• Tidak ada hasil yang ditemukan

Grunberg, De Maximalen en Generatie Nix

HOOFSTUK 4 MOEDERVLEKKEN

4.4 Grunberg, De Maximalen en Generatie Nix

Arnon Grunberg en Tom Lanoye se werk het twee dinge gemeen. Eerstens word hulle verbind

skrywersidentiteite. Lanoye en Grunberg ontgin egter hierdie temas op kontrasterende maniere.

Drie raakpunte met betrekking tot hulle skrywersidentiteite en werkswyses word deur Beeks (2007) aangetoon. Hierdie raakpunte behels eerstens dat Lanoye en Grunberg se skrywerspersoonlikhede sentraal in hulle skrywersloopbane staan, asook (tweedens) dat hulle uiters ambisieuse werkswyses toon. Derdens skryf beide outeurs oor betrokke en persoonlike onderwerpe, soos herkoms, lyding, identiteit, maatskaplike kwessies en skrywerskap. Hulle skryfstyle verskil egter aansienlik.

Die tweede kriterium verbind Lanoye en Grunberg op ʼn meer tydgenootlike wyse, en word indirek deur hul unieke skrywersidentiteite beïnvloed – hulle generasiegroeperings. Die ooreenstemmende reaksie wat Grunberg se generasie (Generatie Nix) en die literêre beweging, die Maximalisme (waarvan Lanoye ʼn lid is), op hulle voorgangers gehad het, is insiggewend. In hierdie afdeling fokus ek grotendeels op hulle onderskeie generasiekenmerke, alhoewel die oorvleuelende eienskappe van hulle skrywersidentiteite ook kortliks onder die loep kom.

Met betrekking tot die eerste raakpunt tussen die twee skrywers, hulle skrywersidentiteite, stel Beeks (2007) ʼn unieke skrywerskapmodel voor waaraan Lanoye en Grunberg se werk gekenmerk word. Drie afdelings staan in hierdie skrywerskapmodel sentraal en die eerste is dat hulle albei sogenaamde “aandachtskunstenaars” is (Beeks, 2007:97). “Tom Lanoye en Arnon Grunberg vormen het stralende middelpunt van hun eigen schrijverschap,” meen Beeks (ibid.), en bevestig wat alreeds oor Lanoye en Grunberg se veelsydigheid opgemerk is. Beeks (ibid.) wys hier veral op hul skrywerspersoonlikhede wat die middelpunt van hul skrywerskap vorm en

“het opeisen van de aandacht voor hun persoon”.

Die tweede raakpunt ten opsigte van Lanoye en Grunberg se skrywersidentiteite is ambisie.

Beide is uiters ambisieuse skrywers, maar hierdie ambisie word op verskillende maniere en in verskeie media deur die twee skrywers uitgeleef. Beeks (2007:98-99) lig enkele insiggewende verskille ten opsige van Lanoye en Grunberg se skrywerskap uit wat deur hulle dryfkrag beïnvloed word:

Lanoye heeft een open schrijverschap: hij is concreet, openhartig en praat graag over zichzelf. Hij zoekt de aandacht van journalisten op om zijn werk te promoten en zijn ideeën te verkondigen. Grunberg heeft een veel meer teruggetrokken schrijverschap. Hij is moeilijk te typeren en weet op creatieve manieren de aandacht te verleggen. Lanoye zegt: dit ben ik en dit is wat ik wil. Terwijl Grunberg zegt: dit ben ik vandaag, maar morgen ben ik weer anders. Van Grunberg wordt dan ook gezegd dat hij een spel met fictie en werkelijkheid speelt. De grenzen tussen deze werelden zijn bij hem vaag. Zijn schrijverschap is een groot rollenspel. Terwijl het schrijverschap van Lanoye concreet en aards is.

Lanoye se openhartige, konkrete en selfgerigte skryfstyl manifesteer veral in sy outobiografiese geskrif. Ook die aardse element van sy werk vind in sy life writing (kyk afdeling 3.5) en eerlik- onthullende toneeltekste vergestalting. Grunberg, daarenteen, is moeiliker om te plaas. Hy ontwyk die waarheid en kies om eerder “een spel” met fiksie en die werklikheid te speel. Die derde raakpunt wat Beeks (2007:100) uitlig, behels die kontrasterende aard van Lanoye en Grunberg se betrokke literatuur en die aard van hulle skrywerskap.

In deze tegengestelde houdingen herkennen we twee type schrijvers: de volksschrijver en de afstandelijke (elitaire?) schrijver. Lanoye presenteert zich al vanaf zijn debuut als een volksschrijver: hij wil gehoord worden en brengt zijn poëzie naar de mensen. Hij vervulde de functie van stadsdichter, bracht gedichten de straat op en staat nog steeds graag op het podium. Grunberg daarentegen staat verder van zijn publiek af. Hij creëert een ongrijpbaar imago en begeeft zich als schrijver niet graag onder de mensen.

Hierdie eerste kriterium, met betrekking tot Lanoye en Grunberg se skrywersidentiteite, berei die weg vir die tweede kriterium voor, naamlik ʼn tipe napraat deur Grunberg se Generatie Nix van dit wat Lanoye se generasie (De Maximalen), skaars tien jaar voor hulle gesê en gedoen het.

Die eerste vlak waarop hulle vergelyk kan word, soos aangetoon is, is tekstueel van aard en sluit hulle skryfstyle, onderwerpe van romans, die verhouding wat waarheid met fiksie het en die interaksie met hulle gehoor, in. Die tweede vlak behels groter en meer omvangryke literêre generasie-eienskappe. Generasie is ʼn begrip uit die sosiale wetenskappe wat ʼn aantal individue as tydgenote groepeer. Hierdie tydgenote word dan veral gekarakteriseer in verhouding tot hulle voorgangers en hul opvolgers (Van Bork et al., 2012-2016b). Wat hulle wel gemeen het, is ʼn vergelykbare verset teen die literêre status quo en daarom is dit belangrik om die onderskeie literêre periodes waartoe hulle behoort, te verken.

De Maximalen is ʼn groep Nederlandse en Vlaamse digters wat hulle teen minimalistiese, star en onverskillige kuns verset het deur “vitale, extraverte en expressieve poëzie” te skryf (Van Bork et al., 2012-2016c). Skrywers wat ʼn bydrae tot hierdie groep gelewer het, sluit Tom Lanoye, K.

Michel (Michael Maria Kuijpers) en Joost Zwagerman in. De Maximalen ontleen die naam aan die bloemlesing Maximaal (1988) wat deur elf Nederlandse en Vlaamse digters saamgestel is.

Die uitgangspunt van De Maximalen het met ekspressie te make. Hierdie uitgangspunt was dat ʼn teks altyd meer ekspressief kan wees (Wauters, 2010). Die minimaliste glo in die less is more- beginsel, waarteen Lanoye hom prontuit in Sprakeloos uitspreek: “Minder, fucking meer?” (bl.

275). “Het heet niet voor niets woordenschát” (ibid.), verklaar Lanoye sy weersin in dié beginsel.

Hy bly dus steeds in sy later werk trou aan die opvattings van De Maximalen.

Generatie Nix volg skaars tien jaar na De Maximalen en toon ʼn soortgelyke reaksie teen star en saai literatuur, maar in hierdie geval is dit op prosa gerig (Van Bork et al., 2012-1016c). Dié generasie vervang die idealisme van hul ouers met ʼn fel realistiese uitkyk op die lewe en dít vind ook in hulle skryfwerk uiting. Visser et al. (1994) noem dat hierdie generasie in ʼn realistiese styl oor realistiese onderwerpe soos “perverse seks, drank- en druggebruik, geweld en vooral heel veel verveling” skryf. Die term Generatie Nix is gebaseer op die Kanadese skrywer Douglas Coupland se roman, Generation X (1991).38 Dié skrywersgenerasie word bevolk deur onder andere die samestellers van die tydskrif Zoetermeer, wat vanaf 1994 tot 1997 verskyn het. Arnon Grunberg, Joris Moens, Paul Mennes, Ronald Giphart, Rob van Erkelens en Joost Zwagerman word aan hierdie skrywersgenerasie verbind (Van Bork et al., 2012-2016a).

Zwagerman skakel dus met beide groepe. Hulle werk word veral gekenmerk deur nihilistiese, betrokke temas, ʼn rou-realistiese styl en popkultuur asook seksualiteit as onderwerpe.

“Niks behalve kicks”, word as die tiperende motto van die skrywers van Generatie Nix-romans beskou, naamlik op grond van die uitsigloosheid wat deur dié generasie geskets word. Hierdie uitsigloosheid was die oorsaak dat jongmense “kicks” gesoek het ten einde verveling te bestry (Van Bork et al., 2012-2016a). Die 1990’s was veral ʼn strydlose dekade in Nederland.

Jongmense van die dekade word beskou as ʼn geslag sonder vaste oortuigings, onbetrokke by hul gemeenskappe en met ʼn gebrek aan toekomsplanne. Hulle het grootgeword in die jare ’70 toe hulle ouers hul middeljare begin betree het en hulself oorgegee het aan gewone, nie- revolusionêre middelklaswaardes.

Moedervlekken gryp terug na Generatie Nix se literêre kenmerke. Serdijn (2016) en Van Bork (2005) het al enkele opmerkings oor Grunberg se werk gemaak wat ook met die nihilisme in verband gebring kan word. In Moedervlekken word die absurditeit van die menslike bestaan en die vergeefs-willekeurige voortploetering op ʼn eksplisiete en selfs ontstellende wyse uitgebeeld.

Die doelbewuste verset teen saai en strak literatuur is meer opvallend as ooit. Ook in resensies word die emosionele digtheid van Moedervlekken, wat deur woordrykheid en soepel taalgebruik teweeggebring word, geaksentueer. “Het is in ieder geval een zeer persoonlijk boek” (Jaeger, 2016). Omdat die hoofkarakter Otto Kadoke as psigiater in die krisisdiens gespesialiseerd is en moet voorkom dat mense selfdood pleeg, speel die weerhouding en uitstel van dood ʼn prominente rol. Kadoke se uitsigloosheid met betrekking tot lewe en genesing word veral in sy beroep waargeneem. “Niets vind jij echt belangrijk, niets neem jij echt serieus” (bl. 84), sê Kadoke se moeder van hom. Boonop moet hy sy moeder aan die lewe hou deur haar te oorreed om te eet, ʼn handeling wat ook in Lanoye se Sprakeloos herhaaldelik aan bod kom (“Het spijt me dat ik andermaal by voeding uitkom” – Lanoye, 2009:275).

38 Coupland, D. 1991. Generation X. Tales for an accelerated culture. New York: St. Martins Press.

Fortuin (2016) beskryf Moedervlekken as ʼn “tamelijk plotloze, wrang-geestige, maar allengs steeds droeviger wordende” roman. Fortuin se beskrywing weerspieël grootliks die inhoud van die roman. Alhoewel die roman plek-plek na plotloosheid neig, getuig die styl van ʼn paradoksale, humoristiese en ʼn filosofiese betragting van eksistensiële aangeleenthede. Die styl en die inhoud van die teks word tog op ʼn hegte wyse verbind deur die fiksionaliteit van die aanbiedingswyse. Die fiktiewe gebeure in die teks, wat op plekke met Grunberg se werklike lewensgebeure strook, word as ʼn hegte narratiewe geheel aangebied. Na ongeveer die eerste sewentig bladsye ruim Grunberg enige twyfel uit die weg “over de vraag in hoeverre deze roman een verkapte autobiografie is” (Fortuin, 2016), met die gebeure van die transformasie van sy vader in sy moeder. Kadoke spreek hom só uit oor die aard van sy vader se transformasie:

Mijn vader heeft zich specifieke uitdrukkingen van mijn moeder toegeëigend, hij heeft zelfs haar handschrift overgenomen, hij is een rol gaan spelen en uiteindelijk is hij samengevallen met die rol (bl. 75).

Grunberg wil immers meer vrae vra as antwoorde verskaf en hy doen dit deur die leser op die soms komiese ambivalensies van die lewe te wys. Hy maak eerder grappe deur hierdie wrang- geestige gebeure op ʼn onkonvensionele wyse aan die leser te kommunikeer as om oplossings te bied. Dit sorg vir ʼn soepelheid in die hantering van taal wat die leeservaring van Moedervlekken allesbehalwe morbied maak. Die gebeure wat Grunberg hier beskryf (soos Kadoke se vader se transformasie), staan by tye in kontras met hóé hy dit beskryf (wrang en grappig). Hierdie aspek van die roman figureer in die bespreking van Moedervlekken as ʼn burleske teks (afdeling 4.3).

Betrokkenheid oftewel “engagement” (Visser et al., 1994) by aktuele onderwerpe en die sigbaarheid daarvan in hulle tekste, is ʼn eienskap wat lede van Generatie Nix gemeen het. “Het discours van de anything goes wordt nu veroordeeld, en vervangen door een discours van literair engagement.” So rig Demeyer (2010a:120) die aandag op die literêre betrokkenheid van dié generasie. Visser et al. het al in 1994 oor betrokkenheid as literêre eienskap van Generatie Nix geskryf en die siening gehuldig dat ʼn filosofiese, postmoderne betrokkenheid by letterkunde te intellektueel sou wees vir die “platte werkelijkheid van deze tijd”. Generatie Nix wou nie ompaadjies gebruik om die alledaagse werklikheid van die tyd te beskryf nie. Hulle wou die werklikheid uitbeeld soos wat dit is – sonder skroom en sonder filosofiese eufemismes. Dié generasie het ʼn ander tipe betrokkenheid voorgestel, wat byna twee-en-twintig jaar later steeds in die werk van Grunberg opvallend is:

De enige mogelijkheid om nog betrokkenheid te tonen, zou zijn, deze tijd 'een

drek, de geilheid, de vrolijkheid, de emoties en het vuil van vandaag'. De lezer zou zo tot denken worden aangezet – een activiteit die deze auteurs nader toelichten als...'lachen, rillen, huilen, kotsen en klaarkomen' (Visser et al., 1994).

In Moedervlekken word hierdie sosiaal-maatskaplike spieël steeds aan die leser voorgehou. Die leser sien sy eie feilbaarheid en sterflikheid in die lot van die karakters raak en daarom is die roman so geslaagd. Soos Visser et al. (1994) noem, lê die betrokkenheid van Moedervlekken in die herkenbaarheid van die karakters en die situasies waarin hulle hulself bevind. Dit lei tot introspeksie asook ʼn nouer betrokkenheid by die teks en kritiese denke. Grunberg vertel aan Jaeger (2016) dat die werklikheid “een steen [is] waaraan ik mezelf schuur”. Hierdie werklikheid waarteen Grunberg “skuur”, soos dit in sy werk weerspieël word, dien om sy lesers op aktuele kwessies attent te maak.

Demeyer (2010a:122) skryf dat Grunberg ʼn onderskeid tussen styl en inhoud tref, maar dat hierdie onderskeid ʼn tipiese twispunt is wat tot ʼn gesprek oor literêre betrokkenheid lei. Die reaksies wat Generatie Nix en De Maximalen op hul voorgangers gehad het, is ʼn tipiese voorbeeld van hierdie twispunt. Al is geen literêre opinie verhewe bo ʼn ander nie, het elke literêre beweging ʼn motivering vir hoekom dit ʼn spesifieke reaksie op ʼn vorige of huidige literêre tendens toon. De Maximalen en Generatie Nix maak byvoorbeeld kapsie teen strak literatuur omdat hulle glo dat literatuur tot meer in staat is, dat dit meer kan sê en beter tot sy reg kan kom deur middel van meer kreatiewe toepassing van spesifieke stylkenmerke. Betrokkenheid is ʼn duidelik identifiseerbare eienskap van Grunberg se werk:

Tegenover die bezwering pleit Grunberg voor een zelfbetrokken lezing. Waarbij de tekst de lezer verleidt zodat die een waarheid verraadt over zichzelf [...] (Demeyer, 2010a:120).

In Moedervlekken word betrokke temas oor seksualiteit, identiteit, lyding en die versorging van bejaardes aangespreek. Hierdie betrokkenheid is ook ʼn eienskap van hulle skrywersidentiteite, as ondersoekende “aandachtskunstenaars”, en hulle onderskeie generasiegroeperings.

Generatie Nix het ʼn duidelike invloed op die styl sowel as die tematiek van Moedervlekken. Die uitsigloosheid van lewe sowel as die realistiese styl wat realiteitsproblematiek soos selfdood, familieverhoudings, versorging, siekte en singewing uitbeeld, is veral opvallend. Feite en fiksie word, met betrekking tot al die genoemde onderwerpe, op ʼn subtiele of eksplisiete wyse in Moedervlekken vermeng. Vervolgens word Grunberg se hantering van waarheid en versinsels bespreek.