HOOFSTUK 5: ANALISE EN INTERPRETASIE VAN BEVINDINGE 101
5.2 DEELNAME
5.2.1 Interaksie met individue
Die beginsel van interaktiewe betrokkenheid van gemeenskapslede is in alle aspekte van gemeenskapsontwikkeling belangrik, sodat bemagtiging van hierdie gemeenskappe kan plaasvind (Reid, 2000:1-4). Interaksie met individue beteken dat persone op ʼn deelnemende wyse met mekaar kommunikeer asook op ʼn interaktiewe manier aan prosesse of aktiwiteite deelneem.
Verskeie dokumente en notas van die SJGD is ondersoek om te bepaal of daar tans enige verwysings bestaan oor die proses van deelname tussen die SJGD en die
102
verteenwoordigers van die vroeëkinderontwikkelingsprojekte. Die eerste stap in hierdie analise was om die grondwet van die studenteraad (2010) te bestudeer. Hierdie grondwet beklemtoon dat die studenteraad se algemene funksionering bestaan uit deelname en interaksie met NWU-Pukke se kampusbestuurslede, studenteliggame en skakeling met ander akademiese instellings vir hoër onderwys (Noordwes-Universiteit: Studenteraad, 2010a:1-2). Die grondwet van die studenteraad dui slegs die rol en funksie van die studenteraadslede, onder meer die rol van die SJGD se voorsitter, aan (Noordwes- Universiteit: Studenteraad, 2010a:9). Hierdie dokument dui nie aan dat interaktiewe deelname tussen NWU-studente en die verteenwoordigers of gemeenskapslede belangrik is om aan die nodige behoeftes in die gemeenskap aandag te gee nie.
Die grondwet van die studenteraad dui wel aan dat dit die SJGD-voorsitter se verantwoordelikheid is om toe te sien dat die SJGD betrekkinge bevorder met verskeie komiteelede van die SJGD en sy betrokke gemeenskappe. Die SJGD-voorsitter moet toesien dat die SJGD ook goeie betrekkinge bevorder met staatsdepartemente en ander organisasies wat betrokke is by maatskaplike hulpverlening aan sy betrokke gemeenskappe.
Daar word egter nie spesifiek verwys na goeie betrekkinge of skakeling met die verteenwoordigers van die SJGD se projekte nie (Noordwes-Universiteit: Studenteraad, 2010a:9).
Soos bo genoem, word hierdie belangrike proses waarby verteenwoordigers betrek kan word om hulle projekte self te bestuur en te onderhou, nie aangedui in die grondwet van die studenteraad of in die grondwet van die SJGD nie.
Die jaarlikse evaluering van die verteenwoordigers van die SJGD kan gesien word as eksterne interaksie met die verteenwoordigers van die SJGD se projekte, hoewel dit nie in die grondwet van die SJGD genoem word nie. Indien die interaksie tussen SJGD-lede en die verteenwoordigers in die SJGD grondwet gemeld word, behoort SJGD-lede in staat gestel te word om interaktiewe geleenthede met die verteenwoordigers te skep om die gemeenskap (waarmee hulle moet werk) te kan verstaan.
Die vorm vir die evaluering van die skakelpersoon wat bestudeer is, sluit vrae in oor die besoeke van die komitee by die projekte en skakeling van die SJGD-lid met die verteen- woordigers (Noordwes-Universiteit: SJGD, 2011b:1-2). Tydens die evalueringsonderhoud van die skakelpersoon besoek lede van die uitvoerende komitee (voogde van projekte) die verteenwoordigers van die projekte as deel van die SJGD se evaluering (Kondos, 2011;
Labuschagne, 2011a; Stidworthy, 2011a). Volgens Dorsner (2004:366) is interaksie tussen albei partye belangrik, om gemeenskapslede in staat te stel om hulself te bemagtig. Uit die onderhoude het geblyk dat drie van die vier verteenwoordigers wat betrokke is by hierdie
103
studie se projekte, positiewe terugvoer gegee het oor die SJGD se betrokkenheid by die projek asook oor die verteenwoordiger. Die verteenwoordiger van Mmabane Preschool, die projek van Wanda Dameskoshuis, het egter gemeld dat slegs sekere komiteelede aktief betrokke was tydens die aksies. Uit hierdie terugvoer word gemerk dat interaksie nie tussen al die verteenwoordigers van die vroeëkinderontwikkelingsprojekte en die SJGD plaasgevind het nie. Verteenwoordigers word tans nie deur die SJGD optimaal die geleentheid gebied om hulle projekte vir die toekoms self te onderhou of te bestuur nie.
Uit die oordragsverslae van die SJGD-lede het geblyk dat hierdie SJGD-lede interaksie met die betrokke verteenwoordigers gehad het, aangesien hierdie verslae herhaaldelik verwys na kommunikasie met die 'skakelpersoon' en die betrokke kinders (Naudé, 2011b:1-31;
Saunders, 2011b:1-10; Van der Merwe, 2011b:1-12; Van Vuuren, 2011b:1-23). Hoewel hierdie verslae aangedui het dat interaksie plaasgevind het, is dit nie duidelik of dit van die SJGD én van die verteenwoordigers se kant afkomstig was nie. Die gemeenskapslede en verteenwoordigers kan slegs aandag aan die gemeenskap se behoeftes gee indien direkte interaksie tussen albei partye gehandhaaf word.
Die vergaderingsnotules van die adviesraad van die SJGD se termyn van 2010-'11 dui aan dat goeie verhoudinge tussen die lede van die uitvoerende komitee, huiskomiteelede, projekleiers, organisasies en die adviesraad gehandhaaf moet word (Noordwes-Universiteit:
SJGD, 2010j:1). Die notule van die bosberaad, ʼn vergadering waar lede van die uitvoerende komitee, komiteelede en adviesraadslede bymekaarkom om besluite omtrent die SJGD- struktuur en doelwitte vir die SJGD-termyn te handhaaf, maak dit duidelik dat behoeftes wat deur SJGD-lede uitgewys word met die verteenwoordigers bespreek moet word en met die verteenwoordigers se behoeftebepaling vergelyk moet word (Noordwes-Universiteit: SJGD, 2011h).
Volgens Servaes (1995:45; 1999:89) speel tyd as ʼn langtermynfaktor ʼn belangrike rol sodat ʼn verhouding van vertroue en terugvoering van behoeftes kan plaasvind. Die SJGD en die verteenwoordigers van die vroeëkinderontwikkelingsprojekte kan mettertyd ʼn vertrouens- verhouding bou en aan noodsaaklike behoeftes aandag gee. Die bosberaad beklemtoon verder dat die gemeenskap meer betrek moet word by die SJGD om bewusmaking van die SJGD teweeg te bring (Noordwes-Universiteit: SJGD, 2011h:10).
Die vergaderingsnotule van die uitvoerende komitee van 21 Februarie 2011 dui aan dat die projekleiers en die huiskomiteelede maandeliks moet vergader om mekaar beter te leer ken, sodat hulle kan saamwerk tydens verskeie aksies van projekte wat aangebied moet word (Noordwes-Universiteit: SJGD, 2011e:4). Die interne interaksie tussen SJGD-lede word meestal uitgewys in hierdie notules (buiten die notule van die bosberaad), maar daar word
104
nie spesifiek aangedui dat die eksterne interaksie met die projekverteenwoordigers ook belangrik is nie. Die SJGD moet dus nog aandag daaraan skenk om tydens vergaderings die belangrikheid van die interaksie met die verteenwoordigers van die vroeëkinderontwikkelingsprojekte te beklemtoon. Hierdie verteenwoordigers behoort verantwoordelik te wees vir hulle eie bemagtiging, maar indien die SJGD nie sorg dat hierdie verteenwoordigers aktief deelneem aan die interaksie nie, kan só ʼn proses van ontwikkeling nie plaasvind nie.
Die sosio-ekonomiese opleidingsgids – wat tydens die opleidingsessies gegee word aan al die lede van die SJGD se uitvoerende komitee, huiskomiteelede en projekleiers – is ook een van die dokumente wat tydens die studie geanaliseer is.
Hierdie opleidingsgids dui die belangrikheid van SJGD-lede se gemeenskapsdiens in hulle gemeenskap aan, asook om volhoubaar te funksioneer in sy programme en ontwikkelingsprojekte (Weyers & Herbst, 2010:8). Die proses van interaksie tussen SJGD- lede en die gemeenskapslede of verteenwoordigers van die projekte word in hierdie gids beklemtoon (Weyers & Herbst, 2010:8; 19-20). Hierdie opleidingsgids maak dit duidelik aan SJGD-lede 'hoe' en 'wat' om te doen wanneer verhoudinge met hierdie verteenwoordigers gebou moet word. Die opleidingsgids meld ook dat ander instansies (byvoorbeeld die Suid- Afrikaanse Polisiediens [SAPD]) saam met die SJGD kan werk om insette te koördineer en dat die verteenwoordigers van die SJGD se ontwikkelingsprojekte tydens hierdie koördinering betrokke moet wees (Weyers & Herbst, 2010:20). Deelname van ʼn gemeenskap bevorder gemeenskapsontwikkeling op lang termyn (Kenny, 1997:5;
Mefalopulos & Grenna, 2004:26). Hierdie gids is ʼn belangrike hulpmiddel om SJGD-lede bewus te maak om die belangrikheid van deelname van die verteenwoordigers, ten einde gemeenskapsontwikkeling vir die toekoms te bevorder.
Kotzé, die maatskaplike werkster van die NWU-Pukke (2011), het tydens die onderhoud wat met haar gevoer is, aangedui: ''Studente word uitgevat [na projekte] en neem deel aan die uitruil van gedagtes met die skakelpersoon''. Tydens hierdie geleenthede word die studente na die perseel geneem waar die projek geleë is en hierdie SJGD-lede kommunikeer met die projek se verteenwoordiger om behoeftes te kan bepaal. Die SJGD-lede en die verteenwoordigers van die ontwikkelingsprojekte word aangemoedig om saam idees en doelwitte uit te wys voor elke nuwe termyn. Volgens Kotzé (2011) het die verteenwoordigers van die SJGD se projekte nie direkte kontak met die SJGD-bestuur nie, maar meestal net met die huiskomiteelid of projekleier.
Die SJGD (huiskomiteelede of projekleiers) is gereeld in kontak met die verteenwoordigers van hulle projekte, veral tydens die behoeftebepaling wat voor elke termyn gedoen word
105
(Herbst, 2011; Kotzé, 2011, Labuschagne, 2011a; Naudé, 2011a; Saunders, 2011a;
Stidworthy, 2011a; Van der Merwe, 2011a; Van Vuuren, 2011a).
Die navorser as deelnemer-waarnemer kon ʼn deegliker perspektief kry oor die verteenwoordigers se deelname aan projekontwikkeling. Tydens die projekbesoeke is bevind dat die huiskomiteelede en die projekleiers meestal met die SJGD se verteenwoordigers skakel. Hierdie huiskomiteelede en projekleiers dien as 'skakel' of 'tussenganger' tussen die uitvoerende komitee van die SJGD en die verteenwoordigers van elke projek. Die drie huiskomiteelede en die projekleier van die vier betrokke vroeëkinderontwikkelingsprojekte maak gebruik van interpersoonlike kommunikasie met die verteenwoordigers tydens aksies van die SJGD, soos byvoorbeeld die behoeftebepaling.
Die studente (huiskomiteelede, projekleiers en studenteraadslede) wat betrokke was tydens die projek Sand, See en Skulp se opleidingsprogram (voor die Sand, See en Skulp-vakansie) het interaktief tydens hierdie opleidingsessie met die verteenwoordiger gekommunikeer.
Hierdie opleidingsessie het aan die verteenwoordiger van Sand, See en Skulp die geleentheid gegee om verskeie van die SJGD-lede se vrae te beantwoord.
Deelname kan beskryf word as die aktiewe en betekenisvolle betrokkenheid van die gemeenskap in projekbeplanning en -ontwikkeling, asook om die projek toe te pas en in stand te hou om sodoende hulself daarmee te identifiseer (Taneja, 2006:280). Die SJGD het tydens hierdie opleidingsprogram probeer om die verteenwoordiger aktief te betrek, sodat sy deel kan neem aan die projek se ontwikkeling.
Die lede van die uitvoerende komitee van die SJGD kom slegs by twee geleenthede per termyn in kontak met die verteenwoordigers. Die eerste daarvan is tydens die bustoere wat aan die begin van elke termyn onderneem word, en die tweede tydens die evalueringsonderhoud van die skakelpersoon wat aan die einde van die termyn plaasvind.
Die maatskaplike werkster (Kotzé) is die enigste adviesraadslid wat in kontak kom met die verteenwoordigers van elke projek tydens die behoeftebepaling. Hierdie maatskaplike werkster het mettertyd ʼn vertrouensverhouding met die verteenwoordigers en gemeenskapslede gebou. Só ʼn verhouding kan bydra tot doeltreffende deelname uit die gemeenskap, aangesien die SJGD die verteenwoordigers aanmoedig om aan programme deel te neem. Die verteenwoordigers sal met verloop van tyd genoeg kennis en selfvertroue opbou om hulle projekte self te kan bestuur en te onderhou wanneer die SJGD nie meer betrokke is nie.
Die navorser het gedurende die termyn as deelnemer-waarnemer bevind dat die interne interaksie wat tydens vergaderings, die sosio-ekonomiese opleidingsessies en die aksies van die uitvoerende komitee plaasvind, binne die SJGD meer aandag geniet het as die
106
eksterne interaksie met die verteenwoordigers tydens die SJGD se projekbesoeke. Aktiewe deelname deur middel van interaksie tussen die SJGD en die verteenwoordigers is slegs waarneembaar tydens behoeftebepaling. Dit is egter belangrik dat die verteenwoordigers nie net by behoeftebepaling betrokke is nie, maar dat hulle ook tydens die algehele besluitneming betrokke behoort te wees aangesien deelname aan besluitneming tot bemagtiging kan lei (Thomas, 1994:49).