• Tidak ada hasil yang ditemukan

HOOFSTUK 4: TYDSAANDUIDING

4.5 HULPWERKWOORDE VAN TYD

4.5.1 TOEKOMENDE TYD

Die opskrif "toekomende tyd", asook die opskrif "hulpwerkwoorde van tyd", is effens problematies – terwyl daar natuurlik algemeen na die toekomende tyd verwys word in Afrikaanse taalgebruik, kan daar nie werklik van 'n toekomendetydtempus in die grammatikale sin gepraat word nie. Soos wat Wybenga (1993:21) dit stel: "Sal slaan immers nie op die toekoms nie, maar op die instelling van die spreker op die oomblik van uiting."

Behalwe sal, wat by uitstek in verband met toekomsverwysing gebruik word, is daar ander woorde wat ook met die implikasie van toekomsverwysing gebruik word, onder andere die modale hulpwerkwoorde wil en moet, die skakelwerkwoord kom, en gaan (Ponelis, 1979:242). Die modale hulpwerkwoorde wil en moet se primêre funksies is egter modaal, en volgens De Stadler (1992:97) is kom meer gemerk as gaan in terme van hulpwerkwoordfunksies en spesifiek toekomsverwysing en behou kom meer geredelik die

110

ruimtelike deiktiese betekenis. Verder beweer De Stadler (1992:95) dat gaan 'n "suiwerder"

toekomsverwysende uitdrukking is as sal.

Aangesien sal die hulpwerkwoord is wat veral die toekoms impliseer, en gaan die enigste ander woord is wat in sekere kontekste by uitstek na die toekoms verwys, is hierdie twee hulpwerkwoorde die fokus van die afdeling oor toekomsverwysing.

4.5.1.1 Sal

Die hulpwerkwoord sal word in die eerste plek bestempel as 'n modale hulpwerkwoord (De Stadler, 1992:94; Wybenga, 1993:21), maar dit word tot 'n groot mate gebruik met die implikasie van toekomsverwysing. Sal kom tot 'n mate ooreen met Engelse shall en will, wat ook modale hulpwerkwoorde is wat grotendeels vir toekomsverwysing aangewend word.

Soos in die geval van Engelse shall en will is sal se modale funksie aan die een kant om agent-geöriënteerde intensie of voorneme aan te dui, soos in voorbeeld 4.37,

[4.37] Ek sal maar my kans afwag. (2001-2010, Biografies)

en aan die ander kant om epistemiese modaliteit aan te dui, veral in die konteks van voorspellings, soos in voorbeeld 4.38.

[4.38] Hiertoe sal die volgende beide eksperimente groteliks opklaring verskaf. (1941- 1950, Natuurwetenskappe)

Die onderskeid tussen hierdie twee algemene kategorieë van modaliteit – agent- geöriënteerd en epistemies – is relevant wanneer daar na sal in terme van toekomsverwysing gekyk word. Terwyl intensie of voorneme uiteraard die toekoms impliseer, is epistemiese modaliteit meer objektief en, soos De Stadler (1992:95) dit stel, meer "suiwer" toekomsverwysend.

Hierdie onderskeid is egter nie eenvoudig nie, omdat intensie per implikasie intern tot die spreker is, en dieselfde gereedskap gebruik word om beide intensie en voorspelling uit te druk. Om 'n sinvolle onderskeid tussen hierdie twee tipes modaliteit te maak (sien Van der Auwera en Plungian, 1998 vir verdere inligting oor hierdie indeling), is daar kriteria ten opsigte van die gebruik van sal saamgestel (sien tabel 4.18).

Die eerste kategorie van gegewens wat gebruik is om die tipe modaliteit te bepaal, is die semantiese konteks. Wanneer daar eksplisiete aanduidings van intensie of voorneme is, of wanneer daar duidelik 'n versoek gestel word, is dit as agent-geöriënteerd gemerk, terwyl eksplisiete aanduidings van objektiewe voorspellings of voorwaardes as epistemies gemerk is. Wanneer addisionele modale hulpwerkwoorde saam met sal gebruik word, is moet en wil by agent-geöriënteerd gereken, terwyl daar 'n onderskeid getref is tussen wanneer kan objektiewe vermoë aandui, en wanneer dit subjektief van aard is. Nie-menslike

111

sinsonderwerpe maak dit moeilik om intensie daaraan toe te skryf, terwyl menslike sinsonderwerpe vir beide tipes modaliteit gebruik word. Indien die hoofwerkwoord statief is, of dui op 'n aksie waar die onderwerp iets "ontvang" of "aangedoen word", kan daar ook nie intensie aan toegeskryf word nie, terwyl "doen"-werkwoorde vir beide tipes modaliteit gebruik word. Emosionele werkwoorde word ook meer tipies met agent-geöriënteerde modaliteit geassosieer. Wanneer 'n sin nie reeds genegativeer is nie, en die negativering daarvan dui op nie-intensie eerder as feitelike valsheid, is dit ook as agent-geöriënteerd gemerk. Verder is die pragmatiese konteks ook in ag geneem – interpersoonlike tekste en situasies verleen sigself meer tot agent-geöriënteerde modaliteit, terwyl feitelike tekste en die oordrag van feitelike gegewens eerder met epistemiese modaliteit as met intensie geassosieer word.

Adjunkte of bywoorde wat intensie aandui, byvoorbeeld graag, of objektiewe moontlikheid, byvoorbeeld waarskynlik, is ook in ag geneem. In elke gebruiksgeval is al hierdie kriteria in ag geneem om die analise so akkuraat en konsekwent moontlik uit te voer. Die handvol retoriese vrae wat gevind is, is buite rekening gelaat.

Tabel 4.18: Kriteria vir onderskeid agent-geöriënteerde en epistemiese gebruike van sal

Kategorie Agent-geöriënteerd Epistemies

Semantiese konteks Eksplisiete aanduiding van persoonlike versekering, intensie, ens.

Eksplisiete aanduiding van objektiewe voorspelling

Versoeke Voorwaardes

Meegaande modale hulpwerkwoorde

moet, wil, kan (subjektief) kan (objektiewe vermoë) Onderwerp van die sin Menslike onderwerp (passief

uitgesonder)

Enige tipe onderwerp

Aard van die hoofwerkwoord Slegs uitvoer-werkwoorde Uitvoer-, ontvang- en statiewe werkwoorde

Emosionele werkwoorde Enige tipe werkwoorde Betekenis van die negatief Negativering dui op nie-intensie Negativering dui op valsheid Pragmatiese konteks Interpersoonlike tekste Feitelike tekste

Interpersoonlike situasies binne tekste

Oordrag van feitelike gegewens Adjunkte en bywoorde Dui intensie of verpligting aan Dui op moontlikheid of

waarskynlikheid

Tabel 4.19 gee die resultate van die analise van sal volgens tabel 4.18.

Tabel 4.19: Gebruiksgetalle van agent-geöriënteerde en epistemiese gebruike van sal 1911-192015 1941-1950 1971-1980 2001-2010 agent-geöriënteerd 254 23,5% 236 24,9% 220 24,1% 270 30,8%

epistemies 829 76,5% 713 75,1% 691 75,9% 606 69,2%

TOTAAL 1 083 949 911 876

15 Tydens die eerste periode is die vorme zal, zullen, zult en zil ook gebruik; dit word as wisselvorme hanteer en by die gebruike van sal gereken.

112

Daar is 'n beduidende vermindering in die totale gebruiksgetalle16, en terwyl die proporsies redelik stabiel bly vir die eerste drie periodes, is daar daarna 'n effense proporsionele vermeerdering in agent-geöriënteerde gebruike en dus 'n vermindering in epistemiese gebruike. Die epistemiese gebruiksgetalle verminder deurgaans, en die laaste periode se epistemiese gebruike is 73% van dié van die eerste periode. Ten spyte van hierdie beduidende vermindering17 bly die epistemiese gebruike selfs teen die einde meer as twee derdes van die totale gebruike. Dit beteken aan die een kant dat sal meer dikwels vir

"suiwerder" toekomsverwysing gebruik word, maar aan die ander kant dat juis hierdie gebruik 'n meer konsekwente afname toon.

4.5.1.2 Gaan

Die werkwoord sal funksioneer slegs as 'n hulpwerkwoord, terwyl die werkwoord gaan verskillende werkwoordelike funksies vervul. Gaan kan gebruik word as 'n hoofwerkwoord wat fisiese beweging aandui (voorbeeld 4.39),

[4.39] Na 'n rukkie staan hy op en gaan na hul toe; maar eers dro hy sy oë af. (1911- 1920, Geesteswetenskappe)

as 'n meer abstrake hoofwerkwoord wat onder andere "handel oor" beteken [4.40], [4.40] Met my werk gaan dit redelik goed. (1941-1950, Manuskrip)

as 'n skakelwerkwoord [4.41],

[4.41] Ek dink ook dit is reg dat jy hulle gaan haal. (1971-1980, Fiksie) en as 'n hulpwerkwoord wat toekomende tyd aandui [4.42].

[4.42] Dit gaan egter nie maklik wees nie. (2001-2010, Manuskrip)

Afrikaans het hierdie gebruike in gemeen met dieselfde woord in Nederlands (ga as stamvorm met gaat en gaan as vervoegingsvorme), en 'n soortgelyke ontwikkeling van going to word in Engels gevind (Poplack & Tagliamonte, 2000, in 'n ondersoek na die konstruksie in verskillende kreoolse Engelse variëteite). In die proses van grammatikalisering van bewegingswerkwoorde na toekomsverwysing is daar 'n verskuiwing van gebruik saam met slegs menslike agente na gebruike met onderwerpe wat geen voorneme kan hê of beweeglik is nie (Poplack & Tagliamonte, 2000:332), en uit voorbeeld 4.42 is dit duidelik dat gaan in Afrikaanse taalgebruik reeds hierdie vlak van grammatikalisering bereik het. Tabel

16 Log-waarskynlikheid vir al vier periodes aaneenlopend: 23.0; periode een tot twee 8.50; periode twee tot drie 0.58 (onbeduidend); periode drie tot vier 0.81 (onbeduidend)

17 Log-waarskynlikheid vir al vier periodes aaneenlopend: 34.23; periode een tot twee 8.43; periode twee tot drie 0.23 (onbeduidend); periode drie tot vier 5.86.

113

4.20 gee 'n uiteensetting van die verskillende gebruike van die werkwoord gaan in die korpus.

Tabel 4.20: Gebruiksgetalle van die verskillende gebruike van gaan

1911-192018 1941-1950 1971-1980 2001-2010

hoofwerkwoord:

beweging 322 49%

62%

267 49%

58%

251 37%

45%

157 24%

hoofwerkwoord: 32%

abstrak 83 13% 48 9% 54 8% 52 8%

skakelwerk-

woord 186 29%

38%

146 27%

42%

240 35%

55%

204 32%

hulpwerkwoord: 68%

toekoms 61 9% 80 15% 139 20% 230 36%

TOTAAL 652 541 684 643

Die bostaande tabel toon dat terwyl die totale gebruiksgetalle van gaan 'n bietjie fluktueer sonder om te ver van die gemiddeld te beweeg, die verskillende gebruike van gaan 'n meer merkbare verandering toon. Indien die twee groter kategorieë, naamlik hoofwerkwoorde en hulpwerkwoorde, met mekaar vergelyk word, blyk dit dat waar hoofwerkwoorde in die eerste periode die meerderheid uitmaak, die situasie omswaai deur die loop van die eeu. Die prototipiese gebruik van gaan verskuif dus van hoofwerkwoord na hulpwerkwoord. Wat die vier afsonderlike kategorieë betref, toon die abstrakte hoofwerkwoorde en die skakelwerkwoorde geen radikale verandering nie. Die bewegingswerkwoorde en die hulpwerkwoorde met toekomsverwysing is verantwoordelik vir die grootste verandering in die groter kategorieë. Terwyl die bewegingswerkwoorde in die eerste en tweede periode amper die helfte van die gebruike uitmaak, kompeteer dit in die derde periode met die skakelwerkwoorde, en in die laaste periode is beide die skakelwerkwoorde en hulpwerkwoorde met toekomsverwysing afsonderlik meer as die bewegingswerkwoorde – 'n besonder beduidende verandering19. Wat die hulpwerkwoorde met toekomsverwysing betref, is dit in die eerste periode die kleinste kategorie, terwyl dit in die tweede en derde periode in die derde plek staan, en in die laaste periode die grootste kategorie uitmaak – weereens 'n beduidende verandering20. Hier is tekens van grammatikalisering wat uitwys dat alhoewel die totale gebruiksgetalle van gaan nie vermeerder het nie, dit duidelik op 'n trajek is waar die hoofwerkwoordelike gebruike afneem en hulpwerkwoordelike gebruike toeneem, wat 'n verandering in verspreiding tipies van grammatikalisering behels. Van hierdie toenemende hulpwerkwoordelike gebruike maak toekomsverwysing in die mees onlangse data net meer as die helfte uit.

18 Tydens die eerste periode is die vervoegingsvorm gaat nog gebruik; dit word hier as 'n wisselvorm hanteer en by die gebruike van gaan gereken.

19 Log-waarskynlikheid vir al vier periodes aaneenlopend: 59.29; periode een tot twee 5.00 (lae vlak van beduidendheid); periode twee tot drie 0.41 (onbeduidend); periode drie tot vier 22.17

20 Log-waarskynlikheid vir al vier periodes aaneenlopend: 128.27; periode een tot twee 2.62 (onbeduidend); periode twee tot drie 16.42; periode drie tot vier 21.07

114 4.5.1.3 Die verhouding tussen sal en gaan

Dit blyk dat die hulpwerkwoorde sal en gaan teenoorgestelde tendense in terme van toekomsverwysing toon, en die verhouding tussen hierdie twee werkwoorde word vervolgens in meer besonderhede ondersoek.

Daar is reeds vroeër genoem dat sal in die eerste plek 'n modale hulpwerkwoord is, wat met die implikasie van toekomsverwysing gebruik word. De Stadler (1992:92) noem dat hoewel gaan soms optree as 'n merker van stelligheid (modaliteit), dit in daardie gevalle steeds in die eerste plek optree as 'n merker van toekomende tyd. Ponelis (1979:244) noem dat gaan sterker feitelik is as sal, en geparafraseer kan word deur "sal beslis". Dit is op grond hiervan dat De Stadler (1992:95) die bogenoemde uitspraak maak "dat gaan 'n veel suiwerder toekomsverwysende uitdrukking is as sal". In 'n nadere ondersoek van al die gebruiksinstansies van gaan in 'n toekomsverwysende konteks, is daar gevind dat dit nie met agent-geöriënteerde modaliteit gebruik word nie, maar juis om objektiewe voorspellings oor die toekoms te maak. Die beste manier om hierdie verskil te illustreer is in die konteks van vrae. Voorbeeld 4.43 is 'n vraag met sal uit die korpus, wat in 4.43' geherformuleer is met gaan.

[4.43] Sal jy my leer toor, Arboreta? (2001-2010, Fiksie) [4.43'] Gaan jy my leer toor, Arboreta?

Waar 4.43 as 'n versoek geïnterpreteer word, is 4.43' 'n blote navraag wat nie intensie betrek nie, maar epistemiese waarskynlikheid. Dit beteken dat gaan se gebruik met toekomsverwysing nie kompetisie is vir sal se agent-geöriënteerde gebruike nie, maar slegs vir die epistemiese gebruike. Tabel 4.21 vergelyk die gebruiksgetalle van gaan en sal in epistemiese toekomsverwysings.

Tabel 4.21: Gebruiksgetalle van gaan en sal in epistemiese toekomsverwysing 1911-1920 1941-1950 1971-1980 2001-2010

gaan 61 6,8% 80 10,1% 139 16,7% 230 27,5%

sal 829 93,2% 713 89,9% 691 83,3% 606 72,5%

TOTAAL 890 793 830 836

Terwyl sal dus steeds by verre die meeste gebruik word vir epistemiese toekomsverwysing, is daar 'n konstante, beduidende groei in die gebruik van gaan vir dieselfde funksies. Daar is slegs een bron wat iets sê oor 'n verhoging in die gebruik van gaan ten koste van sal, 'n normatiewe bron uit die tagtigerjare (Combrink & Spies, 1986:53).

In die normatiewe literatuur word toekomsverwysing in nege bronne hanteer in die vroegste kategorie (tot en met 1950), maar ses van die bronne noem slegs sal (Booysen &

115

Jansen, 1922:97; Bouman & Pienaar, 1924:107; Du Toit, 1902:22-3; Langenhoven, 1926:34;

Le Roux & Nienaber, 1947:1; Potgieter & Geldenhuys, 1934:31), terwyl drie van die bronne gaan wel noem (Botha & Burger, 1926:137; Botha & Burger, 1927:114; De Villiers, 1948:109, 112-3), en slegs een dui 'n moontlike semantiese onderskeid tussen sal en gaan aan (De Villiers, 1948:109). In die middelste kategorie (1951-1980) word dit in slegs twee bronne hanteer, en slegs sal word genoem (Le Roux & Nienaber, 1951:4; Van der Merwe, 1951:56). In die derde kategorie (1981-2010) is daar een bronne wat slegs sal hanteer (Du Toit, 1982:140), en vyf bronne wat beide sal en gaan hanteer (Combrink & Spies, 1986:53;

De Villiers, 1983:214; Müller, 2003:85; Van Schalkwyk & Kroes, 1982:68; Van Schoor, 1983:137). Twee van die bronne wat albei opsies hanteer, dui 'n semantiese onderskeid aan, waar gaan soms 'n sterker of sekerder betekenis het as sal (De Villiers, 1983:146; Van Schoor, 1983:137), maar slegs in een bron word 'n duidelike normatiewe aanbeveling gemaak – Müller (2003:85, 697) beweer dat gaan minder formeel is, en beveel aan dat dit saam met ander hulpwerkwoorde in formele geskrewe taalgebruik vermy word "behalwe waar net gaan reg klink" (Müller, 2003:85). Die literatuur weerspieël hier dat die toekomsverwysing met gaan in die tweede helfte van die eeu meer prominent is, en stel die moontlikheid dat daar 'n groter konsentrasie van gaan-gebruike in informele tekste sal wees as in formele tekste. Indien dit die geval is, sal dit 'n voorbeeld wees van tipiese taalverandering van onder ("from below"), waar die verandering vinniger versprei in informele taalgebruik, met 'n groter vertraging hoe meer formeel die taalgebruik en gebruikskonteks is.

Die gebruik van beide gaan en sal in terme van formaliteit word in figuur 4.3 gegee. Dit dui aan hoeveel keer gaan en sal in elk van die drie kategorieë van formaliteit gebruik word per 10 000 woorde.

Figuur 4.3: Formaliteit van gaan en sal in epistemiese toekomsverwysing in frekwensie per 10 000 woorde

0 10 20 30 40 50 60 70

1911-1920 1941-1950 1971-1980 2001-2010

sal formeel sal neutraal sal informeel gaan formeel gaan neutraal gaan informeel

116

Daaruit is dit duidelik dat, hoewel die gebruik van gaan in al die kategorieë toeneem vanaf die tweede periode, informele kontekste leiding neem in hierdie opsig. Die konserwatiewe gebruik in formele tekste is in ooreenstemming met Müller (2003:85) se aanbeveling. Sal, aan die ander kant, is meer wisselvallig, en die grootste afname (in breë trekke) is in informele gebruik.

Nesselhauf (2010) se studie wys dat 'n simplistiese konsep van "vervanging" nie 'n verantwoordelike benadering tot so 'n komplekse gebruiksisteem is nie. Die gebruike van sal en gaan in epistemiese toekomsverwysing word op twee verdere punte met mekaar vergelyk – die gebruik van die eerstepersoon voornaamwoord ek, en gebruik in vraagsinne.

Nesselhauf (2010:176) wys uit dat gebruike van toekomsverwysing met eerstepersoon voornaamwoorde 'n aanduiding kan gee van die herverspreiding van gebruike, en tabel 4.22 gee die gebruiksgetalle van sal en gaan in epistemiese toekomsverwysing met ek as die sinsonderwerp.

Tabel 4.22: Gebruiksgetalle van sal en gaan in epistemiese toekomsverwysing met die sinsonderwerp ek

1911-1920 1941-1950 1971-1980 2001-2010

gaan met ek 12 19,7% 9 11,25% 16 11,5% 35 15,2%

gaan sonder ek 49 80,3% 71 88,75% 123 88,5% 195 84,8%

sal met ek 22 2,7% 16 2,2% 24 3,5% 38 6,3%

sal sonder ek 807 97,3% 697 97,8% 667 96,5% 568 93,7%

Die gebruiksgetalle is besonder klein, en verhoed uitsprake oor enige proporsionele veranderinge. Wat opmerklik is, is dat dit voorkom asof gaan proporsioneel heelwat meer geredelik met ek gebruik word as sal, hoewel die informaliteit van gaan moontlik hiermee te doen kan hê. Beide se gebruik met ek neem toe tussen die laaste twee periode. (Sien afdeling 5.4.1, p. 153 en verder, vir meer inligting oor die gebruik van ek.)

Die gebruike van sal en gaan in vraagsinne word ook van nader ondersoek, aangesien dit ook 'n moontlike aanduiding van herverspreiding van gebruike kan wees (Nesselhauf, 2010:174). Die gebruiksgetalle word in tabel 4.23 gegee.

Tabel 4.23: Gebruiksgetalle van sal en gaan in vraagsinne met epistemiese toekomsverwysing

1911-1920 1941-1950 1971-1980 2001-2010 gaan in vraagsinne 6 9,8% 13 16,25% 20 14,4% 18 7,8%

gaan in ander sinstipes 55 90,2% 67 83,75% 119 85,6% 212 92,2%

sal in vraagsinne 29 3,5% 30 4,2% 20 2,9% 11 1,8%

sal in ander sinstipes 800 96,5% 683 95,8% 671 97,1% 595 98,2%

117

Weereens is die gebruiksgetalle besonder klein, maar word daar, veral in die latere periodes, proporsioneel meer vrae met gaan gebruik as met sal; dit is egter moeilik om vas te stel tot watter mate dit die gevolg is van die semantiese onderskeid wat veral in vraagsinne na vore kom (soos in voorbeeld 4.43 en 4.43' geïllustreer is). Dit wil tog lyk of gaan gemakliker sigself verleen tot gemerkte sinstipes en met eerstepersoon onderwerpe, wat dui op die vlak van grammatikalisering van gaan, en De Stadler (1992:95) se bewering van "suiwerder" toekomsverwysing bevestig.

Terwyl sal dus nog die meer algemene en gebruiklike vorm van toekomsverwysing in geskrewe taalgebruik is, is die verhouding tussen sal en gaan besig om te verander, en word die moontlikheid van 'n verdere oorname van gaan vir epistemiese toekomsverwysing daargestel. Hierdie verandering is 'n voorbeeld van grammatikalisering, waar gaan besig is om toenemend grammatikale funksies te vervul, veral toekomsverwysing, terwyl sal in hierdie selfde funksie stadigaan verminder. 'n Belangrike dryfkrag agter grammatikalisering is ekspressiwiteit, waar konkrete konsepte/woorde/konstruksies toenemend vir abstrakte, grammatikale funksies gebruik word. Terwyl erosie (aangedryf deur die "krag" van ekonomie) ook een van die komponente van grammatikalisering is, is die meeste van die tekste en die korpusdata volgens Standaardafrikaanse spellingkonvensies geskryf, en dit is haas onmoontlik om in die beskikbare data vas te stel of die uitspraak van gaan verkort het of besig is om te verkort.