehandhaaf was en haar verteenwoordigers was gereeld ingelig deur interpersoonlike gesprekke. Interpersoonlike kommunikasie sal vervolgens bespreek word.
132
interpersoonlike kommunikasie kan bydra tot die skep van vertrouensverhoudinge, asook tot die volhoubaarheid van die SJGD-programme.
Uit die vorm vir die evaluering van die skakelpersoon blyk dit dat die projekverteen- woordigers van Sand, See en Skulp, Jesus Loves You Ministries en Veilige Nessie- kleuterskool goeie interpersoonlike kommunikasie met die betrokke SJGD-lid gehad het. Die verteenwoordiger van Mmabane Preschool was egter nie tevrede met die kommunikasieproses tussen haar en die huiskomiteelid nie, aangesien daar baie kommunikasieprobleme aan die begin van die termyn opgeduik het. Indien hierdie huiskomiteelid meer interpersoonlike kommunikasie met die verteenwoordiger gehad het, sou verskeie kommunikasieprobleme en misverstande moontlik voorkom en oorkom kon word.
Die sosio-ekonomiese opleidingsgids dui aan dat SJGD-lede ''warm en persoonlik'' moet wees tydens hulle optrede met die verteenwoordigers van die verskeie projekte van die SJGD (Weyers & Herbst, 2010:20). Die SJGD word aangemoedig om interpersoonlike kommunikasie met die projekverteenwoordigers toe te pas.
In die oordragsverslag van die huiskomiteelid van Huis Republiek Dameskoshuis word gereeld aangedui dat daar doeltreffende interpersoonlike kommunikasie tussen haar en die verteenwoordiger van Jesus Loves You Ministries plaasgevind het (Van der Merwe, 2011b:1- 12). Dit word veronderstel uit die oordragsverslae van die huiskomiteelid wat betrokke is by Veilige Nessie-kleuterskool en die projekleier van Sand, See en Skulp, dat goeie interpersoonlike kommunikasie met die verteenwoordigers plaasgevind het (Naudé, 2011b:1- 31; Saunders, 2011b:1-10). Die navorser het afgelei dat doeltreffende interpersoonlike kommunikasie tussen die huiskomiteelid van Wanda Dameskoshuis en die verteenwoordiger van Mmabane Preschool ontbreek het, as gevolg van die taalverskil en ʼn swak luisterproses (Van Vuuren, 2011b:1-23). Die SJGD wend tans nie genoeg pogings aan om seker te maak dat interpersoonlike kommunikasie tussen al die verteenwoordigers en projekleiers of huiskomiteelede geskied nie. Sonder interpersoonlike kommunikasie kan misverstande voorkom en kan gebrekkige kommunikasie dus ontstaan.
Die vergaderingsnotules (2010/2011) van die adviesraad en uitvoerende komitee wat ondersoek is, beklemtoon veral dat interpersoonlike kommunikasie binne die SJGD tydens aksies, funksies en vergaderings plaasvind. Die notule van die bosberaad wat bestudeer is, maak die SJGD se eksterne interpersoonlike kommunikasieproses met die verteenwoordigers duidelik en dui aan dat behoeftes wat deur SJGD-lede uitgewys word met die verteenwoordigers bespreek behoort te word, maar hierdie notule dui nie aan hoe dit gedoen moet word nie (Noordwes-Universiteit: SJGD, 2011h:1-5). Interpersoonlike
133
kommunikasie is nie net belangrik tydens behoeftebepaling nie, maar indien dit deur die algehele ontwikkeling aangewend word behoort die SJGD en die verteenwoordigers mekaar te verstaan en wedersydse respek teenoor mekaar toon.
Soos reeds genoem, blyk uit die terugvoer van die semigestruktureerde onderhoude dat die kommunikasieproses hoofsaaklik tussen die verteenwoordiger van die projek en die huiskomiteelid of die projekleier plaasvind (Kotzé, 2011; Labuschagne, 2011a; Stidworthy, 2011a). Volgens Herbst (2011) is daar verskeie kommunikasiegeleenthede wat SJGD-lede met die verteenwoordigers het. Die skakeltoer aan die begin van die jaar met die eerstejaarstudente, stel studente bekend aan die verteenwoordiger by elke projek en die huiskomiteelede het ook interaksie met die verteenwoordigers van hulle projekte tydens die ete vir skakelpersone wat jaarliks gehou word (Herbst, 2011). Van Vuuren (2011a) verduidelik dat sy ''persoonlik'' en telefonies met haar verteenwoordiger geskakel het.
Hierteenoor verduidelik die verteenwoordiger van Mmabane Preschool dat die kommunikasie soms so swak was dat niemand haar ná die aksie persoonlik kom groet het nie. ''Ek het hulle net sien wegry in die karre na die aksie''. Die konteks van die genoemde kommunikasie verskil volgens die huiskomiteelid en hierdie verteenwoordiger. Indien interpersoonlike kommunikasie doeltreffend plaasgevind het, sou hierdie kommunikasieprobleme moontlik vermy kon word. Saunders (2011a) verduidelik hierteenoor: ''Ek het interpersoonlike en telefoniese kontak op ʼn gereelde basis met my skakelpersoon gehad''. Van der Merwe (2011a) redeneer dat haar verteenwoordiger by die meeste aksies betrokke was waar sy ''self met haar gekommunikeer'' het.
Die navorser as deelnemer-waarnemer het bevind dat die uitvoerende komitee van die SJGD, tydens die skakeltoere (aan die begin van die termyn) en tydens die evaluerings- onderhoud van die skakelpersoon (aan die einde van die termyn), deur middel van interpersoonlike kommunikasie met die verteenwoordigers van die vier vroeëkinder- ontwikkelingsprojekte gekommunikeer het. In teenstelling met die terugvoer van die semigestruktureerde onderhoude was daar geen ete vir skakelpersone gedurende die termyn van 2010-'11 nie. Die adviesraadslid van die SJGD en maatskaplike werkster (Kotzé) het wel interpersoonlik gekommunikeer met die verteenwoordigers van die vroeëkinderontwikkelingsprojekte tydens behoeftebepaling.
Die navorser het ook waargeneem dat die konsultant, Deon Kondos, tydens sy besoeke interpersoonlike gesprekke met die verteenwoordiger van Jesus Loves You Ministries gevoer het. Die huiskomiteelede betrokke by Veilige Nessie-kleuterskool en Jesus Loves You Ministries, asook die projekleier van Sand, See en Skulp, het gereeld tydens die aksies en behoeftebepaling gebruik gemaak van interpersoonlike kommunikasie met die
134
verteenwoordigers. Hierdie SJGD-lede het tydens die aksies persoonlike gesprekke met die verteenwoordigers aangeknoop om reëlings deur te gee en terugvoer van hierdie aksies te bespreek. Die navorser het bevind dat interpersoonlike kommunikasie tussen die verteenwoordiger van Mmabane Preschool en die huiskomiteelid plaasgevind het, maar dat misverstande tog voorgekom het. Daar is waargeneem dat die taalverskil grootliks die oorsaak van misverstande tussen die huiskomiteelid en die verteenwoordiger was.