HOOFSTUK 4: TYDSAANDUIDING
4.4 DIE PRETERITUM
4.4.2 MODALE HULPWERKWOORDE
91
(soos dit in hoofstuk 2 uiteengesit is). Dit blyk dat, anders as mag en mog, die ander modale hulpwerkwoorde se frekwensie steeds hoog genoeg is om regularisering teen te werk, ten spyte van 'n subtiele daling in totale preteritumgebruike (sien afdeling 4.4.4, p. 107).
Vervolgens word daar nader ondersoek ingestel na die res van die oorgeblewe preteritum wat meer algemeen gebruik word. Die eerste groep wat aan die beurt kom is die modale hulpwerkwoorde.
92
doel van hierdie afdeling gaan modaliteit as 'n breë sambreelterm gebruik word, en meer spesifieke domeine van modaliteit gespesifiseer word wanneer dit relevant is.
Daar is 'n verbintenis tussen modaliteit, tempus en aspek, soos wat gesien kan word in Heine (2003:594) se grammatikaliseringsroetes wat vroeër genoem is, en Patard (2014:69) dui aan dat grammatikale verlede tyd in verskeie tale ook modale betekenis kan oordra.
Terwyl imperfektiwiteit eerder met modaliteit geassosieer word, is die grammatikale verlede tye wat in Germaanse tale vir modale betekenisse gebruik word gewoonlik aspektueel neutraal (Patard, 2014:70, 72). Patard (2014:87) verbind die modale gebruike van verlede tye met pragmatiese afleidings wat tot 'n meerdere of mindere mate gekonvensionaliseer word, en som dit soos volg op:
Adopting a dynamic perspective, one may say that the modal uses of past tenses reflect a semantic evolution affecting these forms within particular environments (or constructions): past tenses have been increasingly used to convey modal effects (through inferential processes) so that, in certain contexts, the interpretation in terms of their source meaning is progressively backgrounded (or even overruled) while the target modal meaning is increasingly focused upon and put to the foreground. (Patard, 2014:88)
Dit beteken dat die oorspronklike temporele en aspektuele verwysings in baie gevalle nog steeds moontlik is tydens oorbruggingsfases (Patard, 2014:88). In Afrikaanse taalgebruik word sou byvoorbeeld nog gebruik om verlede toekomende tyd aan te dui, hoewel dit meestal gebruik word met modale betekenis in beide die verlede en teenwoordige tyd (sien bespreking hieronder) en moontlik in dieselfde rigting beweeg as Engelse should (sien Rossouw & Van Rooy, 2012:8).
Terblanche (1980:50) dui aan dat die preteritum van die modale hulpwerkwoorde sal, kan, wil en moet, naamlik sou, kon, wou en moes, gebruik word om 'n onwerklikheid of die irrealis aan te dui, en De Villiers (1971:23) gee voorbeelde "waar die werkwoordsvorme glad nie tyd aandui nie, maar wense, veronderstellings, ens". Steyn (1976:42) wys uit dat die preteritumvorme in hierdie gevalle optree as infinitiewe, en Conradie (2006:88) dui aan dat Afrikaanse taalgebruikers inderdaad hierdie preteritumvorme gebruik waar Nederlands die infinitief sou vereis, byvoorbeeld "Hy is my pa, hy sou iets moes kon doen. Ek sou by hom kon gaan bly" (Lötter, 2004:49, aangehaal deur Conradie, 2006:88), waar Nederlands zou moeten kunnen of zou kunnen sou neem.
De Villiers (1971:29) beweer dat epistemiese modale hulpwerkwoorde in baie korrekte formele styl nié preteritale assimilasie ondergaan nie, en die presensvorm in verledetydskonstruksies gebruik word (byvoorbeeld 'Dit kan gereën het'). Twee vroeë normatiewe bronne dui ook hierdie gebruik aan (Malherbe, 1917:63; Pienaar &
Langenhoven, 1932:98-9), maar in die middel van die eeu word die verlies van hierdie
93
gebruik deur twee bronne betreur (Le Roux, 1968:204; Van der Merwe, 1958:152), waarna dit deur vier bronne hanteer word in terme van 'n betekenisonderskeid (preteritale assimilasie dui die irrealis aan, die presensvorm die verlede tyd) (De Villiers, 1983:226; Du Plessis, 1979:116; Engelbrecht, 1975:41; Hiemstra, 1980:7) en deur twee bronne as bloot wisselvorme wat beide korrek is (Combrink & Spies, 1986:76, 101; Van der Merwe &
Ponelis, 1991:111, 148). Hierdie kwessie betrek egter die presensvorm, en aangesien hierdie afdeling oor die preteritum handel, word dit daar gelaat.
Vervolgens word 'n laaste kwessie oor die vormlike vergestalting van preteritumgebruike hanteer, waarna die onderskeie gebruike van die mees frekwente modale hulpwerkwoorde se preteritumvorme in meer besonderhede ondersoek word.
4.4.2.1 Preteritale modale hulpwerkwoorde en het
Voordat daar na die afsonderlike modale hulpwerkwoorde gekyk word, is daar 'n kwessie om eers uit te klaar. Al vier die betrokke preteritale hulpwerkwoorde word beide met en sonder die hulpwerkwoord van tyd het gebruik. Aangesien dit aanleiding gee tot twee verskillende vormlike vergestaltings, ontstaan die vraag of die vormonderskeid aanleiding gee tot 'n betekenisonderskeid van een of ander aard.
Die hulpwerkwoord het se grammatikale funksie is aanduiding van die grammatikale verlede tyd, maar die preteritumvorm is reeds 'n aanduiding van die grammatikale verlede tyd. Dit lei tot die vraag of die gebruik van het al dan nie verdere temporele inligting weergee, of dit relevant is vir die tipe modaliteit wat die modale hulpwerkwoorde oordra, of bloot oortollig gebruik word na aanleiding van die reëlmatige vorm van die grammatikale verlede tyd.
Drie normatiewe bronne uit die afgelope eeu dui aan dat het saam met preteritale modale hulpwerkwoorde gebruik word om die irrealis aan te dui, oftewel gebeure wat nié plaasgevind het nie. Dit korrespondeer met die bevindinge van Terblanche (1980:50) en Conradie (2006:87). Voorbeelde hiervan word in [4.1] tot [4.4] aangedui.
[4.1] As dit van die Britse Regering afgehang het, sou daardie stukkie kleurslagboom ook nie in die Suid-Afrika Wet gewees het nie en dan sou nie-blankes vir die Volksraad en die Senaat verkiesbaar gewees het. (1941-1950, Informatief) [4.2] Ek sou baie graag baie wou geleer het. (2001-2010, Fiksie)
[4.3] In Hom sien ons hoe Adam kon gewees het, as die sonde sy lewe nie verwoes het nie. (1971-1980, Religieus)
[4.4] Deur die bedenking plek te gee in ons hart, sê ons feitelik: die Heere het dinge in sij Woord geopenbaar, wat Hij tog liewers maar moes verswije het. (1911-1920, Religieus)
94
Na 'n kontrolering van die korpusdata is daar egter gevind dat daar telkens gebruike met het is wat nié aanduiding van die irrealis is nie. Du Plessis (1979:161) dui hierdie gebruike aan as aanduidings van die voltooide verlede tyd. Die term voltooide behels dat die gebeurtenis afgehandel is of vir 'n toestand dat dit opgehef is, en verlede tyd behels dat die voltooidheid al voor die huidige moment van toepassing is. Dit stel twee kriteria vir 'n gebruik om die voltooide verlede tyd aan te dui: (a) 'n gebeurtenis of handeling is reeds voltooi, of 'n toestand is opgehef, en (b) die voltooiing van 'n gebeurtenis of handeling het reeds in die verlede plaasgevind, en 'n toestand duur nie meer voort in die huidige moment nie. Al die gebruiksgevalle van preteritale modale hulpwerkwoorde met het, wat nie die irrealis aandui nie, is oorweeg, en die oorgrote meerderheid voldoen aan die twee kriteria. Die aksie in [4.5]
is (a) voltooi in die (b) verlede, en die toestand in [4.6] is (a) nie meer die geval nie, hoewel dit (b) in die verlede wel was.
[4.5] Skriftelike bewys dat dit al in Van Riebeeck se tyd plaasgevind het, bestaan nie, maar dit is moontlik omdat die spaarsame kommandeur waarskynlik sou besef het dat suiker nie vir gebakte patats soos vir soetgestoofde rape nodig was nie.
(2001-2010, Informatief)
[4.6] Maar al neem ons ook aan dat Willem Adriaan van der Stel nie die werklike rede vir sy verdraagsaamheid teenoor die veerowers gegee het nie, is dit nog altyd moontlik dat, wat hy oor die populariteit van die ruil-ekspedisies gesê het, in ooreenstemming met die feite kon gewees het. (1941-1950, Informatief)
Daar is slegs twee voorbeelde gevind wat, op grond van die konteks, nie duidelik aan albei kriteria voldoen nie: in voorbeeld [4.7] dui die outeur aan dat iemand van kleins af (dus: ook in die verlede) 'n sekere tipe rok wou hê, maar uit die konteks lyk dit of die begeerte steeds geld; in [4.8] word 'n proses gerapporteer wat, volgens wat uit die omringende konteks afgelei kan word, steeds voortgaan.
[4.7] . . . 'n rooi rok soos ek van my kleinste droomtyd af wou gehad het: prinseslank, walswyd, feesvrolik en rooi, rooi, raaksienrooi soos 'n kanniedood op die Knersvlakte . . . (1971-1980, Biografies)
[4.8] Mnr. Amir Abdulla, streekdirekteur vir Suider-Afrika, sê sedert September moes die WVP-kantore regoor die streek voedselhulp begin verminder het aan sentrums waar moeders en kinders gevoed is, aan skoolvoedingsprojekte en aan mense met MIV/vigs en tuberkulose. (2001-2010, Verslaggewing)
Daar is ook die verdere lastigheid van die gebruik van het in die teenwoordige tyd wat nié in die irrealis is nie (sien voorbeeld 4.19). Hierdie gevalle is egter die uitsondering, nie die reël nie. Aangesien daar tog uitsonderings is, word voltooide verlede tyd nie as vanselfsprekend geneem wanneer het gebruik word wat nie die irrealis aandui nie; daar word wel daarop gewys dat die gebruik van het meestal die voltooide verlede tyd aandui wanneer dit nie die irrealis aandui nie.
95 4.4.2.2 Sou
Die modale hulpwerkwoord sal wat intensie of voorspellings aandui, se preteritale vorm is sou. Daar is twee hoofkategorieë waarbinne sou gebruik word, die een is om die verlede toekomende tyd aan te dui (voorbeeld 4.9),
[4.9] Hij sou nie die laaste wees deur die Hollands-Afrikaanse volk gehou, in sijn bestaan bedreigd deur die magtige Albion. (1911-1920, Religieus)
en die tweede is om modaliteit aan te dui [4.10].
[4.10] Dit sou beter wees as hy hier sou gebly het om vir ons te help. (1941-1950, Fiksie)
Die modale gebruike van sou sluit in om 'n hipotese te stel (soos in 4.9) en epistemiese waarskynlikheid aan te dui (sien voorbeeld 4.17), en ook om intensie in die verlede tyd aan te dui. In die eerste periode is die verwante vorme zou (37 keer) en zouden (4 keer) ook nog gebruik, hoewel dit vir die huidige doeleindes gewoon as wisselvorme geag is. Dit wys die mate van sukses in terme van variasiereduksie wat tydens standaardisering behaal is. Tabel 4.7 verskaf die twee hoofkategorieë van sou se onderskeie gebruiksgetalle.
Tabel 4.7: Temporele en modale gebruiksgetalle van sou
1911-1920 1941-1950 1971-1980 2001-2010 verlede
toekomende tyd 51 12,3% 82 18,7% 50 15,7% 53 19,9%
modaal 362 87,7% 356 81,3% 269 84,3% 213 80,1%
TOTAAL 413 438 319 266
Die enigste opvallende verandering in die gebruik van sou wat uit die tabel na vore kom, is die merkbare daling in totale gebruiksgetalle van die tweede tot die laaste periode. 'n Statistiese toets van beduidendheid wys dat die vermindering van totale gebruike oor al vier periodes heen inderdaad statisties beduidend is, en terwyl die verskil tussen die eerste twee periodes op sigself nié is nie, is die verskille tussen die daaropvolgende periodes wel6. In terme van formaliteit is die grootste proporsionele afname in die informele kategorie. Terwyl die modale gebruike van sou tot vier maal soveel soos die tempus-gebruike is, is daar nie enige aanduidings van afname of toename in die verhouding tussen die twee gebruike nie, wat geen verwagtings skep vir 'n verlies van die tempus-gebruik teenoor 'n behoud van die modale gebruik in die nabye toekoms nie.
Terwyl sou se meer dominante gebruik modaal van aard is, kan daar verder ondersoek ingestel word na die gebruike van modale sou. Die modale betekenis wat sou oordra is
6 Die resultate van 'n log-waarskynlikheidstoets is soos volg: vir al vier periodes aaneenlopend 53.99;
periode een tot twee 0.80 (onbeduidend); periode twee tot drie 18.13; periode drie tot vier 4.99 (lae vlak van beduidendheid)
96
hipoteties of irrealis, en terwyl die modaliteit self nie aan tyd gebonde is nie, word die stelling of gebeurtenis wat daarmee saamgaan in terme van die verlede tyd aangebied [4.11],
[4.11] Vir Malan was so iets onaanvaarbaar, veral in die lig van die gevaar wat die Kleurlingstem in so 'n situasie vir die Blankes sou inhou. (1971-1980, Informatief) of in terme van die teenwoordige tyd [4.12].
[4.12] As jy regtig verder met hom wil werk (berading) sou ek voorstel dat jy hier begin.
(2001-2010, Manuskrip)
Tabel 4.8 gee verdere besonderhede in dié verband.
Tabel 4.8: Gebruiksgetalle van modale sou in die verlede en teenwoordige tyd 1911-1920 1941-1950 1971-1980 2001-2010 verlede tyd 160 44,2% 201 56,5% 175 65,1% 137 64,3%
teenwoordige tyd 202 55,8% 155 43,5% 94 34,9% 76 35,7%
TOTAAL 362 356 269 213
In die bostaande tabel kan 'n duidelike tendens afgelei word: in die eerste periode word sou in modale kontekste meer in die teenwoordige tyd as in die verlede tyd gebruik, en die verhouding swaai presies om in die tweede periode; daarna is daar 'n verdere verhoging (in verhouding, hoewel nie in rou getalle nie) van gebruik in die verlede tyd wat stabiel bly deur die laaste twee periodes. Terwyl daar dus steeds 'n substansiële gebruik van modale sou in die teenwoordige tyd is, neem die gebruiksgetalle deurlopend beduidend7 af. Daarteenoor maak gebruike in die verlede tyd sedert die tweede helfte van die twintigste eeu ongeveer twee derdes van die modale gebruike uit, sonder dieselfde konstante afname as dié van die teenwoordige tyd.
Wat sake egter verder kompliseer, is dat sou soms saam met verdere modale hulpwerkwoorde gebruik word (hoofsaaklik kan en kon, maar ook wil, wou, moet en moes) – die vraag ontstaan dan of die addisionele modale hulpwerkwoorde se presensvorm of preteritumvorm die gebruik van sou vergesel. Daar is vier verskillende opsies:
1. sou en die preteritumvorm in die verlede tyd;
2. sou en die presensvorm in die verlede tyd;
3. sou en die preteritumvorm in die teenwoordige tyd; en 4. sou en die presensvorm in die teenwoordige tyd.
'n Voorbeeld van elk van hierdie opsies word, in dieselfde volgorde, in 4.13-4.16 gegee.
[4.13] Ander was bang om die reis te onderneem, omdat hulle dan deur die land van hulle vyande, met wie hulle gedurig in oorlog verkeer het, sou moes gaan. (1941- 1950, Informatief)
7 Log-waarskynlikheid vir al vier periodes aaneenlopend: 74.92
97
[4.14] Maar hy was te lomp en het die mense afgeskrik deur opelik te verklaar, dat die Raad miskien sou kan ontwikkel tot iets nog groters. (1911-1920, Geesteswetenskappe)
[4.15] Kearns & Paddison (2000) beweer dat stedelike bestuur ondernemender moet word, wat die keuse vir welvaartstaatmodel sou kon teenspreek. (2001- 2010,Natuurwetenskappe)
[4.16] In 'n eenrigting-praatjie of lesing sou televisie wel die spreker se oorredingsvermoë sterk kan projekteer. (1971-1980, Informatief)
Die voorbeelde wys dat al die opsies moontlik is, wat lei tot die vraag van voorkeur. Verdere besonderhede oor die gebruiksgetalle word in tabel 4.9 gegee.
Tabel 4.9: Gebruiksgetalle van sou in kombinasie met ander modale hulpwerkwoorde 1911-1920 1941-1950 1971-1980 2001-2010
opsie 1 3 14 23 15
opsie 2 1 2 7 3
opsie 3 - 13 16 13
opsie 4 44 15 4 4
Die getalle is besonder klein, maar daar kan tog een afleiding gemaak word – terwyl daar in die eerste periode 'n besonder sterk voorkeur gegee word aan die ongemerkte vorm van addisionele modale hulpwerkwoorde in die teenwoordige tyd (wat nog ooreenkom met die Nederlandse infinitief), word daardie voorkeur nie met verloop van tyd volgehou nie (sien figuur 4.1). Die gebruiksgetalle vir die laaste twee periodes is betreklik laag, maar dit wil tog voorkom asof modale hulpwerkwoorde wat saam met sou gebruik word voorkeur gee aan die preteritumvorm bo die presensvorm, wat ook die voorkeur in die verlede tyd reflekteer.
Figuur 4.1: Sou in kombinasie met ander modale hulpwerkwoorde 0%
10%
20%
30%
40%
50%
60%
70%
80%
90%
100%
1911-1920 1941-1950 1971-1980 2001-2010
opsie 1 opsie 2 opsie 3 opsie 4
98
Terwyl die onderskeid tussen gebruike in die teenwoordige en verlede tyd minder belangrik blyk te wees, is daar 'n toenemende voorkeur vir die kombinasie "sou + preteritum" ten koste van "sou + presens" in enige tempus, dus toenemende preteritale kongruensie, of imperfektum-kongruensie in Conradie (2006:88) se terme.
'n Laaste kwessie in die gebruik van sou is tot welke mate dit vergesel word deur die verlede tyd hulpwerkwoord het. Hier is 'n aantal voorbeeldsinne waarin sou met of sonder het gebruik word: verlede tyd met het [4.17],
[4.17] 'n Paar jaar gelede sou niemand dit gewaag het nie. (1971-1980, Biografies) verlede tyd sonder het [4.18],
[4.18] Ons het gedink dit sou vir jou 'n aardigheid wees. (1971-1980, Fiksie) teenwoordige tyd met het [4.19],
[4.19] Nou wil ek van u weet of u my kan help om basies eerstehandse inligting te bekom - as ek u persoonlike belangstelling kan prikkel sou dit soveel makliker gewees het. (1971-1980, Manuskrip)
en teenwoordige tyd sonder het [4.20].
[4.20] Watter kattekwaad sou hy nou weer aanvang as sy nie op die toneel is nie.
(1941-1950, Fiksie)
Die gebruiksgetalle van sou in verledetyd-sinne en in teenwoordigetyd-sinne, met en sonder het, word in tabel 4.10 gegee.
Tabel 4.10: Gebruiksgetalle van sou met en sonder het
1911-1920 1941-1950 1971-1980 2001-2010 teenwoordige tyd +het
(irrealis) 8 2,2% 16 4,5% 8 3% 1 0,5%
teenwoordige tyd +het 1 0,3% 1 0,3% 2 0,75% 0
teenwoordige tyd -het 193 53,3% 138 38,8% 84 31,2% 75 35,2%
verlede tyd +het (irrealis) 49 13,5% 51 14,3% 20 7,45% 24 11,3%
verlede tyd +het 2 0,6% 16 4,5% 7 2,6% 6 2,8%
verlede tyd -het 109 30,1% 134 37,6% 148 55% 107 50,2%
TOTAAL 362 356 269 213
Die enigste tendens wat duidelik word uit die tabel is dat het deurgaans besonder min met verwysing na die teenwoordige tyd gebruik word, en oor die algemeen min (en toenemend minder) saam met sou gebruik word.
Die belangrikste tendens wat die gebruikspatroon van sou toon is die toenemende preteritale kongruensie van die modale hulpwerkwoorde wat saam met sou gebruik word.
99
Aangesien die werkwoordsisteem van Afrikaans heelwat meer vereenvoudig is as dié van Nederlands, veral wat tempus betref, kan preteritale kongruensie in terme van analogiese normalisering gesien word. In Nederlands is daar 'n komplekse vervoegingsisteem waar verskeie vorme van elke werkwoord bestaan, wat in verskillende (grammatikale en soms semantiese) kontekste gebruik word. Afrikaans se werkwoordsisteem is egter heelwat eenvoudiger, wat sigself makliker tot verdere regularisering verleen; preteritale assimilasie bring groter eenvormigheid mee – as die eerste modale hulpwerkwoord in die preteritum gebruik word, word al die daaropvolgende modale hulpwerkwoorde in die sin (moontlik toenemend outomaties) in die preteritum gebruik.
4.4.2.3 Wou
Die modale hulpwerkwoord wil, wat intensie of begeerte aandui, se preteritale vorm is wou.
In teenstelling met sou word wou slegs met modale betekenis gebruik, en nie op sigself as temporele verwysing nie. Beide wil en wou dui intensie of begeerte aan, met wou wat dit in die verlede tyd plaas, en word dus slegs vir agent-interne modaliteit gebruik. Anders as sou word wou ook selde in kombinasie met ander modale hulpwerkwoorde (behalwe natuurlik sou) gebruik. Aangesien dit egter 'n ander tipe modaliteit as sou aandui, en slegs in die verlede tyd gebruik word buiten saam met sou, is die vraag oor die gebruik met en sonder het weer relevant. Voorbeeld [4.21] is 'n sin met het,
[4.21] Dit het nou amper gebiedend noodsaaklik geword om uit te vind waarom Francois vir Delia in die eerste instansie hier wou gehad het. (1971-1980, Fiksie) en [4.22] daarsonder.
[4.22] Ek wou hom die laaste ent uittrek, maar hy het byna histeries geskree: "Moenie aan my vat nie!" (2001-2010, Fiksie)
Die gebruiksgetalle met en sonder het word in tabel 4.11 aangedui.
Tabel 4.11: Gebruiksgetalle van wou met en sonder het
1911-1920 1941-1950 1971-1980 2001-2010
met het (irrealis) 0 2 2 2
met het 3 6 8 0
sonder het 108 105 98 84
TOTAAL 111 113 108 86
Daar blyk 'n merkbare, maar statisties onbeduidende8, vermindering van die derde tot die laaste periode, maar geen ander verandering in terme van die gebruik van wou nie.
8 Log-waarskynlikheid van derde tot vierde periode: 2.57 (onbeduidend)
100 4.4.2.4 Kon
Die modale hulpwerkwoord kan dui beide agent-interne vermoë en agent-eksterne moontlikheid aan. Die preteritale vorm kon plaas daardie vermoë of moontlikheid in die verlede (voorbeeld 4.23),
[4.23] Hy kon ook ure aaneen die ou Joodse geskrifte lees en met Josef daaroor gesels. (1971-1980, Religieus)
behalwe wanneer 'n wens of begeerte uitgespreek word [4.24],
[4.24] Ek wens jy kon bietjie in my kop inklim en kyk wat gaan aan. (2001-2010, Manuskrip)
of in kombinasie met sou [4.25].
[4.25] En veral met John sou ek kon uitgaan - hy is immers verlief op jou! (1941-1950, Fiksie)
Indien voorbeeld [4.24] geherformuleer word met kan, word die betekenisverskil duidelik daarin dat kon 'n wens aandui vir 'n saak wat onrealisties of selfs onmoontlik is, terwyl kan 'n wens sou aandui vir 'n saak wat wel moontlik is. Die oorspronklike assosiasie van temporele afstand tussen kan en kon word hier uitgebrei tot epistemiese afstand.
De Villiers (1971:29) beweer dat wanneer kan met epistemiese modaliteit in formele kontekste gebruik word saam met verledetydsverwysing, dit soms nié preteritale assimilasie ondergaan nie. Daar is egter met 'n doelgerigte steekproef wat 400 voorbeelde van kan uit elke periode ondersoek het, geen voorbeelde hiervan gevind nie. Dit beteken nie dat die moontlikheid heeltemal uitgesluit word nie, maar dat indien dit enigsins gebruik word, dit gewoon te skaars is om in die gegewe datastelle te figureer.
Dit lei tot die vraag na gebruike van kon met of sonder het. Daar is geen gevalle van gebruik met het in die teenwoordige tyd gevind nie, en voorbeelde van gebruik met het [4.26]
en gebruik sonder het [4.27] in die verlede tyd word hier gegee.
[4.26] Die vier weke tussenin kon vierhonderd jaar gewees het. (1971-1980, Fiksie) [4.27] Sitplek was daar nie meer vir hom nie, maar hy kon darem in die gang staan, al
was daar geen ruimte om die knieë 'n bietjie te buig nie. (2001-2010, Biografies) Verdere besonderhede oor gebruiksgetalle van kon met of sonder het word in tabel 4.12 gegee.
Soos met die vorige gevalle is daar weereens 'n sterk voorkeur vir gebruike sonder het, alhoewel daar deurgaans gevalle met het teenwoordig is. Die gebruike in die teenwoordige