HOOFSTUK 5: ANALISE EN INTERPRETASIE VAN BEVINDINGE 101
5.2 DEELNAME
5.2.6 Betrokkenheid by evaluasie
117
118
ʼn aktiewe rol speel in die ontwikkeling en inhoud van die evaluasieproses nie.
Verteenwoordigers behoort die SJGD se evaluering te beoordeel sodat die SJGD bewus kan word van die verteenwoordigers se behoeftes om die gemeenskap se behoeftes te weerspieël; sodat die SJGD kan verstaan wat die verteenwoordigers se siening is omtrent suksesse, sterk- en swakpunte van die program; om die SJGD se evaluering te verbeter en sodoende mettertyd 'n vertrouensverhouding te kan bou.
Die navorser het afgelei dat die grondwet van die studenteraad slegs interne kommunikasiestrukture aandui. Hierdie interne kommunikasiestrukture verwys na kommunikasie tussen die studenteraadslede en studente of kampusbestuur. Hierdie grondwet verwys nie na enige betrokkenheid van die SJGD-verteenwoordigers by die evaluasie nie, maar dit verwys wel na studenteraadslede se terugvoer oor hulle verantwoordelikhede (Noordwes-Universiteit: Studenteraad, 2010a:24). Hierdie grondwet is nie noodwendig opgestel vir SJGD-lede nie. Die doel van hierdie grondwet van die studenteraad is om die studenteraad leiding te gee oor hulle pligte en verantwoordelikhede.
Die SJGD-voorsitter het naas SJGD-pligte verskeie studenteraadspligte en slegs hierdie verantwoordelikhede word in die dokument saamgevat.
In die grondwet van die SJGD word onder meer verwys na die evaluasie van projekte (Noordwes-Universiteit: SJGD, 2010a:4; 13-18). Hierdie grondwet dui aan dat die konsultante projekte evalueer, die ondervoorsitter van projekte die evaluering moet koördineer, die lid van die uitvoerende komitee verantwoordelik vir projekontwikkeling en projekte se vordering moet monitor, en dat oordragsverslae ingehandig moet word deur huiskomiteelede en projekleiers (ibid.). Die grondwet van die SJGD dui egter nie aan dat die verteenwoordigers betrokke is of behoort te wees tydens die evaluering van SJGD-projekte nie. Volgens Smith (2003:56-85) behoort die evaluasie gepaard te gaan met die deelname van gemeenskapslede, in dié geval die verteenwoordigers. Daar word egter nie tans in die grondwet van die SJGD van gemeenskapsdeelname tydens die evaluering melding gemaak nie. Daar word ook nie verwys na die 'skakelpersoon se evalueringsonderhoud' wat deel is van die SJGD se evaluering, asook die prestige onderhoude wat huiskomiteelede en projekleiers in verband met die evaluasie van hulle projekte met die paneel moet voer nie.
Die vorm vir die evaluering van die skakelpersoon evalueer die verhouding van die huiskomiteelid of projekleier met die verteenwoordiger van elke projek, asook die betrokkenheid van die SJGD volgens die ontwikkeling van gemeenskapsprojekte. Hierdie vorm fokus nie op die mate van betrokkenheid van die verteenwoordiger by die SJGD se projekte nie. Hoewel die onderhoud deel is van die SJGD se evaluering, behoort verteenwoordigers ook betrokke te wees by die beoordeling van die SJGD se
119
evalueringsproses. Dit is egter nie tans nie die geval nie. Verteenwoordigers wat ook deelneem aan die beoordeling van die SJGD se evaluasie kan na afloop van elke termyn bepaal of die SJGD se evaluering suksesvol is en in watter mate hulle evaluasie met die van die verteenwoordigers ooreenstem. Dit sal die SJGD in staat stel om te weet hoe die projek en die prosesse wat daarmee gepaard gaan, vorder uit die oogpunt van die verteen- woordigers.
Die sosio-ekonomiese opleidingsgids maak die evaluasieproses aan die SJGD-lede duidelik (Weyers & Herbst, 2010:61). Hierdie opleidingsgids beklemtoon dat SJGD-evaluering geskied deur met die regte persone (verteenwoordigers van projekte) tydens 'n sekere tyd en in die regte 'formaat' te kommunikeer (ibid.). Hierdie gids beklemtoon nie dat die verteenwoordigers van die vroeëkinderontwikkelingsprojekte self die SJGD se evaluering moet beoordeel nie en ook nie dat die verteenwoordigers ‘n inset behoort te hê in terme van die aspekte waarop die SJGD se evaluasie behoort te fokus nie. Indien die SJGD seker maak dat verteenwoordigers aktief deelneem aan die algehele ontwikkeling van die evaluasie van projekte, behoort die SJGD hulle projekte in die toekoms meer doelgerig te kan ondersteun.
Die oordragsverslae van die huiskomiteelede en die projekleiers van die SJGD word deur die paneel van die SJGD bestudeer. Hierdie verslae sluit die omskrywings in van doelwitte asook evalueringsverslae (prosesverslae) van die aksies wat deur die konsultante nagesien is. Dié oordragsverslae beskryf ook die selfevaluering wat deur elke huiskomiteelid en projekleier gedoen is (Naudé, 2011b:1-31; Saunders, 2011b:1-10; Van der Merwe, 2011b:1- 12; Van Vuuren, 2011b:1-23). Hierdie oordragsverslae word nie met die insette van die verteenwoordigers opgestel nie, maar dit word slegs deur die projekleier van die SJGD of die huiskomiteelid uitgevoer vir die evaluering deur die SJGD. Die verteenwoordigers neem weinig deel aan die evaluering en behoort regdeur die termyn betrek te word, sodat goeie deelname en 'n verhouding van wedersydse respek tussen die SJGD en die verteenwoordigers gebou kan word.
Die vergaderingsnotules van sowel die adviesraad as die uitvoerende komitee van die SJGD se termyn van 2010-'11, verwys verskeie kere na die evaluering. Hierdie verwysings word volgende bespreek. Die ondervoorsitter van projekte herinner die UK-lid van projek- ontwikkeling daaraan om seker te maak dat die konsultante by die projekte uitkom en dat die projekte ook deur die konsultante geevalueer word (Noordwes-Universiteit: SJGD, 2010k:5).
Volgens die adviesraadvoorsitter is die vroeëkinderontwikkelingsprogram nog in die beginstadium en daarom is goeie evaluering belangrik om die uitdagings van hierdie program te kan uitlig (Noordwes-Universiteit: SJGD, 2011f:3). Die adviesraadvergadering op
120
15 April 2010 en die vergadering van die uitvoerende komitee op 11 April 2011 maak die toepassing van die evaluering tydens die evaluering van skakelpersone duidelik en dui aan dat die verteenwoordigers gevra moet word om terugvoer te gee oor die SJGD en sy projekbestuurders se betrokkenheid by die projekte (Noordwes-Universiteit: SJGD, 2011g:1).
Daar word ook aangedui dat van die verteenwoordigers verwag word om die projekbestuurders te evalueer, sodat die betrokkenheid van die SJGD tydens aksies van projekte bepaal kan word (Noordwes-Universiteit: SJGD, 2010h:6-7). Die verteenwoordigers behoort egter nie net deel te neem aan hierdie proses nie, maar behoort die SJGD se evaluering self ook te beoordeel en insette in die proses van evaluasie te hê om projekte op lang termyn te ontwikkel en by te dra tot 'n doeltreffende evaluering.
Die navorser is bewus van verskeie deurlopende evaluerings wat deur die SJGD gedoen word. Die sogenaamde evalueringsonderhoud van die skakelpersoon is een van hierdie geleenthede waarby die verteenwoordigers van die projekte betrokke is. Tydens hierdie onderhoude vra lede van die uitvoerende komitee verskeie vrae aan die verteenwoordigers oor die projekdeelname en -betrokkenheid van die SJGD.
Hoewel die verteenwoordigers van Mmabane Preschool, Sand, See en Skulp, Jesus Loves You Ministries en Veilige Nessie-kleuterskool betrokke was tydens hierdie evaluering, was sommige vrae in die onderhoud nie altyd duidelik genoeg gestel nie. Die navorser het bevind dat die verteenwoordigers nie noodwendig die vraag, of deurlopende volhoubaarheid in die projekte gevestig word, verstaan het nie. Die navorser se rol het in hierdie geval na totale deelnemer verander, aangesien sy voorbeelde moes noem om aan die verteenwoordiger te kon verduidelik wat 'deurlopende volhoubaarheid' beteken. Hierdie onderhoude het geensins vrae ingesluit om te bepaal hoe die verteenwoordigers dink die projekte geëvalueer behoort te word nie en die vrae wat op die funksionering van die projekte fokus maak ook geen melding van deelname deur die verteenwoordigers nie. Die navorser het bevind dat die nuwe verteenwoordiger van Veilige Nessie-kleuterskool die meeste van die vrae nie kon beantwoord nie, aangesien sy nog net twee maande by hierdie projek as verteenwoordiger betrokke was.
Dit is van kardinale belang dat die verteenwoordigers nie net deel is van die SJGD se beoordeling tydens die evalueringsonderhoud van die skakelpersoon nie, maar dat hulle die SJGD se projekte ook beoordeel sodat hulle kan aandui of die projek, volgens hulle verwagtinge en standaarde, suksesvol is. Dit is ook belangrik dat toepaslike vrae tydens die evalueringsonderhoude gevra word. Die SJGD moet deur middel van die evaluering kan agterkom of die behoeftebepaling wat toegepas is die gemeenskap se behoeftes weerspieël.
Indien die gemeenskap se behoeftes weerspieël word, kan gemeenskapsontwikkeling
121
plaasvind. Hierdie proses van gemeenskapsontwikkeling moet egter met deelname van albei partye gepaard gaan. Die volgende afdeling dui aan of die SJGD probeer om aandag te gee aan die behoeftes van die gemeenskap.