• Tidak ada hasil yang ditemukan

PROSESSE VAN TAALVERANDERING

HOOFSTUK 2: DIE TEORIE VAN TAALVERANDERING

2.3 TAALVERANDERING

2.3.3 PROSESSE VAN TAALVERANDERING

27

kontak tussen idiolekte, en enige taal is dan tot daardie mate 'n hibridiese taal (Mufwene, 2008:132). Taalkontak en -beïnvloeding, sowel as taalvariasie, word hierdeur geakkommodeer, en Mufwene (2008:178) stel pertinent dat die konsep van 'n kenmerkpoel die grense tussen tale meer osmoties laat blyk as wat linguiste dit voorheen uitgemaak het.

Aan die einde van hierdie studie gaan daar na hierdie verskil tussen Croft en Mufwene se konseptualisering teruggekeer word, en daar gaan oorweeg word of die data en bevindinge van hierdie studie gewig kan verleen aan een (of albei) van die argumente.

Vervolgens gaan daar op grond van die pas afgelope teoretiese uiteensetting van taalevolusie aandag gegee word aan meer spesifieke prosesse en aspekte van taalverandering.

2.3.3 PROSESSE VAN TAALVERANDERING

28 2.3.3.2 Verskillende prosesse van taalverandering

Voordat die spesifieke prosesse van taalverandering beskryf word, word taalverandering as

"imperfect replication" eers hier onderskryf deur 'n paragraaf uit Mufwene (2008:3) direk aan te haal wat al die verskillende taalveranderingsprosesse begrond, en nie sinvol op 'n korter manier beskryf kan word nie:

Imperfect replication, observable in how every idiolect is unique and none replicated any current speaker's, is a consequence of two fundamental facts: (1) Native speakers acquire their vernaculars naturalistically, through their interactions with current speakers and often with peers that are hardly better off than themselves. Everything proceeds piecemeal, in attempts to communicate; and there are no school-like institutions in which they are taught the vocabulary and drilled rules of grammar. This practise leaves a lot of room for inaccurate inferences and therefore deviations which can evolve into divergences. (2) Naturalistic language learners do not proceed like linguists, gathering sufficient bodies of representative data and producing analyses that yield significant generalizations. Pressure to communicate does not give them the luxury of waiting that long and working out a system. Attempts to communicate force them to rely on partial analogies, through well- and ill-formed utterances, improving their productions and interpretations of other speakers' utterances in the process.

Die eerste taalveranderingsproses wat aan bod kom is erosie. Erosie is die voortdurende verkorting en verlies van klanke in spraak, wat deur Deutscher (2005:169) beskryf word as 'n hoogs nuttige kompakteringsmeganisme wat 'n mens in staat stel om idees vinniger en meer effektief oor te dra. Erosie behels klankverandering (Croft, 2000:163), wat nie tradisioneel as deel van grammatikale verandering gereken is nie, maar Deutscher (2005:208) wys uit dat dit dikwels lei tot grammatikale veranderings in samewerking met ander taalveranderingsprosesse (byvoorbeeld in grammatikalisering, wat later aan bod kom).

Die volgende taalveranderingsproses waaraan daar aandag gegee word, is dié van analogie. Analogiese verandering het tradisioneel verwys na morfofonologiese verandering, spesifiek die verlies of normalisering van alternasie binne-in paradigmas of die uitbreiding van alternasies van een paradigma na 'n ander (Bybee, 2010a:958). Die konsep kan in 'n breër sin ook toegepas word, waar 'n struktuur in taal geherstruktureer word om soortgelyk aan 'n reeds bestaande struktuur te wees, en so 'n nuwe struktuur tot stand bring (Traugott

& Trousdale, 2010:36). Bybee (2010b:57) beskryf analogie as die proses waardeur 'n spreker 'n nuwe item in 'n bestaande konstruksie gebruik, en wys verder daarop dat analogie as 'n tipe historiese taalverandering nie apart funksioneer van analogie as 'n kognitiewe prosesseringsmeganisme nie (Bybee, 2010b:72). McMahon (1994:90) sien ook die verband tussen analogie en mentale prosesse, en sluit aan by Bybee (2010b:63) wat uitwys dat meer frekwente, gekonvensionaliseerde frases dien as analogiese basis vir die vorming van nuwe frases.

29

Analogie is primêr gemoeid met die skakel tussen klank en betekenis, en word gevolglik dikwels gesien as 'n tipe huishoudelike toestel wat ten minste ván die gemors wat deur klankverandering (onder andere erosie) meegebring word, opruim deur regularisering (McMahon, 1994:70). Die konsep van regularisering wat deur analogievorming meegebring word is vir Deutscher (2005:173) sentraal, aangesien dit een van die gevolge is van sprekers se ordesoekende verstande se spontane pogings om sin te maak van die chaotiese wêreld rondom hulle. Die vermoë om patrone te kan uitken is nie net krities wanneer 'n vreemde taal aangeleer word nie, maar dit is net so belangrik wanneer jong kinders hulle moedertaal aanleer (Deutscher, 2005:174).

Daar word tradisioneel twee tipes analogievorming uitgeken, naamlik analogiese normalisering ("analogical levelling") en analogiese uitbreiding ("analogical extension") – normalisering behels die verlies van alternasie in 'n paradigma, en uitbreiding is wanneer spesifieke alternasie oorgedra word na 'n paradigma waar dit nie voorheen teenwoordig was nie (Bybee, 2010b:66). Beide uitbreiding en normalisering kom voor wanneer 'n konstruksie toegepas word op items wat voorheen in 'n ander konstruksie deelgeneem het (Bybee, 2010b:69).

In analogiese normalisering verloor 'n paradigma wat alternasie toon daardie alternasie, en word dit geregulariseer (Bybee, 2010a:958). Normalisering is nie die verandering van 'n ou vorm nie, maar die vorming van 'n nuwe vorm (Bybee, 2010a:959); dit verduidelik waarom daar wisselvorme vir sekere woorde kan bestaan, byvoorbeeld doktors / doktore teenoor dokters, waar een van die vorme ouer kan wees, en die ander deur middel van analogie op grond van ander wyses van meervoudsvorming kon ontstaan het. Volgens Bybee (2010a:959) versprei normalisering op leksikale vlak, en is dit waarom onreëlmatighede steeds altyd gevind word veral in konstruksies met hoë gebruiksfrekwensie wat, soos vroeër verduidelik, strukturele verandering weerstaan.

Analogiese uitbreiding is wanneer 'n paradigma wat voorheen geen alternasie bevat het nie, alternasie in vorme begin toon, of van een alternasie na 'n ander verander (Bybee, 2010a:962). 'n Voorbeeld hiervan is die Afrikaanse werkwoord bring wat vroeër die stamvokaal breng geneem het, later gewissel het tussen breng en bring, en toe finaal oorgegaan het na bring (Kirsten, 2013:68-9). Dit word algemeen aanvaar dat uitbreiding heelwat minder algemeen is as normalisering (Bybee, 2010a:963).

'n Verdere taalveranderingsproses is heranalise ("reanalysis"). Dit word nie gesien as 'n proses wat op sigself spesifieke veranderinge meebring nie, maar eerder as 'n mentale proses wat saam met ander prosesse werk om grammatikale verandering mee te bring.

Croft (2000:120) beskryf vorm-funksie-heranalise as sintagmaties: "it arises from the

30

(re)mapping of form-function relations of combinations of syntactic units and semantic components", hoewel dit ook oënskynlik paradigmatiese resultate kan hê. Traugott en Trousdale (2010:35) beaam dat heranalise ten minste gedeeltelik sintagmaties geskied, terwyl analogie paradigmaties te werk gaan. Sommige taalkundiges reken dat heranalise betrokke is by alle strukturele of grammatikale taalverandering (Croft, 2000:140; Traugott &

Trousdale, 2010:33) en Traugott en Trousdale (2010:39) gaan selfs so ver as om te beweer

"...there is no change without reanalysis."

'n Verdere proses wat heelwat raakpunte met heranalise het, is die hantering van disfunksionele verskynsels van tale in die proses van verandering, naamlik eksaptasie. Lass (1990:81) stel die model van organiese eksaptasie voor vir die gebeurtenis tydens taalevolusie wanneer verskynsels uitgedien geraak het in 'n veranderende linguistiese struktuur en omgewing, en dan aangewend word vir 'n ander, nuwe doel. Rosenbach (2010:172) sluit daarby aan deur te beweer dat diachroniese verandering 'swakpunte' in die taal ontgin. Croft (2000:69) wys uit dat daar selde indien ooit werklike gapings in uitdrukkingsmoontlikhede in tale is, en dat dit nie taalverandering dryf nie, aangesien daar gewoonlik verskeie maniere is om dieselfde ding te sê en linguistiese sisteme dus nie elegant-simmetries is nie (Croft, 2000:70). Hierdie is egter nie teenstrydig met Lass se bewering nie – 'n verskeidenheid van uitdrukkingswyses bevestig juis dat daar oortolligheid is, wat die potensiaal vir disfunksie en gevolglike eksaptasie daarstel (Lass, 1997:313).

Lass (1997:315) verwys na linguistiese rommel ("linguistic junk"); dit ontstaan gedurig as gevolg van taalverandering wat oortolligheid meebring, en die nut van sekere verskynsels uitdien, en dan gebeur daar een van drie dinge met hierdie rommel: dit word net so gelaat (byvoorbeeld die tweede "nie" in die dubbel negatief in Afrikaans), daar word van ontslae geraak (byvoorbeeld die afname in die kombinasie was gewees, sien hoofstuk 4), of dit word herwin vir 'n nuwe doel (byvoorbeeld die Afrikaanse attributiewe -e wat voorheen verwant was aan die gender van die naamwoord en die aard van die bepalings, in chaos verval het met die verlies van die gendersisteem, en toe aangepas is as attributiewe suffiks; sien Lass, 1990:88-91 vir meer besonderhede) (Lass, 1997:317). Tale blyk al drie hierdie strategieë te gebruik, en die laaste verwys na eksaptasie (Lass, 1997:317). Lass (1990:98; 1997:318) wys verder uit dat selfs verskynsels wat steeds 'n sinvolle funksie vervul, soms geëksapteer kan word vir verdere funksies, en dat alle aanpassings wat gemaak word in taalverandering nie eksaptasie is nie (soos analogie) (Lass, 1990:82).

Die dieperliggende kwessie wat eksaptasie kan help uitklaar, is dat taalkundiges al in die verlede beweer het dat taalverandering gedryf word deur die menslike verstand se afsku vir doellose variasie; in werklikheid is tale egter deurspek met 'doellose variasie' (Lass, 1997:344). Soos reeds genoem, is eksaptasie maar één van die wyses waarop oortolligheid

31

hanteer word in taal, maar soms word dit net so gelaat vir eeue (Lass, 1990:99). Verder wys Lass (1997:350) op die sinneloosheid van die argument dat mense in taalverandering 'stukkende' dele kan 'regmaak', maar nie kan vermy om enige dele te 'breek' om mee te begin nie – as taalverandering daarop gemik is om tekortkominge in die taalsisteem reg te stel, hoe ontstaan hierdie tekortkominge om mee te begin? Dit wys (a) op die sinneloosheid daarvan om taalverandering in teleologiese terme te konseptualiseer, en (b) waarom verskillende maar verwante variëteite verskillend ontwikkel met verloop van tyd.

'n Laaste taalveranderingsproses wat in hierdie afdeling bespreek word, is 'n selfs meer komplekse en omvangryke proses as die bogenoemdes, genaamd grammatikalisering.

Grammatikalisering word gewoonlik gedefinieer as die proses waardeur 'n leksikale item of opeenvolging van items 'n grammatikale morfeem word, waartydens die verspreiding en funksie van die item verander (Bybee, 2010a:964). Dit word verder beskryf as die mees deurdringende proses waardeur grammatikale items en strukture geskep word (Bybee, 2010b:106). Traugott en Trousdale (2010:38) wys egter daarop dat grammatikalisering nie gereduseer kan word tot enige een meganisme van taalverandering nie, en McMahon (1994:161) sluit hierby aan deur dit te beskryf as "a directional syndrome of related changes".

Een van die opspraakwekkendhede van grammatikalisering is die bewering dat dit universeel is (byvoorbeeld Bybee, 2010a:966 en 2010b:107), en ook slegs in een rigting geskied ("unidirectionality") (byvoorbeeld Bybee, 2010a:975-6). Die konseptualisering van grammatikalisering as 'n eenrigtingproses sluit ook aan by die daarstel van grammatikaliseringsroetes ("grammaticalization paths"), wat slegs in een spesifieke rigting geskied, maar volgens dieselfde algemene roetes in onafhanklike en onverwante tale (Bybee, 2010a:967). Volgens Haspelmath (2004:37) is daar heelwat aanslae op die enkelrigting van grammatikalisering, maar hy glo dat, ten spyte van enkele voorbeelde van veranderings wat een tree gee in 'n ander rigting as grammatikalisering, die enkelrigting van grammatikaliseringsroetes in beginsel steeds bly geld.

Bybee (2010b:106, 109) plaas die lokus van beskrywing van grammatikalisering in die konstruksie (soos omskryf in die teoretiese bespreking), aangesien grammatikalisering van leksikale items binne-in spesifieke konstruksies geskied, en dan nuwe konstruksies tot gevolg het (Bybee, 2010a:965). Die fokus op konstruksies is ook 'n gevolg daarvan dat grammatikalisering manifesteer in fonetiek, morfosintaksis, semantiek en pragmatiek (Bybee, 2010b:109; McMahon, 1994:161) en nie bloot in een van die tradisionele grammatikale vlakke plaasvind nie, en McMahon (1994:161) kom tot die gevolgtrekking dat grammatikalisering "the cross-componential change par excellence" is. Die elemente in konstruksies wat grammatikaliseer word al hoe meer in mekaar versmelt, en die interne

32

struktuur van die konstruksie is geneig tot redusering (Bybee, 2010a:972). Dit ondersteun die argument dat grammatika, en spesifiek sintaksis, nie outonoom is soos wat strukturaliste en spesifiek generatiwiste beweer nie (Croft, 1995:517-8), maar dat linguistiese eenhede, oftewel konstruksies, op verskeie grammatikale vlakke gevorm kan word, en tussen daardie vlakke kan beweeg (Croft, 1995:521-2).

Die proses van heranalise wat vroeër beskryf is, word ook met grammatikalisering verbind. Aan die een kant beweer byvoorbeeld Van Gelderen (2010:129) dat die mikrostappe wat grammatikalisering uitmaak suggereer dat grammatikalisering in werklikheid heranalise is, terwyl Bybee (2010a:974) weer waarsku teen die reduksie van grammatikalisering na blote heranalise, aangesien dit die belang van gebruiksgebaseerde faktore ontken en die siening van grammatika as 'n diskrete entiteit beklemtoon. Bybee (2010a:973) dui aan dat heranalise wel 'n komponent van grammatikalisering is, en dat die stukrag agter heranalise eintlik grammatikalisering is – die meeste voorbeelde van heranalise in die literatuur betrek groter samesmelting van die komponente van 'n konstruksie, en verandering van 'n leksikale na 'n grammatikale kategorie (Bybee, 2010a:974).

Daar is 'n aantal tekens van grammatikalisering wat tipies sal opduik in korpusdata, en waarvoor daar in hierdie studie opgelet word:

 Verspreiding van 'n item verander (Bybee, 2010a:964), soos wat veral die funksie van die item verander.

 Verskillende elemente versmelt in mekaar, en/of die interne struktuur van 'n item of konstruksie reduseer tipies (Bybee, 2010a:972).

 Die betekenis van 'n item of konstruksie verbleik, en verloor aspekte van die oorspronklike leksikale betekenis (McMahon, 1994:160).

 Die grammatikaliserende item word tipies al hoe minder selfstandig (Trousdale &

Traugott, 2010:3).

 Die een beginsel wat die bogenoemdes saambind is, uiteraard, dat die item of konstruksie toenemend grammatikaal van aard word – al die bogenoemde prosesse is nie noodwendig op elke stadium by elke grammatikaliserende konstruksie sigbaar nie, maar die een eienskap van grammatikalisering wat ononderhandelbaar is, is dat die konstruksie al hoe meer grammatikaal word.

Terwyl daar dus 'n aantal verskillende taalveranderingsprosesse onderskei kan word, is die onderskeid egter nie altyd so eenvoudig of duidelik nie, en wil dit blyk dat taalverandering 'n komplekse verskynsel met vele moontlike aspekte en bydraende faktore is. Een van die meer problematiese aspekte in die beskrywing van taalverandering, naamlik die onderskeid

33

tussen die ontstaan en verspreiding van taalverandering, gaan vervolgens in meer diepte uit die literatuur ondersoek word.

2.3.3.3 Onderskeid: ontstaan en verspreiding van taalverandering

Croft (2000:31, 185; 2001:366) dui aan dat taalverandering, soos enige evolusionêre verandering, uit twee stappe bestaan – die oorsprong van die verandering, of "altered replication", of innovasie, en die verspreiding van die verandering, of "differential replication", of propagering (Croft, 2000:185). Aangesien daar in die beskrywing van spesifieke taalveranderinge, of taalveranderingsprosesse, dikwels slegs aan een van dié twee aspekte aandag gegee word, is dit belangrik om te bepaal wat presies die onderskeid is, en hoe dit die sinvolle beskrywing en verklaring van taalverandering raak.

McMahon (1994:11, 44) tref 'n duidelik onderskeid tussen wat sy noem die kwessie van aanvang, en die kwessie van transmissie of verspreiding, en sy wys daarop dat taalkundiges dikwels in staat is om die verspreiding van 'n verandering te verduidelik, maar nie antwoorde het vir die ontstaan van 'n verandering nie (McMahon, 1994:225). Byvoorbeeld Lass (1997:326) sê dat die "classic 'actuation' problem" nie werklik 'n probleem is nie; hy beskryf die ontstaan van verandering bloot as "copying error" (Lass, 1997:112), en fokus op die verloop van verandering en die verklaring daarvan.

Croft (2000:31) beweer egter dat 'n teorie van taalverandering die kousale meganismes vir beide hierdie stappe in die proses behoort te stel, en doen dit dan in sy eie teorie deur middel van die evolusiemodel (Croft, 2000:37). Croft (2000:3) modelleer die verskillende stappe in die proses deur middel van veranderde replikasie ("altered replication") en differensiële replikasie ("differential replication") – veranderde replikasie produseer variante van 'n struktuur, en differensiële replikasie is die verskuiwing in gebruiksfrekwensie wat die verspreiding van hierdie variante aandui.

Croft (2000:8) noem dat die meganisme agter innovasie funksioneel is, naamlik fonetiese en konseptuele faktore (Croft, 2000:38), en verbind innovasie met die uitdrukking van betekenis in grammatikale vorm (Croft, 2000:115). Deutscher (2005:266) sluit daarby aan deur innovasies toe te skryf aan plaaslike, kleinskaalse sorge, soos om moeite te bespaar (byvoorbeeld in erosie), of een patroon op 'n ander te modelleer (byvoorbeeld in analogie). Hy beweer dat innovasies altyd gebaseer is op 'n herwinningsbeginsel, wat reeds bestaande entiteite aanwend vir nuwe doeleindes (Deutscher, 2005:261). Mufwene (2008:23) voltooi die prentjie deur innovasie in terme van sy raamwerk van taalevolusie te beskryf, en betrek die interaksie van die eksterne ekologie van 'n taal met die interne struktuur by die oorsake van taalverandering.

34

Innovasie produseer dan veranderlikheid – 'n konsep wat sentraal staan in die verspreiding van verandering. Poplack et al. (2012b:251) vermeld dat variasie altyd 'n voorvereiste vir verandering is, maar dat dit nie met verandering self verwar moet word nie;

inteendeel, hulle beweeg weg van die oortuiging dat variasie verandering is (Poplack et al., 2012a:204). Soos wat Trudgill (2002:41) dit stel: variante mag moontlik die vroegste stadia van taalverandering aandui.

Labov (2010:369) beweer dat taalverandering nie net skakel met variasie nie, maar dat dit selfs parasities daarop teer, en Poplack et al. (2012b:251) beskryf die moontlikheid van 'n lang oorgangsperiode ná innovasie waartydens een variant in kompetisie is met 'n ander, en wat sinchronies as variasie manifesteer. Deutscher (2005:68) sluit hierby aan deur die voortgang van taalverandering gelyk te stel met verandering in die frekwensie van kompeterende variante.

Die verspreiding (al dan nie) van 'n linguistiese variant wat deur middel van innovasie tot stand gekom het, behels dan propagering en seleksie. Volgens Croft (2000:166) is die meganisme vir propagering sosiaal, en het die patrone van propagering in sosiale populasies heelwat parallele met patrone van seleksie in biologiese populasies. Konvensie staan vir Croft (2000:98) sentraal in propagering, aangesien propagering in beginsel die vestiging van 'n konvensie is, omdat die eerste gebruiksgevalle van 'n innovasie nog nie konvensioneel is nie (Croft, 2000:100).

Meganismes vir seleksie moet onderskei word van meganismes vir onveranderde replikasie – onveranderde replikasie betrek geen meganismes van verandering nie maar slegs die behoud van konvensie, terwyl seleksiemeganismes differensiële replikasie behels, dit wil sê die keuse van replikasie tussen verskillende variante wat reeds met innovasie tot stand gekom het (Croft, 2000:73). Innovasies word dus versterk deur middel van gebruik, om deel van 'n spreker se mentale kennis te word (Croft, 2000:186). Volgens Mufwene (2008:17) vind die kompetisie en seleksie van variante of kenmerke in sprekers se verstand plaas, alhoewel die kenmerke van verskeie sprekers of selfs ander taalsisteme ontvang kan word. Seleksie neem dikwels nie die kompetisie in geheel weg nie, maar beslis dit slegs in terme van dominansie (Mufwene, 2008:19-20). Gevolglik versprei verskillende innovasies ook nie teen dieselfde tempo nie, en dra alle innovasies nie dieselfde gewig by sprekerpopulasies nie (Mufwene, 2008:62). Mufwene (2008:66) merk verder op dat baie innovasies nooit eers begin versprei nie, aangesien dit deur geen ander spreker as die innoveerder gebruik word nie.

Mufwene (2008:119) keer terug na die idiolek as repliseerder om verspreiding en seleksie te verklaar, hoewel hy erken dat vanuit 'n historiese perspektief daar tog na

35

populasies en sisteme geëkstrapoleer word. Inter-idiolektiese variasie dwing sprekers om seleksie tussen kenmerke uit te oefen, en dit manifesteer onder andere in hoe sprekers mekaar akkommodeer in verskillende kommunikatiewe netwerke (Mufwene, 2008:126).

Individuele sprekers se seleksies vorm dan gesamentlik die gemeenskap se algehele seleksies, wat weer terugkeer na die verskeie interne en eksterne ekologiese faktore wat die kompetisie en seleksie in 'n gemeenskap se kenmerkpoel beïnvloed (Mufwene, 2008:183);

Mufwene (2008:90) beweer dat ekologie finale beslissings maak oor kompetisie, selfs wanneer variasie bloot in stand gehou word.

Hierdie afdeling het tot dusver gefokus op sogenaamd natuurlike taalveranderingsprosesse, wat geld vir alle tale ten alle tye. Daar is egter ook moontlik onnatuurlike taalverandering, naamlik standaardisering, wat baie kortliks in die volgende subafdeling bespreek gaan word.

2.3.3.4 Onnatuurlike verandering?

Laitinen (2004:248) beweer dat wanneer tale (variëteite?) bestudeer word wat gestandaardiseer is, tale geanaliseer word wat ten minste gedeeltelik kunsmatig is.

Aangesien Afrikaans 'n volledig gestandaardiseerde variëteit het, wat redelik onlangs eers tot stand gebring is (nie eers 'n volle eeu gelede nie), het hierdie bewering moontlik omvangryke implikasies vir die beskrywing van veranderinge in Afrikaanse taalgebruik.

Laitinen (2004:247) maan die taalkundige om in ag te neem hoe die taal wat bestudeer word, beïnvloed is deur standaardisering, en om ook die omvang daarvan op die spesifieke data wat gebruik word, in ag te neem. Verder moet die taalkundige ook vra wie se ideologiese tendense of linguistiese waardes bestudeer word wanneer standaardtale geanaliseer word (Laitinen, 2004:248; Mair, 2006:5). Preskriptiewe kodifikasie verwyder dikwels emosionele of subjektiewe betekenisse uit standaardtale (Laitinen, 2004:249), en is in wese die onderdrukking van opsionele variasie (Mair, 2006:5). Hierdie onderdrukking van variasie is die belangrikste kontras tussen standaardisering (beplande taalverandering) en onbeplande taalverandering, aangesien variasie 'n noodwendige gevolg van laasgenoemde is.

Mair (2006:158) herinner dat daar in alle standaardiserings 'n funksioneelgemotiveerde element is wat nie kontroversieel is nie, hoewel dit dikwels heelwat verder gevoer word as wat prakties nodig is, en soms tot bitter sosiale kontroversie aanleiding gee. Boonop het standaardisering ook die gevolg dat dialekkontinuums, wat interdialekkommunikasie tussen aangrensende dialekte vergemaklik, verbreek word (Trudgill, 2002:30).

Ongeag die kontroversie wat standaardisering omring, het dit 'n onbetwisbare invloed op die verandering in 'n taal met 'n standaardvariëteit. Curzan (2014:8) wys egter daarop dat