• Tidak ada hasil yang ditemukan

Die burleske in Afrikaanse en Nederlandse prosa

HOOFSTUK 2 DIE BURLESKE – ʼn TEORETIESE VERKENNING

2.8 Die burleske in Afrikaanse en Nederlandse prosa

Omdat die leser moontlik ʼn meer sombere toon in ʼn roman oor moeisaam ontluikende seksualiteit, gaywees asook die lyding en dood van ʼn moeder verwag (temas wat onderskeidelik in Sprakeloos en Moedervlekken voorkom), op grond van gelese tekste oor soortgelyke onderwerpe of situasies, besit die leser ʼn vooropgestelde horison oor wat hy in die tekste te wagte kan wees. Deur eksplisiet nie die toon van die romans donker te maak nie, verseker die skrywers dat die burleske as ʼn kunsgreep in die tekste optree.

Die burleske het ʼn vervreemdende uitwerking op die leser weens die feit dat die leser nie noodwendig in die teks kry wat hy verwag nie. Gewone en selfs alledaagse inligting word op sulke stylvernuftige wyses aangebied dat die leser, vanuit sy verwagtingshorison, besef dat

“vreemdmaking” (Erlich, 1973:629) besig is om plaas te vind. In die komende hoofstukke gee ek veral aandag aan hoe die werke van Lanoye en Grunberg ontvang is; beide die vertaalde werke in Suid-Afrika sowel as die oorspronklike tekste in België en Nederland, waar die resepsie ietwat verskil. Die resepsie van ʼn literêre werk, hetsy positief of negatief, weerspieël die verwagtings van lesers op grond van die onderskeie skrywersoeuvres. Dit is daarom belangrik om te weet wat kritici sê ten einde ʼn teks in ʼn literêre tydsgewrig te situeer en te kan vasstel of die teks wel ʼn “horizondoorbrekend effect” het, soos wat Van Buuren (1982:51) voorstel.

Dit is nou duideliker hoe vervreemding en verwagtingshorisonne met mekaar verband hou asook hoe die terme by die hermeneutiek, die pragmatiek en Russiese Formalisme aansluit. Uit die bespreking in hierdie afdeling, sowel as uit die inligting in die voorafgaande afdeling, is dit duidelik dat die onus op die leser rus om singewing te laat geskied, weens die estetiese distansie wat deur die ondermyning van die leser se verwagtinghorison veroorsaak word. Daar word in die hieropvolgende afdeling ʼn blik op die teenwoordigheid van die burleske in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde gewerp.

dink aan die dikwels spanningsvolle verhouding tussen die ‘ek’ en die ‘ander’ binne een en dieselfde land” (Ester et al., 2012:9). Identiteite is veral labiel in die twee hier bespreekte romans weens uitbeeldings van transvestiese gedrag. Die aanpassing en verandering van identiteite en selfs die oorneem van een persoon se identiteit deur ʼn ander is temas wat sentraal in beide romans en derhalwe ook in hierdie studie staan. Die bestudering van literêre tekste oor identiteit versterk die ooreenkomste tussen die literêre deelgenote van Suid-Afrika en Nederland. Janssens (2001:187) bevestig die bestaan van oorvleuelende kulturele en sosiale ontologieë wat identiteit kan beïnvloed:

Wanneer cultuur (vagelijk) omschreven kan worden als een geheel van gevoels-, gedrags- en waardepatronen en normenstelsels, dan speelt in dat geheel, weliswaar historisch en dynamisch flexibel, een nationaal samenhorigheidsgevoel altijd wel mee als indicator van identiteit.

Van Coller (2014:411-412) noem in die artikel “Die skryf van ’n Nederlandse literatuurgeskiedenis: Generiese kenmerke as wetmatighede?” dat daar bepaalde raakvlakke in die Afrikaanse en Nederlandse letterkundes voorkom. Hy noem elf generiese kenmerke of

“wetmatighede” wat in enige literêre sisteem aangetref word en waarvan ek een wil uitsonder:

Literêre waarde-oordele stem dikwels ooreen binne bepaalde tydperke, maar ook in die Westerse Literêre Kanon. Dit is ook die gevolg van die sinjalering van inherente eienskappe van die objek (Van Coller, 2014:412).

Die literêre waarde-beoordeling van die burleske (op ʼn literêre vlak) in ʼn teks soos Sprakeloos (2009) stem in beide taalgebiede, in Suid-Afrika sowel as in België/Nederland, ooreen. Hierdie ooreenstemming is af te lei uit wat resensente van Sprakeloos sê (vgl. onder andere Naudé, 2011:11, Hambidge, 2013 en Van Bork, 2007).

Die burleske beklee geen geringe posisie in die Afrikaanse letterkunde nie. My mening word geskoei op die talle noemenswaardige, humorgefundeerde publikasies van gerekende prosaïste, digters en dramaturge wat onlangs in Afrikaans verskyn het, en waarvan ek enkele voorbeelde wil uitsonder. Ek verwys eers na ouer voorbeelde, voor ek meer resente tekste uitwys. Wat toneel betref, wys Van Rensburg (2006:28) op die “hoogs komiese, soms byna burleske” in N.P. van Wyk Louw se “wye register formele dramatiek”. Daarmee plaas hy die burleske sentraal in die oeuvre van een van Afrikaans se belangrikste skrywers.

Antjie Krog se vertaling van Mamma Medea in 2002, wat in 2001 deur Tom Lanoye geskryf is, beklemtoon die geslaagdheid van spesifieke “inherente eienskappe” van die teks, soos die burleske, in Afrikaans sowel as in Nederlands. Die “ryke taalskakering” wat die “kontras tussen

agterlik en ontwikkeld, barbaars en beskaafd, belig”, dra, aldus Van Zyl Smit (2005:62), tot die

“oordrewe, burleske aard van die stuk” by. Alhoewel die burleske nie as produk van die vertaalproses van Mamma Medea ontstaan het nie, beklemtoon die vertaling daarvan steeds die burleske styl wat ook in die oorsponklike teks opvallend is. Tydens ’n radio-onderhoud verwys Lanoye ook na Mamma Medea as ’n komedie (Van Zyl Smit, 2005:62). Die beduidende teenwoordigheid van die burleske in hierdie vertaling is insiggewend, omdat dit na sowel die Nederlandse en Vlaamse literêre taalgebied verwys as na die Afrikaanse literêre kanon. Medea lewer byvoorbeeld die volgende komies-groteske uitspraak in die vertaalde weergawe van Mamma Medea:

Vertel ons man. Hoe wreder die relaas, Hoe hartverskeurender in geur en kleur,

Hoe meer die kans dat dit my hart opbeur (Lanoye, 2002:104).

Mamma Medea is een van enkele voorbeelde van vertaalde werke in Afrikaans waarin die burleske figureer. In die bostaande sitaat word ook elemente van die groteske, swart humor en ironie opgemerk. André P. Brink en Etienne Leroux se werk word per geleentheid as burlesk en komies beskryf. Louw (2006:241) beweer in Literator dat Cyril Coetzee se skildery van

“T’kamaAdamastor”, wat deur André P. Brink se Die eerste lewe van Adamastor van 1988 geïnspireer is, en ʼn “surrealistiese burleske landskap verteenwoordig”, ook kommentaar op Brink se toevoeging tot die Suid-Afrikaanse literêre toneel lewer. Hierdie kenmerkende humoristies-burleske eienskappe is veral te sien in die werk van Etienne Leroux en spesifiek sy Onse Hymie (1982). Venter (1983:37) tipeer Onse Hymie as ʼn slapstick-roman, ʼn

“geperverteerde komedie” wat geskryf is in die “burleske vorm van die komiek”. Venter (ibid.) gaan soos volg verder om hierdie stelling te regverdig:

[D]ie laag burleske veréís as genre hierdie banalisering; wat banaal en kru in die ore van die welvoeglike burgery klink, word in die burleske werk as eiesoortige teken hanteer. En daardeur word dit sinvol, soos bloedskande en kindermoord in die raamwerk van die tragedie sinvolle tekens word.

Pottas (1984) bevestig die teenwoordigheid van humormodi soos die burleske en die groteske in die werk van Leroux in die literêre ondersoek “Destruksie in die romans van Etienne Leroux met besondere verwysing na ‘ONSE HYMIE’”. Pottas (1984:105) meen dat die burlesk-satiriese vertelwyse in die later romans van Etienne Leroux “as die groeibodem van destruksie” dien.

Pottas verwys ook in hierdie studie na Leroux se Magersfontein, o Magersfontein! (1976), Die mugu (1959), Een vir Azazel (1964) en Sewe dae by die Silbersteins (1962).

Dit is om hierdie rede (Leroux as burleske skrywer) dat die insluiting van Ingrid Winterbach/Lettie Viljoen tot hierdie groep nie ʼn verrassing is nie. Winterbach het haar buiging in die Afrikaanse letterkunde as mej. X in Etienne Leroux se 18-44-trilogie gemaak. “Dit was gebaseer op ’n uitgerekte briefwisseling tussen ’n 18-jarige Ingrid en die 44-jarige skrywer” (Terblanche, 2014). Smith (2000:8) lewer eksplisiet uitspraak oor die “burleske gebruik van adjektiewe en bondige tiperings” wat Winterbach en Leroux se skryfstyle in ʼn mate bind.

Volgens Smith het Winterbach egter nie dieselfde hoeveelheid ironie en humor in haar werk as Leroux nie. Smith (2000:8) verwys hier pertinent na Buller se plan (1999) en Karolina Ferreira (1993), maar Hambidge (2014a) vermeld ook die fokusplasing op “(d)it wat buite die rasionele lê” in Die aanspraak van lewende wesens (2012), Die benederyk (2010) en Klaaglied vir Koos (1984). Komplekse “kodes en toespelings” (Hambidge, 2014a), wat digotomiese verwantskappe soos wetenskap en spiritualiteit asook vooruitgang en kataklisme uitbeeld, herinner aan die burleske styl, wat Smith (2000:8) soos volg in Winterbach werk regverdig:

Die styl, die vervreemdende aard daarvan, is egter ʼn kunsgreep wat die leser losdwing van die narratiewe sleurkrag, en die aandag vestig op die metaforiese netwerk, die aaneenskakeling van motiewe, simbole en verwysings.

Die burleske, en elemente daarvan, dien ook as kunsgrepe in die Nederlandse en Vlaamse letterkunde. Dit is geen toeval dat die burleske in die werk van Louis Paul Boon opmerklik is nie, aangesien die verwantskap tussen Boon en Lanoye alreeds duidelik gemaak is. Muyres (2013) toon immers die ooreenkomste tussen Lanoye en Boon aan en merk op dat Lanoye “een groot bewonderaar” (2013:7) van die werk van Boon is. In De paradijsvogel/ Het boek Jezebel/ De meisjes van Jesses: Verzameld werk [deel 13] beskryf Boon (2011) die relasie tussen die burleske en een van sy sleutelromans, De paradijsvogel (1958):

Boon laat als het ware de realiteit waaraan we gewend zijn geraakt, en die we als normaal en natuurlijk zijn gaan ervaren, aan haar eigen ridiculiteit ten onder gaan.

Daarom mixt hij in zijn roman elementen uit de hoge en uit de lage cultuur en zet hij in op groteske effecten. Anders dan een traditionele moralist, die immuun veinst te zijn voor de kwalen van de tijd, formuleert hij ook geen expliciete cultuurkritiek. Hij houdt zijn publiek een spiegel voor waarin het zijn eigen wereld ziet, maar dan in een burleske variant.

Die burleske, as literêre verskynsel, is in al die genoemde skrywers se oeuvres waarneembaar, maar kom ook in ander Afrikaanse en Nederlandse tekste voor wat nie hier genoem is nie. Wat ek met hierdie afdeling, “die burleske in Afrikaanse en Nederlandse prosa”, wil aantoon, is dat die burleske nie ʼn nuwe of onbekende verskynsel in die onderhawige letterkundes is nie. Die burleske, en elemente daarvan, kom in die meeste humoristiese tekste voor weens die diverse

humormodi waaruit dit opgebou is. Die burleske besit enkele generiese kenmerke wat as wetmatighede in alle tale en tekste beskou kan word. Hierdie “wetmatighede” sluit onder andere parodie, karikatuur, die groteske en travestie in.