HOOFSTUK 4: TYDSAANDUIDING
4.4 DIE PRETERITUM
4.4.3 DIE WERKWOORD WEES
Die koppelwerkwoord wees realiseer op 'n verskeidenheid van wyses in Afrikaanse taalgebruik – die infinitief wees, die mees frekwente vorm is in die presens, die preteritumvorm was, en die reëlmatige verlede tyd gewees. Beide is en was kombineer potensieel met gewees, hoewel gewees ook saam met het gebruik word. Voorbeelde 4.30- 4.33 illustreer verskillende vorme en gebruike van wees in die verlede tyd. In 4.30 word die preteritale vorm alleen as koppelwerkwoord gebruik,
[4.30] Vir wolwe was hy uiters bedug! (2001-2010, Biografies)
in 4.31 gee die preteritale modale hulpwerkwoord aanleiding tot die gebruik van die reëlmatige verledetydsvorm saam met die hulpwerkwoord het,
[4.31] Dat hy só vermetel kon gewees het! (1971-1980, Fiksie)
in 4.32 word die preteritale vorm was (as koppelwerkwoord) saam met die reëlmatige verledetydsvorm gebruik,
[4.32] Dit was ook wel die geval in L gewees. (1941-1950, Manuskrip)
en in 4.33 word die presensvorm is (as koppelwerkwoord) saam met die reëlmatige verledetydsvorm gebruik.
[4.33] Ons poginge is dan ook nie vrugteloos gewees nie. (1911-1920, Verslaggewing) Volgens Steyn (1976:44) is die kombinasie was gewees oorbodig, net soos die dubbel negativering, en terwyl die opsie nie ongrammatikaal is nie, dui dit geen betekenisverskil met blote was aan nie (sien ook Conradie, 1977:61). Hy skryf die "oorbodige" gewees toe aan Nederlandse invloed, en beweer dat die kombinasie eerder in gesproke taalgebruik voorkom en blote was in versorgde geskrewe taalgebruik (Steyn, 1976:44). Steyn (1976:44) merk ook die kombinasie is gewees op, hoewel dit volgens hom heelwat minder voorkom as was
105
gewees. Ponelis (1979:266) dui verder aan dat die kombinasie gewees het in sommige gevalle as ekwivalente van was kan voorkom, soos in sy voorbeeld "Dit het so gewees" (met ander woorde sonder 'n modale hulpwerkwoord). In die vroegste kategorie van die normatiewe literatuur word was gewees in drie bronne aangedui as 'n blote alternatief vir was (Le Roux & Nienaber, 1947:3; Malherbe, 1917:56-7, 1921:63-4), en deur vier bronne aangedui as 'n manier om die voorverlede tyd of perfektiwiteit aan te dui (Botha & Burger, 1927:129; Bouman & Pienaar, 1924:136; Langenhoven, 1926:37; Pienaar & Langenhoven, 1932:98). In die middelste kategorie van normatiewe bronne word dit selde hanteer – een bron gee dit as 'n alternatief (Le Roux & Nienaber, 1951:6), en een bron as 'n uitdrukking van die voorverlede tyd (Van der Merwe, 1967:315). In die laaste kategorie word dit in 'n ander lig gestel – terwyl twee bronne dit nog as 'n moontlike voorverlede tyd sien (Prinsloo &
Odendal, 1995:223; Van Schalkwyk & Kroes, 1982:68), beskryf vyf bronne dit as onnodig en toutologies, en beveel aan dat dit liefs vermy moet word (Combrink & Spies, 1986:180; De Villiers, 1983:218; Müller, 2003:700; Van der Merwe & Ponelis, 1991:262; Van Schoor, 1983:144). Die patroon wat hieruit verwag sou word is dat dit in die eerste twee korpusse nog redelik gebruik word, waarna dit afneem, om moontlik baie min of glad nie in die laaste korpus voor te kom.
Wanneer daar met die leksikale item was gewerk word, moet daar in gedagte gehou word dat dit 'n verskeidenheid funksies het, en nie net as 'n preteritale koppelwerkwoord gebruik word nie. Bo en behalwe die preteritale koppelwerkwoord, word dit ook gebruik as 'n hulpwerkwoord in die verlede tyd passief [4.34],
[4.34] Dit het gelei tot die ontstaan van die sogenaamde "Hyphenated techniques"
waar chromatografie gekoppel word aan analise tegnieke wat tradisioneel op hul eie gebruik was. (2001-2010, Natuurwetenskappe)
as 'n hoofwerkwoord wat "reinig" beteken [4.35],
[4.35] Ek was die kleiner kinders se klere en hang dit buite. (2001-2010, Fiksie) en as 'n naamwoord [4.36].
[4.36] Die bome het blare soos vlerke van was; die son smelt die vlerke van die bome.
(1971-1980, Fiksie)
Verder word dit in die eerste periode nog gebruik as hulpwerkwoord van tyd saam met mutatiewe werkwoorde, aangesien het nog nie volledig vir is en was in daardie gebruik vervang het tydens die eerste periode nie. In tabel 4.14 word die verskillende werkwoordelike gebruike van was opgesom.
106
Tabel 4.14: Gebruiksgetalle van die verskillende werkwoordelike gebruike van was 1911-1920 1941-1950 1971-1980 2001-2010
hoofwerkwoord 10 9 17 8
hulpwerkwoord van tyd 27 - - -
hulpwerkwoord passief 156 92 65 42
koppelwerkwoord 2 035 1 442 1 370 1 397
TOTAAL 2 228 1 543 1 452 1 447
Uit die tabel kan afgelei word dat was se hoofgebruik as preteritale koppelwerkwoord is, en dat dit ná die eerste periode nie meer gebruik is as hulpwerkwoord van tyd anders as in die passief nie. Daar is 'n beduidende afname in totale gebruiksgetalle11, wat ook gereflekteer word in die koppelwerkwoordgebruike12, hoewel die beduidendheid telkens hoofsaaklik aan die verskille tussen die eerste twee periodes toegeskryf kan word.
Aangesien gewees nie altyd in kombinasie met was gebruik word nie, maar ook saam met modale hulpwerkwoorde13, is dit moontlik dat 'n toename in gewees kan bydra tot die afname in was. Meer besonderhede oor gewees word in tabel 4.15 gegee.
Tabel 4.15: Gebruiksgetalle van gewees met hulpwerkwoorde 1911-1920 1941-1950 1971-1980 2001-2010
met het 58 31 35 22
met is 35 3 - -
met was 23 9 3 1
TOTAAL 116 43 38 23
Uit die tabel is dit duidelik dat gewees nié kan bydra tot die afname van was nie. In die eerste plek is daar 'n beduidende afname in totale gebruike van gewees14 – 'n opvallende verandering op sigself. Tweedens kan gewees in kombinasie met was nie by die moontlike kompetisie gereken word nie, aangesien was steeds gebruik word. Die gebruik van was gewees neem inderdaad deurgaans af, en kom ooreen met die verwagting vanuit die analise van die normatiewe bronne wat hierbo aangedui is, asook die bevindinge van Stoops (1972:127). Buiten normatiewe uitsprake kan die beginsel van ekonomie ook moontlik tot die vermindering bydra, aangesien die gebruik van beide was en gewees oortollig is. Dit is 'n tree in die teenoorgestelde rigting as regularisering, aangesien dit die reëlmatige vorm is wat
11 Log-waarskynlikheid vir al vier periodes aaneenlopend: 233.26; periode een tot twee 123.34;
periode twee tot drie 2.29 (onbeduidend); periode drie tot vier 0.03 (onbeduidend)
12 Log-waarskynlikheid vir al vier periodes aaneenlopend: 177.57; periode een tot twee 100.09;
periode twee tot drie 1.47 (onbeduidend); periode drie tot vier 0.18 (onbeduidend)
13 Daar is geen voorbeelde van gewees met het sonder 'n modale hulpwerkwoord gevind nie.
14 Log-waarskynlikheid vir al vier periodes aaneenlopend: 83.12; periode een tot twee 34.62; periode twee tot drie 0.28 (onbeduidend); periode drie tot vier 3.78 (lae vlak van beduidendheid)
107
afneem in frekwensie, terwyl die preteritum behoue bly. Laastens is daar ook 'n afname in die gebruike wat wel kompetisie sou kon wees, en is die gebruiksgetalle in elk geval besonder laag.
Wat andersins uit die tabel afgelei kan word, is dat gebruike met is volledig afwesig is in die laaste twee periodes, wat nie beteken dat dit noodwendig heeltemal uit taalgebruik verdwyn het nie, maar wel drasties verminder het in vergelyking met die eerste periode se voorkeure. Verder is daar ook 'n sterk afname in die gebruike met was, wat beteken dat dit moontlik besig is om, ten minste wat geskrewe taalgebruik betref, minder gebruiklik te raak.
Aangesien gewees nie bydra tot die afname van was nie, word die gebruiksgetalle van was met dié van is en wees vergelyk om te sien of daar nie 'n verskuiwing na die presens is nie.
Tabel 4.16: Gebruiksgetalle van die verskillende vorme van WEES
1911-1920 1941-1950 1971-1980 2001-2010 was 2 035 31,4% 1 442 25,8% 1 370 24,2% 1 397 23,6%
is 3 910 60,4% 3 602 64,5% 3 825 67,5% 4 036 68,1%
wees 532 8,2% 542 19,7% 473 8,3% 493 8,3%
TOTAAL 6 477 5 586 5 668 5 926
Die gebruiksgetalle van is en wees blyk redelik te fluktueer. Daar is proporsioneel 'n klein afname van was teenoor is tot die derde periode, maar nie voldoende om die afname van was te verklaar nie – veral nie in die lig van die fluktuasie in totale gebruike van die verskillende vorme van wees nie (die verklaring daarvan val buite die skopus van hierdie studie). Enige verdere verklarings vir hierdie afname sal buite die grammatikale sisteem gesoek moet word – dit is moontlik dat die potensieel omvangryke veranderinge wat tydens aanvanklike standaardisering plaasvind hier 'n (moontlik onbedoelde) effek op die frekwensie van was gehad het, wat kan verduidelik waarom die enigste beduidende verskil tussen die eerste twee periodes gevind is.