• Tidak ada hasil yang ditemukan

LINGUISTIES-TEORETIESE PERSPEKTIEF

HOOFSTUK 2: DIE TEORIE VAN TAALVERANDERING

2.2 LINGUISTIES-TEORETIESE PERSPEKTIEF

2.2.1 'N TEORIE VAN TAAL EN TAALKUNDE

In hoofstuk 1 is daar reeds verwys na Sapir se stelling dat "[a]ll grammars leak" (Sapir, 1921:39), en 'n verantwoordelike teorie van taal behoort daarvoor voorsiening te maak.

Tradisionele Formele Taalkunde beskryf taal as reëlgebaseerd, en hierdie lekkasie van die grammatikas van tale veroorsaak dikwels teoretiese en beskrywende probleme. Dit is egter nie die enigste teoretiese moontlikheid nie – soos MacWhinney (2001:449) dit stel:

14

Grammars keep on leaking, language keeps on changing, and humans keep on varying their behavior. Frustrated by these facts, linguists have begun to question the methodology that commits them to the task of stipulating a fixed set of rules or filters to match a specific set of data. Searching for more dynamic approaches, they have begun to think of language as an emergent behavior.

Hallan (2001:91) wys op die diskrepansie tussen kennis oor taal wat deur middel van introspeksie ingewin word, en kennis oor taal wat deur taalgebruiksdata ingewin word. Sy waarsku verder teen die beperkinge van kennis deur middel van introspeksie, onder andere dat dit nie kan voorspel wat in werklike taalgebruik voorkom nie, en dat taalgebruikers tydens introspeksie dikwels onbewustelik beïnvloed word deur preskriptiewe persepsies oor hoe taal gebruik behoort te word, in teenstelling met werklike taalgebruik (Hallan, 2001:91- 2). Verder is daar al sterk argumente gemaak teen die onvermydelike vooroordeel wat betrokke is wanneer waarnemings oor taal nie sistematies gemaak word nie, maar impressionisties en anekdoties van aard is (sien Leech et al., 2009:19, Mair, 2006:3 en hoofstuk 3 in hierdie studie vir verdere besprekings hiervan).

Aangesien introspeksie dan nie 'n betroubare bron van linguistiese kennis is nie, het sommige taalkundiges hulle die afgelope dekades begin wend tot taalgebruiksdata as basis vir die teorie van taal. Uit hierdie verskuiwing van perspektief het 'n aantal tendense na vore getree.

Een belangrike tendens is die verwerping van die Chomskyaanse interpretasie van Universal Grammar (Bybee, 2010b:201), hoewel taal en taalgebruik steeds gesien word as gesetel in die kognisie van die individu (Bybee, 2010b:9). Dit laat gevolglik ruimte vir die beïnvloeding van taal deur buitetalige faktore (Bybee, 2010b:193; Bybee & Hopper, 2001:19), en gee aanleiding tot die verandering van die beskouing van taalstruktuur as 'n holistiese, outonome sisteem na iets meer vloeibaar en veranderlik (Bybee & Hopper, 2001:2).

'n Volgende tendens wat uit die perspektiefverskuiwing voortspruit is dat die heterogeniteit van en variasie in taal as fundamenteel deel van taal beskou word (Bybee &

Hopper, 2001:19; Croft, 2001:7), en nie meer as 'n amper irrelevante manifestasie van performance in die Chomskyaanse sin nie. Croft (2001:8, 364) beskou taal as fundamenteel dinamies en interaksioneel, wat variasie nie net akkommodeer nie maar verhef tot die status quo, en daarmee saam die tradisionele verabsolutering van competence opsyskuif.

'n Laaste, belangrike tendens wat hier uitgelig gaan word, is dat taalverandering sentraal staan in die beskouing van taal, en die duidelike onderskeid tussen sinchroniese en diachroniese taalkunde opgehef word. Bybee (2010a:945; 2010b:10) stel voor dat taalkundiges verklarings vir huidige taalstrukture behoort te soek in hoe dit tot stand gekom

15

het, aangesien alle sinchroniese toestande in tale die resultaat is van 'n lang ketting van diachroniese ontwikkelinge (Bybee, 2010a:945). Verder stel sy pertinent: "A linguistic theory is not complete if it does not embrace the contribution of language change to the understanding of language structure" (Bybee, 2010b:119). Sy gee meer besonderhede hieroor met:

Language change is not just a peripheral phenomenon that can be tacked on to a synchronic theory; synchrony and diachrony have to be viewed as an integrated whole.

Change is both a window into cognitive representations and a creator of linguistic patterns. (Bybee, 2010b:105)

Gevolglik behoort 'n teorie van taal te fokus op die dinamiese prosesse wat taal voortdurend skep en herskep (Bybee, 2010b:1), en so sal begrip vir die prosesse en rigtings van taalverandering verdere insig verskaf oor die individu se kognitiewe sisteem vir taal (Bybee, 2010b:10).

In die beskrywing van grammatika het daar onlangs 'n nuwe konsep ontwikkel, naamlik voortkomende grammatika. Voortkomende grammatika maak 'n breuk met standaardidees oor grammatika – dit relativeer taalstruktuur tot sprekers se werklike ervaring met taal, en sien struktuur as 'n voortdurende reaksie op die druk van diskoers eerder as 'n voorafbestaande matriks (Bybee & Hopper, 2001:3). Grammatika het geen outonome bestaan buiten mentale representasie en prosessering nie, en dit word gevolglik voortdurend aangepas vir gebruik (Bybee & Hopper, 2001:2-3). Ter verdere verduideliking kan 'n opsomming van Thompson en Hopper (2001:48) in ag geneem word:

We could say, then, that what we think of as grammar is a complex of memories we have of how our speech community has resolved communicative problems. 'Grammar' is a name for the adaptive, complex, highly interrelated, and multiple categorized sets of recurrent regularities that arise from doing the communicative work humans do.

Daar is onlangs vasgestel dat die menslike brein se kapasiteit vir langtermyngeheue en die herroeping van individuele voorbeelde van taalgebruik heelwat groter is as wat voorheen aangeneem is (Bybee, 2010b:15; Pierrehumbert, 2001:140), wat voorheen voorsiene probleme vir die stoor van groot hoeveelhede taalkundige inligting (en die nodigheid vir abstrakte strukture en sisteme) in die brein oplos. Bybee (2001:355; 2010b:15) beweer dat sprekers nie slegs 'n groot kapasiteit vir die stoor van woordeskat het nie, maar ook vir 'n groot hoeveelheid voorafvervaardigde uitdrukkings en woordkombinasies. Boonop het menslike kognisie blykbaar die ruimte vir heelwat oortollige inligting (Hare et al., 2001:196), wat ook bydra daartoe dat abstrakte strukture en sisteme nie nodig is om taalkennis te verklaar nie.

'n Verdere konsep wat met behulp van hierdie nuwe kennis oor die menslike brein se werking ontwikkel is, is dié van die eksemplaarmodel. Bybee (2010b:19) verduidelik dat 'n

16

eksemplaar in hierdie konteks opgebou is uit 'n stel tekens wat deur die spreker ervaar is en gereken is as soortgelyk in een of ander opsig. In die eksemplaarmodel word kategorieë in die spreker se geheue verteenwoordig deur 'n groot wolk van herroepte tekens van daardie kategorie, wat georganiseer word in 'n kognitiewe kaart, waar voorbeelde wat baie soortgelyk is naby aan mekaar is en voorbeelde wat minder soortgelyk is, verder van mekaar (Pierrehumbert, 2001:140).

Hoewel gebruiksfrekwensie nie overt in die eksemplaarmodel geënkodeer is nie, speel dit tog 'n belangrike rol in die kognitiewe representasie van die kategorieë (Pierrehumbert, 2001:143). Die belang van taalgebruik en gebruiksfrekwensie vir die ontstaan en verandering van 'n taal se grammatika word deur verskeie taalkundiges gestel; Langacker (2010:430) skryf dat "[i]t is through the constant impact of usage that linguistic units maintain themselves and evolve", en Bybee (2010a:981) sluit daarby aan met "grammar is always being created and re-created by language use". Klaarblyklik is die menslike kognitiewe apparaat sensitief vir frekwensie, en is dit geneig om sonder spesifieke instruksie of versoek gebeure of elemente te sorteer en representeer op grond van konteks-relevante relatiewe frekwensie (Fenk-Oczlon, 2001:433). Hoë gebruiksfrekwensie het dus bekendheid tot gevolg, wat 'n spreker in staat stel om konstruksies vinniger te herroep, meer akkuraat te identifiseer en herken, antisipeer en voorspel (Fenk-Oczlon, 2001:432).

Vir so 'n gebruiksgebaseerde teorie, met spesifieke fokus op onder andere gebruiksfrekwensie, word kwantitatiewe studies besonder belangrik om die breedte van ervaring met taal te begryp (Bybee, 2010b:12). Elke voorbeeld van gebruik beïnvloed die kognitiewe representasie van taal (Bybee, 2010b:14) deurdat elke gebruiksvoorbeeld die representasie van 'n item versterk, en met verloop van tyd hoop so 'n versterking op deur middel van herhaling (Bybee, 2010b:18). Fenk-Oczlon (2001:432) wys daarop dat die frekwensie van gebruiksvoorbeelde nie enige direkte effek uitoefen op taalstruktuur nie, maar in die eerste plek op kognitiewe prosesse van die sprekers; kognitiewe prosesse is egter betrokke by die prosessering van (aktiewe en passiewe) taalgebruik, en het daardeur wel 'n invloed op taalstruktuur. Dit is op grond daarvan dat Bybee en Hopper (2001:10) kan sê dat gebruiksfrekwensie linguistiese gedrag op 'n verskeidenheid van maniere affekteer (sien ook Deutscher, 2005:261, Hare et al., 2001:181 en Jurafsky et al., 2001:230 in dié verband).

Konvensie speel 'n belangrike rol in taalgebruik, en Bybee (2010b:90) dui aan dat linguistiese konvensie deur frekwensie daargestel en versterk word, en dat selfs grammatikaliteit (wat gebaseer word op linguistiese konvensie) op grond van frekwensie vasgestel word (Bybee, 2010b:214). Verder, aangesien hoë gebruiksfrekwensie mentale representasie versterk en bekendheid herroeping van vorme vergemaklik en bespoedig,

17

weerstaan meer frekwente taalvorme dikwels strukturele verandering, terwyl minder frekwente vorme, wat met meer moeite herken en herroep word, makliker verander (Bybee, 2010a:962; Phillips, 2001:134). Aan die ander kant geskied klankverandering vinniger in vorme met 'n hoë gebruiksfrekwensie, aangesien dit inkrementeel geskied en dus vinniger sal vorder in vorme wat meer dikwels gebruik word (Phillips, 2001:134).

Binne hierdie kognitiewe gebruiksgebaseerde raamwerk van taal kan taal nie meer gesien word as 'n monolitiese sisteem nie, maar word dit herbeskou as 'n massiewe versameling van heterogene konstruksies (Bybee & Hopper, 2001:3). Konstruksies is die direkte skakel tussen vorm en betekenis (Bybee, 2010b:76; Croft, 2010:472), wat kan manifesteer in terme van sintaksis, morfologie en leksikon (Croft, 2010:463). Bybee (2001:343) brei hierop uit deur konstruksies te beskryf as "repeated sequences of morphemes or words which bear a particular semantic or functional relation to one another when used together in a construction which they do not necessarily have outside that construction."

Croft (2001:4; 2010:463) beweer dat konstruksies die basiese vorm van sintaktiese struktuur is, oftewel die basiese eenhede van sintaktiese representasie, wat gebaseer is op die representasie van grammatikale kennis in die spreker se kognisie (Croft, 2010:471). Dit sluit aan by Langacker (2010:425) se siening dat enige faset van taalgebruik, of volgorde van gebeure in diskoers, geabstraheer en gekonvensionaliseer kan word as 'n eenheid.

Konstruksies kom tot stand deur middel van herhaalde gebruik (Bybee, 2001:343), hoewel die eksemplaar (in terme van die eksemplaarmodel) van 'n konstruksie meer kompleks sal wees as dié van byvoorbeeld 'n enkele lekseem (Bybee, 2010b:25). Om grammatikale patrone in terme van konstruksies voor te stel is besonder gepas in die eksemplaarmodel, aangesien taalgebruikers juis spesifieke voorbeelde van konstruksies ervaar, en weer konstruksies se betekenis stoor en herroep deur middel van 'n eksemplaar van voorbeelde (Bybee, 2010b:26). Dit sluit per implikasie aan by Croft (2001:29) se siening dat konstruksies taalspesifiek is, hoewel daar ooreenkomste tussen die konstruksies van verskillende tale is.

In samevatting van die voorafgaande teorietiese uiteensetting wat taal beskou as voortkomend uit die herhaalde toepassing van onderliggende prosesse, kan taal beskryf word as 'n komplekse aanpasbare sisteem ("complex adaptive system") (Bybee, 2010b:2).

Bybee (2010b:2) motiveer dit met:

The primary reason for viewing language as a complex adaptive system, that is, as being more like sand dunes than like planned structures, such as a building, is that language exhibits a great deal of variation and gradience.

18

Dit impliseer verder dat dieselfde kognitiewe prosesse wat voorgestel word as verantwoordelik vir die prosessering van taal, ook die prosesse is wat lei tot taalverandering (Bybee, 2010b:10), en "[t]hus explanation on the synchronic and diachronic dimensions is united" (Bybee, 2010b:10). Op hierdie punt word daar vervolgens aanbeweeg na 'n kort beskouing van die diachroniese taalkunde, om die finale agtergrond te gee vir die bespreking van teorieë van taalverandering.

2.2.2 DIACHRONIESE TAALKUNDE IN KORT

Diachroniese taalkunde is die subdissipline binne die taalkunde wat spesifiek fokus op die historiese ontwikkeling van taal en tale. Lass (1997:17) beskryf diachroniese taalkunde as

"the discipline that makes stories and/or interpretations out of what happened to language over time". Daar is dus twee belangrike komponente wat diachroniese ondersoeke uitmaak:

aan die een kant is daar die beskrywing van taal met verloop van tyd, en aan die ander kant is daar die verklaring van wat tydens die verloop van tyd plaasgevind het. Hierdie beskrywing en verklaring sluit makroverhale, die verhale van tale oor eeue heen, in, asook mikroverhale, die beskrywing en verklaring van klein, spesifieke veranderinge wat in een of enkele tale tydens 'n gespesifiseerde tydperk plaasgevind het (Lass, 1997:288).

Lass (1997:10) en Joseph (2004:60) wys daarop dat verantwoordelike bestudering van die linguistiese verlede gebaseer moet word op 'n deeglike begrip van die linguistiese hede;

dit word gebaseer op die aanname dat al die taaltoestande in die verlede in beginsel dieselfde was as huidige taaltoestande. Deutscher (2005:9) formuleer dit as "the present is the key to the past", en noem bogenoemde aanname uniformisme ("uniformitarianism"). Aan die ander kant kan 'n taaltoestand ook nie slegs in sinchroniese terme beskryf word nie, aangesien sinchroniese taaltoestande altyd oorblyfsels is van historiese prosesse (Lass, 1997:14). Sinchroniese en diachroniese taalkunde kan dus nie skerp van mekaar geskei word nie (Lass, 1997:12); dit hoef ook nie, aangesien die twee dimensies van taalkunde komplementêr is (Lass, 1997:14).

So ver terug as wat diachroniese taalkunde tans in staat is om te bepaal, geld daar 'n bepaalde beginsel: "nothing comes from nothing" (Deutscher, 2005:10). Met ander woorde:

Certainly, grammatical elements were not devised at a prehistoric assembly one summer day, nor did they rise from the brew of some alchemist's cauldron. So they must have developed out of something that was already at hand. (Deutscher, 2005:10) Daar is uitgebreide teorieë oor hoe menslike kommunikasie en taal oorspronklik ontstaan het, waar byvoorbeeld die konsepte van gesamentlike intensionaliteit ("joint intentionality") en kollektiewe intensionaliteit ("collective intentionality") relevant is (sien Tomasello, 2014 vir 'n in-diepte bespreking). Daar is egter geen data beskikbaar vir hierdie fase van die

19

ontwikkeling van taal nie, en vir so ver terug as waarvoor daar geskrewe rekords van taal beskikbaar is, geld die bogenoemde beginsel van Deutscher. Verklarings vir enige taaltoestand word dus, ten minste gedeeltelik, gevind in die taaltoestande wat dit voorafgegaan het. Elke konstruksie het sy eie geskiedenis, hoewel algemene tendense van taalverandering identifiseerbaar is (Fischer et al., 2004:13). In verband hiermee herinner Lass (1997:327) dat vrae en antwoorde oor taalverandering noodwendig hoogs kompleks sal wees, aangesien dit handel oor historiese sisteme wat die produk is van 'n lang proses van evolusie. Hy wys verder daarop dat die tipe verduidelikings wat as antwoorde op historiese vrae gesoek word, sal afhang van die spesifieke vraag wat gevra word (Lass, 1997:327).

Diachroniese taalkunde is 'n empiriese wetenskap, wat werklike, bestaande entiteite ondersoek (Croft, 2000:2) – in die vorm van historiese taalvorme, gewoonlik geskrewe tekste wat bewaar gebly het, maar in sommige uitsonderlike gevalle van meer onlangse taaltoestande ook klankopnames. Taal kan egter nie as 'n abstrakte sisteem ondersoek word nie, en die belang van die teoretiese uitgangspunt wat taalverandering in taalgebruik setel (uiteengesit in die voorafgaande afdeling) word daaruit duidelik.

Labov (1994:21) formuleer die paradoks van die historiese linguistiek:

The task of historical linguistics is to explain the differences between the past and the present; but to the extent that the past was different from the present, there is no way of knowing how different it was.

Die taalkundige maak soveel sin van historiese data as wat moontlik is, en gebruik teoretiese insigte en gepaste metodes van ondersoek om uiteindelik taalverandering in welke gedaante ook al so goed as moontlik te beskryf en te verklaar.

Ten slotte – diachroniese taalkunde wil taalverandering of verskillende opeenvolgende taaltoestande (a) beskryf en (b) verklaar, deur middel van spesifiek en gepas geformuleerde vrae, op grond van empiriese data, oftewel historiese rekords van taalgebruik. Om hierdie taak sinvol en verantwoordelik aan te pak is 'n omvattende teorie van taalverandering nodig, en die volgende afdeling verken die teorie van taalverandering.