HOOFSTUK 4: TYDSAANDUIDING
4.2 TYD IN TAALGEBRUIK
4.2.2 TEMPUS
Wanneer daar in die linguistiek oor tydsaanduiding in taal gepraat word, is die konsep tempus van besondere belang. Comrie (1985:9) skryf dat "tense is grammaticalised expression of location in time" – die gevestigde siening van tempus is dié van 'n deiktiese kategorie wat die temporele verhouding tussen 'n gebeurtenis en 'n deiktiese sentrum (meestal die spraakmoment) aandui (Deo, 2012:158; Klein, 2008:9). Comrie se spesifikasie van "grammaticalised" verwys daarna dat dié temporele verwysing geïntegreerd in die grammatikale sisteem van 'n taal is, teenoor suiwer leksikale temporele verwysing (Comrie, 1985:10). Die onderskeid tussen grammatikale en leksikale temporele verwysing betrek verpligting en morfologiese gebondenheid – waar duidelik gegrammatikaliseerde tydsaanduiding beide verplig en morfologies gebonde is, en duidelik leksikale tydsaanduiding nie een van die twee is nie; daar is ook grensgevalle wat nie sonder meer in een van die twee kategorieë geplaas kan word nie (Comrie, 1985:10). Wanneer tale wel tempus bevat, word dit op die werkwoord aangedui – hetsy deur die werkwoord se morfologie, of deur grammatikale woorde wat aan die werkwoord grens (Comrie, 1985:12).
Die wyse waarop tempus uitgedruk word in 'n spesifieke taal hang grotendeels van die morfologiese tipologie van daardie taal af (Nicolle, 2012:370). Morfologiese tipologie is egter nie heeltemal stabiel nie (Nicolle, 2012:371), en Deo (2012:156) wys daarop dat die manifestasie van tempus nie netjies verpak is in morfologie en sintaksis nie, aangesien perifrastiese konstruksies dikwels tot infleksie ontwikkel deur middel van grammatikalisering.
Die temporele begrippe wat die algemeenste gegrammatikaliseer is oor die tale van die wêreld heen, is eenvoudige anterioriteit, gelyktydigheid en posterioriteit, wat met die huidige moment as deiktiese sentrum verlede tyd, teenwoordige tyd en toekomende tyd sal wees (Comrie, 1985:11). Dit is egter nie die enigste moontlike indeling van tempus nie – tale het dikwels ook 'n binêre onderskeid tussen verlede en nie-verlede tyd, of toekomende en nie- toekomende tyd (Comrie, 1985:48-9). Daar is ook tale wat geen tempus bevat nie (Comrie, 1985:50), hoewel dit nie beteken dat daardie tale geen temporele verwysing het nie – dit beteken gewoon dat daardie tale se tydsaanduiding nie grammatikaal geënkodeer word nie, maar op ander wyses aangedui word, byvoorbeeld deur leksikale items (Comrie, 1985:51).
Soos reeds afgelei kan word, benodig tempus 'n arbitrêre verwysingspunt, in verhouding waartoe gebeurtenisse in tyd gesitueer kan word (Comrie, 1985:14). Wat die leksikon en grammatika van tale betref, word daar slegs een deiktiese sentrum wat deur die spreker en hoorder gedeel word, veronderstel (Comrie, 1985:16), en hierdie deiktiese sentrum is tipies die huidige oomblik (Comrie, 1985:14; Spruyt, 2000:39). In geskrewe taal is dit potensieel meer kompleks – die "huidige oomblik" in die teks kan verwys na die oomblik van skrywe,
76
die oomblik van lees, of 'n fiksionele "huidige oomblik" in die verloop van 'n verhaal. Dit is egter iets wat op grond van konteks afgelei en geïnterpreteer moet word.
In teorie oor tempus word 'n liniêre tydlyn dikwels geïmpliseer (byvoorbeeld Spruyt, 2000:37; sien Desclés & Guentchéva, 2012:129 vir 'n bespreking van hierdie aanname), en soms eksplisiet daargestel (Comrie, 1985:5). Verskillende tempusse verwys dan na verskillende dele van die tydlyn, wat op verskillende maniere met mekaar in verband gebring kan word. Comrie (1985:36) gebruik die term absolute tempus ("absolute tense") om te verwys na tempusse wat die huidige oomblik as deiktiese sentrum neem. Die drieledige onderskeid (verlede, teenwoordig, toekomend) of tweeledige onderskeid (verlede en nie- verlede, of toekomend en nie-toekomend) wat hierbo genoem is, is absolute tempusse wat gebeurtenisse voor, ná of tydens die huidige oomblik as deiktiese sentrum op die liniêre tydlyn posisioneer.
Indien die huidige oomblik as 'n punt op die tydlyn voorgestel word, beteken dit dat die teenwoordige tyd ("present tense") in beginsel 'n situasie op daardie punt in tyd posisioneer (Comrie, 1985:36). Dit gebeur egter selde dat 'n situasie presies met die huidige oomblik saamval in die absolute, letterlike sin; die meer kenmerkende gebruik van die teenwoordige tyd is om aan te dui dat 'n situasie of gebeurtenis, wat 'n langer segment op die tydlyn mag inneem, onder andere ook geld vir of plaasvind in die huidige oomblik (Comrie, 1985:37). Of die situasie verder strek as die presiese huidige oomblik, hetsy in die verlede of in die toekoms, kan gewoonlik uit die konteks afgelei word, en dit word nie noodwendig in die tempus self aangedui nie (Comrie, 1985:38). De Wit en Brisard (2014:58) bring die teenwoordige tyd in verband met onmiddellikheid, De Villiers (1971:80) noem dit
"aanwesigheid", en Wybenga (1993:21) formuleer dit as "die uitdrukking van die waargenome wêreld ten tye van die waarneming".
Die verlede tyd ("past tense") plaas 'n situasie of gebeurtenis vóór die huidige oomblik op die tydlyn, hoewel dit nie noodwendig 'n aanduiding gee of dit tydens die hede steeds geld of nie (Comrie, 1985:41). De Villiers (1971:80) konseptualiseer die verlede tyd in terme van "afstand" teenoor die huidige oomblik – hierdie afstand is soms nie net in terme van die tydlyn nie, en kan ook epistemiese implikasies hê (De Wit & Brisard, 2014:58), wat aansluit by die ineenstrengeling van tydsaanduiding en modaliteit wat reeds vlugtig aan die einde van die hoofstuk se inleiding genoem is.
Die toekomende tyd ("future tense"), hoewel minder algemeen as 'n aparte, volledige tempus, kom voor in sommige tale, en plaas 'n situasie of gebeurtenis ná die huidige oomblik (Comrie, 1985:46). 'n Belangrike verskil tussen die verlede tyd en die toekomende tyd is die mate van sekerheid, of epistemiese implikasies, wat daarmee saamgaan – terwyl
77
gebeure in die verlede tyd met variërende grade van sekerheid aangebied kan word, is absolute sekerheid 'n gemaklike moontlikheid, waar enige stellings oor die toekoms noodwendig met 'n mate van onbepaaldheid gepaard gaan (Deo, 2012:159). Tipologiese opnames wat 'n groot verskeidenheid tale insluit, dui aan dat vorme wat toekomende tyd aandui dikwels ook atemporeel gebruik word met modale funksies, soos moontlikheid, waarskynlikheid, intensie en begeerte (Deo, 2012:159). Wybenga (1993:24) gee in sy beskrywing van toekomende tydsuitdrukking ook aandag aan die rol van voorneme of waarskynlikheid.
Absolute tempusse is nie die enigste wyse waarop gebeurtenisse op 'n tydlyn geplaas kan word nie. Comrie (1985:56) gebruik die term relatiewe tempus ("relative tense") om te verwys na dié tempusse waar die deiktiese sentrum nie noodwendig die huidige oomblik is nie. 'n Voorbeeld hiervan is die voorverlede tyd, waar een gebeurtenis vóór 'n ander op die tydlyn gesitueer word, en nie in terme van die huidige oomblik nie. Comrie (1985:58) beklemtoon dat die verskil tussen absolute en relatiewe tempusse nie lê in die gebruik van die huidige oomblik versus 'n ander punt op die tydlyn as deiktiese sentrum nie, maar die verskil is eerder tussen vorme wat die huidige oomblik as deiktiese sentrum spesifiseer, teenoor vorme wat nié spesifiseer dat die huidige oomblik die verwysingspunt hoef te wees nie. Verder waarsku Comrie (1985:61) dat 'n versigtige onderskeid getref moet word tussen stellings waar die relatiewe tydsverwysing uit die konteks afgelei kan word, en wanneer 'n relatiewe tempus gebruik word. In die gebruik van relatiewe tempusse word die deiktiese sentrum dikwels bepaal deur die tempus van die naaste werkwoorde met absolute tydsverwysing (Comrie, 1985:60).
Die onderskeid tussen absolute en relatiewe tempus verantwoord nog nie al die verskillende tipes tempus nie – daar is 'n verdere tussen-in kategorie wat hierdie twee tipes tempus kombineer, absoluut-relatiewe tempus, naamlik die verskillende soorte perfek ("perfect"), wat wydverspreid in verskeie tale van die wêreld gevind kan word (Comrie, 1985:65). Soos met relatiewe tempusse word die deiktiese sentrum vir perfekte ook in die konteks gegee (Comrie, 1985:66). Comrie (1985:80) argumenteer vir 'n onderskeid tussen die "werklike" absoluut-relatiewe tempusse, naamlik die verlede perfek ("pluperfect") en die toekomende perfek ("future perfect"), en die perfek, of teenwoordige perfek ("present perfect"). Comrie (1985:80-1) tref hierdie onderskeid op grond van funksie sowel as tendense in diachroniese ontwikkelingslyn, maar dit is 'n kwessie wat nie vir hierdie studie van essensiële belang is nie, en gaan dus daar gelaat word.
Daar is nog 'n laaste kwessie oor tempus wat aangeraak moet word – wat Comrie (1985:23) noem "degrees of remoteness in past and future". Volgens Comrie se liniêre tydlyn sal hierdie tempusse implikasies hê vir die afstand tussen die gebeurtenis en die
78
deiktiese sentrum. Die deiktiese sentrum vir die meeste van hierdie tempusse bly, volgens Comrie (1985:85), die huidige oomblik – daar is egter nie algemene afsnypunte op die tydlyn wat oor verskeie taalgrense heen geld vir spesifiek tempusse nie (Comrie, 1985:87). Hierdie kwessie van afsnypunte is volgens Botne en Kerschner (2008) as gevolg van Comrie se konseptualisering van tyd as slegs as liniêre tydlyn, wat eerder in terme van 'n multi- dimensionele kognitiewe ruimte voorgestel kan word (Botne & Kerschner, 2008:146).
Daar is verskillende tipes afstand-tempusse, onder andere dié wat nabye verlede of toekoms aandui, en dié wat verre verlede of toekoms aandui (Botne & Kerschner, 2008:146;
Botne, 2012:536). Volgens Botne en Kerschner (2008:147), wat fokus op verskeie Bantu- tale om dié kwessie uit te klaar, word hierdie onderskeid egter nie op 'n eendimensionele, liniêre tydlyn gekonseptualiseer nie, maar betrek dit verskillende wyses waarop tyd gekonstrueer word. Die tydlyn met 'n deiktiese sentrum word behou, maar daar word 'n addisionele domein in 'n driedimensionele ruimte betrek, wat die tydlyn by die deiktiese sentrum kruis. Die addisionele domein wys epistemiese afstand teenoor die deiktiese sentrum, terwyl die tydlyn steeds temporele afstand aandui (Botne & Kerschner, 2008:152- 6).
The speech event, then, can be considered to be grounded in the real, the here, and the contemporal. We believe that this deictic dichotomy between the extant "real, here and contemporal" and the displaced "not real, not here, or not contemporal" constitutes a second significant facet of the organization of tense distinctions in cognitive space.
(Botne & Kerschner, 2008:159)
Daar word dan onderskei tussen tempusse wat temporele afstand teenoor die deiktiese sentrum aandui, maar ook tempusse wat dissosiasie met die deiktiese sentrum aandui, 'n subjektiewe verwydering tussen die gebeurtenis en die deiktiese sentrum (Botne &
Kerschner, 2008:176; Botne, 2012:549-50). 'n Verdere tipe tempus, naamlik gedistansieerde tempus, word dus hiermee uitgewys.