HOOFSTUK 3 SPRAKELOOS
3.5 Sprakeloos as ʼn life writing-teks
Life writing voorsien in die behoefte aan ʼn literatuur waar die vorm en duur van ʼn enkele lewe op die voorgrond geplaas word. Kadar (1992:voorw.) bied ʼn deeglike omskrywing van life writing deur dit as ʼn “oop term” te tipeer wat outobiografiese fragmente sowel as ander tipes
outobiografiese tekste insluit. Life writing is ʼn soort skrywe wat nie die aard van die spesifieke kulturele waarheid, wat in die teks ingeskryf is, objektiveer of subjektiveer nie (Kadar, 1992:voorw.). Sprakeloos voldoen gedeeltelik aan hierdie life writing-kriteria omdat Lanoye sy moeder se verhaal so objektief en waarheidsgetrou as moontlik wil uitbeeld. Om hierdie rede poog Lanoye ook om deur middel van Sprakeloos op spesifieke kulturele lewenswaarhede te fokus.
In Sprakeloos word verskeie waarhede in verband met moeilike lewenskwessies geobjektiveer;
verhale word onbevooroordeeld uitgebeeld. Lanoye doen dit om sy moeder se verhaal so universeel moontlik te laat voorkom en die ruimte vir identifikasie en inlewing te vergroot. Hy beskryf kultuur as ʼn “internationaal ronddrijvend escortbureau” (bl. 25) en stel alle kultuuraksies en kulturele middele sodoende gelyk aan mekaar. Met hierdie beskrywing is dit asof hy alle middele wat kultureel singewend is, insluitende literatuur, oor dieselfde kam skeer. Hy voel dat kulturele aktiwiteite nie meer uit opregtheid voortspruit nie, maar bloot beoefen word omdat dit kultuur genoem word. Daar is byvoorbeeld baie ander mense wat hulself in dieselfde omstandighede, met betrekking tot ʼn sterwende moeder, as hy bevind. Daarom wil hy sy teks meer opreg, meer persoonlik en meer waar as ander tekste maak. “Waarom zou opeens ík dit boek moeten schrijven?”, vra Lanoye homself met betrekking tot die life writing-teks af. “Er bestaan mensen genoeg met overleden verweksters, van wie het merendeel bovendien een spectaculairder levenspad heeft bewandeld dan dat van een slagersvrouw in het Waasland” (bl.
25).
In verskeie genres en studievelde word hierdie soort skrywe gebruik om die oorgang van lewe na ʼn narratief te bewerkstellig (Jolly, 2001:ix). Gudmundsdóttir (2003:1) beweer dat outobiografieë, wat vanuit die perspektief van vroue of lede van etniese minderheidsgroepe geskryf is, ʼn vrugbare omgewing vir eksperimentele tekste soos life writing skep. Visagie (2011:13) meen dat Sprakeloos ʼn roman oor die vrou is asook die lyding wat ʼn spesifieke vrou, Josée Verbeke, moes deurmaak. Omdat Lanoye se moeder se gedagtes ook direk in Sprakeloos uitgebeeld word, is dit ook deels ʼn verhaal wat vanuit die perspektief van ʼn vrou vertel word. Hy verwys byvoorbeeld gedurig na die foto van sy moeder op die voorblad (“[...]
toch weer over die foto op het voorplat” (bl. 16)). Lanoye haal, met betrekking tot sy moeder se uitrusting in die voorbladfoto, haar woorde aan: “‘[zij:] Dat heb ik al heel mijn leven, geef mij een hoed en ik sta ermee, al is het een bloempot of een vliegende schotel’” (bl. 16).
Lanoye beklemtoon dat die teks oor sy moeder handel: “het moet en zal hier niet gaan over ballonnen in de vorm van vijgen of een bak bier, maar over mijn moeder en haar onaanvaardbaar wrede levenseinde” (bl. 24). Lanoye wil nie die aard van die spesifieke gebeure wat in die teks beskryf word, soos die lyding van sy moeder en die relaas van sy
coming out, subjektiveer nie. Hy wil dit net bloot uitbeeld soos wat dit is – sonder skroom en nie gekleur deur persoonlike gevoelens nie.
Die uitbeelding van lyding in literêre tekste kan direk aan life writing gekoppel word. Die belewing en representasie van trauma, soos wat ook in Sprakeloos en Moedervlekken plaasvind, weens die belewing van siekte en die afsterwe van ʼn naasbestaande, hang ten nouste saam met die aard van life writing (Gilmore, 2001:886). Alhoewel Ester et al. (2012:12) beklemtoon dat taal onmagtig is om fisieke en psigiese verwonding te verwoord, poog mense steeds om juis dit te doen: “Nogtans is dít presies wat geprobeer word deur mense wat getraumatiseer geraak het. Hulle wil vertel en hulle wil gehoor word.” Gilmore (2001:886) verwoord hierdie drang deur minderhede om gehoor te word en bring dit met trauma-ekpressie in verband:
As more women, people of colour, lesbians and gays, people with disabilities, and survivors of violence have taken up self-representation, they have often brought trauma to the fore.
In beide Sprakeloos en Moedervlekken van Arnon Grunberg figureer sommige van die bogenoemde minderheidsgroepe en elke groep representeer ʼn ander tipe trauma hetsy dood, siekte of die gevolge van verslawing. Met behulp van life writing word daar ook gepoog om ʼn selfrepresentasie deur middel van die geskrewe woord te lewer. Alhoewel Lanoye grootliks sy moeder in Sprakeloos beskryf, maak hy ook uitlatings oor sy eie lewe, oortuigings en gevoelens. In hierdie roman is trauma en die skrywe ván ʼn lewe (life writing) asook óór iemand se lewe (outobiografie) nóú verweef. Ester et al. (2012:8) ondersteun die siening dat ʼn nuwe tipe narratief soos life writing ʼn manier is om sin te maak van traumatiese gebeure. “Dit [trauma]
is ʼn situasie waar die ou woorde hul betekenis verloor het; waar die ou verhale nie meer geldig is nie; waar nuwe narratiewe vir veranderde tye noodsaaklik geword het.” Ester et al. (2012:13) is ook van mening dat trauma die rede is hoekom ʼn singewende lewensverhaal twyfelagtig en vals geword het en twyfel of dit enigsins moontlik is om die geruïneerde deur middel van ʼn singewende lewensverhaal weer op te bou:
Op de afgrondelijke breukvlakken van het persoonlijke leven of van het leven van een gemeenschap ontstaat de beslissende vraag of het überhaupt mogelijk is om het geruïneerde door middel van een ordend verhaal weer op te bouwen zonder daarbij de waarachtigheid prijs te geven (Ester et al., ibid.).
Geen teks kan trauma en gebrokenheid herstel of verwyder nie en daarom beskou Ester et al.
(ibid.) ʼn singewende teks oor trauma as “twyfelagtig en vals”. Lanoye besef ook hierdie vernietigende krag van trauma en deel daarom aan die leser mee dat ʼn traumatiese gebeurtenis
soos sy moeder se beroerte, wat haar van haar sinvolle spraak ontneem het, hom tot magtelose woordeloosheid reduseer: “Ik weet niet wat ik zelf moet zeggen. Ik ben slechts tot gebarentaal in staat. Verslagen, met een gevoel van oneindige lafheid [...]” (bl. 158). Omdat beide die hier bespreekte romans oor die aanvaarding en verwerking van siekte en eindelik die dood van ʼn naasbestaande handel, is die fokus des te meer op die innerlike wroegings van die skrywer wat probeer om van hierdie traumatiese gebeure sin te maak en dit te verwerk. Ester et al.
(2012:12) skryf hierdie onbeholpenheid om noodsituasies te verwoord aan die kompleksiteite van sommige ervarings en die verstoring van ʼn “ordenende reflectie” op hierdie ervarings toe:
Hier doet zich de schijnbare tegenstelling voor tussen de onmogelijkheid om het zich in de geest herhalende leed in woorden weer te geven en daarover de regie te winnen aan de ene kant en de onstuitbare behoefte om met behulp van verhalen en vertellen erkenning te vinden voor de situatie waarin men zich bevindt aan de andere kant. Ook het zwijgen behoort tot de mogelijke reacties.
Lanoye kon nie die verhaal van sy moeder begin skryf voor sy vader se dood nie. “Diens dood was immers nodig voor de verteller om zijn moeders verhaal te kunnen schrijven” (Demeyer, 2010:628). Lanoye het onder andere aan sogenaamde “faalangst” (bl. 62) gely, omdat hy bang was om die roman te skryf waarmee hy veronderstel was om haar as ’t ware in ʼn sekere sin tot lewe te bring. Dit was egter ook vir hom uiters moeilik om oor sy moeder te skryf sonder om oor sy vader uit te brei. Die verhaal van sy moeder sou nie homself laat skryf “zolang een vader nog in leven was” nie (bl. 62). Juis daarom was sy vader se dood ʼn narratiewe vereiste:
[Z]ijn dood was nodig, in het echt en op papier, voor ik echt beginnen kon. Haar leven liet zich niet beschrijven zonder het zijne, en omgekeerd (bl. 63).
Hambidge (2013) lê ʼn verband tussen hierdie verhaal – wat nie voor die dood van ʼn ouer geskryf kon word nie – en die verhaal van die Franse skrywer, essayis en kritikus Marcel Proust (1871-1922): “Proust se moeder moes eers sterf alvorens hy sy magnum opus kon skep.” Beide skrywers se werk word gekenmerk deur die skroomloosheid waarmee hulle hulle hartverskeurende verhale vertel. Beide verhale van Proust en Lanoye, meen Hambidge, kon in meer veelkantigheid vertel word ná die dood van ʼn ouer. Dit is asof die lewende ouer ʼn stremming of selfs ʼn tipe onvoltooide verhaal was wat geweier het om vertel te word en wat die skrywer verhoed het om oor die reeds gestorwe ouer te skryf. Die dood van die langslewende ouer simboliseer die einde en finaliteit van die lewe wat ook met die vroeër gestorwe ouer gedeel is. Nou kan ook die ouer wat eerste tot sterwe gekom het, tot hulde gebring word in ʼn verhaal.
In ʼn life writing-teks besin die skrywer ook oor sy eie sterflikheid in die lig van sy of haar eie oudwordproses (Frey Waxman, 2001:673). Frey Waxman (2001:674) vergelyk life writing oor die oudwordproses met die staar na jouself in ʼn spieël – “when one’s advanced years and mortality are recognized”. Hierdie introspeksie is ʼn terugkerende motief in life writing en dit lei eindelik ook tot selfkonstruksie van die life writing-skrywer (Frey Waxman, 2001:674).
Hence, selfconstruction in these works is not only through a narrative of deterioration or stasis, but also through one of energy and adaptability in later life (Frey Waxman, ibid.).
Die leser ontdek as ’t ware hom- of haarself in hierdie weergeeproses, ʼn proses wat ʼn kritiese introspeksie van die self verg. Hierdie spieëlbeeld van die self dra myns insiens tot die metatekstuele skrywe in Sprakeloos by. Aangesien die aanspreek van Lanoye se tekortkominge, sy sterkpunte, sy verliese en sy winste uiters moeilik is, skryf hy ook op ʼn metatekstuele wyse oor die uitdagings wat hierdie oopskryf van sy vrese en tekortkominge vir hom ingehou het. Hambidge (2014) gebruik ook ʼn spieëlmetafoor in haar bespreking van die metateks: “Die leser word in ʼn kamer van spieëls ingelei: één fragment word deur ʼn volgende opgehef, dikwels teëgespreek.” Een deel van die persoonlikheid belig die ander en sodoende word ʼn geheelbeeld van die self of ʼn situasie aangebied. Die teks noop die leser asook die skrywer om hom- of haarself krities te beskou en dit is die skrywer se verantwoordelikheid om hierdie beeld so waarheidsgetrou as moontlik weer te gee.
In hierdie afdeling oor Sprakeloos as ʼn life writing-teks asook in die analise van Sprakeloos sal ek graag hierdie siening van Frey Waxman wil toepas en as deurlopende fondasie wil gebruik – dat die skrywe van en oor ʼn lewe tot die positiewe konstruksie van die self lei weens lesse wat die skrywers uit die waarneembare oudwordproses van hulle ouer(s) leer. Saam met hierdie konstruksie van die self gaan selfrepresentasie gepaard, die spieëlbeeld wat ʼn persoon aan ander voorhou. Die skrywer leer hom- of haarself ook beter ken deur hierdie weergee van persoonlike inligting, want in die teks as “ʼn kamer van spieëls”, lees die skepper van ʼn teks ook self wat hy oor hom- of haarself skryf. Hierdie spieëlbeeld dien dan as ʼn opheffing of ʼn teëspraak van die skrywer se eie karakter. Teksfragmente word om hierdie rede nie slegs deur mekaar opgehef nie, maar ook deur die interpretasiemag van die leser en die motief van die skrywer wat sekere lewensfragmente meer as ander beklemtoon.
Uit die trauma moet eindelik iets positiefs voortkom, iets wat aan die skrywer nuwe hoop en moed gee om byvoorbeeld ʼn huldigingsverhaal soos Sprakeloos te skryf. Lanoye reflekteer oor sy moeder se sprakeloosheid en onderneem byvoorbeeld om sy stem en sy woorde ten volle te benut: “Dat ik, wanneer en waar ik er de kans toe zie, de stilte zal bestrijden met mijn stem, de
proberen te bevechten met mijn taal” (bl. 360). Alhoewel trauma en taalverlies die kern van Sprakeloos vorm, is dit ook hierdie trauma wat aanleiding gegee het tot die roman en dit vir Lanoye moontlik gemaak het om afskeid van sy ouers te neem.
Dori Laub, soos aangehaal deur Gilmore (2001:885), meen dat trauma nie bestaan voordat dit geartikuleer en deur ʼn ander persoon aangehoor word nie. In Sprakeloos word hierdie artikulasieproses veral beklemtoon deur die sterk orale tradisie waarby die roman aansluiting vind. “De traditionele orale verteller is inderdaad nooit ver weg,” bevestig Demeyer (2010:632).
Hierdie orale tradisie sluit by die metatekstuele aard van die roman aan (sien afdeling 3.7), aangesien Lanoye op ʼn verteltrant ook die leser aanspreek en oor die “skryfhandeling” (Visagie, 2011:13) skryf. Die stilistiese funksie van die orale tradisie waarby Sprakeloos aansluit, voer Demeyer (2010:632) aan, is dat dit verganklikheid oproep: “[H]et gesproke woord is nu eenmaal vlugtig.”
Die ander kant van Dori Laub se siening is egter ook in Sprakeloos van toepassing. Trauma is juis soms, ten minste vir ʼn sekere tydperk lank, nie artikuleerbaar nie. Die bestaan van trauma kan tog nie deur hierdie tydelike onverwoordbaarheid ontken word nie. Die sterwe van Lanoye se oudste broer (“onze Lastigste”) is een van hierdie traumatiese ervarings wat deur verskeie lede van die Lanoye-gesin verswyg word weens die grusaamheid van sy dood. “Tachtig zou prachtig worden. Toen reed onze Lastigste met zijn Honda tegen een boom en brak zijn nek”
(bl. 262). Lanoye onthou hoe sy moeder haarself van die wêreld om haar onttrek het om te rou.
Vir weke het sy slegs in die huis rondgedwaal sonder om haar pyn aan enige iemand te verwoord:
Ik zag iemand die zozeer verstrikt was geraakt in haar verlangen om haar verdriet vorm te geven dat het verdriet er zelf bij inschoot. Ze vond voor de vertolking van haar leed maar geen gepast rolmodel (bl. 265).
Omdat Sprakeloos oor die stryd om behoud van lewe sowel as woorde gaan, staan gesproke en geskrewe woorde konstant in kontras met mekaar. “Alweer een heerlijke veldslag gewonnen voor het gesproken woord. Alweer een roemruchte dag verloren zonder te hebben geschreven”
(bl. 41). Ook die uiting van woorde en die onvermoë daartoe, soos in die geval van Lanoye se moeder om oor haar gestorwe seun te praat, word gejukstaponeer. Demeyer praat van regie- aanwysings wat in die teks voorkom om Lanoye se moeder se liefde vir die teater aan te dui soos “’[zij, wijzend]” (bl. 220) en “[zij, minachtend]” (bl. 77). ʼn Geskrewe dramateks, waarin regie-aanwysings voorkom, sluit myns insiens by die orale tradisie, wat met Sprakeloos ooreenkomste toon, aan. Die mondelingse oordrag of interpretasie is vir my die bindende element tussen die twee genres. Demeyer (2010:633) wys op die verband tussen die vlugtige woord en die literêre vergestalting daarvan:
Door het vluchtige woord in al deze literaire tradities te plaatsen, wordt het vergankelijke natuurijk zeer sterk literair gestileerd. Het woord wordt vlees, maar het vlees krijgt in dit boek ook een sterk woordelijke basis. De literatuur wordt vergankelijk, maar het vergankelijke wordt ook literatuur. Op struktureel niveau gebeurt dat ook.
ʼn Eg Vlaamse gevoel word geskep deur Josée se orale invoegings sowel as haar Vlaamse dialek en Lanoye se beskrywings van hulle ou buurt in Sint-Niklaas. “Die Nederlandse boek toon deurgaans, in sy hele taalstruktuur, die binding met die moedertaal wat konvergeer in die triomfantelike woordvoering spesifiek van Josée” (Van Schalkwyk, 2011:204). ʼn Ander Vlaamse teks waar hierdie “praattema, die spreektalige, en die uitstel van die afskeid van ʼn moeder” (Van Schalkwyk, 2011:203) sterk in voorkom, is Leo Pleysier se Wit is altijd schoon (1989). In Wit is altijd schoon word die skeiding tussen lewe en dood meer poreus omdat die gestorwe moeder ook die verteller is en “ontroerend vertelt over de verhoudingen binnen het gezin, haar kennissenkring, en hoe haar begrafenis moet worden geregeld” (Temme, 2011).
In beide romans van Pleysier en Lanoye is dit taal wat sekere heftige gesprekke ontketen. Net soos in Pleysier se roman, kry Lanoye ook sy moeder langsaam aan die praat na haar beroerte.
Dit is ook Van Schalkwyk (2011:203) se opinie dat dit juis tot ʼn mate die Vlaamse spreektaal van die moeder is wat ʼn afwyking in Sprakeloos se verhaallyn teweegbring. Vertellende passasies, soos die hierna aangehaalde, plaas meer klem op die manier hóé Lanoye se moeder praat as wát sy sê. Die klem val op die vertellende trant van wat sy sê, alhoewel dit in geskrewe formaat aangebied word. Hierdie aanhaling bevat ook metatekstuele elemente (Lanoye beskryf-vertel sy moedervertelling) asook kenmerke van die formaat van die bewussynstroomtegniek28 – ʼn vertelling waar die innerlike van die skrywer so outentiek as moontlik weergegee word. Lanoye beskryf die verteltrant, wat ook sy eie skryfstyl kenmerk, waarin sy moeder meestal gekommunikeer het:
[zij, vertellend in een soort extase, elke keer met nagenoeg dezelfde bewoordingen en gebaren, haar kleine epos slechts mondjesmaat bijschavend, op zoek naar nét iets meer effect zonder de glans van de vorige keer te verliezen, zoals een verteller uit verdwenen beschavingen zou doen] (bl. 243).
Weens ʼn beklemtoning van individualisme, globalisering en die kommunikasierevolusie het daar ʼn behoefte ontstaan om persoonlike ervarings soos dood, verlies en lyding op ʼn nuwe literêre wyse weer te gee, beweer Jolly (2001:ix). Hierdie nuwe wyse het onder andere die sogenaamde life writing tot gevolg. Cook (2001:456) beweer selfs dat die disfunksionele of
afwykende liggaam ʼn intrinsieke deel van die konstruering van ʼn mens se identiteit is en daarom word spesifiek hierop ingegaan in die volgende afdeling van die studie.29
Die demokratisering of beskikbaarstelling van persoonlike ervarings en kennis is eie aan life writing en daarom hou dit so nou met die outobiografie verband. Life writing, skryf Gudmundsdóttir (2003:5), bestaan altyd uit ʼn outobiografiese sowel as ʼn fiksionele aspek. Die skrywer moet daarom konstant bewus wees van die outobiografiese en die fiksionele aspekte van die skryfproses. Hierdie aspekte sluit stylmiddels soos beeldspraak in. Hierdie outobiografiese en fiksionele aspekte laat Lanoye konstant met mekaar in gesprek tree; ʼn gesprek waar waarheid en fiksie as ’t ware “onderhandel” word (Gudmundsdóttir, 2003:5).
Life writing, as ʼn soort outobiografiese skrywe, vereis ʼn mate van buigsaamheid in die omgang met die begrip. Life writing is volgens Kadar (1992:i) die mees soepele term wat tans beskikbaar is om outobiografiese fragmenttekste te beskryf. Daarom assosieer sy konvensionele genres soos joernale, memoires, briewe, getuienisse en metafiksie30 met life writing (vgl. ook Aucamp, 2011:275). Sonder om die aard van die betrokke waarheid in tekste te objektiveer of te subjektiveer, is life writing ʼn stylmiddel om realiteit mee uit te beeld – hetsy literêr of nieliterêr (Kadar, 1992:i). Life writing is ʼn vloeibare, veranderende genre, maar dit is ook ʼn beperkte en ʼn beperkende genre aangesien dit die outobiografiese impliseer.
Life writing was nog altyd ʼn inklusiewe term (Kadar, 1992:4). Die term is om hierdie rede meer omvattend as die biografie sowel as die outobiografie omdat dit, eerstens, albei hierdie genres insluit. Tweedens is dit meer omvattend in implikasie as die genoemde stylterme omdat dit ʼn minder objektiewe genre is; en meer persoonlik van aard om gevolglik genres soos die genoemde briewe en dagboeke te akkommodeer. Die genre bied ʼn unieke blik en in ʼn ander literêre styl as die outobiografiese – daarom is dit ʼn ander reaksie op dieselfde persoonlike impulse. Alhoewel life writing op sigself ʼn literêre sub-“sisteem” vorm, maak dit deel uit van verskeie literêre genresisteme, onder andere die Afrikaanse en Nederlandse betrokke literatuursisteme, wat ook die (outo)biografie insluit.
Die verband tussen die uitbeelding van bejaardheid en life writing is van besonderse belang in hierdie studie weens die feit dat albei skrywersfigure (in Sprakeloos sowel as Moedervlekken) bejaarde ouers het en na hulle omsien. Die lesse wat hulle ouers aan hulle geleer het, dra hulle aan die leser oor. Frey Waxman (2001:674) skryf oor bejaarde “life writers” en die kenmerkende temas in hulle werk. Frey Waxman meen dat bejaarde persone dikwels oor wysheid skryf en die lesse wat hulle geleer het in die proses om wysheid te bekom. Bejaardes reflekteer ook dikwels
29 Vergelyk hieroor afdeling 3.6 – “Seksuele identiteit en Sprakeloos”.
30 Vergelyk hieroor afdeling 3.7 – “Sprakeloos as metafiksie”.