• Tidak ada hasil yang ditemukan

SELDSAME PRETERITUMVORME

HOOFSTUK 4: TYDSAANDUIDING

4.4 DIE PRETERITUM

4.4.1 SELDSAME PRETERITUMVORME

Conradie (1999:20) dui enkele verouderde preteritumvorme aan, maar ter wille van sinvolle organisering word al die seldsame vorme hier oorsigtelik bespreek.

Die eerste woord wat aan die beurt kom is die preteritum van het, naamlik had, wat intussen met het as hulpwerkwoord en het gehad as hoofwerkwoordelike perifrastiese konstruksie vervang is. Reeds vroeg in die twintigste eeu was die gebruik van hierdie vorm skaars (sien Kirsten, 2013:69-70; Stoops, 1972:102), maar tog is daar enkele gebruiksgevalle deur die loop van die eeu gevind. Die gebruiksgetalle word in tabel 4.2 aangedui:

Tabel 4.2: Gebruiksgetalle van die preteritumvorm had

1911-1920 1941-1950 1971-1980 2001-2010

had (hoofww) 114 15 6 2

had (hulpww) 67 2 - -

hadden (hoofww) 11 - - -

hadden (hulpww) 4 - - -

In vergelyking met die vorm het, wat deurgaans tussen 4 500 en 5 000 keer gebruik word (die vorme heb, hebben, hebt, heef en heeft uit die periode 1911-1920 is hierby gereken), is had (en verwante vorm hadden) reeds in die eerste periode skaars in vergelyking met het (dit maak maar 4% van die totaal uit), en verminder dit drasties met verdere verloop van tyd.

Anders as met het is had se gebruik as hoofwerkwoord meer prominent, en is dit selfs die enigste konteks waarin dit tydens die laaste twee periodes in die korpus gebruik word.

Die normatiewe literatuur weerspieël hierdie toenemende seldsaamheid – in 1917 noem Malherbe (1917:56) dit gewoon saam met die modale hulpwerkwoorde en ander

87

werkwoorde wat nog die preteritum neem; vanaf die twintigerjare word dit deur vyf bronne aangedui as seldsaam of opsioneel, waarvan een dit veroordeel as uit voeling met gesproke taalgebruik (Botha & Burger, 1926:118); vanaf die tagtigerjare, dus in die laaste kategorie van die normatiewe bronne, word dit deur drie bronne as besonder skaars, en toenemend skaars beskryf, en dui een bron aan dat die gebruik ten dele geografies bepaal word (Van Schoor, 1983:145). Terwyl had tans nog enigsins gebruik kan word, is die vorm besonder seldsaam en duidelik verouderd, en het het en het gehad in hulpwerkwoord- en hoofwerkwoordgebruike onderskeidelik vir had amper volledig vervang in die grammatikale verlede tyd.

Die volgende vorm wat beskryf word is die modale hulpwerkwoord mag, met die preteritumvorm mog. Die ekwivalent hiervan in Nederlands is mogen (of mag) met mocht (of mochten) in die preteritum, in Duits mögen (of mag, magst, mögt) met mochten (of mochte, mochtest, mochtet) in die preteritum, en in Engels may met might in die preteritum hoewel die temporele onderskeid nie so klinkklaar is nie. Die gebruiksgetalle van mog en verwante vorme teenoor mag en verwante vorme word in tabel 4.3 gegee.

Tabel 4.3: Gebruiksgetalle van mog en mag en verwante vorme 1911-1920 1941-1950 1971-1980 2001-2010 Presens

mag 134 170 99 100

moge 9 - - -

mogen 3 - - -

Preteritum

mog 21 6 - 2

moch 1 - - -

mocht 1 - - -

mochten 1 - - -

Die eerste belangrike waarneming is dat die gebruik van die preteritumvorme radikaal afneem – sedert die tweede periode word slegs mog gebruik wanneer die preteritum wel sporadies gebruik word, en dan net enkele kere. Reeds in die twintigerjare beskryf twee normatiewe bronne mog as seldsaam (Booysen & Jansen, 1922:99; Botha & Burger, 1927:130); twee dekades later sê een bron dat dit aan die uitsterf is (De Villiers, 1948:123), en aan die einde van die eeu beskryf een bron dit as onproduktief, met slegs die uitdrukking mog het treffe wat nog gebruik word (Van der Merwe & Ponelis, 1991:148). Weereens bestaan die moontlikheid van gebruik nog enigsins, maar dit is besonder seldsaam en kan as verouderd bestempel word. Aangesien daar nie soos in die geval van had 'n alternatiewe vorm vir die verlede tyd beskikbaar is nie, is dit sinvol om vas te stel in welke mate mag in

88

die verlede tyd teenoor die teenwoordige tyd aangewend is. Tabel 4.4 gee verdere besonderhede hieroor.

Tabel 4.4: Gebruiksgetalle van mag in verskillende tydsverwysings 1911-1920 1941-1950 1971-1980 2001-2010

verlede tyd 2 6 2 6

teenwoordige tyd 131 164 97 94

toekomende tyd 1 - - -

Hoewel mag nie gereeld in die verlede tyd gebruik word in vergelyking met gebruike in die teenwoordige tyd nie, word dit slegs in die eerste periode minder in die verlede tyd gebruik as mog, en tydens die latere drie periodes word mog telkens minder gebruik as mag in die verlede tyd. Dit beteken dat mag tot 'n mate die funksie van mog oorgeneem het (soos 'n voorbeeld uit Conradie, 2006:87 ook illustreer), maar die gebruiksgetalle is te klein om uitsprake te maak oor verdere tendense. Die gebruik van mag is ook min in vergelyking met ander modale hulpwerkwoorde, wat later aan bod kom – indien die implikasies van voortkomende grammatika en die invloed van gebruiksfrekwensie in ag geneem word, kan dit een van die redes wees waarom mag en mog nie ten opsigte van die behoud van die preteritum dieselfde gedrag toon as ander, meer frekwente modale hulpwerkwoorde nie.

'n Volgende werkwoord wat selde maar tog nog in die preteritum voorkom is wis, die preteritumvorm van weet. Afrikaanse weet stem ooreen met Nederlandse weten (of weet), met as preteritum wisten (of wist), en met Duitse wissen (of weiß, weißt, wißt) met die preteritum wußten (of wußte, wußtest, wußtet). In Afrikaans is wis grotendeels met die perifrastiese konstruksie het geweet vervang in die verlede tyd, en meer besonderhede word in tabel 4.5 gegee.

Tabel 4.5: Gebruiksgetalle van weet, wis en geweet

1911-1920 1941-1950 1971-1980 2001-2010

weet 281 239 277 298

wis 16 7 - 2

het geweet 27 42 41 55

Dit is duidelik dat het geweet amper volledig die funksie van wis oorgeneem het, en dit is alreeds tydens die eerste periode meer frekwent as wis. Die normatiewe bronne is egter meer toegeeflik daarteenoor as teenoor die vorige twee – in die eerste dekades word het geweet deur drie bronne as alternatief aangedui (Booysen & Jansen, 1922:99;

Langenhoven, 1926:36-7; Potgieter & Geldenhuys, 1934:107), maar deur vier ander bronne nié (Botha & Burger, 1926:110; Botha & Burger, 1927:103; Malherbe, 1921:63; Pienaar &

Langenhoven, 1932:97), en die seldsaamheid van wis teenoor het geweet word eers vanaf

89

die laat vyftigerjare (dus die tweede kategorie normatiewe bronne) deur vier bronne genoem (Combrink & Spies, 1986:185; De Villiers, 1983:218; Van der Merwe, 1958:237; Van Schoor, 1983:144). Die data impliseer egter dat geweet reeds in die eerste periode die prototipiese verledetydsvorm5 van weet was, teenoor wis wat reeds 'n gemerkte alternatief was. Soos met die vorige gevalle kan wis tans as seldsaam en verouderd beskou word, alhoewel die moontlikheid van gebruik nog bestaan. Geen gebruike van gewis as verlede tyd van weet is gevind nie.

Die laaste seldsame preteritum wat ondersoek word is ietwat meer kompleks as die voorafgaandes – dit is die preteritum van die hoofwerkwoord dink. Die huidige Afrikaanse vorm dink het ontwikkel uit die Nederlandse vorm denken (en denk en denkt) met die preteritumvorm dachten (en dacht); die stamvorm het dus 'n vokaalverandering ondergaan.

Verder is daar twee verskillende Afrikaanse preteritumvorme van dink, naamlik dag, waarin die vokaal ooreenkom met Nederlandse dacht, en dog, wat volledig 'n wisselvorm is van dag (afkomstig van 'n dialektiese Nederlandse wisselvorm). Dan is daar ook 'n geregulariseerde grammatikale verledetydsvorm van dink, naamlik gedink wat gebruik word in die perifrastiese konstruksies het gedink en is/word gedink, en dag en dog het 'n betekenisverskuiwing ondergaan wat dit nie meer ekwivalente van gedink maak nie. Terwyl gedink bloot die grammatikale verlede tyd van dink is, het dag en dog die addisionele gevoelswaarde van "verkeerdelik aanneem" (Conradie, 2006:88). Verder word die vorme gedag en gedog sporadies gebruik. Met hierdie komplikasies en voorbehoude in gedagte, word die gebruiksgetalle van dink en die verwante vorme vervolgens in tabel 4.6 gegee.

Tabel 4.6: Gebruiksgetalle van dink en verwante vorme 1911-1920 1941-1950 1971-1980 2001-2010

dink 52 156 180 175

denk 99 - - -

denkt 1 - - -

denken 2 - - -

dag 13 2 3 1

dacht 1 - - -

dog 4 2 2 2

gedink 10 31 44 25

gedenk* 15 - - -

gedag 1 1 0 0

gedacht 2 - - -

gedog 1 1 2 1

*slegs as sinoniem vir gedink

5 Op grond van die navorsing van Butler (2014), veral Butler (2014:113), word die term verlede deelwoord nie in hierdie studie gebruik om na werkwoorde te verwys nie, maar verledetydsvorm; dit sluit deurgaans ook die passiefvorm in (wat nie noodwendig in die grammatikale verlede tyd gebruik word nie, maar wat dieselfde vorm aanneem ongeag van die grammatikale tyd).

90

Die gebruiksgetalle is in baie gevalle te laag om enige besliste uitsprake te maak, maar 'n paar opmerkings is in orde. Die variasie in vorme is nog prominent in die eerste periode – die oorspronklike Nederlandse vorme word nog gevind, tesame met die nuwe geregulariseerde verledetydsvorme gedenk en gedink. Die vorme sonder vokaalverandering (denk/-t/-en en gedenk) se frekwensie is tydens hierdie periode nog hoër as die nuwe vorme (dink en gedink), hoewel laasgenoemde reeds gebruiklik is. Die ouer vorme het voor die aanvang van die tweede periode geheel verdwyn; die nuwe vorme het vermoedelik reeds die oorhand gekry in die twintigerjare, aangesien al vier bronne uit daardie dekade wat enigsins daarna verwys, slegs na die vorme dink en gedink verwys. Slegs die vorm gedenk het behoue gebly, met 'n nuwe betekenis "in die gees terugroep" (HAT, 2000:254), wat tot 'n mate saamval met dié van herdenk (waarin die oorspronklike vokaal ook behoue gebly het).

Die oorspronklike vokaal in die preteritum (dag en gedag) is ook nog meer frekwent tydens die eerste periode as die alternatiewe vokaal (dog en gedog). Drie van die vroeë bronne noem beide wisselvorme dag en dog, terwyl twee slegs dog noem en twee slegs dag.

Daarna word beide opsies aangedui, in een bron uit die tweede kategorie en twee uit die derde kategorie. Die gebruiksgetalle van dog, dag, gedag en gedog vir die res van die periodes is gewoon te klein om enige verdere uitsprake te maak, behalwe dat die gebruiksmoontlikheid enigsins bestaan. Die stempel van 'verouderd' word hier weerhou, op grond van die vermoede van groter prominensie in gesproke taalgebruik (De Villiers, 1971:24), en die feit dat geen van die bronne dit as sodanig aandui nie. Die indeling onder die afdeling 'seldsaam' van hierdie studie is op sigself problematies, aangesien die data slegs geskrewe taalgebruik verteenwoordig, en geen van die bronne die vorme as seldsaam aandui nie; dit word egter hier behou, aangesien dit tog geld vir die geskrewe Standaard wat deur hierdie studie se korpusse verteenwoordig word.

Die data wys dat al die preteritumgebruike wat deur Conradie (1999) as verouderd uitgewys word, toenemend seldsaam is. Hierdie afname in preteritumgebruik is 'n manifestasie van analogiese normalisering, waar onreëlmatige vorme al hoe meer vervang word deur reëlmatige vorme. Dit is 'n vorm van Deutscher (2005:173) se regularisering deur analogie, want hoewel die vorme wat voorheen as perfektum gedien het reeds bestaan het, het dit toenemend die volle paradigma van die grammatikale verlede tyd begin verteenwoordig, en is 'n tipe alternasie daarmee uitgeskakel. Dit is glad nie onverwags indien die hoë mate van regularisering van die werkwoordsisteem tydens die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans in ag geneem word nie. Die vorme wat reeds seldsaam was aan die begin van die eeu is verder vatbaar gemaak vir regularisering deurdat linguistiese items met 'n lae gebruiksfrekwensie minder weerstand bied teen regularisering, of enige sistematiese, strukturele verandering, as wat items met 'n hoë gebruiksfrekwensie bied

91

(soos dit in hoofstuk 2 uiteengesit is). Dit blyk dat, anders as mag en mog, die ander modale hulpwerkwoorde se frekwensie steeds hoog genoeg is om regularisering teen te werk, ten spyte van 'n subtiele daling in totale preteritumgebruike (sien afdeling 4.4.4, p. 107).

Vervolgens word daar nader ondersoek ingestel na die res van die oorgeblewe preteritum wat meer algemeen gebruik word. Die eerste groep wat aan die beurt kom is die modale hulpwerkwoorde.