• Tidak ada hasil yang ditemukan

HOOFSTUK 5: VOORNAAMWOORDE

5.4 PERSOONLIKE VOORNAAMWOORDE

5.4.1 EERSTE PERSOON

In Afrikaanse eerstepersoonvoornaamwoorde word daar tussen enkelvoud en meervoud onderskei. Ponelis (1979:57) wys daarop dat die onderskeid nie eenvoudige getal is nie,

154

"want ons is nie twee of meer ekke nie ... Ons het veel eerder te doen met 'Ek + dié met wie ek my identifiseer'". Die onderwerpsvorm van die enkelvoud is ek, wat van die Nederlands ik afkomstig is, en dit word soms in 'n uitgebreide vorm ekke in minimale uitings gebruik (Ponelis, 1993b:203). Die voorwerpsvorm van die enkelvoud is my, wat dieselfde vorm is as die attritubitiewe besitsvorm. Die meervoudsvorm ons is afkomstig van die Nederlandse voorwerpsvorm vir die meervoud; daar word in Afrikaanse taalgebruik dieselfde vorm vir al die verskillende funksies aangewend, wat volgens Scholtz (1963:70) 'n redelike vroeë ontwikkeling van Afrikaans is wat hoofsaaklik deur die Khoikhoin en slawe se taalgebruik meegebring is.

Die onderwerpsvorm van die eerste persoon is, soos reeds genoem, ek. Tydens die eerste periode is beide die ouer Nederlandse en nuwe Afrikaanse vorme ik en ek gebruik.

Tabel 5.2 gee meer besonderhede hieroor.

Tabel 5.2: Gebruiksgetalle van die vorme ik en ek in die eerste periode

ik ek totaal

1911-1920 1 293 715 2 008

Dit is haas onmoontlik om vas te stel hoeveel van die ik-vorme so geskryf is omdat dit die outeurs se uitspraak voorstel, en tot hoe 'n mate dit nog gewoon 'n skryfkonvensie was wat nie meer die uitspraak weerspieël het nie. Malherbe (1917:74; 1921:86) sê dat daar in dié tyd nog sprekers was wat dit inderdaad ik uitgespreek het, maar hy noem ook dat veral ouer mense bevooroordeeld teenoor ek op skrif was, omdat hulle ik in Nederlandse geskrifte so gewoond was. Dit word egter ná die twintigerjare nie weer in normatiewe bronne genoem nie, en het sedertdien volledig uit die geskrewe Standaard verdwyn. Dit kom ook nie in enige van die ander korpusse voor nie. Dit dui op die variasiereduksie wat tydens standaardisering plaasgevind het.

Indien die ik- en ek-vorme saamgetel word as wisselvorme, lyk die gebruike van die enkelvoud eerste persoon onderwerpsvorm oor die verskillende periodes heen soos volg:

Tabel 5.3: Gebruiksgetalle van die enkelvoud eerste persoon onderwerpsvorm 1911-1920 1941-1950 1971-1980 2001-2010

ek 2 008 1 436 1 945 1 932

Behalwe vir die merkbaar minder gebruike in die tweede periode is die gebruike andersins min of meer dieselfde. Die uitgebreide vorme is telkens baie min in die geskrewe data (en derhalwe gewoon by die gewone vorme getel) – in die eerste periode is daar 13, in die tweede en derde periode telkens twee, en geen in die laaste periode nie.

155

Om 'n duideliker prentjie te kry van die konteks waarin ek gebruik is, word daar in tabel 5.4 aangedui watter proporsie van die gebruike telkens in die direkte rede is. Wanneer ek in geskrewe taalgebruik in die direkte rede aangewend word, word 'n gespreksituasie voorgestel waar gespreksgenote in dieselfde tyd-ruimtelike konteks met mekaar kommunikeer (voorbeeld 5.1).

[5.1] "Nou maar wag net so 'n bietjie, Pa. Ek gaan haar roep en dan stel ek haar aan Pa voor." (1971-1980, Fiksie)

Wanneer ek andersins in geskrewe taalgebruik aangewend word, is dit 'n situasie waar die outeur meestal direk met die leser kommunikeer en na haar- of homself verwys in 'n ander tyd en plek [5.2], wat ook dui op laer vlakke van formaliteit en hoër vlakke van gemeensaamheid.

[5.2] Ek wil graag hê, julle moet mij help, en sodoende mekaar help, om die beste gebruik te maak van die bladsije aan ons afgestaan. (1911-1920, Informatief) In fiksie kan dit moontlik ook karakters wees wie se gedagtes en self-spraak gerapporteer word [5.3].

[5.3] "Ja, ek sal nog," antwoord Johannes en hy dink dadelik: Miskien kan ek haar bietjie uitvra oor antie Mary en haar twee jongetjieskinders en so. (2001-2010, Fiksie)

Die gebruike kan potensieel ook redelik verskil tussen tekstipes onderling, en daarom word die gebruike volgens tekstipe voorgestel in tabel 5.4.

Tabel 5.4: Gebruik van ek volgens tekstipes (gebruike per 10 000 woorde) 1911-1920 1941-1950 1971-1980 2001-2010 ek Direkte

rede ek Direkte

rede ek Direkte

rede ek Direkte rede

Geestesw. 43 6,4% 13 87,8% 1 0% 9 25,9%

Natuurw. 0 5 0% 2 0% 1 0%

Fiksie 99 54,1% 87 100% 170 54% 127 46,5%

Biografies 88 35,4% 68 8% 111 28,7% 68 15,8%

Informatief 47 12,3% 36 22,7% 24 42,8% 45 57,2%

Religieus 15 11,8% 31 45,3% 9 57,9% 63 75,6%

Verslaggew. 33 2,7% 6 25% 14 50% 59 72,4%

Manuskrip 257 0,3% 200 0,9% 239 0,2% 229 0%

TOTAAL 23,9% 45,6% 36,1% 37,2%

Die verandering by geesteswetenskappe vanaf die eerste periode na die res is redelik radikaal, waar dit tydens die eerste periode oorwegend gebruik word om na die outeur te

156

verwys, en in baie groter getalle as enige van die ander periodes. Dit is interessant dat die laaste periode die grootste aantal gebruike met outeursverwysing bevat van die latere drie periodes – 'n aanduiding dat die skryfstyl van die geesteswetenskappe moontlik besig is om effens minder formeel (en per implikasie minder eerstepersoonsvermydend) te wees.

Natuurwetenskappe het deurgaans min gebruike, wat óf op 'n meer formele styl wys as geesteswetenskappe, óf op 'n kleiner aantal enkel-outeurs; die gebruik van ons is egter deurgaans laer in natuurwetenskaplike tekste as in geesteswetenskaplike tekste, wat eerder wys op 'n stilistiese keuse. Die informatiewe tekste, religieuse tekste en verslaggewing toon 'n opvallende deurlopende toename in gebruike in die direkte rede, wat dui op 'n meer algemene stilistiese tendens vir outeurs om nie na hulleself in die eerste persoon te verwys nier. Fiksie bly deurgaans die kategorie met die hoogste aantal gebruike, wat uit die aard van die tekstipe nie verbasend is nie. Die proporsie gebruike in die direkte rede toon 'n interessante patroon – in die eerste periode maak gebruike in die direkte rede 54% uit, in die tweede periode 100%, in die derde periode weer 54% en in die laaste periode 46%. Dit lyk moontlik dat in die tydperk rondom die 1940's outeurs van fiksie selde ek vir karakters of vertellers (of die outeur se eie) interne refleksie aanwend, en eerder gebeure en karakters 'van buite' beskryf – die prosa van die betrokke dekade word gekenmerk deur onder andere realisme en spesifiek "klein-realisme", reis- en dierverhale, en romans wat liefdes- en huweliks-, familie- en geslagsverhoudinge behandel (Antonissen, 1982:109-12). Die ander belangrikste tekstipe wat tot die totale gebruiksgetalle van ek bydra is manuskripte, waar outeurs van briewe en dagboeke gereeld na hulleself verwys – dit beteken dat die direkte rede selde in hierdie tekstipe aangewend word. Daar is egter geen veranderinge in hierdie verband te bespeur nie. Die ander tekstipes toon soveel wisseling tussen periodes dat dit moeilik is om enige tendense op te tel. Die totale getalle van ek-gebruik wys nie op enige veranderinge nie – die kleiner aantal gebruike in die tweede periode kan moontlik toegeskryf word aan die onlangse vestiging van die Standaardafrikaanse skryftaal en die sosio-politieke klimaat waarin die voorstanders van Afrikaans die taal wou vestig, handhaaf en verdedig teen wat beskou is as die bedreigende hoë status en hoë funksies van Engels. Die deurlopende toename van proporsie in die direkte rede is statisties beduidend35, wat 'n aanduiding is van die kontekste waarin ek toenemend gebruik word, ten koste van outeursverwysende gebruike van ek.

Die vorm my vervul drie verskillende funksies – dit is die voorwerpsvorm van die eerste persoon enkelvoud (voorbeeld 5.4) wat ook (soos die ander voornaamwoorde wat 'n voorwerpsvorm het) in voorsetselstukke gebruik word,

[5.4] Sy het my uitgevra na jou welstand. (1941-1950, Manuskrip)

35 Log-waarskynlikheid vir al vier periodes aaneenlopend: 62.64

157 dit is die attributiewe besitsvorm [5.5],

[5.5] Hulle sal al my geld vat. (2001-2010, Biografies) sowel as die wederkerende eerstepersoonsvorm [5.6].

[5.6] Dog ik moet mij haas. (1911-1920, Verslaggewing)

Tydens die eerste periode staan sake egter anders – behalwe vir die twee wisselvorme in spelling mij en my en die gereduseerde vorm me, is die vorme mijn, myn en m'n vir besitsvorme gebruik. Die gebruiksgetalle word in tabel 5.5 weergegee.

Tabel 5.5: Gebruiksgetalle van die verskillende vorme van my in 1911-1920 my mij me myn mijn m'n TOTAAL

1ste persoon 119 392 2 0 0 0 513

besit 34 265 0 75 153 14 541

wederkerend 5 47 0 0 0 0 52

TOTAAL 158 704 2 75 153 14 1 106

Die Nederlandse gereduseerde voorwerpsvorm blyk reeds byna heeltemal buite gebruik te wees, en terwyl die Nederlandse besitsvorme nog heel gebruiklik was, is dit in totaal minder as die besitsvorme wat met my en mij aangedui word. Dit, tesame met die totale afwesigheid van die Nederlandse besitsvorme in die latere data, wys daarop dat hierdie vorme se gebruik waarskynlik reeds aan die afneem was. Die verlies van die laaste wisselvorme is tipies van die variasiereduksie tydens vroeë standaardisering. Vir 'n sinvolle vergelyking word al hierdie vorme saamgetel in tabel 5.6 wat die drie verskillende gebruike oor die vier periodes heen aandui.

Tabel 5.6: Gebruiksgetalle van die verskillende gebruike van die vorm my

1911-1920 1941-1950 1971-1980 2001-2010 1ste persoon 513 46,4% 338 44,4% 367 43,9% 451 39,8%

besit 541 48,9% 398 52,3% 453 54,2% 670 59,1%

wederkerend 52 4,7% 25 3,3% 16 1,9% 12 1,1%

TOTAAL 1 106 761 836 1 133

Beide die besitsvorme en wederkerende gebruike sal later meer volledig hanteer word.

Terwyl die proporsie voorwerpsgebruike effens afneem, is dit nie die geval met die gebruiksgetalle nie. Dit neem beduidend af van die eerste na die tweede periode36, waarna dit weer beduidend toeneem37.

36 Log-waarskynlikheid van eerste na tweede periode: 63.22

37 Log-waarskynlikheid van tweede na derde periode: 3.95 (enigsins beduidend, maar nie met 'n hoë mate van sekerheid nie); van derde na vierde periode: 43.98

158

In die totale gebruike van die eerste persoon enkelvoud is daar geen tendens van verandering te bespeur nie. Dit blyk dat skrywers tydens die eerste periode besonder gemaklik was om na hulleself te verwys, in die tweede periode redelik sku was daarvoor in vergelyking, en daarna meer gemaklik daarmee is, hoewel nie heeltemal soveel soos tydens die eerste periode nie. Die proporsie onderwerpsgebruike teenoor voorwerpsgebruike bly deurgaans min of meer stabiel, waar die onderwerpsgebruike 80% of meer van die totale gebruike uitmaak.

Soos reeds vroeër genoem is die onderwerpsvorm en voorwerpsvorm van die eerste persoon meervoud dieselfde (voorbeelde 5.7 en 5.8),

[5.7] Ons ry deur die gewelfde poort. (1971-1980, Fiksie)

[5.8] Dit het ons altyd nuwe moed gegee en 'n nuwe gees geskep. (1941-1950, Manuskrip)

en dieselfde vorm word ook as besitsvorm [5.9],

[5.9] Hy het paaiemente op ons huisverband begin oorslaan. (2001-2010, Informatief) en as wederkerende voornaamwoord [5.10] gebruik.

[5.10] Hoe neem ons ons voor om te werk te gaan in ons verlange om die arme blanke te hulp te kom? (1911-1920, Geesteswetenskappe)

Daar is die potensiële gebruik van die attributiewe vorm onse as besitsvorm, wat volgens Ponelis (1979:62) in bevrore styl, soos kanseltaal, nog gebruik kan word. Tydens die eerste periode word onse saam met onze nog redelik algemeen aangewend, maar sedertdien slegs marginaal in geskrewe taalgebruik – 21 keer in die tweede periode, inderdaad vernaam in religieuse geskrifte, en slegs drie keer in die derde en vyf keer in die laaste periode (nié in religieuse geskrifte nie, maar as aanduiding van informaliteit in fiksie of biografiese werke).

Die eerste periode is egter heel klompleks, aangesien die Nederlandse onderwerpsvorm wy of wij, met die gereduseerde vorm we, nog tot 'n mate gebruik is. Tabel 5.7 dui die verskillende gebruik van die verskillende vorme in die eerste periode aan.

Tabel 5.7: Gebruiksgetalle van die verskillende vorme van die eerste persoon meervoud in 1911-1920

wy wij we ons onse onze TOTAAL

onderwerp 34 22 20 1 884 0 0 1 960

voorwerp 0 0 0 490 0 0 490

besit 0 0 0 761 237 27 1 025

wederkerend 0 0 0 22 0 0 22

TOTAAL 34 22 20 3 157 237 27 3 497

159

Hoewel die ouer Nederlandse onderwerpsvorme nog enigsins in gebruik was, is dit marginaal in vergelyking met die oorweldigende voorkeur vir ons; ook die Nederlandse onze en die meer verafrikaanste onse se gebruike as besitsvorm is nie soveel soos dié van ons nie. Soos by heelwat ander verskynsels is hier weer 'n duidelike aanduiding van die omvang van variasie wat tydens standaardisering uit geskrewe taalgebruik geweer is. Hierdie vorme word alles saamgetel wanneer die data met die ander periodes vergelyk word. 'n Oorsigtelike vergelyking word in tabel 5.8 gegee:

Tabel 5.8: Gebruiksgetalle van die verskillende gebruike van ons en verwante vorme 1911-1920 1941-1950 1971-1980 2001-2010 1ste persoon 2 450 70% 1 290 68,8% 933 76% 1 357 71,1%

besit 1 025 29,3% 574 30,6% 286 23,3% 543 28,4%

wederkerend 22 0,7% 11 0,6% 8 0,7% 9 0,5%

TOTAAL 3 497 1 875 1 227 1 909

Die besitsvorm en wederkerende gebruike gaan weereens later meer volledig hanteer word.

Selfs indien hierdie gebruike buite rekening gelaat word, is daar 'n drastiese vermindering vanaf die eerste na die tweede periode38, 'n verdere vermindering (steeds beduidend, hoewel minder drasties) na die derde periode, wat daarna weer optel vir die laaste periode om min of meer dieselfde te lyk as die tweede39. Voordat dit egter verder bespreek word, moet 'n verdere onderskeid in gebruik hanteer word – ons kan inklusief [5.11],

[5.11] Kom aan, laat ons opmaak en bou, in die Naam van die Here, en Hy sal ons dit doen geluk. (1911-1920, Religieus)

sowel as eksklusief [5.12] gebruik word,

[5.12] En sy wurg 'n onhandige leuentjie uit: "Ons trek een van die dae na 'n ander huis." (1971-1980, Fiksie)

waar die aangesprokene (of in geskrewe taalgebruik die leser) ingereken word by inklusiewe gebruike, maar nié by eksklusiewe gebruike nie. In tabel 5.9 word die gebruike van ons ingedeel volgens inklusiwiteit en eksklusiwiteit.

Tabel 5.9: Gebruiksgetalle van die inklusiewe en eksklusiewe gebruike van ons 1911-1920 1941-1950 1971-1980 2001-2010 inklusief 1 438 60,6% 888 68,8% 456 48,9% 629 46,4%

eksklusief 936 39,4% 402 31,2% 477 51,1% 728 53,6%

TOTAAL 2 374 1 290 933 1 357

38 Log-waarskynlikheid van periode een tot twee, slegs onderwerp- en voorwerpgebruike: 362.77

39 Log-waarskynlikheid van periode twee tot drie, slegs onderwerp- en voorwerpgebruike: 55.63; van periode drie tot vier: 77.54

160

Tydens die eerste en tweede periode word ons meer inklusief gebruik as eksklusief, waarna dit toenemend eksklusief gebruik word. Een moontlikheid waarvan die beduidend toenemende eksklusiwiteit van ons40 'n aanduiding kan wees, is 'n afname in die gebruik van die "royal we". Daar is egter nie 'n toename in die gebruike van ek of van passiefkonstruksies om hiervoor te kompenseer nie, maar generiese voornaamwoorde neem toe na die einde van die eeu (sien afdeling 5.4.4, p. 189 en verder vir verdere besonderhede), wat moontlik 'n deel van hierdie funksionele lading oorgeneem het.

'n Laaste kwessie rakende die gebruik van ons is in kollokasie met 'n naamwoord, telwoord of ander voornaamwoord wat as 'n nabepaling dien om 'n spesifieke groep te identifiseer, byvoorbeeld "ons twee", "ons onderwysers", of "ons almal". Verskeie normatiewe bronne beveel hierdie konstruksie aan bo die tipe konstruksie twee/almal van ons, wat as 'n Anglisisme beskou word (Combrink & Spies, 1986:115, 166; Hiemstra, 1980:88; Prinsloo & Odendal, 1995:209; Van der Merwe, 1958:220, 1967:292; Van der Merwe & Ponelis, 1982:203, 1991:238). Om te bepaal tot hoe 'n mate ons in sulke kollokasies gebruik word, en of daar enige veranderinge in dié opsig is, word die gebruike in tabel 5.10 aangedui.

Tabel 5.10: Gebruiksgetalle van ons met nabepalings

1911-1920 1941-1950 1971-1980 2001-2010

met nabepaling 36 18 23 31

sonder nabepaling 2 338 1 272 910 1 326

TOTAAL 2 374 1 290 933 1 357

Dit blyk dat 'n baie klein proporsie gebruike in hierdie tipe kollokasies plaasvind, maar dat dit deurgaans teenwoordig is. Die gebruiksgetalle is egter te laag om enige uitsprake oor veranderinge te maak.

Wat die eerste persoon enkelvoud betref is daar nie besondere veranderinge te bespeur nie. Die totale gebruiksfrekwensie wissel sonder tekens van volgehoude verandering, hoewel dit lyk of ek toenemend in die direkte rede gebruik word eerder as wat outeurs dit gebruik om direk na hulleself te verwys. Die totale gebruiksfrekwensie van die meervoud is ook te wisselvallig om volgehoude verandering te kan uitwys, maar die proporsie inklusiewe gebruik daarvan verander tog. In die eerste helfte van die eeu word ons meer inklusief as eksklusief gebruik, terwyl dit in die tweede helfte van die eeu net meer as die helfte van die tyd eksklusief gebruik word. Hierdie verandering word in verband gebring met die toename in generiese voornaamwoorde, wat later in meer besonderhede behandel word (sien afdeling 5.4.4, p. 189 en verder).

40 Log-waarskynlikheid vir al vier periodes aaneenlopend, inklusiewe gebruike: 52.82

161