• Tidak ada hasil yang ditemukan

HOOFSTUK 3 SPRAKELOOS

3.11 Gevolgtrekking

woorde) en nog later na die ontvangs van werke en “verwagtingshorisonne” van lesers.

Op grond van die literêre stylmiddels wat in Sprakeloos voorkom, lyk dit of die roman in terme van die Postklassieke Narratologie interpreteer kan word. Die kognitief-narratologiese konsepte van “interpretatiewe raamwerke” (Van Coller, 2014:413) en skripte is veral hier van toepassing (soos wat ook in hoofstuk twee bespreek is). Die narratologiese term wat die geantisipeerde volgorde van opeenvolgende gebeure vir ʼn spesifieke situasie beskryf, is ʼn skript (script): ʼn verwagting van hoe dinge veronderstel is om te gebeur (Herman, 2009:33). ʼn Skript word basies binne ʼn interpretatiewe raamwerk gevolg en hierdie raamwerke word deur die strukturering van alledaagse milieus bepaal (Herman, 2009:33). Die “veronderstelde” volgorde van gebeure word in Sprakeloos ondermyn omdat die roman eerstens geen logiese volgorde het nie. Tweedens word hierdie volgorde ondermyn omdat sommige karakters nie op ʼn konvensionele wyse op sommige traumatiese situasies reageer nie. Gilmore (2001:886) skryf dat trauma hierdie raam skend en dat dit ʼn individuele sowel as ʼn kollektiewe impak het:

Insofar as trauma can be defined as that which breaks the frame, rebuilding a frame to contain it is as fraught with difficulty as it is necessary.

Die tema van identiteit (hetsy nasionaal, kultureel of seksueel) speel ʼn kernrol in beide Sprakeloos en Moedervlekken. Met behulp van die burleske en kognitiewe sowel as postklassieke narratologiese konstrukte word hierdie identiteite óf bevestig (Lanoye as ʼn Belg, ʼn seun en ʼn liefhebber van die gesproke en geskrewe woord) of mee weggedoen (soos in die geval van ʼn vals identiteit, soos Lanoye se heteroseksualiteit). Janssens (2001:187) maak ʼn relevante opmerking in hierdie verband deur te skryf dat konsepte soos “kulturele” of “nasionale identiteit” nie meer “essentialistisch” omskryf word nie, “maar ze worden als mentale constructies functionalistisch gehanteerd”. Dit is, myns insiens, ook die kern sowel as die doel van die Postklassieke Narratologie – die funksionele en praktiese hantering, omskrywing en bestudering van ʼn narratiewe teks ten einde ʼn beter insig en begrip van nie slegs die teks nie, maar ook die wêreld in die breë, te verkry.

begrippe, soos die burleske, kan daarom vernuwend op dié kreatiewe werk van toepassing gemaak word. Die eventfulness van die roman is daarom die primêre rede hoekom Sprakeloos binne die genoemde literêre raamwerke bestudeer kan word.

In hierdie hoofstuk is Sprakeloos aan die hand van die humormodi wat met die burleske verband hou, ontleed. Ook kenmerke van die outobiografie, die metateks en die bewussynstroomtegniek is met betrekking tot dié roman bespreek. Life writing hou met die outobiografie verband en is ook op die roman van toepassing gemaak. Ek het die Stoïsisme, as ʼn relevante dog relatief onbekende filosofie, aan spesifieke karakters gekoppel weens hulle onverstoorbaarheid in die aangesig van ʼn bedreigde status quo. Verskeie gevolgtrekkings met betrekking tot die narratief en styl van Sprakeloos kan na aanleiding van die besprekings in hierdie hoofstuk gemaak word. Ek bied vervolgens ʼn samevatting daarvan aan.

Net soos in Rozegeur en manenschijn vestig Lanoye in Sprakeloos weer die leser se aandag op die volheid van die lewe, die onskatbare waarde van woorde en die onbeskryflike pyn van verlies. Met hierdie verlies word op uiteenlopende wyses deur verskillende karakters omgegaan.

Begrippe soos die Stoïsisme en die burleske is daarom des te meer relevant om hierdie soms ongewone handelswyses te interpreteer. Lanoye sit die outobiografiese styl van sy werk, wat hy tydelik in werke soos Een slagerzoon met een brilletje agterweë gelaat het, in Sprakeloos voort.

Deur die outobiografiese styl sluit hy ook by algemene en gewilde temas in die Nederlandse letterkunde aan, soos die rol van spraak en woorde in verhoudings, asook siektetoestande of geestesafwykings wat familieverhoudings radikaal beïnvloed. Siektetoestande, geestesafwykings en problematiese familieverhoudings is ook kenmerkend van die intriges van Leo Pleysier se roman Wit is altijd schoon, Bernlef se Hersenschimmen asook Voskuil se De moeder van Nicolien.

In afdeling 3.2 is die positiewe ontvangs van Sprakeloos aangedui, asook die kritiek wat op die roman gelewer is. Daar is uitgewys dat die outobiografiese inslag van die roman sowel as temas soos seksualiteit, familie- en gesinsverhoudings, in van sy vorige werke soos Kartonnen dozen en Slagerzoon met een brilletje voorkom. Kritiek wat teen die roman gelewer is, is ook uitgewys, naamlik dat Lanoye se woordryke beskrywings tot verveling lei.

In afdeling 3.3 word die sterk burleske inslag van die roman bespreek en gestaaf. Hiér word Sprakeloos ook met sommige van Lanoye se ander werke, soos Mamma Medea en Gaz.

Pleidooi van een gedoemde moeder, in verband gebring. Sprakeloos word ook in hierdie afdeling met verskeie soortgelyke Nederlandse tekste vergelyk. Hierdie tekste maak deel uit van die werk van onder andere J. Bernlef, J.J. Voskuil en L. Pleysier. Lanoye meng die tragiese en die komiese op so ʼn wyse dat die twee elemente mekaar versterk.

Afgesien van ʼn weeklag, die rouproses en ʼn afskeidsgroet wat in Sprakeloos ingeskryf is, sien ek die roman as ʼn viering van vitaliteit en die wonder van woorde, ʼn oorgee “aan het energiek bezingen van het volle leven” (Hellemans, 1998:77). Die roman is ʼn viering van lewe deur middel van woorde omdat dit, volgens Lanoye, die effektiefste manier is om stilte te besweer en swye te verbreek. In dieselfde asem is die roman ʼn aanklag teen taal omdat dit beperk is en uit die aard van die saak nie Lanoye se ouers uit die dood kon opwek nie. Muyres (2013:41) konkludeer in hierdie verband:

Sprakeloos is meer dan een boek dat handelt over taalverlies, het is een roman die de onmacht van de taal toont en dus eigenlijk vooral gaat over ‘de nederlaag van de taal’.

Enersyds is Sprakeloos ʼn oproep om die effektiewe gebruik van taal, ʼn appèl aan die sprekendes om stilte met hulle woorde te besweer. Op dieselfde wyse as wat hy Sprakeloos geskryf het (woordryk en eerlik), onderneem Lanoye om met die lewe voort te gaan. Daarom is die trant, waarop Lanoye die leser in die voorwoord voorberei, eerlik en motiverend. Andersyds, soos Muyres meen, dui die roman op die nederlaag van taal, die onmag, beperkinge en suiwer semiotiese aard daarvan, wat medeleye en patos by die leser wek – en ʼn absolute moedelose gevoel by die skrywer.

Hierdie eerlik-onthullende trant van Sprakeloos kom in afdelings 3.4 en 3.5 aan bod –

Sprakeloos as outobiografie” en “Life Writing”. Vanaf die begin van Sprakeloos (wat oor Lanoye se werklike persoonlike en familielewe handel) heers daar ʼn mate van onsekerheid oor hoe die teks omskryf moet word in terme van die waarheidsgehalte daarvan. Lanoye beskryf die teks as een van daardie geskrifte wat “grotendeels berusten op waarheid” (bl. 9) en dat die ontbrekende dele gewoon opgemaak is. Selfs nader aan die slot van die teks heers daar nog ʼn besluiteloosheid by die outeur ten opsigte van die aard van die boek en brei Lanoye steeds uit op inligting wat deur kritici as onnodig beskou sou kon word. “Nu ik toch bezig ben en dit boek, roman of geen roman, dan eindelijk naar zijn einde loopt, kan dit er ook nog wel bij” (bl. 349).

Weens hierdie onsekerheid het ek in hierdie afdeling van die hoofstuk aangetoon dat terme soos geromanseerde outobiografie (sien Bisschoff, 2010) en fiksionele outobiografie (Hambidge, 2013) op Sprakeloos van toepassing is.

Die rol wat seksuele identiteit in Sprakeloos speel, word in afdeling 3.6 onder die loep geneem.

Life writing kom weereens hier ter sprake weens die feit dat Lanoye uitgebreid oor sy seksuele oriëntasie skryf, en hoe dit sy verhouding met sy ouers beïnvloed het. Sprakeloos is ʼn metafiksionele teks, ʼn teks waar die skrywer regstreeks met die leser in gesprek tree om sy opinies, wroegings en frustrasies duidelik te maak – kyk afdeling 3.7 in hierdie verband. Taal

word aangevoer dat die uitsteltegniek tot die opbou van spanning lei. Lanoye skryf assosiatief en uitgebreid. Hy voeg hierdie uitweidings in om aan sy afwesige ouers ʼn literêre manifestasie te besorg, maar kom uiteindelik tot die gevolgtrekking dat hy nie met woorde sy ouers kan reïnkarneer nie. Aansluitend hierby, word kenmerke van die bewussynstroomverhaal, wat ook in Sprakeloos aanwesig is, in afdeling 3.9 uitgelig, voordat dié roman binne die raamwerk van die Postklassieke Narratologie (afdeling 3.10) bespreek word.

Frey Waxman se waardering van life writing is veral in hierdie slotafdeling vir my van toepassing – dat die skrywe van en oor ʼn lewe tot die positiewe konstruksie van die self lei, weens lesse wat die skrywer uit die waarneembare oudword- en agteruitgangsproses van ouers leer.

Sprakeloos is ʼn roman van selfkonstruksie; dit beeld ʼn literêre en persoonlike groeiproses uit en wil die bewaarkrag van woorde en die herinneringskrag van die geheue demonstreer. Die roman behels egter ook ʼn loslatingsritueel en ʼn afskeidsgroet. “‘Laat dat toch gaan. Laat dat oud menske gaan’” (bl. 342-343), is van die laaste woorde aan die einde van die hoofstuk oor Lanoye se moeder, “zij (of: geslagen met verstomming)”. Lanoye sluit die hoofstuk oor haar met ʼn nabetragting oor haar sterwe, sy gevoel jeens loslating en oor die aard van liefde af:

Nooit heb ik haar, naar mijn gevoel, meer verknochtheid en respect bewezen dan toen we haar eindelijk toelieten te gaan. Een mens staat maar bij één persoon echt in het krijt. Ik heb die lei toen schoongewreven. Misschien kan liefde maar één ding echt. Uit liefde doden (bl. 343).

Woorde sal nooit die werklikheid kan vervang nie en Lanoye kom in opstand teen hierdie feit; hy protesteer as ’t ware daarteen. Muyres (2013:41) kom tot dieselfde gevolgtekking: “Eigenlijk gaat ook hier de onmacht achter schuil om de werkelijkheid in taal te vatten.” Lanoye begin die boek met ʼn weifelende uitstel van die huldigingsrelaas, ʼn soeke na ʼn literêre vastrapplek.

Namate hy besef dat hy nooit met die teks sal bereik wat hy gehoop het om te bereik nie, naamlik ʼn tipe literêre reïnkarnasie van sy ouers, begin hy om oor die kern van die roman te skryf – sy moeder en haar wrede dood. Die kensketsing van plaaslike karakters (in Lanoye se tuisdorp, Sint-Niklaas), wat sommige kritici as ʼn “gelanterfant” en ʼn verdunning van die verhaallyn sien, is nie Lanoye se doel op sigself nie, maar eerder die middel tot ʼn doel. Dié doel behels die beskrywing en toeligting van “het grote” Josée Verbeke (Muyres, 2013:40). “Met kleine levens, met wat sommige recensenten nutteloze uitweidingen en onbelangrijke details hebben genoemd, tekent Lanoye hier het grote leven,” lig Muyres (2013:40-41) die werkswyse toe. Sien ook Demeyer (2010:635) in hierdie verband.

Sprakeloos handel grootliks oor die grandiose hoofkarakter Josée Verbeke; die ster, die dramaqueen, die anker en moeder van ʼn man wat hom genope gevoel het om van haar met ʼn monumentale laaste huldigingsgebaar, sy stortvloed woorde, afskeid te neem. “Zo slaagt

Lanoye er vaak toch overtuigend in om dat dikke, vette kruis over zijn moeder te trekken”

(Demeyer, 2010:635). In hierdie moeder-seunrelaas word woorde ingespan ter viering van die seëviering van taal, maar simultaan ook as roubeklag oor die nederlaag daarvan; inderdaad ʼn burleske roman – tragies én komies, tegelyk. Hartverskeurend dog helend, is dié manjifieke woordwerk terselfdertyd ʼn punt aan die einde van twee ouers se lewens en ook ʼn markering van die tipografiese wit op ʼn skoon bladsy wat met woorde gevul moet word, woorde wat die stilte onverpoosd moet probeer bestry.