HOOFSTUK 2: DIE TEORIE VAN TAALVERANDERING
2.3 TAALVERANDERING
2.3.4 VERKLARING VAN TAALVERANDERING
In die verklaring van historiese prosesse is absolute verduidelikings dikwels nie moontlik nie, en word verduidelikings wat berus op waarskynlikheid ("probabilistic explanations") gesoek (Croft, 2000:3; Lass, 1997:329). Verduidelikings van waarskynlikheid is besonder gepas wanneer populasies bestudeer word, en aangesien tale as populasies of spesies gesien word binne die raamwerk van taalevolusie, is dit ook gepas vir die beskrywing van taalverandering of taalevolusie (Croft, 2000:3). Fischer et al. (2004:13) herinner dat terwyl tendense ontdek kan word, elke konstruksie ook 'n eie geskiedenis het – die taalkundige moet 'n balans vind tussen algemene tendense en spesifieke besonderhede.
Volgens Lass (1997:327) is daar vier verskillende tipes verklaring wat van toepassing is in diachroniese taalkunde:
1. Kousale verduidelikings: X word verduidelik indien die empiriese konneksies wat dit teweeggebring het, gevind word.
2. Funksionele verduidelikings: X word verduidelik indien die doel wat dit in 'n sisteem verrig, gevind word.
3. Genetiese of historiese verduidelikings: X word verduidelik indien die voorafgaande toestande wat daartoe gelei het, gevind word.
4. Rasionele verduidelikings: X word verduidelik indien die redes waarom iemand beweeg is om X te doen, gevind word.
Dit is sinvol om hierdie verskillende tipes verklarings in gedagte te hou wanneer taalverandering ondersoek word, aangesien daar verskillende verduidelikings vir dieselfde fenomeen gegee kan word. Daar kan moontlik vir sekere verskynsels meer en minder sinvolle tipes verklarings wees, hoewel elke tipe verklaring tekortkominge het en nie alleen die volledige prentjie kan skets nie. 'n Bewustheid van die moontlike verklaringstipes kan die taalkundige aanmoedig om die komplekse aard van taalverandering te erken, en enige vraag daaroor van verskillende hoeke af te benader ten einde so 'n volledig as moontlike prentjie te skep; of om bewus te wees daarvan dat slegs 'n sekere benadering gevolg is, en
38
nie die verklaring as volledig aan te bied nie. Verder, selfs al pas 'n verklaring netjies binne een van hierdie tipes, as dit 'n verklaringsbeginsel is wat lukraak aangewend of geïgnoreer kan word, met ander woorde dit verduidelik die bestaan van 'n verskynsel maar nie die afwesigheid daarvan nie, dra dit geen werklike verklaringswaarde nie (McMahon, 1994:331);
so 'n verklaring behoort duideliker geformuleer te word, met meer besliste beperkings, of geïgnoreer te word as waardeloos.
Enige aannames moet ook as sodanig ontmasker word in verantwoordelike verklarings.
Soos Joseph (2004:55) uitwys – aannames sonder bewyse gee slegs aanleiding tot spekulasie, en nie verklaring nie. Byvoorbeeld, strukturele ooreenkomste tussen tale kan aan een of meer van vele faktore te danke wees, onder andere gemeenskaplike oorsprong, taalkontak of blote tipologiese toeval (Mufwene, 2003:276) – om die een aan te neem omdat dit op die oog af meer waarskynlik lyk, is nie verantwoordelike wetenskapsbeoefening nie, en al die moontlikhede behoort, ten minste in beginsel, oorweeg te word.
Daarmee saam moet die bestaan van 'n verskynsel nie verwar word met of gelykgestel word aan die gedrag daarvan nie (Poplack et al., 2012b:248), maar behoort die gedrag (gebruikspatrone) in eie reg beskryf en verklaar te word. Byvoorbeeld, dit is nie voldoende om te sê dat die hulpwerkwoord was in plaas van is in Afrikaanse passiefkonstruksies gebruik word nie – 'n analise van die gebruiksfrekwensie en gebruikspatrone mag dalk verdere inligting gee oor hoe algemeen die gebruik is, en wat 'n moontlike grammatikale onderskeid tussen die gebruik van was en is is, wat die bestaan daarvan in 'n ander lig stel, en die gebruik daarvan motiveer of uitklaar.
Met hierdie verklarende beginsels in gedagte gaan die rol van taalgebruikers in die ontstaan en verspreiding van taalverandering vervolgens van naderby beskou word.
2.3.4.2 Die rol van taalgebruikers
Die rol wat sprekers of taalgebruikers vervul in taalverandering is iets van 'n tameletjie in taalkundige kringe, en 'n saak waaroor daar heelwat uiteenlopende standpunte te vinde is.
Alhoewel die rol van taalgebruikers in die generatiewe raamwerk van min of geen belang is, word dit meer algemeen aanvaar in funksionele en kognitiewe raamwerke, aangesien grammatika aan taalgebruik en so per implikasie aan die taalgebruiker gekoppel word. Dit is egter nie vanselfsprekend dat alle taalkundiges wat taalverandering as evolusie beskryf, dieselfde rol aan die sprekers in taalverandering toeskryf nie.
Lass (1997:xviii) wil graag dat die sisteem (taal) en die gebruikers apart gehou word, veral ter wille van metodologiese helderheid. Hy sê pertinent dat hy nie mense as "language builders" ag nie, maar eerder as eindgebruikers van 'n sisteem; hy fokus dan nie in sy ondersoeke op menslike individue of gemeenskappe nie, maar op tale as populasies (Lass,
39
1997:xviii). Hy beweer dat die sosiale perspektief op die meeste komplementêr tot die sisteemperspektief van taalverandering behoort te wees (Lass, 1997:386), aangesien taalverandering na sy mening gewoon nie onmiddellik die resultaat van menslike dade is nie, maar net in 'n sekondêre en onbelangrike sin (Lass, 1997:337). Hy beweer ook dat hoewel kommunikasie en betekenis sentraal staan in taalgebruik, dit nié sentraal staan in omvangryke strukturele taalverandering nie (Lass, 1997:324). Wanneer hy wel aan die onderwerp van sprekers raak, fokus hy dan op die populasie (in die verspreiding van veranderinge) en nie die individu nie (Lass, 1997:387).
Indien die linguisties-teoretiese raamwerk wat vroeër in die hoofstuk uiteengesit is egter in ag geneem word, kan die saak gewoon nie so eenvoudig wees nie. In gebruiksgebaseerde teorieë geskied taalverandering juis deur taalgebruik (Bybee, 2010b:114; Visconti, 2004:186) en in voortkomende grammatika is die kwessie van gebruiksfrekwensie sentraal (Bybee, 2010b:12).
In daardie geval moet taalgebruikers wel gesien word as die agente vir taalverandering.
Die meer problematiese besonderhede hiervan kom later aan bod, maar in beginsel stem 'n hele aantal taalkundiges saam in hierdie opsig. Mufwene (2008:11, 64) beklemtoon die agentskap van sprekers en kommunikatiewe dade van sprekers in taalverandering, en noem dat taalevolusie se fundamentele oorsprong gevind word in die seleksies wat sprekers maak tydens kommunikasie (Mufwene, 2008:126). McMahon (1994:8) sluit hierby aan met
"speakers change languages", Croft (2000:4) sê dat taal nie self verander nie, maar mense verander taal deur hulle dade, en Deutscher (2005:61) stel ook die lokus van taalverandering in taalgebruikers, hoewel daar 'n onderskeid is tussen die gevolge van menslike taalgebruik en die bewuste seleksie van vorme.
Taalgebruik impliseer egter interaksie, so dit is nie noodwendig net die spreker wat betrokke is nie, maar ook die hoorder (Croft, 2000:89; McMahon, 1994:17). Daarom maan McMahon (1994:17) dat die wisselwerking tussen produksie en waarneming in taalgebruik nie verwaarloos moet word in die verklaring van taalverandering nie. Croft (2000:94) brei hierop uit deur daarop te wys dat persoonlike verhoudings ook linguistiese gevolge kan hê, aangesien dit gereelde spreker-hoorder interaksie tussen spesifieke groepe mense vestig.
Trudgill (2008:277) verdedig 'n hoë mate van determinisme in die beginsel "praat soos ander praat" en die wedersydse akkommodasie wat dit teweegbring, en hy beweer dat sprekers se doelbewuste betrokkenheid by die verandering al dan nie van taal slegs relevant is in die rare gevalle waar groepe wat in gereelde interaksie is, se taalgebruik nié mettertyd konvergeer nie (Trudgill, 2008:278).
40
Al is taalgebruikers nie noodwendig doelbewus besig om taal te verander nie3 (Deutscher, 2005:260; Mufwene, 2008:71), speel patrone van interaksie 'n belangrike rol in taalverandering – taalgebruikers pas aan (of juis nie) by hulle mede-taalgebruikers vir 'n verskeidenheid van redes (Mufwene, 2008:64), dikwels sonder te veel agting vir die prestige of gebrek aan prestige van die variante of variëteite wat gebruik word (Mufwene, 2008:213).
Die ander sprekers in 'n spraakgemeenskap kan as die omgewing gesien word waarbinne kommunikatiewe interaksie plaasvind, en op grond waarvan dit ook aangepas kan word (Croft, 2000:27; Mufwene, 2008:54). Die omgewing kan ook meer as die res van die spraakgemeenskap wees, en Mufwene (2008:250) verwys na die sosio-ekonomiese ekologie wat soms ook sprekers dwing om aanpassings, en dus veranderings, te maak (Mufwene, 2008:231).
Deutscher (2005:69) opper 'n belangrike vraag: aangesien taalverandering plaasvind in werklike taalgebruik en kommunikatiewe interaksie, hoe is dit dat taalgebruikers nie verwar word deur die voortdurende verandering nie? Hy vind sy antwoord daarin dat 'n spraakgemeenskap op enige stadium die vermoë het om 'n groot hoeveelheid variasie te akkommodeer, en in dieselfde hanteringsmeganisme van die sinchroniese variasie word ook diachroniese verandering hanteer (Deutscher, 2005:69). Diachroniese verandering is net vir 'n hedendaagse spraakgemeenskap vreemd omdat die moontlike variasie wat dit meegebring het, nie meer in die repertoire van die taalgebruikers beskikbaar is nie; die sprekers van die tyd het dit egter hanteer soos hedendaagse sprekers eietydse variasie hanteer (Deutscher, 2005:70).
Tot dusver in die bespreking oor die rol van die taalgebruikers het die meeste taalkundiges in breë trekke ooreengestem. Die een twispunt wat wel kop uitsteek, is of die fokus op die individuele taalgebruiker behoort te wees, en of dit op die spraakgemeenskap as geheel behoort te wees.
Aan die een kant is daar 'n aantal taalkundiges wat voorkeur gee vir die fokus op die spraakgemeenskap, en nie die individu nie (Croft, 2000:90; Labov, 2010:7; Poplack et al., 2012b:248). Poplack et al. (2012b:248) beweer dat taalverandering nié in die verstand van die individu geskied nie, maar ontstaan en versprei deur gereelde interaksie in die spraakgemeenskap. Croft (2000:90) beklemtoon ook die kollektiwiteit van taalgebruik, en die belang van die konsep van 'n spraakgemeenskap (Croft, 2000:91). Aangesien Croft konvensie sentraal plaas in taalgebruik, pas dit ook in by sy fokus op die spraakgemeenskap met gedeelde konvensies wat kommunikasie moontlik maak (Croft, 2000:97). Ook Labov (2010:7) vermeld dat die individu nie die eenheid van linguistiese analise is nie, maar die
3 Taalgebruikers kan inderdaad taalgebruik doelbewus verander (Thomason, 2003:703), hoewel dit nie as die reël gereken word nie.
41
spraakgemeenskap, aangesien "the community is prior to the individual". 'n Bevestiging hiervan vir Labov (2010:7) is die verdeling van taal in dialekte of ander tale met verloop van tyd, wat nie binne 'n individu se eie taalgebruik alleen kan geskied nie.
Mufwene (2008:16), aan die ander kant, fokus ook op die individuele taalgebruiker.
Terwyl hy erken dat patrone van evolusie slegs in die gemeenskaplike taalgebruik van 'n spraakgemeenskap waargeneem kan word, fokus hy op individuele sprekers omdat dit die kumulatiewe veranderinge van individue is wat taalverandering meebring (Mufwene, 2008:32). Hy wys verder uit dat taalverandering, of innovasie, deur individue geïnisieer moet word (Mufwene, 2008:67; sien ook Schøsler, 2010:212), en dat dit versprei deurdat ander taalgebruikers dit namaak of kopieer in hulle taalgebruik (Mufwene, 2008:61). Addisionele faktore soos populasiestruktuur bepaal ook die verspreiding van taalverandering (Mufwene, 2008:67), maar dit is die gedrag van individuele taalgebruikers wat gesamentlik die "drift" in Sapir se sin uitmaak (Mufwene, 2008:72).
Die belang van die individu lê vir Mufwene (2008:116) ook in die seleksie van die innovasies (wat reeds deur individue meegebring is), aangesien taalverandering die kumulasie van soortgelyke individuele keuses behels, en daar geen gemeenskaplike seleksies gemaak word sonder individuele seleksies nie (Mufwene, 2008:173). In ooreenstemming met die eksemplaarmodel van grammatika, stel Mufwene (2008:170) die representasie van taal in die denke van die individuele spreker, en betrek hy selfs die rol van die individu se persoonlikheid (Mufwene, 2008:120) en unieke vaardighede (Mufwene, 2008:182) in die ontstaan en verspreiding van taalveranderinge. Ten spyte van hierdie fokus op individuele sprekers, sê Mufwene (2008:32) tog: "it is only at the communal level that important cross-idiolectal patterns of evolution emerge". Dus, terwyl die meganismes van taalverandering, en veral die aanvang van 'n verandering, in die individu gesetel is, is dit tog taalgebruik op gemeenskaplike vlak wat 'n taal vorm, en is dit die vlak waarop 'n verandering versprei, en taalevolusie waargeneem en beskryf word.
'n Verdere twispunt in die literatuur oor die rol van taalgebruikers in taalverandering, is of taalverandering plaasvind wanneer taal van een generasie na die volgende oorgedra word, met ander woorde tydens kindertaalverwerwing, of deurlopend tydens volwassenes se voortdurende taalgebruik. McMahon (1994:270) sien aan die een kant die nut daarin om parallelle tussen kindertaalverwerwing en taalveranderingsprosesse te trek. In die ander teorieë wat tot dusver betrek is, is die standpunt egter oorwegend dat kindertaalverwerwing en taalverandering nié soortgelyk is nie, en dat verandering nie tydens kinders se verwerwing van hulle moedertaal plaasvind nie, maar deur alle taalgebruikers se voortdurende taalgebruik (byvoorbeeld Mufwene, 2011:152). Bybee (2010b:115-6) beoordeel die beskikbare literatuur en data oor die onderwerp, en kom tot die gevolgtrekking
42
dat daar net soveel verskille as ooreenkomste is tussen taalverandering en kindertaalverwerwing, en dat kindertaalverwerwing dus nié die lokus van taalverandering is nie. Sy beweer dat die ooreenkomste wat daar wel is, nie is omdat kinders verantwoordelik is vir taalverandering nie, maar omdat kinders reageer op dieselfde faktore as volwassenes in taalverandering (Bybee, 2010b:116). Haar bevinding laat haar nie ontken dat nuwe generasies wel bydra tot taalverandering nie (Labov, 2010:9 sluit daarby aan), sy ontken slegs dat dit in die eerste plek deur middel van kindertaal geskied (Bybee, 2010b:118).
Trudgill (2008) maak egter 'n saak vir die besondere rol van kinders in die vorming van nuwe dialekte in dialekkontaksituasies (soos wat tipies die geval was in nuutgevestigde kolonies), waar die beginsel van akkommodasie (veral tussen kinders) op 'n deterministiese wyse te werk gaan. Dit is egter van toepassing op 'n baie spesifieke tipe situasie, waar kinders van kleins af in deurlopende kontak is met variëteite anders as dié van hulle ouers, en waar 'n nuwe spraakgemeenskap met 'n nuwe, gemengde variëteit gevorm en gevestig word.
Haspelmath (2004:35) wys uit dat, indien 'n mens sou aanneem dat taalverandering tydens taalverwerwing geskied, dit moeilik sou wees om beperkings op veranderings te plaas, en dit eerder as lukraak beskou sou moes word. Die idee dat kindertaalverwerwing verantwoordelik is vir taalverandering is ook gebaseer op die aanname dat volwassenes se grammatikas vas en onveranderlik is (Croft, 2000:56), 'n aanname wat deur voortkomende grammatika en die eksemplaarmodel as problematies uitgewys is.
Met die rol van sprekers en die spraakgemeenskap wat voorlopig bespreek is, word daar vervolgens aandag gegee aan die onderskeid tussen interne en eksterne oorsake van taalverandering.
2.3.4.3 Interne en eksterne oorsake van taalverandering
Croft (2000:6) gee te kenne dat 'n omvattende raamwerk vir die verstaan van taalverandering beide interne en eksterne oorsake van taalverandering moet insluit. Interne oorsake van taalverandering is in die huidige literatuur nie besonder problematies nie, en die meganismes van interne verandering word oor die algemeen aanvaar. Eksterne oorsake van taalverandering is egter 'n bron van groter meningsverskille, hoewel die bestaan daarvan geensins ontken word nie. Lass (1997:184-5) verwys na die letsels wat alle tale het as gevolg van eksterne oorsake van taalverandering, en Fischer et al. (2004:10) noem standaardisering en taalkontak as voorbeelde van eksterne faktore in taalverandering.
Aangesien baie taalkundiges 'n aantal aannames maak oor hoe taalkontak aanleiding gee tot taalverandering, stel Poplack et al. (2012a:204) vyf kriteria om vas te stel of 'n spesifieke verskynsel veroorsaak is deur taalkontak:
1. die verskynsel moet in werklikheid 'n verandering wees;
43
2. die verskynsel was nie teenwoordig in die variëteit voor taalkontak nie;
3. die verskynsel is nie teenwoordig in 'n ander kontemporêre variëteit sonder taalkontak nie;
4. die verskynsel se gedrag is dieselfde as die geleende ekwivalent daarvan in die bronvariëteit; en
5. die verskynsel verskil op beduidende wyses van oënskynlik soortgelyke konstruksies in die ontvangertaal, indien daar is.
Hulle noem dan dat indien een van hierdie kriteria nie nagekom word nie, die verskynsel onder bespreking nie as taalverandering wat deur taalkontak meegebring is, beskryf kan word nie (Poplack et al., 2012b:252). Aangesien Afrikaanse preskriptiviste gereeld verskeie gebruike in Afrikaans toeskryf aan invloed van Engels, sou hierdie stel kriteria moontlik nuttig kon wees om te bepaal of sekere verskynsels (a) verandering is, en (b) wel Engelse oorsprong het. Dit is belangrik om in gedagte te hou dat dit net betrekking het op die oorsprong van 'n verandering, nie die verspreiding van 'n reeds-bestaande verskynsel nie.
Die saak is egter nie so eenvoudig nie – nie almal stem saam oor die strukturele onderskeid wat daar tussen interne en eksterne oorsake van taalverandering getref word nie. Mufwene (2008:30) skryf die sterk onderskeid tussen intern en ekstern gemotiveerde taalverandering toe aan die nalatenskap van die negentiende-eeuse ideologie van taalsuiwerheid, wat weer verwant is aan die ideologie van rassuiwerheid. Mufwene (2008:29) merk op dat ander taalkundiges die twee tipes verandering as verskillend in aard beskou, maar hy beweer dat die onderskeid eerder sosiologies van aard is (Mufwene, 2008:31, 58, 161).
Mufwene (2008:31) verenig die twee voorgestelde tipes taalverandering deur voor te stel dat die enigste tipe taalkontak wat voorkom, inter-idiolektiese taalkontak is. Hy noem verder dat alle oorsake van taalverandering ekstern aan die struktuur van taal is, in die kommunikatiewe dade van sprekers (Mufwene, 2008:31-2), en dat die aard van daardie kommunikatiewe keuses wat veral tweetalige sprekers maak (Mufwene, 2008:69) om ander sprekers te akkommodeer nie verander wanneer die verskille tussen sprekers se idiolekte oor taalgrense heen strek nie (Mufwene, 2008:161). Wat wel gebeur tydens taalkontak is dat die kenmerkpoel van sprekers potensieel meer variasie verkry (Mufwene, 2008:122), 'n mengsel van die tale in kontak word (Mufwene, 2008:152) en so heelwat addisionele kenmerke kan bykry uit 'n ander taal; hierdie verskil is egter eerder kwantitatief van aard, en nie kwalitatief nie (Mufwene, 2008:183). Beïnvloeding tussen tale kan ook meer subtiel wees – bo en behalwe overte oordrag van 'n item uit een taal na 'n ander (wat meer kenmerke in Mufwene se terme na die kenmerkpoel bring), kan koverte oordrag ook plaasvind, veral waar tale in kontak soortgelyke konstruksies het (Kruger & Van Rooy, 2015). Koverte
44
oordrag is volledig kwantitatief van aard, waar soortgelyke konstruksies in verskillende tale deur twee- of meertalige sprekers saam gegroepeer word in die eksemplaarmodel, met 'n saamgevoegde frekwensie wat die konstruksie meer verskans ("entrench") as wat die geval sou wees as die spreker aan net een van die tale blootgestel is, en wat die gebruik daarvan toenemend kan aktiveer ten koste van ander ekwivalente (Kruger & Van Rooy, 2015).
Mufwene (2008:161) ontken nie dat daar enige verskille is tussen wat andersins beskryf word as interne en eksterne taalverandering nie, maar hy beweer dat die verskil in die altyd eksterne ekologie van die idiolek is, wat ander sprekers insluit, maar ook sosio-ekonomiese faktore. Hy glo dat die tradisionele onderskeid tussen intern en ekstern gemotiveerde verandering geen werklike lig werp op die meganismes van taalverandering self nie (Mufwene, 2008:161), en daarom nie sinvol is om vol te hou nie. Om Mufwene se siening saam te vat: hy ontken nie dat taalkontak plaasvind nie en hy ontken ook nie die rol van taalkontak in taalevolusie nie; wat hy wel betwyfel, as dat taalverandering wat deur taalkontak meegebring word, anders verloop as ander tipes taalverandering. Hierdie siening van Mufwene kan ook verbind word met die rol van die spreker in sy teorie – in die lig van sy fokus op die individuele taalgebruiker en die rol van die idiolek, is sy aandrang op die eendersheid van die meganisme wat interngemotiveerde en eksterngemotiveerde sinvol, aangesien die onderskeid op die vlak van die individu wel kunsmatig is.
Indien Mufwene se insigte oor die skerp onderskeid tussen interne en eksterne oorsake van taalverandering in gedagte gehou word, kan daar verder verantwoordelik ondersoek ingestel word na die hantering van die algemene verskynsel van taalkontak.
Ten spyte van sy aandrang daarop dat die onderskeid tussen interne en eksterne taalverandering eerder sosiologies as linguisties is, skroom Mufwene nie weg van die rol van taalkontak in taalevolusie nie – inteendeel, hy beweer dat kontak 'n belangrike rol speel in die geskiedenisse van alle tale (Mufwene, 2003:276). Hy glo dat dit moontlik is om die diversifikasie van tale regoor die wêreld toe te skryf aan populasiebeweging en taalkontak (Mufwene, 2008:31), en stel dat beide kontak en migrasie die kompetisie en seleksie van variante beïnvloed (Mufwene, 2008:25). Hy keer egter telkens terug na sy standpunt dat taalkontak in wese kontak tussen idiolekte is, al is dit van verskillende tale (Mufwene, 2008:119), en dat dit bloot veroorsaak dat daar addisionele variante tot die kenmerkpoel toegevoeg word waaruit sprekers kan kies om hulleself uit te druk (Mufwene, 2008:152).
Hoewel Croft nie so 'n sterk standpunt oor die beperkte onderskeid tussen interne en eksterne taalverandering inneem soos Mufwene nie, merk hy wel op dat sekere van die meganismes van interne taalverandering dieselfde geskied vir eksterne taalverandering, aangesien alle sprekers meer as een variëteit of kode beheers (Croft, 2000:8). Hy beskryf