HOOFSTUK 4 MOEDERVLEKKEN
4.6 Moedervlekken as ʼn life writing-teks
Hierdie ontnugterde, illusielose uitkyk van Grunberg word deur talle kritici as ʼn eienskap van die Laatpostmodernisme gesien. Deur die beklemtoning van “echtheid, waarheid en werkelijkheid”
en met “een nieuwe serieusheid” reflekteer Grunberg oor sy niefiksionele werke (Vaessens, 2010a:317). Barlett (2015) verwoord Grunberg se sosiale en sosiologiese betrokkenheid in haar opsomming as problematies en moeilik om te definieer. Volgens Barlett (ibid.) kan talle van Grunberg se tekste as konfliktekste beskou word weens die manier waarop verhoudings daarin uitgebeeld word. Hierdie konflik stimuleer by die leser ʼn “kritiese besef van eties-komplekse vraagstukke oor die verhouding tussen ‘die self’ en ‘die ander’”. Weens hierdie spanning wat Grunberg se tekste skep, kan dit as ʼn vorm van “etiese getuienis” (Barlett, ibid.) gesien word.
Die feit dat Grunberg oor aangeleenthede soos verslawing, selfdood, lyding en die versorging van bejaardes skryf, is tekenend van hierdie etiese kwessies.
Moedervlekken bevat genoeg eties-morele vraagstukke om as ʼn etiese getuienis getipeer te word. Die wyse waarop Grunberg met werklikheid en fiksie in Moedervlekken omgaan, is ʼn wederkerige proses. Hy grond groot gedeeltes van sy narratief op werklike gebeure (soos sy moeder se sterfte en sy ondersoekende geaardheid wat in Kadoke se karakter vergestalt), maar verdraai die feite op so ʼn manier dat die leser nie anders kan as om skepties teenoor sommige gebeure te staan nie. Steeds pleit Grunberg vir ʼn realistiese skryfwyse. Hy wil die werklikheid in woorde vasvang ten einde op te voed, te ontnugter en selfs te skok. Life writing is ʼn aspek van die outobiografie wat vervolgens met Moedervlekken in verband gebring word.
Ik ben tijdens het schrijven, vooral tijdens de laatste fase, in een soort wanhoop over mijn eigen leven vervallen die ik alleen kende uit de diepste duisternis van de puberteit toen ik soms nachten niet kon ophouden met huilen.
Hierdie passasie praat oor die uitdagings van life writing wat met ouderdom en verwante kwessies gemoeid is. Morganroth Gullette (2001:26) is van mening dat life writing ʼn gewilde platform geword het waar die bewussyn van die self en ʼn kritiese bewussyn van ouderdom konvergeer. Frey Waxman (2001) se uitgangspunt met betrekking tot life writing en bejaardheid sluit by Morganroth Gullette sʼn aan en behels dat life writing oor bejaardheid die skrywer (gewoonlik die kind van ʼn bejaarde ouer) introspeksie laat doen en sy of haar lewe in verhouding tot die bejaarde se lewe laat sien. Jou eie oudword en sterflikheid word vir jou ʼn sigbare realiteit wanneer iemand anders se lewe in kritiese oënskou geneem word.
Onlangse life writing-tekse oor selfdood neig om meer sensasioneel te wees (Sanderson, 2001:852). In Moedervlekken vind die soeke na sensasie en aandag op ʼn eksplisiete wyse plaas, want “[d]e ziekte verveelt minder snel dan de gezondheid. Natuurlijk zitten er ook in de ziekte herhalingen, volgt die dikwijls bepaalde patronen, maar toch ben ik er nog altijd, na al die jaren, door geïntrigeerd” (bl. 95). Soos dit in hierdie aanhaling sigbaar word, word Kadoke deur siekte en afwykings gefassineer. Dit boei hom en die beskrywing van die afwyking, eerder as die normale, dra tot die sensasionele aard van Moedervlekken by. Selfdoodbriewe vervul in ʼn mate dieselfde sensasionele funksie omdat dit as ʼn geskrewe afskeidsgroet dien, gerig aan vriende, familie of die breër publiek. Kadoke vra aan een van sy pasiënte wat gepoog het om selfdood te pleeg: “Maar u hebt toch een brief geschreven waarin u aangaf niet verder te willen leven en u hebt met vrienden over die brief gesproken?” Die pasiënt antwoord doodluiters:
“Zeker, dat heb ik gedaan, ik heb een afscheidsbrief geschreven en ik heb die mijn vrienden laten lezen” (bl. 17).
Sommige karakters in Moedervlekken doen hulself leed aan uitsluitlik met die doel om ander mense (of instansies) te noop om hulp te verleen en hulle oor hulle te ontferm. Die dood van mense, wat regdeur Moedervlekken voorkom, het ʼn gebeurtenis geword wat as sensasioneel ervaar word. Die behoefte om nie meer te lewe nie en die konstante strewe na sterwe, word ʼn motief wat by tye op ʼn amusante wyse uitgebeeld word en wat tot die burleske karakter van die teks bydra. Een van Kadoke se pasiënte sê dat Kadoke haar “aan het leven bindt” (bl. 318).
Kadoke speel daarom ʼn belangriker rol as ʼn psigiater wat bloot mense probeer verhoed om selfdood te pleeg. Hy word die einste rede hoekom hulle lewe. Die dood word ʼn onderneming waar ruimte geskep word vir onderhandeling tussen pasiënt en psigiater of seun en moeder.
Grunberg vertel dat wanhoop, wat met die skryf van hierdie soort persoonlike tekste gepaardgaan, ook ʼn sterkpunt kan wees omdat dit ʼn “zelfaanklacht” is en ʼn oproep tot aksie.
“Alle romans zijn wat mij betreft altijd ook een zelfaanklacht, waarbij de schrijver moet oppassen niet te vervallen in zelfbeklag” (Grunberg, soos aangehaal deur Fürst-Fastré, 2016). Net soos in Lanoye se geval, doen Grunberg kritiese introspeksie terwyl hy Kadoke se lewe neerpen.
Hierdie introspeksie word duidelik wanneer die leser (vanuit onder andere resensies) besef dat die skrywer sy eie ervarings en omstandighede by die roman betrek. Morganroth Gullette (2001:26) beklemtoon die uitdagings van life writing oor ouers deur aan te voer dat die moeilikheidsgraad van so ʼn skrywe verhoog word wanneer daar persoonlike elemente betrokke is. Al is Moedervlekken ʼn fiktiewe teks, oorvleuel waarheid en fiksie sporadies. Morganroth Gullette (2001:26) verduidelik hoekom dit juis moeiliker is om biografies oor jou eie moeder te skryf:
Writing the biography of one’s mother is harder because this underexamined bias in life writing make the subjectivity of older women less visible to younger people even in the same family.
In Moedervlekken kom talle tekstuele verwysings na life writing voor, soos die afskeidsbriewe wat Kadoke se pasiënte voor hulle selfdoodpogings skryf. Hierdie briewe bevat vanselfsprekend uiters persoonlike inligting rakende die omstandighede wat mense tot hierdie drastiese handelinge dwing. Die eerste afskeidsbrief waarvan ons in Moedervlekken lees, is deur ʼn man geskryf wat as Gerstenfeld bekend staan. Gerstenfeld lag konstant terwyl Kadoke en sy kollega, Ed, hom by sy woonstel besoek. Kadoke lees die brief wat Gerstenfeld geskryf het vlugtig en uit die inhoud van die brief is Gerstenfeld se neerslagtigheid en uitsigloosheid met betrekking tot die lewe opvallend. Tipiese kenmerke van life writing is in hierdie brief van Gerstenfeld opvallend soos die beklemtoning van ʼn enkele lewe, naamlik sy eie.
Reeds vroeg in die roman, soos in die toneel waar Kadoke-hulle vir Gerstenfeld besoek, word die dood (of die suggestie daarvan) uitgebeeld met die fokus op humor. Nadat Kadoke aan Gerstenfeld gevra het of hy bewus is van die rede vir hulle besoek, reageer hy met ʼn lag – “niet schamper, eerder amicaal” (b. 16). Hy reageer op dié wyse “om iedereen gerust te stellen”
(ibid.) en met die verduideliking: “‘Mijn huisarts was een beetje in paniek’” (ibid.). Gerstenfeld gaan voort deur Kodoke-hulle gerus te stel in verband met sy psigiese toestand deur te poog om sy brief te regverdig: “‘Iedereen schrijft weleens zoiets, denk ik. Eén keer in zijn leven. Of misschien vaker’” (bl. 17). Op die vraag of Gerstenfeld gereeld met sy familie kontak maak, antwoord hy op nog ʼn onverwagse, aweregse wyse:
‘Ja, zolang ze niet doodgaan wel.’ Gerstenfeld glimlacht en stopt de tandenstoker weer in zijn mond.
‘Hebt u veel van uw vrienden verloren?’
Sanderson (2001:852) skryf dat literatuur oor selfdood, veral outobiografiese tekste, die mees paradoksale vorms van life writing is. In die bogenoemde voorbeelde uit Moedervlekken word die paradoks, wat met behulp van humor in ʼn skynbaar ernstige situasie geskep word, duidelik sigbaar. Kadoke moet sy pasiënte se vertroue wen voordat hy hulle kan oorreed om teen selfdood te besluit en humor word telkemale vir hierdie doel ingespan. Dit is soms egter die pasiënte wat grappe oor hul selfdoodneigings of selfs selfdoodmetodes maak en wat sodoende ruimte vir vertroue en berading skep. Michette is een van die karakters wat die dood personifieer, trivialiseer en ʼn travestie daarvan maak. Sy sê dat sy deur die dood “verleid” word en dat die dood ʼn singende stem het. “Ben jij weleens verleid door de dood, dokter? Heb je weleens gezien hoe verleidelijk de dood is? Hoe opgewonden je kan worden bij de gedachte dood te gaan?” (bl. 212)
Weereens is die paradoksale, waarvan Sanderson praat, sigbaar in Michette se woorde. Sy praat met Kadoke op ʼn honende en spottende wyse oor die dood en haar gekose middels om haarself leed aan te doen. “‘Het is bleekwater,’ zegt ze. Haar stem klinkt verleidelijk. Ze spreekt het woord uit zoals een ander over kostbare champagne zou spreken” (bl. 211). Met behulp van dieselfde paradokse waarmee Kadoke sy pasiënte moet oortuig om te lewe, moet hy ook poog om sy eie moeder aan die lewe te hou, deur haar byvoorbeeld te oortuig om (meer) te eet. “Je moet de mensen verleiden om te eten zoals je hen moet verleiden tot liefde, en het verschil tussen dwingen en verleiden is niet altijd even duidelijk” (bl. 30). Kadoke moet die lewe soos ʼn produk aan sy pasiënte (en sy moeder) verkoop in terme van voor- en nadele.
Die skrywe oor Kadoke se moeder is die persoonlikste deel van Moedervlekken en ook die deel wat die meeste aan outobiografiese life writing grens. Hierdie persoonlike aard van die teks is te danke aan die feit dat dit oor Kadoke se moeder se identiteit handel, maar ook oor Kadoke en tot ʼn sekere mate Grunberg sʼn. Grunberg noem dat skryf vir hom altyd ʼn emosionele proses is.
Dit is eerstens nie slegs Kadoke se moeder wat blootgelê word nie, maar ook Grunberg se moeder, omdat hy klaarblyklik oor persoonlike dinge skryf. “Tijdens het schrijven merkte ik al dat dit boek anders is. Schrijven is altijd een emotioneel proces, maar dit was heftig”, merk Grunberg in hierdie verband aan Jaeger (2016) op.
Die dood dien as ʼn deurlopende en selfs rigtinggewende motief in Moedervlekken weens verskeie redes. Grunberg skryf in Moedervlekken oor die dood as ʼn onvermydelike gebeurtenis waarop elkeen voorbereid moet wees. Dit is Kadoke se missie om sinnelose sterftes te vermy, selfs die dood van plante. “Waarom het gras dood moet, begrijpt hij niet. Dit zinloze sterven bevalt hem niet” (bl. 25). Hierdie siening word ook deur Kadoke in sy loopbaan in
“suïcidepreventie” (bl. 15) uitgeleef. “Omdat ik geloof, omdat wij geloven, dat die dood onnodig is”, is Kadoke se opinie (bl. 212). Grunberg se nihilistiese wêreldbeeld word veral in die
representasie van die dood in hierdie boek, soos wat dit deur Kadoke beleef en verwoord word, weerspieël. Dood word as ’t ware ʼn entiteit, ʼn onvermydelike dog onkenbare karakter weens die personifiëring daarvan in die roman.
Die dood word ook deur ʼn liminale sone in Moedervlekken verteenwoordig – as ʼn toestand van nielewe, maar nie van leweloosheid nie. Kadoke verwoord een van sy grootste vrese deur te sê:
“Hy vreesde niet de dood maar het gebrek aan leven, het halfdood-zijn” (bl. 113). Grunberg (2016a) skryf dat sy werklike moeder verraai gevoel het toe haar man sterf. Hy keer hierdie situasie van verraad in Moedervlekken om deur Kadoke se moeder eerste te laat sterf en sy vader die verraaide een te maak. In ʼn artikel oor die huwelik van sy ouers en die dood van sy vader merk Grunberg (2016a) die volgende op:
Sommige doden blijven akelig levend, hoewel het woord ‘akelig’ de indruk zou kunnen wekken dat ik het deze doden verwijt dat ze zo levendig blijven. Dat is niet het geval. Ik bedoel akelig meer zoals spoken akelig kunnen zijn.
Moedervlekken is nie ʼn outobiografiese roman nie, maar die dood van Grunberg se ouers, sy opvattings oor identiteit asook sy siening van liefde is temas in sy persoonlike lewe wat met dié in die roman oorvleuel. Om hierdie rede het die teks ʼn sterk life writing-inslag; ook weens die feit dat een persoon se lewe, naamlik dié van Kadoke se moeder (wat ooreenkomste met Grunberg se moeder, Hannelore Grünberg-Klein41 toon), regdeur die teks belig word. Met hierdie roman bevestig Grunberg Vaessens (2010b:14) se siening dat fiksie ʼn meer effektiewe manier as ʼn ooggetuieverslag kan wees om waarheid oor te dra. Moedervlekken is daarom ʼn duidelike voorbeeld van fiksionele life writing.