HOOFSTUK 5: VOORNAAMWOORDE
5.4 PERSOONLIKE VOORNAAMWOORDE
5.4.3 DERDE PERSOON
Die derdepersoonvoornaamwoorde is die eerste kategorie onder bespreking wat anafories gebruik word (Ponelis, 1979:68), hoewel die anaforiese gebruik van die derde persoon nie beperk is tot die grense van 'n enkele sin nie, en ook na 'n referent in 'n vorige sin kan verwys (De Stadler, 1989:413). Met betrekking tot die verskillende derdepersoon- voornaamwoorde is daar twee onderskeide – lewend teenoor nie-lewend (of sielhebbend en sielloos in hierdie studie se terme), en manlik teenoor vroulik (Ponelis, 1979:57). Hierdie onderskeide word egter nie eweredig gehandhaaf nie, waar sekere vorme oor grense heen verskillende funksies kan verrig.
In die enkelvoud word natuurlike geslag met hy/hom (manlik) en sy/haar (vroulik) onderskei, veral wanneer die referente mense en groter diere is (Ponelis, 1979:58). Die onderskeid is egter nie ewekansig nie – sy word slegs ten opsigte van vroulike referente gebruik (Ponelis, 1979:68), terwyl hy polisemies van aard is en 'n hele aantal uitgebreide funksies vervul (Ponelis, 1979:68-9):
1. Verwysing na referente wat geslagtelik gemerk is, soos hings.
47 Log-waarskynlikheid vir periode een tot twee (vermindering): 77.42; periode twee tot drie (vermeerdering): 18.95; periode drie tot vier (vermeerdering): 16.33
48 Log-waarskynlikheid vir al vier periodes aaneenlopend (tweede persoon totaal): 27.93; periode een tot twee: 8.64; periode twee tot drie: 2.57 (onbeduidend); periode drie tot vier: 0.01 (onbeduidend)
175
2. Verwysing na versamelname, soos regering, kommissie, waar die gebruik van hy klem lê op die eenheid van die referent, soos 'n besigheid as sodanig en nie die onderskeie werknemers nie (bevestig deur Carstens, 2011:72).
3. Verwysing na alle telbare referente (abstrak en konkreet).
4. Verwysing na generiese referente.
In die korpusdata is die volgende gebruike van hy en hom gevind: verwysend na 'n enkelvoud, manlike referent (voorbeeld 5.32 en 5.33),
[5.32] Hy het nl. in die huwelik met die beeldskone Mej. Mathilde Konig getree. (1941- 1950, Biografies)
[5.33] In 1908 het dieselfde kiesafdeling hom weer parlement toe gestuur. (1941-1950, Biografies)
verwysend na 'n generiese menslike referent [5.34, 5.35],
[5.34] Die leseresse moet goed verstaan dat als iemand dodelik siek is, moet hij nie kos krij wat in enig opsig te swaar vir die maag... (1911-1920, Informatief)
[5.35] Die mens as eindige, onvolmaakte, feilbare wese kom voortdurend te staan voor die lewe wat vir hom onpeilbaar is. (1971-1980, Religieus)
verwysend na nie-menslike maar sielhebbende referente, meestal diere (wat wel geslagtelik is) [5.36, 5.37],
[5.36] "Woef-woef!" In worstaal sê hy dat hy vreeslik bly is om voor oom Jannie se huis te wees. (2001-2010, Fiksie)
[5.37] Die ratel, hoewel 'n vir ons soms 'n eenvoudig "ou diertjie," omdat ons nie genoeg of liewer, niks van hom afweet, wek tog onse bewondering. (1911-1920, Informatief)
verwysend na siellose referente [5.38, 5.39],
[5.38] Hy is lawaaierig - soos alle Peugeots - maar daar is geen teken van klepvlotter of ongesonde trillings nie. (1971-1980, Informatief)
[5.39] Die silinderkop en alles wat binne-in hom is, langbout, moere en klep, is van geelkoper sodat dit nie sal roes nie. (2001-2010, Biografies)
en in kombinasie met sy of haar as generiese verwysing [5.40, 5.41].
[5.40] Die mens is uniek in die sin dat hy/sy anders as God is en ook anders as ander skepsels is. (2001-2010, Geesteswetenskappe)
[5.41] Sulke eenogiges sien en hoor net wat hulle wil van 'n ander mens en op grond daarvan hang hulle haar of hom 'n etiket om die nek. (2001-2010, Informatief) Die een gebruik wat nié deur hy vervul word nie maar wel deur hom, is die gebruik as wederkerende voornaamwoord [5.42].
176
[5.42] Langsaam sit hy hom en aanklee net asof daar geen dringende werk is wat wag nie. (1941-1950, Fiksie)
In die eerste periode is die wisselvorme hij en hem nog meestal gebruik, maar daar is geen semantiese onderskeid nie, so die vorme is saam met onderskeidelik hy en hom gevoeg in die vergelyking. In tabel 5.24 word die gebruiksgetalle van hierdie gebruike uiteengesit.
Tabel 5.24: Gebruiksgetalle van die verskillende gebruike van hy en hom
1911-1920 1941-1950 1971-1980 2001-2010 menslik manlik 2 376 75,8% 3 032 85,6% 2 502 86% 2 644 91,6%
generies menslik 471 15% 239 6,7% 202 7% 48 1,7%
nie-mens sielh. 94 3% 63 1,8% 101 3,5% 68 2,3%
sielloos 152 4,8% 90 2,5% 59 2% 48 1,7%
hy/sy & hom/haar 2 0,1% 2 0,1% 3 0,1% 24 0,8%
wederkerend 40 1,3% 117 3,3% 42 1,4% 54 1,9%
TOTAAL 3 135 3 543 2 909 2 886
Dit blyk dat hy en hom by verre die meeste gebruik word om na manlike menslike referente te verwys. Hoewel die getalle van manlike verwysing wisselvallig is, styg die proporsie daarvan deurgaans49. Die ander gebruike is deurgaans teenwoordig, maar al die ander gebruike bly 'n redelike klein proporsie. Die enigste van hierdie gebruike wat deurlopend verminder in getal en proporsie is siellose verwysing, wat kan dui op funksieverskuiwing van hy/hom na dit, moontlik as gevolg van verformalisering (hy/hom is minder formeel as dit, Van der Merwe, 1997:28), of in sameloop met die afname in generiese gebruike. Meer hieroor later in die afdeling (p. 186 en verder). Die generiese gebruike is tot die derde periode telkens die tweede-grootste kategorie, maar dit krimp merkbaar in proporsie en heel drasties in rou getalle, veral tussen die laaste twee periodes. Die generiese gebruike word in die volgende afdeling verder ondersoek (afdeling 5.4.4, p. 189), en die nie-menslike gebruike vir die oomblik daar gelaat.
Die vorm sy is 'n besonder polisemiese voornaamwoordvorm. Dit word gebruik vir verskeie funksies – verwysing na 'n vroulike, menslike referent in die onderwerpsposisie (voorbeeld 5.43),
[5.43] "Ag foei, Reinhard!" sê sij en kijk hom strak in die gesig. (1911-1920, Fiksie) verwysing na 'n nie-menslike sielhebbende referent in die onderwerpsposisie [5.44],
[5.44] Sy is twee maal per dag vir die volle tydperk gemelk. (1971-1980, Verslaggewing)
49 Log-waarskynlikheid vir al vier periodes aaneenlopend: 47.24
177 verwysing na 'n siellose referent [5.45],
[5.45] M.a.w. dat sij as Kerk doen wat God haar gebied stip en string. (1911-1920, Religieus)
en verwysing na 'n generiese menslike referent [5.46].
[5.46] Moenie jou baba alleen laat huil wanneer sy so klein is nie. (2001-2010, Informatief)
Dit word verder gebruik as die attributiewe besitsvorm van verskillende tipes referente, by name 'n manlike referent [5.47],
[5.47] Die meisie in die see is sy dogter en die appel van sy oog. (1941-1950, Fiksie) 'n generiese menslike referent [5.48],
[5.48] Aan hom, die geskape mens wat van sy sonde verlos is, moet ons nou meer opsetlik en sistematies aandag gee. (1971-1980, Religieus)
'n nie-menslike sielhebbende referent [5.49],
[5.49] Hij sit daar opsij, as-vaal, inmekaar gekrimp, met sij vere omgekrap en verward, sij oogvliese so halfmas oor sij oogappels getrek en die wit van sij oge aan de bokant pleks van langes-aan... (1911-1920, Informatief)
en 'n siellose referent [5.50].
[5.50] Hierdie struktuur maak sy verskyning nader na die Rooiberg-gesteentekontak.
(1941-1950, Natuurwetenskappe)
Dit word ook gebruik in kombinasie met hy as generiese onderwerpsvorm [5.51],
[5.51] 'n Vetkind sal nooit in der ewigheid as die held of heldin van 'n skool beskou kan word nie, al presteer hy of sy ook hoe goed op akademiese gebied. (1971-1980, Informatief)
en in kombinasie met haar as generiese besitsvorm [5.52].
[5.52] Peter Berger en Thomas Luckmann (1967) wys daarop dat die mens graag saam met sy/haar groep betekenis uit persoonlike en kollektiewe ervarings skep.
(2001-2010, Religieus)
In die eerste periode word 'n aantal wisselvorme van sy as besitsvorm gebruik (die besonderhede daarvan word in die volgende hoofstuk in afdeling 6.4.3, p. 262 en verder, oor besitlike voornaamwoorde gegee). Vir vergelykende doeleindes word dit hier gewoon saamgevoeg. In tabel 5.25 word die verskillende gebruike van sy uiteengesit.
178
Tabel 5.25: Gebruiksgetalle van die verskillende gebruike van sy
1911-1920 1941-1950 1971-1980 2001-2010 menslik vroulik 522 20,6% 701 23,5% 1 142 38,7% 785 31%
generies menslik 0 0 1 61 2,5%
nie-mens sielh. 1 15 0,5% 7 0,2% 6
sielloos 23 0,9% 0 0 0
besit 2 001 78,5% 2 266 76% 1 798 61% 1 650 65,4%
hy/sy 0 2 3 18 0,7%
sy/haar 1 1 1 10 0,4%
TOTAAL 2 548 2 985 2 952 2 530
Terwyl die totale gebruiksgetalle van sy soortgelyk is aan dié van hy, is die funksieverdeling baie anders. Die grootste kategorie is deurgaans attributiewe besitsvorme, terwyl verwysing na vroulike, menslike referente die tweede grootste kategorie uitmaak. Die gebruik as generiese vorm figureer eers in die laaste periode, maar daar sal meer aandag aan gegee word in die volgende afdeling. Die nie-menslike sielhebbende gebruike verwys deurgaans na vroulike diere, en al die siellose gebruike in die eerste periode verwys na die kerk in die rol van die bruid van Christus (soos in voorbeeld 5.45). Dit blyk dus dat sy twee hooffunksies het, waarvan die tweede is om na enkelvoudige vroulike referente te verwys.
Die voorwerpsvorm van die derde persoon vroulike enkelvoud voornaamwoord is haar.
Hierdie vorm is ook polisemies – dit word gebruik vir verwysing na 'n menslike, vroulike referent (voorbeeld 5.53),
[5.53] Sy was onderwyseres op Boksburg en het ingewoon by Ds. en Mev. J. M. Louw, waar Beyers haar ontmoet het. (1941-1950, Biografies)
verwysing na 'n nie-menslike sielhebbende referent [5.54],
[5.54] Nog verder, ruim honderd-en-vyftig myl noordwes, jag Vlam en die vyf wildehonde wat die trop die dag met haar verlaat het... (1941-1950, Fiksie) verwysing na 'n siellose referent [5.55],
[5.55] M.a.w. dat sij as Kerk doen wat God haar gebied stip en string. (1911-1920, Religieus)
en verwysing na 'n generiese menslike referent [5.56].
[5.56] Bly weg van stellings wat jou kind skuldig laat voel of wat haar onveilig en bedreig laat voel. (2001-2010, Informatief)
Dit word ook gebruik as die attributiewe besitsvorm van verskillende tipes referente: vroulike, menslike referente [5.57],
[5.57] Waarom kan ek nie sommer haar hand vat en sê ons loop 'n draai nie? (1971- 1980, Biografies)
179 nie-menslike sielhebbende referente [5.58],
[5.58] Dit was al lig toe die sog van die rivier se kant af aangewaggel kom om haar man af te los... (1941-1950, Fiksie)
siellose referente [5.59],
[5.59] Helemaal bevredigend meen ons, kan ons Alma Mater terugsien op 1916, die eerste jaar van haar bestaan as Gymnasium. (1911-1920, Verslaggewing) en generiese menslike [5.60] referente.
[5.60] Probeer dit vermy om baba in haar bed aan stimulasie bloot te stel. (2001-2010, Informatief)
Dit word ook gebruik as 'n wederkerende voornaamwoord [5.61], [5.61] Sy moet haar teen die kosyn stut. (1971-1980, Fiksie)
in kombinasie met sy as generiese attributiewe besitskonstruksie [5.62],
[5.62] So deel die gelowige aan die heerlikheid van Christus en straal dus ook sy/haar eie heerlikheid uit. (2001-2010, Geesteswetenskappe)
en in kombinasie met hom as voorwerpsvorm van die generiese menslike voornaamwoord [5.63].
[5.63] ... omdat "geen mens ongestraf sondig teen wat sy Verlede van hom of haar gemaak het nie!" (1911-1920, Informatief)
Tydens die eerste periode word daar nog addisionele vorme van haar gebruik, maar dit is alles besitlike voornaamwoorde, en word in hierdie afdeling gewoon bymekaar gevoeg. Die volledige besonderhede van die gebruiksgetalle van haar in die korpusdata word in tabel 5.26 uiteengesit.
Tabel 5.26: Gebruiksgetalle van die verskillende gebruike van haar
1911-1920 1941-1950 1971-1980 2001-2010 menslik vroulik 162 27,4% 240 36% 347 34,3% 213 25,7%
generies menslik 0 0 0 34 4,1%
nie-mens sielh. 1 0,15% 2 0,3% 0 8 1%
sielloos 6 1% 0 0 3 0,4%
besit 409 69,1% 406 61% 649 64,1% 548 66,2%
sy/haar 1 0,15% 0 1 0,1% 10 1,2%
hom/haar 2 0,3% 0 0 6 0,7%
wederkerend 11 1,9% 18 2,7% 15 1,5% 6 0,7%
TOTAAL 592 666 1 012 828
180
Die gebruik van haar as besitsvorm blyk deurgaans die grootste kategorie te wees, telkens rondom twee derdes van die totale gebruike. Die verwysing na 'n vroulike referent is deurgaans die tweede grootste kategorie, met die ander kategorieë wat maar 'n klein deel van die gebruike uitmaak. Die generiese gebruike figureer weereens eers in die laaste periode, waar haar oor die algemeen meer geredelik vir ander gebruike as vroulike verwysing en besitskonstruksies aangewend word. Die totale gebruiksgetalle eindig ietwat hoër as wat dit begin, maar dit is maar wisselvallig en dus moeilik om met sekerheid as verandering te tipeer50.
Daar is 'n derde voornaamwoord wat anafories na enkelvoudige referente verwys, naamlik dit. Die funksies waarvoor dit aangewend word is divers – verwysing na 'n enkelvoudige, getalsongespesifiseerde of meervoudige referent (waarskynlik nie-menslik of sielloos) (Ponelis, 1979:71-2) (voorbeeld 5.64);
[5.64] Pryse wissel gedurig en alhoewel dit soms onvoorspelbaar styg moet vir stygings toegelaat word waar moontlik. (1971-1980, Geesteswetenskappe)
dit word sinsanafories (terugverwysend) gebruik [5.65],
[5.65] Die kinders moet van kleins af voel dat hulle ouers in hulle belangstel. Dit wek vertroue. (1941-1950, Religieus)
en ook sinskatafories (vooruitwysend) [5.66] gebruik waar die referent 'n hele sin of klous uitmaak (Ponelis, 1979:70).
[5.66] Die doel maak nog glad nie 'n slegte middel goed nie, en dit is net 'n dwaas wat die slegste gereedskap uitsoek as hy een of ander werk wil verrig. (1911-1920, Geesteswetenskappe)
Daar is ook die leë of formele dit wat as plekhouer vir veral die sinsonderwerp optree (Ponelis, 1979:73) [5.67].
[5.67] Dit begin reën en die water loop in slierte teen my gesig en in my nek af. (1971- 1980, Fiksie)
'n Meer kontroversiële gebruik van dit is wanneer dit in 'n aanwysende konstruksie gebruik word sonder om te verbuig na daar, byvoorbeeld "van dit" in plaas van "daarvan" [5.68].
[5.68] ...nadat jy gevra het om iets persoonliks agter te laat by jou sodat jy aan dit kan vashou. (2001-2010, Manuskrip)
In die vroegste kategorie van die normatiewe literatuur dui vier bronne bloot aan dat dit in kombinasie met voorsetsels omskakel na daar- (Booysen & Jansen, 1922:84; Botha &
50 Log-waarskynlikheid vir al vier periodes aaneenlopend: 136.61; van periode een tot twee: 4.55 (toename); van periode twee tot drie: 73.78 (toename); van periode drie tot vier: 19.05 (afname)