• Tidak ada hasil yang ditemukan

DIE TEORIE VAN VOORNAAMWOORDE

HOOFSTUK 5: VOORNAAMWOORDE

5.2 DIE TEORIE VAN VOORNAAMWOORDE

"Pronouns are so called because they stand in for nouns (pro = 'for, instead of')" (Langacker, 2008:312). Voornaamwoorde is al lank deel van die beskrywende kategorieë van taalkundiges (Mühlhäusler & Harré, 1990:9), en dit verwys na 'n verskeidenheid van vorme wat, volgens tradisionele beskrywings, kan instaan vir naamwoorde of naamwoordstukke, of dit kan vervang (Langacker, 2008:312; Mühlhäusler & Harré, 1990:9). 'n Aantal konsepte is relevant wanneer voornaamwoorde ondersoek word:

 Anaforiek – anafore is linguistiese eenhede wat verwys na objekte wat alreeds in die diskoers bekendgestel is (Mühlhäusler & Harré, 1990:9). Byvoorbeeld, in "Hieruit kan elkeen opmaak hoeveel ons geslag aan die regte Ouvrouw verskuldig is. Sij maak van

144

elke Boerkind in die eerste uur van sij lewe 'n held of 'n heldin." (1911-1920, Fiksie) verwys sij terug na die regte Ouvrouw.

 Deiksis – dit verwys na die proses of daad waarmee daar verwys word na ruimtelike, temporele, sosiale of persoonlike aspekte van 'n situasie, buite taal self (Mühlhäusler &

Harré, 1990:9). Byvoorbeeld, in "Dis veilig en jy kan vannag hier slaap." (1971-1980, Fiksie) verwys jy na die aangesprokene.

 Indeksikaliteit – 'n indeksikale uitdrukking kan uitgeken word daaraan dat die belang daarvan nie begryp kan word as die hoorder nie teenwoordig is tydens gebruik nie (Mühlhäusler & Harré, 1990:10). Byvoorbeeld, in "Daar het ons die nag geslaap."

(1941-1950, Biografies) sal die hoorder/leser nie weet waarna daar verwys, tensy sy/hy in die gesprek teenwoordig is nie.

 Gemerktheid en natuurlikheid – dit hou verband met die waarneming dat nie alle lede van 'n linguistiese klas ewe sentrale verteenwoordigers van daardie klas is nie (Mühlhäusler & Harré, 1990:10). Byvoorbeeld, in Afrikaans is jy/jou die ongemerkte tweede persoon enkelvoud, terwyl u gemerk is vir formaliteit.

 Inklusiwiteit en eksklusiwiteit – dit verwys na die verskynsel om die aangesprokene in te sluit of nie (Mühlhäusler & Harré, 1990:10). Byvoorbeeld, in "Laat ons dit probeer doen wat ons rassebeleid betref en met name ten aansien van die beleid insake bloedvermenging." (1941-1950, Informatief) word die leser by die ons ingesluit, waar in die gesprek "'Julle kan mos anderdag Grootberg toe gaan.', 'Later, wanneer ons terug is.'" (2001-2010, Fiksie) word die hoorder nié by die ons ingesluit nie.

'n Belangrike kwessie wat relevant is wanneer voornaamwoorde onder die vergrootglas kom, is die vraag oor die beïnvloeding van taalstruktuur op menslike denke, oftewel die Sapir-Whorf-hipotese. Terwyl die sterk standpunt wat Whorf ingeneem het grootliks deur die taalkundegemeenskap verwerp is, is daar groter aanvaarding van die meer gematigde standpunt wat Sapir later ingeneem het, wat beweer dat taalgebruik en wêreldbeskouing mekaar wedersyds beïnvloed. Mühlhäusler en Harré (1990:5) onderskryf hierdie hipotese, en het twee spesifieke voorstelle wat relevant is vir voornaamwoorde: dat grammatikale riglyne vir die gebruik van persoonsverwysing in die meeste tale kennis insluit van spesifieke sosiale relasies, en dat die transendetale ego, die "innerlike self", nie 'n empiriese entiteit is nie, maar 'n skaduwee is wat op 'n taalgebruiker se denke gegooi word deur die grammatikale vorme wat gebruik word. Vorme van menslike individualiteit en identiteit is fundamenteel tot kulture (Mühlhäusler & Harré, 1990:7); die kultureel diverse konsepte van die self, en die grammatika van persoonsverwysende terme, wat spesifiek voornaamwoorde insluit, reflekteer mekaar – "[t]o use pronouns grammatically, correctly, one must deploy one's philosophical theories of what one is as well as one's knowledge of the social relations

145

in which one stands to those with whom one converses" (Mühlhäusler & Harré, 1990:16).

Mühlhäusler en Harré (1990:18) beweer verder dat die tipe wese wat 'n mens jouself reken in 'n ontologiese of metafisies sin sal afhang van die grammatika van 'n mens se taal. As sodanig is die voornaamwoordelike sisteem van 'n gegewe taal nie 'n direkte refleksie van enigiets in die spreker se brein of enige ander plek in die werklikheid nie, maar is dit eerder 'n kulturele konstruk (Mühlhäusler & Harré, 1990:79). Juis daarom is dit belangrik om te onderskei tussen universeel gemotiveerde, natuurlike hiërargieë en onderskeide, en taalspesifieke, sosiaal gemotiveerde hiërargieë en onderskeide, en moet "normale"

Westerse praktyke nie as 'n akkurate maatstaf vir natuurlikheid geag word nie (Mühlhäusler

& Harré, 1990:82).

Een wydverspreide onderskeid in voornaamwoordsisteme is dié van getal, soos ek vir eerste persoon enkelvoud en ons vir eerste persoon meervoud; in baie tale word ook verdere onderskeide getref as bloot enkelvoud en meervoud (Mühlhäusler & Harré, 1990:66). Getalsaanduiding is egter saamgebind met die aanduiding van verdere inligting in die voornaamwoorde, byvoorbeeld sielhebbendheid ("animacy") en sielloosheid ("inanimacy") (Mühlhäusler & Harré, 1990:68). Die terme "sielhebbend" en "sielloos" is gekies bo "lewend" en "nie-lewend", aangesien laasgenoemde nie 'n akkurate onderskeid is nie, en diere en mense dikwels saam in 'n kategorie geplaas word ("animate") teenoor plante en lewelose entiteite ("inanimate"); terwyl die konsep van "bewussyn" eintlik sentraal staan, het die terme "bewus", "onbewus" en "bewusteloos" egter spesifieke betekenisse, so die woord "siel" word hierin aan die konsep "bewussyn" gelykgestel.

'n Verdere onderskeid wat algemeen in voornaamwoordsisteme voorkom is persoon, en die kategorieë van eerste persoon, tweede persoon en derde persoon word redelik algemeen in linguistiese beskrywings aangewend (Mühlhäusler & Harré, 1990:133). Eerste persoon is byvoorbeeld ek en ons waar na die spreker verwys word, of 'n groep wat die spreker insluit; tweede persoon is byvoorbeeld jy en julle waar na die hoorder verwys word, of 'n groep wat die hoorder insluit; derde persoon is byvoorbeeld sy, hy, hulle waar na een of meer persone buite die gespreksituasie verwys word, wat dikwels vroeër in die gesprek reeds aangedui is.

Nog 'n onderskeid wat in baie voornaamwoordsisteme gemaak word is dié van gender, byvoorbeeld sy/haar vir vroulik en hy/hom vir manlik. Onderskeid in terme van gender word in vele geneties onverwante tale gemaak, waar die spreker en aangesprokene se gender dikwels minder belangrik is as dié van die gespreksonderwerp, en waar gender meestal slegs in die enkelvoud gemerk word (Mühlhäusler & Harré, 1990:70); byvoorbeeld ek en jy is gender-neutraal, maar die derde persoon enkelvoud bevat gender. Mühlhäusler en Harré (1990:73) wys ook daarop dat gender-inligting wat op voornaamwoorde aangedui word nie

146

afhang van die aanduiding van gender in naamwoorde, of vice versa nie. So het die Afrikaanse grammatika byvoorbeeld gender in die voornaamwoordsisteem, terwyl dit nie grammatikaal op naamwoorde aangedui word nie.

'n Verdere moontlike onderskeid in voornaamwoordsisteme, wat baie nou aansluit by die diep kulturele inbedding van voornaamwoorde, is in terme van respek en/of intimiteit (Mühlhäusler & Harré, 1990:18), byvoorbeeld Afrikaanse jy/jou wat die gemeensame tweede persoon enkelvoud is, waar u die formele tweede persoon is. Die aanduiding van sosiale status op voornaamwoorde is teenwoordig in 'n groot aantal tale wat geografies en histories ver van mekaar verwyderd is, wat wys op 'n sterk verhouding tussen persoonlike deiksis en verhoudings van sosiale hiërargie (Mühlhäusler & Harré, 1990:74), terwyl daar tog ook heelwat vorme is wat ooreenstemming oor die formaliteit, vlak van beleefdheid en intimiteit aandui (Mühlhäusler & Harré, 1990:132). Mühlhäusler en Harré (1990:132) vind 'n aantal sosiale verskynsels wat relevant kan wees vir voornaamwoordkeuses: rang, status, generasie, formaliteit, informaliteit, publieke diskoers, private diskoers, intimiteit, sosiale afstand, emosionele opwinding, en moontlik nog ander. Oor die tale van die wêreld heen is daar 'n algemene geneigdheid om merkers van meervoud of tweevoud aan te wend as merkers vir beleefdheid en respek (Mühlhäusler & Harré, 1990:69), en die derde persoon ontwikkel ook dikwels tot eerbetonende tweedepersoon-aanspreekvorme (Mühlhäusler &

Harré, 1990:142). Die algemene geneigdheid van pidgins om aanvanklik die aanduiding van sosiale deiksis uit die voornaamwoordsisteem te verloor, wys daarop dat sosiale deiksis persoonlike deiksis impliseer, maar nie noodwendig andersom nie (Mühlhäusler & Harré, 1990:264). Dit is egter belangrik om te wys op die onafhanklikheid van pidgins en kreole van hulle sub- en superstraattale, waar 'n sisteem van sosiale deiksis geredelik kan ontwikkel as 'n respons op en instandhouding van die spesifieke sosiale konteks waarin die taal ontwikkel het (Mühlhäusler & Harré, 1990:265), byvoorbeeld die aanspreekvorme "oom" en "tannie", asook antesedentherhaling wat verskil van Nederlands, en op Suid-Afrikaanse bodem ontwikkel het. Oor hierdie tipe verskynsels merk Mühlhäusler en Harré (1990:163) op:

Given that people address people and that people stand in various social and kin relations with one another, it is hardly surprising that there is a strong Whorfian aspect to most social communication in most societies.

'n Saak wat in die kern van die sosiale en konteksgebonde aard van voornaamwoordgebruik lê is dié van die gedeelde konteks van gespreksgenote (Mühlhäusler & Harré, 1990:25). In deiktiese of indeksikale verwysings, wat in alle tale voorkom (Martin & Hinzen, 2014:115), bind voornaamwoorde die gesprek aan al die gespreksgenote, en die hoorder moet gewoonlik teenwoordig wees tydens die spraakmoment om die volle betekenis van indeksikale gebruike te verstaan (Mühlhäusler & Harré, 1990:33). Tweedepersoon-

147

voornaamwoorde en deiktiese ruimtelike verwysings (byvoorbeeld hier en daar) val tipies in hierdie kategorie. Op grond daarvan stel Mühlhäusler en Harré (1990:35) voor dat daar duidelik onderskei moet word tussen anaforiese en indeksikale voornaamwoorde.

Vir redes wat linguiste self nie altyd kan uitspel nie, is daar in die verlede hoofsaaklik gefokus op die anaforiese en sintagmatiese aspekte van voornaamwoorde, terwyl die paradigmatiese en deiktiese aspekte agterweë gelaat is (Mühlhäusler & Harré, 1990:13).

Mühlhäusler en Harré is egter van mening dat die deiktiese funksies van voornaamwoorde die primêre funksie daarvan is, en dat anaforiese funksies heelwat minder belangrik is (Mühlhäusler & Harré, 1993:58, 269). Hulle wys daarop dat verskeie tale oor die wêreld nie die onderskeid tussen anafories en nie-anafories grammatikaal aandui nie, terwyl dit tot 'n baie groter mate wel die geval is met die aanduiding van verskillende tipes deiksis (Mühlhäusler & Harré, 1990:58). Hulle wys ook 'n verdere bevestiging hiervan uit in die gereelde afwesigheid van eksplisiete aanduiding van kasus en eenvoudige anaforiek by pidgins en kreole (Mühlhäusler & Harré, 1990:266). Die belang van deiksis word ook deur ander uitgewys wat die oorsprong van taal verken – Tomasello (2014:49-50) neem onder andere "pointing" ('n daad wat in die wese daarvan deikties is) as een van die eerste meganismes wat menslike interaksie teweeggebring het wat die konteks vir die ontstaan van taal geskep het, en Deutscher (2005:213) neem "pointing words" (met die voorbeelde "this"

en "that") as een van die drie basiese kategorieë wat die fondasie van die oorsprong van komplekse taal gevorm het; die ander twee basiese kategorieë is naamwoorde en werkwoorde. Aangesien deiksis meer fundamenteel tot taal is as anaforiek, spreek dit vanself dat deiksis ook meer fundamenteel tot voornaamwoorde sal wees as anaforiek.

Wanneer 'n taalgebruiker voornaamwoorde gebruik, beteken dit die taalgebruiker het 'n keuse uitgeoefen tussen voornaamwoordgebruik en die gebruik van 'n volle naamwoordstuk (Mühlhäusler & Harré, 1990:54). Met die konteksgebondenheid van voornaamwoorde, beteken dit egter dat die korrekte interpretasie van voornaamwoordgebruike potensieel 'n komplekse kwessie is. Terwyl anaforiese voornaamwoorde min semantiese inhoud bevat, en moontlik heel dubbelsinnig kan wees (Arnold, 2013:59), is die algemene aanname dat die spreker na 'n spesifieke referent verwys (Arnold, 2013:60). Baie navorsers het al beweer dat (anaforiese) voornaamwoordinterpretasie hoofsaaklik geskied deur middel van redenasie en kennis van die werklikheid (Kehler & Rohde, 2013:3). Grammatikale rolle kan volgens sekere navorsers ook 'n invloed op voornaamwoordinterpretasie uitoefen, waar voorkeur gegee word aan 'n referent wat dieselfde grammatikale rol in 'n ander klous inneem (Kehler

& Rohde, 2013:3), en waar daar veral voorkeur gegee word aan sinsonderwerpe in die interpretasie (Kehler & Rohde, 2013:2). Verder wys Kehler en Rohde (2013:15) daarop dat gespreksgenote se interpretasie ook beïnvloed word deur hulle verwagtings oor die rigting

148

van die diskoers in terme van koherensie. Arnold (2013:62) herinner daaraan dat begrip nie slegs 'n uitkoms is nie, maar 'n proses, en wys daarop dat daar bes moontlik verskeie prosesse betrokke is by voornaamwoordinterpretasie, insluitend die inkorporering van buitetalige inligting en verwagtings (Arnold, 2013:66).

Daar is verskillende tipes voornaamwoorde in die tale van die wêreld, waarvan persoonlike voornaamwoorde een kategorie uitmaak. Persoonlike voornaamwoorde word, soos uit die benaming afgelei kan word, hoofsaaklik vir verwysing na spesifieke persone of groepe persone gebruik. Persoonlike voornaamwoorde word algemeen ingedeel in eerste persoon (byvoorbeeld ek, ons), tweede persoon (byvoorbeeld jy, julle) en derde persoon (byvoorbeeld sy, hulle), wat verskille in persoonlike deiksis aandui (Heine & Song, 2010:118). 'n Belangrike onderskeid tussen eerste en tweede persoon aan die een kant, en derde persoon aan die ander kant, is dat derdepersoonvoornaamwoorde nie verwys na gespreksgenote nie, en daarom is dit geneig om van eerste en tweede persoon voornaamwoorde te verskil wat morfosintaktiese gedrag betref (Heine & Song, 2010:119).

Byvoorbeeld, gender word in Afrikaanse taalgebruik in die derde persoon enkelvoud onderskei, terwyl dit nie die geval is by eerste en tweede persoon nie.

In hulle ondersoek na die kognitiewe kragte agter die ontwikkeling van persoonlike voornaamwoorde, identifiseer Heine & Song (2010:121) die belangrikste konseptuele bronne vir persoonlike voornaamwoorde:

1. Nominale konsepte 2. Ruimtelike deiksis 3. Identifiseerder 4. Meervoudvorming 5. Verskuiwing in deiksis

Die domeine van naamwoorde wat ontwikkel tot persoonlike voornaamwoorde word soos volg uiteengesit (Heine & Song, 2010:121-2):

1. Eerbetonende uitdrukkings wat gebruik word vir hooggeplaaste persone 2. Terme vir die onderskeid van sosiale status

3. Verwantskapsterme 4. Terme vir professies

5. Generiese naamwoorde vir "mense", of gebaseer op onderskeid tussen geslag en ouderdom

Hulle bevindinge lei Heine en Song (2010:143) tot die gevolgtrekking dat persoonlike voornaamwoorde nie primitiewe van grammatikale evolusie is nie, maar dat dit telkens vanuit ander konseptuele domeine afgelei word. Een van die algemene onderskeide wat by

149

persoonlike voornaamwoorde gemaak word is dié van enkelvoud en meervoud, met moontlike verdere onderskeide soos enkelvoud, tweevoud en meervoud (Donaldson, 1986:5).

'n Verdere tipe voornaamwoord wat potensieel naverwant is aan persoonlike voornaamwoorde is besitlike voornaamwoorde. In baie tale is persoonlike en besitlike voornaamwoorde se vorm dieselfde, tipies veral by pidgins en kreole (Mühlhäusler & Harré, 1990:209). Dit is ook die geval by sekere Afrikaanse voorwerpsvorme en attributiewe besitsvorme, soos haar, jou, my, ons en hulle. Besitlike voornaamwoorde stel 'n relasie tussen 'n besitter en iets wat besit word daar (Mühlhäusler & Harré, 1990:225) – anders as persoonlike voornaamwoorde. Hierdie relasie hang af van drie faktore: die aard van die besitter, die aard van dit wat besit word, en die aard van die verhouding tussen die twee (Mühlhäusler & Harré, 1990:225-6).

'n Ander kategorie van voornaamwoorde wat verwant is aan persoonlike voornaamwoorde, word onbepaalde of generiese voornaamwoorde genoem (bv. Engelse one). Dit is in baie opsigte soortgelyk aan persoonlike voornaamwoorde, behalwe dat dit nie na 'n spesifieke persoon of groep persone verwys nie (Hoekstra, 2010:43). Generiese voornaamwoorde verwys na menslike referente, maar dui nie 'n spesifieke geslag of gender aan nie, en moontlik ook nie getal nie. In sekere tale is daar polemiek rondom sogenaamde generiese voornaamwoorde, waar die taal nie 'n werklik generiese opsie bevat nie (soos Afrikaans, en volgens sommiges ook Engels), en die gebruik van die manlike vorm as generies voorgehou word. 'n Groot hoeveelheid navorsing (wat hoofaaklik oor Engels gedoen is, maar ook enigsins vir Afrikaans) het al aangedui dat sprekers oor die algemeen nié manlike voornaamwoorde wat as generies gebruik word, as geslagsneutraal interpreteer nie (Everett, 2011:149; Gastil, 1990:639; Kennison & Trofe, 2003:366; Miller & James, 2009:494; Van Rooy, 1996:38). Om die implikasies hiervan te verken word die gematigde Sapir-Whorf-hipotese dikwels betrek (bv. Miller & James, 2009:483; Van Rooy, 1996:34), en word daar deur verskeie navorsers beweer dat die gebruik van manlike voornaamwoorde as sogenaamd generiese voornaamwoorde seksisties is en/of seksisme bevorder en/of ten minste nié seksisme teëwerk nie (Gastil, 1990:639; Miller & James, 2009:494; Mühlhäusler

& Harré, 1990:235-6; Van Rooy, 1996:35). Van Rooy (1996:35) plaas die gebruik van die generiese manlike voornaamwoord binne 'n diskursiewe praktyk wat help slyp aan die gemeenskap se denkraamwerk, wat in hierdie geval manlikheid as die norm vir menslikheid bevorder. Mühlhäusler en Harré (1990:123) wys verder daarop dat dit inskakel by 'n groter sosiolinguistiese kwessie, waar die taalgebruik van vroue as gemerk teenoor die norm van manlike taalgebruik gestel word, en ook die taalgebruik van laer sosio-ekonomiese klasse as gemerk teenoor middelklastaalgebruik.

150

Buiten persoonlike voornaamwoorde en die reeds genoemde verwante kategorieë, is daar nog tipes voornaamwoorde – betreklike voornaamwoorde (bv. Afrikaanse wie, wat;

Engelse who, which) en die verwante vraende voornaamwoorde, aanwysende voornaamwoorde (bv. Afrikaanse hierdie, daardie; Engelse this, that), wederkerige voornaamwoorde (bv. Afrikaanse mekaar; Engelse each other, one another), wederkerende voornaamwoorde (bv. Afrikaanse persoonlike vorme wat wederkerend gebruik word, en moontlik versterk word met -self; Engelse -self-vorme), en onbepaalde voornaamwoorde (bv.

Afrikaanse iemand, niks, almal; Engelse someone, nothing, everybody) – wat tot 'n mindere of meerdere mate in die literatuur hanteer word. (Die heelwat minder ruimte wat in hierdie afdeling hieraan gewy word is op grond van die heelwat minder ruimte wat in algemeen- teoretiese terme in bronne oor die algemeen hieraan gewy word; sien Mühlhäusler en Harré (1990:13).)

Die basiese inligting van voornaamwoorde kan soos volg opgesom word:

 Voornaamwoorde staan in die plek van naamwoorde en/of naamwoordstukke (Langacker, 2008:312; Mühlhäusler & Harré, 1990:49).

 Daar is verskeie verskillende klasse voornaamwoorde (Mühlhäusler & Harré, 1990:49).

 Voornaamwoorde betrek drie verskillende tipes 'persoon' – eerste persoon, tweede persoon en derde persoon (Mühlhäusler & Harré, 1990:49).

 Beide ruimtelike en sosiale afstand en nabyheid kan dikwels in voornaamwoorde onderskei word (Mühlhäusler & Harré, 1990:64).

 Anaforiese voornaamwoordgebruik is konteksvry (in terme van buitetalige faktore) (Mühlhäusler & Harré, 1990:200).

 Konteksgebonde voornaamwoorde is dié wat indeksikale relasies aandui, byvoorbeeld mag, status, verwantskap, gender en sosiale klas (Mühlhäusler & Harré, 1990:200).

 Situasie-skeppende voornaamwoorde is dié wat gebruik word om afstand of bande te skep, om te manipuleer, en soortgelyke funksies (Mühlhäusler & Harré, 1990:200).