• Tidak ada hasil yang ditemukan

HOOFSTUK 5: ANALISE EN INTERPRETASIE VAN BEVINDINGE 101

5.2 DEELNAME

5.2.4 Betrokkenheid by beplanning

Gemeenskapslede speel 'n belangrike rol in die beplanning van gemeenskapsontwikkeling, aangesien hierdie lede 'n belang het in ontwikkelingsbesluite waardeur hulle geraak word (Rietbergen-McCracken, 2003:1). Uit die navorser se bevindinge word die gevolgtrekking gemaak dat die verteenwoordigers van die vroeëkinderontwikkelingsprojekte nie

111

deelgeneem het aan die beplanning van hulle projekte en besluite vir die gemeenskap se ontwikkeling nie. Slegs SJGD-lede was verantwoordelik vir beplanning en daarom ontbreek gemeenskapsbetrokkenheid. Soos reeds genoem (sien 5.2.3) word slegs die rol en funksie van die SJGD-voorsitter as lid van die studenteraad in die grondwet van die studenteraad aangedui.

Hierteenoor verwys laasgenoemde dokument na die lede van die uitvoerende komitee se funksies en rolle asook die lede van die uitvoerende komitee se skakeling met verskeie ander SJGD-lede (Noordwes-Universiteit: SJGD, 2010a:6-20). Die grondwet dui wel aan dat elke organisasie wat betrokke is by die SJGD vóór die aanvang van elke termyn 'n beplanning van hulle aktiwiteite moet inhandig en by die verstryking van die termyn moet verslag doen oor hulle werksaamhede (Noordwes-Universiteit: SJGD, 2010a:18). Hierdie organisasies verwys na instansies soos byvoorbeeld KANSA, maar nie spesifiek na die SJGD se projekte ten opsigte van hulle verteenwoordigers nie. Ten opsigte van gemeenskapsontwikkeling is die huidige probleem dat die meerderheid van ontwikkelingsprojekte deur eksterne mense en instansies van die betrokke gemeenskap beplan en ontwikkel word in plaas van deur die plaaslike gemeenskap self (Botes & Van Rensburg, 2000:42). Die SJGD dui nie in hulle grondwet aan dat die gemeenskapslede of verteenwoordigers betrokke moet wees by die beplanning van programme vir projek- ontwikkeling nie.

Die grondwet van die SJGD dui wel aan dat die bepaling van behoeftes en die beplanning van aksies ingehandig moet word by die SJGD voor die aanvang van elke termyn (Noordwes-Universiteit: SJGD, 2010a:19-20). Die grondwet versuim egter om aan te dui wie betrokke moet wees tydens die beplanning van die behoeftes waaraan aandag gegee moet word.

Aangesien die SJGD-grondwet geen melding maak van deelname vanaf die verteenwoordigers in beplanning van projekte nie, sluit die vorm vir die evaluering van die skakelpersoon geen vrae in oor die verteenwoordiger se betrokkenheid by die beplanning van doelwitte en aksies vir die termyn nie.

Die sosio-ekonomiese opleidingsgids maak aan SJGD-lede duidelik hoe die beplanning behoort te verloop en wat die proses behels, maar nêrens word aangedui dat die projekverteenwoordigers hiertydens betrokke moet wees nie (Weyers & Herbst, 2010:53-54).

Deelname tydens beplanning is van kardinale belang vir die ontwikkeling van enige gemeenskap en behoort in die genoemde gids beklemtoon te word. Die verteenwoordigers behoort nie net betrek te word by ontwikkeling nie, maar behoort ook aktief deel te neem aan

112

die beplanningsproses ten einde te verseker dat projekte op gepaste wyses uitgevoer word en op kwessies wat vir die gemeenskap relevant is, fokus.

Die oordragsverslae van die SJGD-lede verwys verskeie kere na beplanning. Op grond hiervan veronderstel die navorser dat die beplanning slegs deur die SJGD-lede gedoen word, aangesien daar geensins aangedui word dat die verteenwoordigers tydens hierdie proses betrokke is nie. SJGD-lede verwys slegs na ''my beplanning'' (Naudé, 2011b:1-31;

Saunders, 2011b:1-10; Van der Merwe, 2011b:1-12; Van Vuuren, 2011b:1-23). Die SJGD wend tans nie pogings aan om seker te maak dat die verteenwoordigers saam met die projekleiers en die huiskomiteelede by die beplanning betrokke is nie. Hierdie situasie is problematies en behoort in die toekoms reggestel te word.

Die vergaderingsnotules van die uitvoerende komitee van die SJGD en die adviesraad wat bestudeer is, verwys na verskeie beplannings oor aksies van die uitvoerende komitee, soos byvoorbeeld Blikkieskosdag, en die strategiese beplanning van die organisasie (Noordwes- Universiteit: SJGD, 2011c:6; Noordwes-Universiteit: SJGD, 2010h:1). Tog word nie spesifiek na die beplanning van die aksies van die SJGD om aan behoeftes aandag te gee, verwys nie. Daar word nêrens bevestig dat die verteenwoordigers deel moet wees van die beplanning (ten opsigte van aksies en doelwitte) om kennis en inligting te verskaf omtrent hulle behoeftes, verwagtinge en kulturele agtergrond, nie.

Die konsultant van die SJGD (Kondos) redeneer dat dit ''heeltemal die HK-lede en projekleiers se verantwoordelikheid, tesame met die verteenwoordiger en die maatskaplike werkster is, om programme vir elke termyn op te stel''. Deur semigestruktureerde onderhoude het die navorser tot die gevolgtrekking gekom dat die huiskomiteelid of die projekleier die doelwitte en programme vir die termyn identifiseer terwyl die verteenwoordiger nie deel is van hierdie beplanning nie (Labuschagne, 2011a; Naudé, 2011a; Saunders, 2011a; Stidworthy, 2011a; Van der Merwe, 2011a; Van Vuuren, 2011a). Van der Merwe (2011a) dui aan: ''Dit is totaal en al in jou as HK-lid se hande''. Die verteenwoordigers van al vier vroeëkinderontwikkelingsprojekte verduidelik dat net die projekleier en die huiskomiteelede verantwoordelik was vir die beplanning wat ná die behoeftebepaling plaasgevind het. Hierdie terugvoer stem nie ooreen met die SJGD-konsultant se redenasie dat die verteenwoordiger ook betrokke moet wees tydens die beplanning nie, maar is wel ʼn bevestiging van die afleiding wat uit die dokumente gemaak is, naamlik dat SJGD-lede nie daarop attent gemaak word om verteenwoordigers by die beplanningsproses te betrek nie.

Op ʼn vraag oor haar betrokkenheid by die beplanning, het die verteenwoordiger van Sand, See en Skulp uitdruklik beklemtoon: ''Ek het nie deel daaraan gehad nie''. Die SJGD- voorsitter (Stidworthy, 2011a) redeneer hierteenoor dat dit belangrik is vir elke

113

projekbestuurder om ná behoeftebepaling terug te gaan na die verteenwoordigers en aan hulle te verduidelik wat in die projekte gedoen gaan word, sodat die verteenwoordigers se goedkeuring ook verkry word. Hierdie terugvoer dui aan dat verteenwoordigers steeds nie aktief deelneem aan die beplanning van projekte se ontwikkeling nie, aangesien hier veronderstel word dat die verteenwoordiger bloot besluite wat reeds geneem is, moet aanvaar, eerder as om aktief deel te neem aan die besluitneming. Botes en Van Rensburg (2000:42) dui aan dat die plaaslike gemeenskap self betrokke moet wees by die beplanning of ontwikkeling en uit hierdie terugvoer word beklemtoon dat dit nie die geval is tydens SJGD-projekte nie.

Tydens die deelnemer-waarneming is hierdie gevolgtrekking bevestig: Die verteenwoordigers neem nie deel aan die beplanning nie en die SJGD neem alle besluite in terme van beplanning van projekte self. Indien die verteenwoordigers nie saam met die SJGD betrokke is tydens hierdie laasgenoemde beplanning nie, kan die behoeftes nie doelgerig en toepaslik aangespreek word nie, aangesien beplanning gepaard behoort te gaan met deelname van albei partye.

Die drie huiskomiteelede en die projekleier van Sand, See en Skulp was alleen verantwoordelik vir die beplanning van die programme wat toegepas moes word om aandag aan behoeftes gedurende die termyn van 2010-'11 te gee. Hoewel die projekleier van Sand, See en Skulp en die huiskomiteelid betrokke by Jesus Loves You Ministries gaan uitvind het watter aktiwiteite die kinders alreeds gedoen het, het hierdie lede alleen hierdie fase uitgevoer sonder enige aktiewe betrokkenheid van die verteenwoordigers. Dit wil ook voorkom asof die konsultante en lede van die uitvoerende komitee wat hierdie beplanningsraamwerk na inhandiging nasien, dit (in sekere gevalle) goedkeur selfs al is hulle nie altyd vooraf bewus van wat reeds by die projek toegepas word nie. Gemeenskapslede en verteenwoordigers kan slegs projekte bestuur en self onderhou indien hulle deur die SJGD in staat gestel word om dit te doen. Aangesien die SJGD alleen verantwoordelik is vir hierdie deel van ontwikkeling, kan die verteenwoordigers tans nie insette lewer wat kan bydra dat hulle hul projekte eindelik self bestuur en te onderhou nie.

Die SJGD behoort nie net te probeer om die verteenwoordigers by die beplanning te betrek nie. Hulle moet ook die verteenwoordigers tydens die uitvoeringsproses betrek sodat die verteenwoordigers aktief betrokke is by die totale ontwikkeling van hulle projekte. Die volgende afdeling bespreek die betrokkenheid van die verteenwoordigers by die SJGD se uitvoering of toepassing, soos byvoorbeeld die aksies wat by projekte gehou word.

114