• Tidak ada hasil yang ditemukan

HOOFSTUK 4: NAVORSINGSBENADERING EN –METODES

4.2 KWALITATIEWE NAVORSINGSBENADERING

Die ontwikkeling van kwalitatiewe navorsing as ʼn bepaalde metodologiese raamwerk is beïnvloed deur ʼn verskeidenheid van dissiplines, soos byvoorbeeld geskiedenis, mediese wetenskappe en kommunikasie asook subdissiplines van maatskaplike-, gesondheids- en gedragswetenskappe (Lockyer, 2008:706).

Kwalitatiewe navorsingsmetodes is tydens die empiriese deel van hierdie studie gebruik en daarom is dit belangrik om aan te dui hoekom die kwalitiatiewe navorsingsbenadering se kenmerke relevant vir hierdie studie is. ʼn Kwalitatiewe benadering tot kommunikasie- navorsing word beskryf as ʼn navorsingstrategie waarvan die hooffokus op ʼn oop benadering tot navorsing behels (Bryman, 2006:111). Kwalitatiewe navorsing lewer gereeld onverwagte resultate op, veronderstel voortdurend veranderings in die navorsingsrigting en vind en konseptualiseer gewoonlik nuwe begrippe van kwalitatiewe aspekte wat tydens ondersoek na vore kom (Du Plooy, 2009:30; Struwig & Stead, 2001:4-20; Bryman, 2006:111). Die kwalitatiewe navorsingsbenadering word veral gebruik om menslike gedrag en die ervarings van individue, groepe, gemeenskappe, organisasies of boodskappe te ondersoek (Du Plooy, 2009:88-89; Lockyer, 2008:706). Dit is dus gepas om hierdie navorsingsbenadering in die huidige navorsingstudie te volg, aangesien menslike gedrag en ervarings omtrent die aard van kommunikasie tussen verteenwoordigers van die vroeëkinderontwikkelingsprojekte en die SJGD ondersoek is.

68

In kontras met die kwantitatiewe navorsingsbenadering wat ten doel stel om bevindinge te veralgemeen en statistiese resultate op te lewer, fokus kwalitatiewe navorsing op die eienskappe van ʼn enkele geval en het die doel om indringend ondersoek daaroor in te stel (Jansen van Rensburg, 2007:97; Geisen, 2008:36; Hesse-Biber & Leavy, 2011:3-4). Die kwalitatiewe navorsingsbenadering gee betekenis aan komplekse situasies deur ingesamelde inligting interpretatief te ontleed en nie bloot te beskryf of te verklaar nie (Taylor, 2007:18; Geisen, 2008:37). Kwalitatiewe navorsers verkry betekenis vanuit situasies deur die geheel van elke situasie interpretatief te bestudeer en dan weer te gee in besprekings van wat waargeneem en bevind is. Kwalitatiewe navorsers glo met ander woorde dat die realiteit holisties is en nie onderverdeel kan word of uit onafhanklike dele bestaan nie (Greenhalgh & Taylor, 1997:1; Jonker, 2001:135; Hesse-Bieber & Leavy, 2011:3).

Daarom is die voordeel van kwalitatiewe navorsing dat die navorser die aard van kommunikasie tans binne die SJGD se vroeëkinderontwikkelingsprojekte deeglik kan ondersoek. Die hooffokus van die kwalitatiewe benadering is op betekenis, taal en kulturele ervarings binne sosiale kontekste (Du Plooy, 2009:33-34; Struwig & Stead, 2001:4-20;

Jansen van Rensburg, 2007:96). Hierdie eienskappe was relevant vir die betrokke studie, aangesien daar gepoog is om om mense se ervarings van die kommunikasieproses binne hulle eie konteks te begryp, asook om te bepaal watter betekenis daar aan kommuniksie geheg is.

Daar is sekere belangrike kenmerke van kwalitatiewe navorsing afgelei vir hierdie studie (Struwig & Stead, 2001:12-13; Wimmer & Dominick, 2011:116-17):

 die navorser interpreteer kwalitatiewe inligting wat uit die deelnemer se perspektief beskou word, hetsy deur die navorser wat as deelnemer betrokke is by die navorsing of die verteenwoordigers wat as deelnemers tydens die semigestruktureerde onderhoude kwalitatiewe inligting aan die navorser weergee;

 ʼn deeglike beskrywing van die betrokke sosiale konteks word verskaf in die ondersoek oor die bepaalde problematiek (kontekstualisasie oor die aard van kommunikasie in die SJGD vind plaas deur die gebruik van verskeie navorsingsmetodes);

 dit is belangrik om veranderinge en prosesse en hulle funksie in die SJGD se interne funksionering te verstaan;

 die rol en die posisie van die navorser is belangrik, want sonder die aktiewe deelname van die kwalitatiewe navorser sou geen inligting oor die aard van kommunikasie binne die SJGD beskikbaar gewees het nie. Die benadering veronderstel daarom dat die navorser nie objektief en verwyderd van die navorsing kan staan nie;

69

 die ontwerp van die navorsing ontwikkel gedurende die navorsingsproses en kan gedurende die proses verander en aangepas word. Die kwalitatiewe navorsingsmetode is induktief van aard, aangesien die navorser se navorsing begin het met waarnemings en eindig met interpretasies van wat waargeneem is;

 kwalitatiewe navorsers probeer nie om eksterne veranderlikes te beheer nie, maar eerder om die normale vloei van sake in die natuurlike omgewing waar te neem en te probeer verstaan — die navorser het verskeie SJGD-vergaderings bygewoon en ook gereeld projekte besoek om situasies op ʼn natuurlike wyse te kon waarneem en in sommige gevalle te kon deelneem daaraan. Soos aangedui, kan die navorsing nooit werklik objektief wees nie; en

 die navorser is die instrument en geen ander persoon kan vir die navorser instaan nie

— die navorser was die enigste instrument om inligting oor die aard van kommunikasie binne die SJGD te kon insamel.

ʼn Kwalitatiewe navorsingsbenadering het ook algemene prosedures in analise wat tydens hierdie studie deur die navorser uitgevoer is (Creswell & Plano Clark, 2007:129):

 inligting van dokumente word ondersoek — die navorser het die inligting ontleed en waarnemings daaruit gemaak;

 voorbereiding van inligting vir analise — relevante dokumente is deur die navorser gekies om die aard van die SJGD se kommunikasie te ondersoek;

 analisering van inligting — analises is gedoen deur inligting volgens temas (konsepte en konstrukte) in te deel;

 aanbieding van analise — bevindinge is bespreek volgens konsepte en konstrukte; en

 die geldigheid van inligting — die navorser het strategieë gebruik (byvoorbeeld deur die gebruik van verskeie navorsingsmetodes) om die geldigheid van resultate te verseker.

Die kwalitatiewe benadering gebruik metodes soos byvoorbeeld gevallestudies asook deurtastende analises om sekere situasies te verstaan (Geisen, 2008:36). Kwalitatiewe navorsingsmetodes sluit onder andere deelnemer-waarnemerverslaggewing, semigestruk- tureerde onderhoude en kwalitatiewe inhoudsanalise in (Du Plooy, 2009:88-90). Volgens Greenhalgh en Taylor (1997:2) asook Du Plooy (2009:40) behels ʼn kwalitatiewe navorsingstudie die gebruik van meer as een navorsingsmetode en verskeie bronne.

Tydens hierdie studie het die navorser verskillende navorsingsmetodes gebruik om dieselfde navorsingsvraag te beantwoord om ʼn vollediger en deeglike begrip van die aard van kommunikasie binne die SJGD se vroeëkinderontwikkelingsprojekte te verkry.

70

4.2.1 Redes vir die gebruik van hierdie navorsingsbenadering

Die navorser maak gebruik van die kwalitatiewe navorsingsbenadering, aangesien verskillende kontekste ʼn rol speel in die menslike gedrag van die betrokkenes (Du Plooy, 2009:88-89; Struwig & Stead, 2001:4-20). Die gedrag van SJGD-lede en die betrokke projekverteenwoordigers in verskillende kontekste kan dus deur die navorser ondersoek word. Die navorser kan oor die nodige vaardighede beskik om situasies te kan beskryf soos wat dit waargeneem word (Struwig & Stead, 2001:4-20). Kwalitatiewe navorsing maak dit veral vir die navorser moontlik om menslike gedrag te ondersoek en die interpretasies wat gemaak word in teksvorm weer te gee.

Die navorsingsvraag in hierdie studie is ondersoekend (oor die aard van kommunikasie in die SJGD) asook interpreterend van aard. Kwalitatiewe navorsing word gebruik wanneer daar weinig inligting beskikbaar is oor bepaalde tema en die literatuur daaroor boonop ook beperk is (Struwig & Stead, 2001:4-20).

Daar is tans min inligting oor SJGD se funksionering en daarom is literatuur rakende hierdie studie betreklik min. Die kwalitatiewe navorsingsbenadering is daarom ideaal vir hierdie studie, omdat daar ondersoekend te werk gegaan moes word om meer inligting oor die SJGD se funksionering en die aard van sy kommunikasie te verkry. Die kwalitatiewe benadering is verder gepas vir hierdie studie, aangesien die navorser resultate oor die aard van kommunikasie binne die SJGD se vroeëkinderontwikkelingsprojekte kan interpreteer deur middel van die waarnemings en semigestruktureerde onderhoude wat deur haar gedoen is. Kwalitatiewe navorsing word juis ook gebruik wanneer die navorser deur goeie menseverhoudinge asook interaksie oor ʼn lang tydperk deelneem aan die studie en wanneer die navorser se behoefte aan struktuur ook laag is (Struwig & Stead, 2001:4-20).

Hierdie navorsingsbenadering was daarom gepas vir huidige doeleindes, aangesien die navorser deur interaksie, menseverhoudinge kon bou met die SJGD-lede asook die verteenwoordigers van betrokke projekte. Die navorser se behoefte aan struktuur was laag tydens hierdie studie, omdat die navorser die soveel moontlike inligting vanaf die verteenwoordigers wou ontvang. Die buigsaamheid van die kwalitatiewe navorsingsmetode (byvoorbeeld tydens semigestruktureerde onderhoude), het dit moontlik gemaak dat vrae tydens die onderhoude aangepas kon word sodat die respondente die vrae beter kon verstaan (Strydom, 2011:327; Wimmer & Dominick, 2011:118). Die navorser kon daarom tydens die semigestruktureerde onderhoude (met die verteenwoordigers en SJGD-lede) opvolg vrae vra, aangesien die studie se struktuur laag was en aangesien die navorsingsmetode buigbaar was.

71

Die navorsingsprosedure en -metodes wat in hierdie studie gebruik is, word volgende bespreek.